III.HAAR LAASTE KIND.

III.HAAR LAASTE KIND.

—Goeienaand, ma.

Mevrou Kibert kom binne, ’n bietjie vooroor gebuie, toegedraai in ’n ou mantel waarvan die harebekleding verslete is. Die laaghangende kap oor die lamp verhinder haar om die bleekheid van haar dogter op te merk terwyl sy haar soen. Sy gaan na die vuur toe.

—O, hoe heerlik om tuis te kom! En ’n mens hou tog maar van so ’n ou tuis waar ons die lewe geken het . . . . en die dood! Weet jy nog, Paula, hoe bedroef ons was toe dit gelyk het of ons Maupas sou moet verlaat?

Sy verwarm haar verrimpelde hande by haar huislike vuurtjie. Paula nader haar van agter en haal haar hoedjie af.

—Hou u mantel nog maar ’n bietjie om, ma; u het seker baie koud gehad.

Mevrou Kibert draai haar hoof om en kyk haar dogter aan. Sy glimlag haar teen. En die glimlag, onder haar grys hare, op haar nog frisse wange, in haar vertroulike, rein, blou oë, is lieflik, soos die najaarsrose wat nog aanhou bloei, selfs in die sneeu.

—My liewe kind, as ek jou aankyk, dan maak dit my nog warmer as die vuurtjie wat jy vir my aangemaak het.

Paula staan op haar knieë en vat die ketel aan:

—Ma gaan nou ’n lekker warm pons drink.

Haar ma sien nou meteens dat sy so wit is as was:

—Maar dis jy wat versorg moet word, my kind! Jy is heeltemal bleek en siek, en jy sê my niks daarvan nie. En die ou vrou staan dadelik op van haar stoel.

—Ag, dis niks nie, ma. Moenie ongerus wees nie. Ek het miskien kou gevat buite op stoep. Ek sal na die ete dadelik gaan slaap.

En om die besorgdheid van die moeder tot bedaring te bring, het sy die moed om daar nog laggend by te voeg:

—Ek verseker u, ma, dis glad niks nie.

Sy dink daaraan dat die hanglamp in die eetkamer haar gesig te veel sal verlig—daarom sê sy:

—Laat ons hier eet, ma, voor die vuur: dis beter.

—Maar die tafel is binne al gedek.

—O, dis gou te verhelp, ma sal sien.

—Nou toe dan maar, my kind. Jy is self yskoud. En in die oop rytuig het ek dit ook maar goed gevoel.

Paula het alles reggemaak, en hulle sit aan.

—Jy het niks geëet nie, my kind. Jy is siek. Toe, gaan slaap nou. Ek sal jou bed vir jou verwarm en ’n bietjie tee vir jou maak. Nou sal ekjouweer versorg.

—Nee, regtig, ma, ek het niks nodig nie. Marie sal my ’n kruik warm water gee. En nou moet ma ook maar gaan slaap. Nag, ma. My liewe ou mampie!

Hartstogtelik omhels sy haar moeder en verdwyn dan in haar kamer. Sy kan nie meer nie. Sy pluk haar klere van haar lyf af, maak met een handbeweging haar lang hare los, blaas haar kers uit, en—toegerol in haar kombers—gee sy haar heeltemal oor aan haar heftige droefheid, wat sy te lank onderdruk het. Agtereenvolgens voel sy, daar in die donker, wat neerslagtigheid is, opstand teen die noodlot, en, eindelik, grenslose medelye met al wat mens is.

Sy beween haar broer, haar moeder, haarself. Na die kant van die muur gedraai, begrawe in haar ellende, haar gesig in haar sakdoek, vergeet sy die verbygaande tyd en hoor nie hoe haar ma ook na bed gaan nie.

Mevrou Kibert se kamer is naasaan. Sy maak saggies die tussendeur oop, om haar dogter nie wakker te maak nie, en om in die nag te kan hoor as sy iets nodig mog hê. Dan, soos elke aand voordat sy haar uitklee, kniel sy voor haar bed, en bid. Soos elke aand, versamel sy in haar gebed haar geliefde dode en lewende—oor die hele wêreld verstrooi—om hulle aan te beveel in die beskerming van die Heer; en sy herdink in haar gebed veral die onsekere bestemming van Paula en die gemartelde siel van Marcel.

Haar hardhorigheid en haar toewyding sonder haar heeltemal af van alles. Maar nou sy in haar bed is, verbeel sy haar dat sy ’n snik gehoor het. Sy luister, maar stel haar weer gerus.

—Paula slaap, dink sy. Sy was bleek vanaand. Die arme kind. God behoede haar en make haar gelukkig! . . . . Ou Marie moet seker ook kougevat het. Haar oë was rooi, en haar hande het gebewe.

Meteens gaan sy orent sit. Nee, nou het sy dit alte goed gehoor: die half-versmoorde snik kom van Paula haar bed. Sy skerp nou haar oor en hoor dat Paula wanhopend ween.

