III.DIE BLOMMEFEES.
—Daar kom hulle! Daar kom hulle! sê Jan Berlier, en hy wys na die bo-end van die baan.
—Daar kom hulle, sê ook Isabella Orlandi, en sy klap haar hande.
Die rytuie, met blomme opgemaak, kom aan om verby te gaan voor die tribunes wat beset is met ’n skaar van mooi aangeklede mense. Die toeskouers trappel van geesdrif toe hul die rytuie sien aankom en maak meteen allerhande beweginge soos ’n klomp gekke of ’n werksame bye-swerm, neem die mandjies vol blomme aan van die blommeverkopers wat verbygaan en sit dit voor hulle neer; dis hul ammuniesie; en as inleiding op die komende slag, laat hul uitroepe van opgewondenheid hoor, soos soldate maak voor ’n aanval.
In die helder sonlig, van vér, lyk die naderende rytuie net soos opmekaarvolgende helder lig-vlekke, met oral tussenin uitskietende blitsies van die blinkende tuie en wiele. Hulle kom nader. Dit lyk soos ’n skitterend-ryke oosterse optog.
Voor op die groot tribune het die famielie Delourens en hul uitgenooide vriende plaasgeneem: Jan Berlier naas Isabella, Marcel Kibert tussen mevrou Delourens en Alida. Paula wou nie met haar broer meegekom het nie, en Marcel staan swygend voor die kleurryke skouspel en sien in sy verbeelding twee bedroefde vrouegesigte; hy verlang na die stille vrede van Maupas en begin die inwendige vernederinge te voel wat die liefde meebring.
Die musikante begin dansmusiek te speel. Op die ligte tone, verlore in uitroepe en gelag, begin die blommeslag.
Op die grasperke oorkant hardloop die mense toe wat wil deelneem en nie te laat wil kom nie, en dis daar ’n lewendige geharwar van kleurige rokke en sambreeltjies.
Die voorste van die optog is kinders, en die eerste bossies blomme word na hulle gegooi. Hulle is self bekoorlike blommetjies van die menslike lewe.
Met sierlik bedwonge gang volg die rytuie mekaar op, en langsaam verbygaande kry ieder sy beurt om deel te neem aan die aangename stryd. Die bevalligste wat die aarde besit, is in die rytuie aanwesig; vroueskoonheid en blommegeur. Die siel van die beroofde blomtuine leef nog in hierdie bewegende tuine. Rytuie van allerhande soort en fatsoen verdwyn onder ’n blommereën van duisende helder kleure. En die jongnooiens in die rytuie glimlag vol vertroue, wetende dat hulle die skoonste en verleidelikste blomme van almal is.
—Ere aan die blomme! Ere aan die blomme! roep al die mense vol geesdrif.
Isabella Orlandi en Jan Berlier het in uitgelate vrolikheid met hul blomme gegooi tot hul mandjies leeg is.
Alida Delourens het ’n pers rok aan, opgemaak met wit kant—dit verhoog nog haar dromerige bevalligheid. Naas haar voel Marcel Kibert hoe sy standvastigheid langsamerhand padgee en sy droefgeestigheid verdwyn. So baie kleure en geure oorrompel en bedwelm hom. Hy sien nog net blomme op sy toekomstige lewensweg. Nou en dan kom daar herinneringe in hom op aan skooltonele uit sy kindsheid, en tot sy spyt moet hy ondervinddat sy gehegtheid daaraan hom ontval, hoe hy ook al teenstribbel. Maar hoe kan hy nog by die verlede stilstaan as die teenwoordige so veel aantrekliks het? Met die gevoel van triestigheid wat die ontluikende liefde kenmerk, kyk hy na die blanke hals van die jongmeisie, wat vooroor buie om te kan sien of haar sleggemikte blombossies hul doel tref.
Alida kyk nou om na hom: sy spraakloosheid druk haar; en net een opslag van haar hemelblou oë is genoeg om sy gedagtes te verhelder. Sy wys hom, met haar fyn handjie, op die mandjie wat al leeg begin te word.
—Daar is nog blomme. Waarom gooi jy nie?
Sy bloos by die eenvoudige woorde, en die oordrewe verleëntheid maak haar nog mooier.
Daar kom ’n rytuig aan met offisiere in uniform. Luitenant Marthenay—’n bietjie dikkerig van postuur, omdat sy eerste jeug al verby is—is die enigste wat regop staan in die rytuig. In sy hand hou hy ’n bossie duur en seldsame blomme. Dit lyk of hy na iemand soek op die tribunes. Hy sien nou vir Alida, en glimlaggend en langsaam mik hy sy gooi na haar toe. Die brutale manier om die aandag van almal op die jongnooi te vestig, is vir Marcel te veel: hy buk skielik na Alida haar mandjie, en met snelle beraad val hy die eerste aan op sy teenstander. Die doel was mooi berekend, maar nie die krag van die gooi nie. Hy raak die offisiertjie hard in die middel van sy glimlaggende gesig. Heeltemal uit die veld geslaan laat laasgenoemde die kosbare blomme somar op die grond val. Kwaadaardig kyk hy rond tussen die mense op die tribune, en sien net vir Isabella Orlandi, wat haar hande klap en uitroep:
—Goed geraak! Die skerpskutters bo!
