INTELLIGENSIE-TOETSE.
Die Afrikaners aap baie graag na. En meesal vergeet hulle om eers te gaan sit en die koste te bereken. ’n Paar studente gaan Duitsland-toe, kom as hooggeleerde doktore terug, vertel ons dat ons hele opvoedkundige stelsel verkeerd is, en ons sê onmiddellik ja en amen daarop. „In Duitsland maak hulle so en so en so, en ons behoort dit hier ook te doen!” roep een van die intellektuele reuse, en dadelik word deur die lengte en die breedte van die land deur middel van die pers uitgebasuin dat al ons skole volgens Duitse model moet ingerig word. Wie nie saamstem nie, word vir bekrompe en ongeleerd uitgeskel. So was dit vanselewe toe ons ’n Skotse onderwysstelsel ingevoer het, en so gaan dit vandag nog. In plaas dat ons gaan sit en ’n suiwer Suid-Afrikaanse stelselontwerp wat rekening hou met Suid-Afrikaanse toestande, neul ons aljimmers met ingevoerde artiekels. In stede van Suid-Afrikaanse skoene te dra, dwing ons ons voete om te groei volgens die formaat van ingevoerde stewels. As ons streng eerlik met onsself wil wees, dan sal ons moet erken dat ons patriotisme waarop ons kamtig so trots is, dikwels selfbedrog is. Ons strewe na die vreemde en uitheemse en jaag dit na asof ons hele saligheid daarvan afhang.
En so het ons eindelik tot die ontdekking gekom dat ’n mens die kind se intellek kan meet! Dis nie juis ’n nuwe teorie nie, want iets wat bestaan kan ’n mens meet, hoewel so ’n metery dikwels tot absurde gevolgtrekkings lei. Die kopbeen van ’n idiotiese ou Boesman word in Taungs per ongeluk opgegrawe, en nadat sorgvuldige afmetings van die lengte, hoogte en breedte gemaak is, beweer die een groot geleerde na die ander dat eindelik die skedel van ons ou stamvaderlike aap ontdek is! O tempora! O mores!
So wou ek maar net gesê het dat dit miskien wel moontlik sal blyk om die menslike verstand te meet, maar dan moet rekening gehou word metbaie meer omstandighede as wat nou gebeur. Dis mos tog dwaasheid om te reken dat ’n stel intelligensie-toetse wat opgetrek is vir ’n Johannesburgse seun, toepaslik sal wees om die verstand te meet van ’n seun wat sy hele lewe op die delwerye geslyt het. Onmoontlik sal dit seker nie blyk om intelligensie-toetse vir die delwerskind op te stel nie, maar dan moet in gedagte gehou word al die omstandighede wat op sy ontwikkeling ingewerk het: sy huislike lewe, sy vermake, sy skool.
Maar nou kom een en ander van die jonger deskundiges vars uit een van Amerika se uniwersiteite met ’n volledige stel intelligensie-toetse volgens Terman, en kom pas dit somar onvervals toe op Suid-Afrikaanse kinders, om uit te vind of die bloedjies hoër of laer staan as hulle Amerikaanse nefies en niggies! ’n Ander bring weer die Binet-toetse in sy hand-sakkie saam en verklaar met fronsende voorhoof en treurige hoofskudding dat ons seuns en dogters agter is vir hulle Europese boeties en sussies. ’n Derde gee Cyril Burt se intelligensie-toetse netso onvervals en maak dan sy gevolgtrekkings!
As dit nie was dat die leser my miskien met Ananias sou klassifiseer nie, dan het ek hier opgeteken ’n stel intelligensie-toetse wat aan sekere skole in Transvaal gestuur is, met die versoek aan die onderwyser om dit in sy klas af te neem. Die resultate moes opgestuur word om te sien hoeveel normale kinders ons in hierdie deel van die provinsie besit. Ek verstaan dat die uitslae uiters teleurstellend was. En g’n wonder nie, want die meeste vrae was absurditeite. Een toets moet tog aan die vergetelheid ontruk word, en dis die volgende: „Wat sou jy doen as jy nog ’n hele ent van die skool af is en die klok hoor lui?”