Geweldig verskrik, klim sy uit haar bed. Sy voel somaar meteens dat daar niks aan Paula haar gesondheid makeer nie. Sy dink ook nou daaraan hoe sy die hele aand al ’n treurige stemming in die huis gevoel het. Die ongeluk is haar vooruitgeloop na Maupas en is voor haar die huis ingegaan—’n ongeluk waar almal van weet, net sy nie, en wat wèl erg moet wees omdat dit voor haar weggesteek word. Sy het ’n voorgevoel van die sombere en gehate teenwoordigheid van haar ou kennis, die dood: Wie het hy weer geraak? Watter slagoffer het hy haar nou weer ontneem? . . . .

En terwyl sy tastende en blootsvoets in die donker aanstap, tel sy almal wat afwesig is, Magriet, Etienne, Frans, Marcel . . . . ja, dis Marcel!

Sy voel die geopende deur, sy raak aan Paula haar bed, en oor Paula gebuie, sê sy:

—Paula, sê my wat jy makeer!

Meer durf sy nie te sê nie.

Die meisie, meteens in haar smart verras, laat ’n skreeu hoor van angs en jammer, wat haar hele geheim verraai:

—O my arme ma!

—Marcel—is dit nie so nie? sê mevrou Kibert asemloos. Daar’s slegte nuus van Marcel.

—My ma, my ma! sug Paula.

—Is hy siek, baie siek?

—Ja, ma, hy is siek!

En Paula, half orent, slaan haar arms om die hals van haar ma.

Saggies, maar ferm, stoot haar ma haar weg:

—Hy is dood?!

—O! laat ons tog wag tot môre, ma; dan sal ons tyding kry. Wees sterk, ma; ons weet nog nie.

—Jy het iets gekry, ’n brief of ’n telegram. Wys dit vir my. Ek wil dit sien!

—Maar, ma, bedaar tog! smeek Paula, met ’n gebroke stem waar die hele waarheid in lê.

—Hy is dood! hy is dood! herhaal mevrou Kibert.

Sittende op die rand van die bed, yskoud, voel sy haar hart opegaan en alle lewensmoed daaruit wegstroom. Tevergeefs wend sy haar tot die Heer, haar eerste toevlug in die ure van rou. Sonder trane, en verskrikliker as wanneer sy sou gehuil het, kla sy met luide stem:

—Ag! hierdie keer is dit te veel! Ek kan nie. Nee, daarby kan ek my nie neerlê nie. Altyd het ek my aan U wet onderwerp, my God! Met ’n verbryselde hart het ek U naam nog geprys. Maar nou het ek nie meer krag nie. Ek is ’n arme ou vrou, afgeleef en baie swak, en ek het al meer gely as wat nodig was om my te beproef. Ek kan nie meer nie, ek kan nie meer nie! Marcel, my Marcel!

—My ma! my ma! sê Paula weer, en druk haar vas in haar arms.

Sy voel die koue rillings loop oor die lyf van haar ma, wat onbeweeglik bly in die donker, soos ’n boom in die nag deur die blits getref. Meteens spring sy op, stryk ’n vuurhoutjie aan, en met haar arms om haar weeklaende ou moeder, lei sy haar terug na haar kamer. Sy wil haar in haar bed help. Maar mevrou Kibert—tot dusver volgsaam en gedwee—stribbel nou teë:

—Nee, staande wil ek ly!

Paula kleed haar ma eers haastig aan voordat sy haarself aankleed. Dan bring sy haar na die voorkamer, waar sy die byna dooie kole weer aanblaas.Sy maak ’n groot vuur en sit weer ’n ketel water daarop. Stil en terneergesla loop sy heen en weer in die kamer, in ’n wit kamerrok, bleek onder haar lang swart hare, wat in oorvloed neerhang op haar skouers—sy lyk soos ’n engel van smart en vertroosting.

Sy het haar ma by die vuur gesit, in ’n groot stoel, met ’n kombers oor haar knieë.

Gewond in die heiligdom van haar moederlike bestaan, bly die ou vrou verdoof en roerloos sit, sonder ’n lid te beweeg, sonder ’n traan, in ’n toestand van terneergeslaendheid, erger as die wanhoop self. Sy kla nie meer nie, sy bid nie meer nie, sy kyk net reguit sonder iets te sien, en sy swyg. Deur die noodlot oorstelp, lyk sy nou onverskillig. Sy voel haar gemartelde hart nie meer in haar bors nie. Sy laat haar meegaan met die ontsaglike stroom van haar ongeluk, soos ’n drenkeling hom oorgee aan die bodemlose oseaan.

Geduldig wag Paula af tot die trane die aaklige stilte kom verbreek, soos ’n watervloed meteens ’n dam deurbreek wat hom stuit. Maar haar ma bly nog maar roerloos en stil. Sy wil haar iets laat drink. Sy gaan op haar knieë staan, neem haar hande en roep haar aan:

—Ma, ma! praat van Marcel. Praat tog, ma!

Daar is geen antwoord nie. Nou begin sy bang te word. Dis of sy met die dood alleen is. Buite haarself snik sy:

—Ma! is ek dan nie ma haar kind nie, ma haar laaste kind, haar Paula nie?