Jan Berlier juig haar toe: die uitbundige vrolikheid is vir hom mooi. Luitenant Marthenay steur hom nie aan hulle spotterny nie. Naas Alida, ’n bietjie na agter toe, sien hy eindelik die baasagtige en minagtende gesig van Marcel Kibert. Hy is nog vol kwaadaardigheid en nyd as die rytuig met hom en die ander offisiere weer aanry en weggaan.
Elke keer as hy weer verbykom voor die famielie Delourens en hul geselskap, sien hy hoe Alida heeltemal vergeet om deel te neem aan die slag, en net staan en gesels met sy teenstander; en sy lyk heeltemal van gedaante verander, vol aandag, opgefleur. En elke keer het Isabella en haar vryer ’n ondeunde plesier daarin om hom in sy waarneming te steur deur hom aanhoudend met blomme te bombardeer.
Die mense begin nou genoeg van die fees te kry, en die geveg verflou.
Die aand begin al te daal op die vlakte. Tere tinte, ’n mengeling van rose kleur, violet, pers en goud, verdof die gesigseinder soos ’n ontasbare stofwaas. En die rotskranse van die berge behou nog net vir hulle alleen die glans van die reeds ondergegane son; ’n gloeiende rooi, wat so ’n volheid van lewe uitstraal, dat dit lyk of die kranse tintel in ’n opbruising van blydskap te midde van die ligbad.
Agter Alida wil Marcel net die tribune afstap, maar hy bly staan as hy die pragvertoning van die natuur gewaar. Die jongnooi draai om, om hom te roep, en is verwonderd om te sien wat ’n uitdrukking van geluk daar op sy gelaat lê. En hy gewaar ook in sy binneste ’n ooreenkomstige opwakkering van al sy lewenskragte.
Die famielie Delourens en hul gaste ry na die stad, daar naby. Die tuine is vol eethuise en op die grasperke daarby staan ’n menigte klein tafeltjies;die lampe daarop het kappe van allerhande kleure, wat lyk soos groot vuurvliegies tussen die bome.
Luitenant Marthenay was deur mevrou Delourens gevra om by hulle te eet en kom nou by die geselskap. Hy is in ’n slegte bui. Hy kan dit maar nie verkrop dat sake hom die middag so teëgeloop het nie. So gou as hy Marcel Kibert sien, loop hy sonder nadink somar op hom toe, en sê:
—Meneer, u weet nie om onderskeid te maak tussen speletjies en geveg nie.
Marcel trek hom in sy volle lengte orent—hy is baie langer as Marthenay—,kyk hom permantig aan, en antwoord:
—Ja, maar u het nie geweet wat die onderskeid was tussen respek en hoflikheid nie.
Die toon van die gesprek laat mevrou Delourens vrees vir onweer; sy kom nader. In haar gedagte weeg sy die tietel van die een teen die roem van die ander: haar ydelheid het albei nodig.
Marthenay kan nie sien dat hy iets onbehoorliks gedoen het nie, en soek nou rusie. Daar waai Isabella Orlandi meteens soos ’n warrelwind aan, en los die gespanne verhouding op.
—Jan, kom kyk, hier is hy!
En aangesien sy as bedorwe en sleg-opgevoede kind nooit geleer het om haar luim te beteuel nie, laat sy daar onmiddellik op volg:
—Wys ons jou gesig.
—Maar, mejuffrou!... protesteer die luitenant, en word bleek.
—’n Oomblikkie, net maar ’n oomblikkie! sê sy.
Sy maak of sy sy gesig bekyk en sê, asof sy almal opmerksaam wil maak:
—Maar dis snaaks, hy makeer niks.
—Maar wat wil u tog van my? vra Marthenay met nadruk.
Die meisie bars uit van die lag en sê nog spottend daarby:
—Jy kan nie stry nie, die kêreltjies wat in die kolonies was, weet darem hoe om goed te mik. Julle klop hulle in die danssaal; maar in die oorlog—daar moet jul vir hulle oppas!
—Maar ek begryp nie . . . sê Marthenay. . . .
—O, ja! u begryp my baie goed. Meneer Kibert, hier, het jou lekker uitgeklop. Ons juig hom toe. Hy is ons held. As jou uniform ’n bietjie nat gereën het, praat jy ’n hele week groot oor jou heldedade.
Vir ’n man van die wêreld is daar niks so moeilik nie as om met fatsoen los te kom uit die verleëntheid waarin ’n mooi jong meisie hom dring deur hom so te laat deurloop onder haar kwinkslae. Luitenant Marthenay is nie fluks genoeg daarvoor nie. Hy draai weer na Marcel toe:
—Die meisies neem u in beskerming, meneer.