Nou glo ek dat dat die kind moes antwoord dat hy sou hardloop dat die stof so staan om darem nog te trag om betyds te kom, maar die delwerseun dink glad anders oor die saak, en hier volg enige van die antwoorde:
(1) Ek sou ’n paar skrifte agter by my broek insteek.(2) Ek sou omdraai en my pa gaan help.(3) Ek sou sê my ma het my uitgestuur en dat ek moes wag.(4) Ek sou sweer dat ek ons donkies moes gaan keer.(5) Ons skool het nie ’n klok nie; Meester blaas op ’n fluitjie.(6) Ons sou nie die klok hoor nie; ons donkiekar raas te baie.
(1) Ek sou ’n paar skrifte agter by my broek insteek.
(2) Ek sou omdraai en my pa gaan help.
(3) Ek sou sê my ma het my uitgestuur en dat ek moes wag.
(4) Ek sou sweer dat ek ons donkies moes gaan keer.
(5) Ons skool het nie ’n klok nie; Meester blaas op ’n fluitjie.
(6) Ons sou nie die klok hoor nie; ons donkiekar raas te baie.
Geeneen van die voorgaande antwoorde het enige punte behaal nie! Die opsteller was verbaas oor die onbegaafdheid van Kreepoort se delwerskinders!
„Hoogsbenoke,14 Junie 1925.Mnr.............,Skoolinspekteur,Smartendal.Die outoriteite het my verlof gegee om die intelligensie van sekere delwerskinders in u kring te kom meet, en my gevra om sake verder met u te reël. Sal u tog so goed wees om my perommegaande te laat weet watter dae vir u gerieflik sal wees, en of u my sal vergesel?(Get.) D. E. M. Fohl, Ph. D.,ens., ens., ens.”
„Hoogsbenoke,14 Junie 1925.
Mnr.............,Skoolinspekteur,Smartendal.
Die outoriteite het my verlof gegee om die intelligensie van sekere delwerskinders in u kring te kom meet, en my gevra om sake verder met u te reël. Sal u tog so goed wees om my perommegaande te laat weet watter dae vir u gerieflik sal wees, en of u my sal vergesel?
(Get.) D. E. M. Fohl, Ph. D.,ens., ens., ens.”
Die voorgaande brief het ek beleef beantwoord en die geleerde heer laat weet dat hy baie welkom sou wees op Smartendal op die 28ste Junie en volgende dae. Ek sou met hom saamgaan om meteen ook te kan profiteer van sy ondervinding en kennis op die gebied van die intelleksbepaling.
Die 28ste Junie het eindelik aangebreek, en om neënuur stap dr. Fohl by my kantoordeur in. ’n Mens moes hom van naby sien om sy persoon behoorlik te kan appresieer! Sy hele voorkome het jou onwillekeurig aan ’n ontvlugte kranksinnige herinner. Sy oë staan verwild in sy kop; sy hare—en die vent het ’n vreeslike bossiekop gehad, netsoos die meeste mal mense het—is ongekam. Daarby dra hy ’n groot skilpadbril, wat nie juis sy uiterlik verbeter het nie. Hy stap so vinnig op my af dat ek begin bang word het dat hy dwars oor my sou struikel.
„Môre!” sê hy, „isjydie skoolinspekteur?” met die nadruk op diejy.
„Goeiemôre,” antwoord ek, „en wie isu?” met die nadruk op dieu.
„Wat!” roep hy, „meen jy te sê jy ken nie vir my nie?”
„Nee,” antwoord ek ewe bedees, want miskien had ek te doen met ’n seur of ’n graaf of so iets, „ek ken u nie.”
„Ek is dr. Fohl. Het jy nog nooit van my gehoor nie?”
„Dit spyt my om u teleur te stel; glad nie. Ek het nog net eenmaal van u gehoor en dit was toe ek u brief ontvang het.”
„Dis snaaks, want op die Rand is ek welbekend; ek wou amper sê beroemd. My portret was in byna al die dagblaaie.”
„Bedoel u onder die advertensies van De Wit se pille of Moeder Seigel’s stroop?” vra ek ewe onskuldig.
Dit was die moeite werd om die kêrel se gesig te sien. Ek dag hy sou ’n oorval kry.
„Probeer jy om snaaks te wees, of is dit maar net wat ’n mens te wagte moet wees van julle buite-inspekteurs?” voeg hy my bits toe.
Sonder om op sy woorde ag te slaan, vat ek my hoed en my jas, stap na die moter toe, maak die deurtjie oop vir hom en klim self in.
„Ons sal maar met die grootste skool begin,” sê ek, „en dan sal u self kan oordeel of dit die moeite werd sal wees om met die toetse voort te gaan.”