Dit lyk of mevrou Kibert uit ’n bedwelming ontwaak. Sy kyk na die gesig vol verdriet wat haar so angstig aanstaar. ’n Lang rilling skud haar hele lyf deurmekaar. Oorwin, strek sy haar arms uit na haar kind, en aan haar bors geleun, ween sy. Dis nou sy wat, in haar swakheid, om hulp smeek.

Lank bly die twee so sit, mengende hul trane en hul ellende, en ondervindende die soete smart van ’n gesamentlike lye in liefde.

As die moeder haar woorde weer kan vind, dan gebruik sy dit om die Heer te dank:

—Paula, my hart, wat het ek netnou gesê? Nee, God is goed: Hy kan my nog meer kasty. In my ellende skenk Hy my ’n engel tot hulp, en die engel is jy. En ek weier om gebroke te wees! O my God, U wil is wreed, maar geprese sy U naam!

Nou sy weer ’n bietjie moed het, vra sy om die noodlottige telegram te sien. Herhaaldelik moet sy haar kragte bymekaarmaak om dit te kan lees, en wenend sê sy aan Paula:

—Hy is geval soos ’n held . . . . Hy herleef nou in die bysyn van sy God.

—Ja, sê Paula, as oorwinnaar is hy gestorwe, in sy voorhoof getref.

Altwee bly stil. Altwee sien die skone voorhoof van Marcel, met bloed bevlek, die hoë voorhoof wat so ’n fiere gees gebêre het.

Mevrou Kibert kry jammer vir Paula:

—Gaan slaap nou. Môre sal jy al jou kragte nodig hê om jou ou moeder by te staan.

—Nee, ek laat ma nie alleen nie, sê Paula.

—Kom, laat ons dan same bid.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder. Paula is uitgeput en gaan sit naas haar. Maar mevrou Kibert hou aan, ondersteun deur ’n bowemenslike krag; oor haar wange rol die trane, wat sy nie meer afdroog nie. Sy smeek.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder.

—Liewe Heer, neem aan die offer van ons droefheid en ellende. Toe U aan die kruis gestorwe het, was U moeder ten minste by U. Maar ek was nie by my seun nie. Skenk my moed om die beproewing te dra. Nie vir my nie, my God, maar vir die taakwat ek nog te vervul het, vir my kinders, vir hierdie een wat U nie gespaar het nie. Sy is nog baie jonk om soveel te dra. Ek het al gewend geword aan pyn en ellende: maar sy—beskerm haar, wees genadig . . . .

Sy keer haar om na Paula en sien dat sy met haar bleek gelaat agteroor lê in die groot stoel. Ondanks haar moed is die jongmeisie in haar trane in slaap geval, haar geswelde ooglede is nog vogtig.

Mevrou Kibert staan op, gaan naas haar sit, en medelydend neem sy die hoof van Paula op haar skoot. Haar mooi swart hare val om haar gelaat en verhoog nog die bleekheid daarvan. So lê die doodvermoeide kind aan slaap, bewaak deur haar moeder.

Haar moeder kyk in haar gesig, op die onbeweeglike, jong gelaatstrekke. En sy sien ook hoe haar seun lê, daar vèr op die woestynsand, ’n gat in sy voorhoof; soos hy daar uitgestrek lê, groter nog as toe hy fier orent in lewe rondgewandel het. Saggies spreek sy hom aan:

—O my kind! my liewe kind! nou weet jy wat die ewige rus en vrede is. Jy is ’n goeie seun vir ons gewees en ’n dapper man. Niks as wat groot is, het jou hart geroer nie. Jy kan ons sien, nie waar nie? Jy sien hoe ons ween en hoe ons harte verbrysel is. Waak oor ons uit die Hemel, oor Paula. Ek is reeds op pad na my graf, na jou, na jou vader. Die aarde trek my aan. Ek voel dit, en jy roep my. Gou-gou sal ek vir altyd by jou wees . . . . My God, wie sal my oë toedruk op my doodsbed as U my al my kinders ontneem?

En met haar arms om Paula, druk sy haar vol liefde teen haar aan en begin weer te bid, smekende aan die noodlot om tog haar laaste kind vir haar te spaar . . . .

Die môreskemer verlig die treurende tweetal. Dit word dag—so ’n wintermôre wat ’n koue lig-rillingoor die sneeu laat dwaal. Die ou vrou bid nog aaneen. Uit God put sy haar onoorwinlike krag. As uitverkorene van die smart, moet sy tot selfs die besinksel van die bittere lydensbeker uitdrink.

Paula word wakker en sien hoe haar ma, bleek en yskoud, haar flou toelag. Sy sê tevergeefs aan haar dat sy rus moet neem en moet eet.

Geboë, en meer dan tien jaar verouderd, gaan mevrou Kibert aan haar skryftafeltjie sit en begin met vaste hand te skrywe aan haar afwesige dogter en seuns, sodat almal kan deel in hul gemeenskaplike beproewing . . . .


Back to IndexNext