Isabella Orlandi laat hom nog nie los nie, en sy gee antwoord in plaas van Marcel:
—O, om ’n aanval te maak het hy nie beskerming nodig nie.
Mevrou Delourens kom nou tussenin:
—Isabella, jy is onredelik.
Op ’n komieke manier gooi die nooi haar arms omhoog:
—O, so ’n offisiertjie van die dragonders mag ’n mens nie raak nie, selfs nie met ’n bossie blomme nie.
Dis haar plesier om hierdie jonkman te verneder. Voordat die lewe haarself verneder—want sy is vooraf beslote om alles, ook die liefde, prys te gee aan haar begeerte om te skitter—gee sy haar heeltemaloor aan die plesier van mooi en behaagsiek en vermetel te wees.
Gedurende die toneeltjie het Alida sku en stil gebly.
Almal gaan nou aan tafel sit, en die voorvalletjie word vergeet in die onderlinge hartlikheid wat so vanself kom as mense so ’n heel dag saam pret gemaak het in die ope lug. Isabella het opgehou met haar geplaag en kry dit selfs reg om haar vyand weer op te vrolik. Alida sit tussen Marcel Kibert en luitenant Marthenay, en hoewel sy agterhoudend is, soos altyd, probeer sy tog om dit vir albei ewe aangenaam te maak. As almal opstaan van tafel, vergeet sy naas haar bord die bossie blomme wat sy die hele middag op haar bors gedra het. Marcel tel dit op en sy merk dit.
—U wil dit tog wel aan my gee, nie waar nie, juffrou? vra hy; so ’n smeektoon val hom swaar, en hy voeg daarby:
—U gee daar so min om, dat u dit laat lê het—en die blommetjies is al verlep.
Sy antwoord nie, dog bloos, en die glimlag is vir hom ’n teken van haar voorkeur.
Marcel vertrek vroeg met die trein terug na Chamberie; hy wil vroeg tuis wees om sy moeder nie ongerus te laat voel nie. Dis so ’n heerlike aand, dat hy, by aankoms op Chamberie, besluit om huis-toe te loop van die stasie af. Dis tienuur. Hy moet drie myl loop deur die veld, onder lanings van plataanbome deur, en dan deur ’n bos.
Hy stap haastig aan, en ruik nou en dan die skerpgeurende blomme. Die donker van die nag is onder die bome nog eens so swaar—hy kan maar ’n paar sterre deur die blare sien. Met volle teue asem hy die balsemgeurige aandlug in. Hy het ’n gevoel van ’n heerlike vernuwing en opheffing van sy hele wese.
Het hy haar lief? Hy weet nog nie reg nie. Maar die teenwoordigheid van die nooi was voldoende gewees om sy jong bloed in onstuimige beroering te bring.
Meteens kry hy gedagte aan iets wat hom eenkeer in Algiers oorkom het, ’n paar jaar gelede. Dit was so ’n onvergeetlike oosterse nag, swaardonker, met so ’n lui, lou windjie. Hy was te perd, alleen, op ’n stap deur die bossies. Meteens het sy perd stil gestaan. Rondom het hy niks anders gesien nie as die donker kolle van die naaste bossies. Hy het die perd met die spore gesteek en gepaai, maar vooruit wou hy nie, en hy het gebewe oor sy hele lyf. Was daar iets lewends in die donker naby hulle?
In die groot stilte, drukkend op die donker en verlate vlakte, het die perd iets geruik. Maar Marcel het nie bang gevoel in teenwoordigheid van die geheimsinnige gevaar nie—vrees was vir hom iets onbekends. Nee, hy was alleen bewus van al sy vasberadenheid en van al sy krag.
Met geweld het hy die perd toe gedwing, en die dier het op galop die duisternis ingehol. Hy het nooit agtergekom of dit ’n denkbeeldige vrees van die perd was nie, dan wel of hulle werklik naby die dood verbygegaan het . . . .
Waarom moet hy op hierdie oomblik nou aan dié geval terugdink? Hy het dieselfde wonderlike gevoel van daardie nag. Soos toe, voel hy nou ook dat daar gevaar naby is: hy weet nie wat vir ’n toekoms van vreugde of verdriet hy tegemoet gaan nie. Maar, net soos toe, voel hy nou ook sterk. Hy druk sy hand op sy bors: daar is ’n béwerige gevoel in, terwyl hy met ’n diep haal die aandlug inasem. Hy trek sy lyf orent, om nog groter te wees, en hy verheug homself in sy jonkheid. In ’n bedwelming van hoop en fierheid begin hy tehardloop. Hy hou weer op; maar die gevaar sonder oorsaak, wat hy voorgevoel het, is nog nie weg nie: dit bly in hom.
In die bos sug die luggie droefgeestig deur die blare . . . .
Naderhand sou Marcel nog terugdink aan hierdie aand, toe hy in die donker gehardloop het na iets bedwelmends en gedugs, wat niks anders was as die liefde nie.