Ons het ’n rit van ’n goeie twintig myl voor gehad, en ’n hele ruk het hy stil gesit sonder om sy mond oop te maak, en ek het hom nie gestoor nie. Maar eindelik het die stilswye hom begin te verveel.
„Hou jy nog jou inspeksie op die ouderwetse manier?” vra hy.
„Ek weet nie reg wat u bedoel nie,” sê ek.
„Stel jy jou vrae om die kinders se kennis te toets, of probeer jy om daardeur hulle intelligensie te bepaal?” gaan hy voort.
„Albei,” was my antwoord, „want dis nog al taamlik moeilik om altyd juis die lyn te trek tussen kennis en intelligensie.”
„Nonsens,” sê hy met soveel nadruk dat ek byna in ’n sloot ry met die moter. „Nonsens!Dis gemaklik, en as jy dit nog nie kan doen nie,dan behoort jy nie inspekteur van onderwys te wees nie.”
Ek was egter nie uit die veld geslaan nie.
„Neem nou die geval van my eie seuntjie van vyf jaar,” gaan ek voort, „as jy vir hom moes vra hoekom ’n voëltjie, hoewel hy swaarder weeg as lug, nie grond-toe val as hy vlie nie, dan sal hy jou dadelik die antwoord kan gee. Hoekom? Omdat sy boetie wat veertien jaar oud is, baie belangstel in vliegtuie en hy van hom geleer het wat dinamiese krag beteken. Die toepassing op die vlie van die voëltjie doen hy self. Sou jy in hierdie geval die vraag beskou as ’n toets vir sy intelligensie, of van sy kennis? Jy sal my seker wil gewonne gee as ek sê dat dit moeilik is om hier ’n definitiewe lyn te trek tussen sy intelligensie en sy kennis. Verder is dit duidelik dat die meeste kinders van sy leeftyd die vraag nie sou kan beantwoord nie, tensy hulle ook boeties het om hulle op dié punt in te lig.”
Maar dr. Fohl het my met minagtende stilswye bejeën en iets binnensmonds gemompel wat baie soos sy naam met die voorletters geklink het.
Die twintig myl was tog eindelik op ’n end, en ons hou voor die skool stil. Nog nooit het my die pad so lank gelyk nie.
Die nuus van die hooggeleerde dokter wat ’n kind se verstand kan meet, het ons vooruit-gesnel; en toe ons by die skool stilhou, was daar ’n hele klomp delwers met vrouens en kinders, en die skoolkommissie was ook voltallig. Almal het gekom om die wonderdokter te sien.
By die afklim storm almal op ons toe.
„Sal die dokter tog nie vir my vrou iets gee nie; sy ly so aan die asma?” vra een hier agter my, en dit het my ’n geruime tyd geneem om die goeie mense dit aan die verstand te bring dat ons geleerde vriend nie ’n medisynmeester is nie, maar wel ’n verstandsmeter.
„’n Landmeter ken ons,” sê een van die ouers, „maar ’n verstandsmeter het ons nog nooit van gehoor nie. En hoe gaan hy miskien ’n kind se verstand meet? Dis mos ’n ongehoorde iets.”
„Kyk, Oom,” sê ek aan die voorsitter van die skoolkommissie, „dit sal beste wees dat die skoolkommissie die toetse bywoon, dan kan die lede vir hulleself oordeel. Maar versoek togasseblief die ander vriende om te vertrek. Hulle sal môre kan verneem hoe dit met die geestes-gawes van hulle kinders gesteld is.”
Hierdie suggestie het byval gevind en die ouers het vertrek.
Aan die gesigte van die skoolkommissie kon ek sien dat hul nou iets wonderliks verwag. Wat vir toormiddels gaan die kêrel gebruik? „Seker so ’n dingetjie soos die dokters gebruik om te hoor of ’n mens hartkloppens het,” fluister een.
„Nee wat,” waag ’n ander, „hulle sê hy kyk somar binne in ’n kind se kop met daardie groot bril van hom.”
Soortgelyke en nog heelwat minder vleiende opmerkings van die kant van die skoolkommissie-lede het ek opgevang.
Nou neem die toetsery ’n aanvang. Elke leerling kry ’n papiertjie waarop tien vrae gedruk is, en hierdie tien vrae moes in seker bepaalde tyd beantwoord word. Volgens die antwoorde word dan die kind se intelligensie bepaal.
Hier volg enige van die toetse vir kinders van elf jaar:
(1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die dokter vir hulp.
Wat is verkeerd met hierdie voorval?
(2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die spruit gekry. Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel reken dat die kind selfmoord gepleeg het.
Is dit moontlik?
(3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek.
Sou jy dit netso gesê het?
(4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig ernstig nie.
Is die koerante reg?
(5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie goed ken nie, wat sou jy antwoord?
(6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik is, wat sou jy heel eerste doen?
(7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by wat hy sê hy sal doen nie?
(8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en een-derde speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die ander speel? Is daar kinders wat albei speel?
(9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en heiblommetjies groei in kouer landstreke. Heiblomme en rubber wil klam grond hê; gras en aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die Amasonerivier is dit baie warm en baie nat. Watter van die voormelde plante sou daar groei?
(10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, oos of wes van C?
Of die voorgaande toetse, wat, tussen hakies gesê, almal dié van Burt is, afdoende is om die intellek van ’n kind van elf jaar te bepaal, laat ek aan die gesonde verstand van die leser oor. Ek wil in die meriete van die saak nie juis ingaan nie. Persoonlik egter is ek die mening toegedaan dat sulke vrae op hulself nie baie opvoedkundige waarde besit nie, en glad nie daarop berekend is om uit te vind wie die slimste kind in die klas is nie, nog minder help om juis dieelfjarigeleerling se verstand te bepaal nie. Ek het dan ook al gesien dat ’n hele paar seuns vannege jaar die elfjarige toetse baie beter gedoen het as dié wat vir kinders van hulle eie leeftyd bedoel was.
Die uitdrukking op die voorsitter se gesig toe hy die verskillende kaartjies in die hand neem en deurkyk, was die moeite werd om te sien. Ek kon my moeilik bedwing. Maar toe hy hoor dat sy Jannie skaars drie uit die tien toetse reg beantwoord het volgens dr. Fohl se vereistes, was die gort gaar.
„Mag ek sien wat Jannie oor jou verspotte vrae te sê het?” vra hy verstoord aan die geleerde dokter.
„Seker,” was die antwoord, „dan sal u miskien meteen ’n besef kry van u eie kapasiteit.”
„Wat meen die vent?” vra die voorsitter, en ek kon sien dat sy oë blits.
Hier tree ek tussenbei.
„Wag laat ons sien hoe Jannie die vrae beantwoord het,” val ek hulle in die rede. „Ek sal een vir een vraag en antwoord aflees, en dan kan die dokter sê of hy dit goed- of afkeur.”
Met hierdie suggestie was almal tevrede, en toe begin ek af te lees:
Vraag: (1) Jan val van sy fiets af en is bewusteloos. Hy stap na die dokter vir hulp. Wat is hiermee verkeerd?
Antwoord van Jannie: Die een wat dit vertel het, lieg dat hy so bars.
Vraag: (2) Eendag het die poliesie die lyk van ’n arme kind by die spruit gekry. Die liggaam was in 18 stukke opgesny. Die hoofkonstabel reken dat die kind selfmoord gepleeg het. Is dit moontlik?
Antwoord van Jannie: ’n Poliesman wat so onnosel is, behoort uit die diens ontslaan te word. „Hoor! Hoor!” uit die mond van die kommissielede.
Vraag: (3) Ek het drie broers: Jan, Piet en ek. Sou jy dit netso gesê het?
Antwoord van Jannie: Natuurlik nie. Wie tel homself dan as ’n broer?
Vraag: (4) Gister het daar ’n treinongeluk gebeur en vyftig mense het verongeluk. Die koerante sê dis gelukkig nie so danig erg nie. Is die koerante reg?
Antwoord van Jannie: Dit hang alles daarvan af wie in die trein was. As dit kaffers of koeliesof onderwysers was, dan is die koerante reg, anders is hulle verkeerd.
Vraag: (5) As iemand jou opienie vra oor ’n seun of dogter wat jy nie goed ken nie, wat sou jy antwoord?
Antwoord van Jannie: Ek is nie so slim soos dr. Fohl nie, wat ’n hele boel kinders kom beoordeel wat hy vandag vir die eerste keer sien.
Vraag: (6) Veronderstel dat jy iets moet onderneem wat baie belangrik is, wat sou jy heel eerste doen?
Antwoord van Jannie: Ek sou my pa eers raadpleeg. „Hoor! hoor!” van die voorsitter, en in sy hele houding is vaderlike trots te lees.
Vraag: (7) Waarom moet ’n mens iemand oordeel by wat hy doen en nie by wat hy sê hy sal doen nie?
Antwoord van Jannie: Omdat jy anders maklik gekul sal raak.
Vraag: (8) In julle skool speel een-derde van die kinders voetbal en een-derde speel krieket. Is daar nou kinders wat nòg die een nòg die ander speel? Is daar kinders wat albei speel?
Antwoord van Jannie: Ek weet nie. Ons speel net voetbal en albaster, en die meisies spring toutjie of speel hasie.
Vraag: (9) Aalwyn en rubber groei in warm landstreke. Gras en heiblommetjies groei in koue landstreke. Heiblomme en rubber wil klam grond hê; gras en aalwyn wil nie alte baie nattigheid hê nie. By die Amasonerivier is dit baie warm en baie nat. Watter van die voormelde plante sou daar groei?
Antwoord van Jannie: Rubber, maar daar sal wel gras en onkruid ook groei.
Vraag: (10) C lê wes van B; B lê wes van A. Lê A nou noord, suid, wes of oos van C?
Antwoord van Jannie: Oos.
„Wat sê u, Dokter, het die seun net drie antwoorde reg?” vra Jannie se trotse vader.
„Ja,” brom dr. Fohl, „en sy intellek is dié van ’n sesjarige seun. Hy aard waarskynlik na sy vader.”
Hier moes ek opnuut die vrede herstel.
„Sal ons nie liewers nou maar ry nie, Dokter?” vra ek. „Dit word laat en u kan vanaand dieresultate op u gemak uitwerk, en dan môre vir my laat weet hoe dit met die delwerskinders se verstandsvermoë gesteld is.”
„Dis nie eers nodig om dit uit te werk nie,” antwoord dr. Fohl. „Daar is byna g’n enkel kind in hierdie skool wat normaal is nie. Feitlik almal is onder normaal.”
„Maar as dit werklik die geval is, dan is u toetse onbevredigend. Ek laat my nog nooit vertel dat onder honderd en tien kinders daar skaars ’n dosyn volgens u berekening normaal is nie! U moet vir die delweryskole ’n stel toetse optrek wat rekening hou met hierdie soort kind se omgewing, ontwikkeling, ondervinding en huislike omstandighede. Die resultate bewys dat u intelligensie-toetse nie doelmatig is nie!”
Dog die dokter wou my kant van die saak maar nie insien nie.
Ons was dan ook al so goed as in die moter, toe die voorsitter, wat vir die laaste paar minute in druk gesprek was met ’n paar lede van die skoolkommissie, vorentoe tree.
„Mag ek die dokter vra ofhygewillig is om homself te onderwerp aan seker toetse wat ons hom sal stel? Ons wil graag sien of sy grootintellek meetbaar is. Dis nie aldag wat ons sulke geleerde manne in ons midde kry nie.”
As ek in die dokter se plek was, dan sou ek hartlik vir die eksamentjie bedank het, maar ek het verwag dat hy hom die toetse sou laat welgeval. Was die kêrel ’n bietjie minder verwaand gewees en het hy die delwer beter geken, dan sou hy die versoek geweier het, maar nou loop hy in die val netsoos beer by jakkals.
„Seker, alte seker, oubaas,” sê hy, „maar maak net gou, want ons is haastig.”
„Ek sal nie lank draai nie, Dokter. En as jy die volgende vrae tot ons bevrediging beantwoord, dan is jy werklik so slim soos jy dink dat jy is.”
Vraag(1): Hoe moetgravellyk om ’n goeie was te gee?
Vraag(2): Hoe sal jy uitvind of jou masiendiamondsweggooi?
Vraag(3): Hoe moet dieporrellyk?
Vraag(4): Wat is meer werd: ’n bruindiamondof ’n swarte?
Vraag(5): Hulle beweer dat diediamondshier spoeldiamonds is. As dit so is, hoe kom hulle hier tussen diegravelop die bult?
Op versoek van die voorsitter het ek die vrae afgeskrywe en die papier toe aan dr. Fohl oorhandig.
„Kyk,” gaan die voorsitter verder, „jy kry twee minute om ’n vraag te beantwoord.”
„Maar is jy ernstig?” vra dr. Fohl half-verleë:
„Dood-ernstig,” herneem die voorsitter.
„Maar wat weet ek vangravelenporrelen wat dies meer sy af; ek is mos nie ’n delwer nie,” vervolg dr. Fohl.
„Nou ja, maar sê dan reguit of jy die vrae kan beantwoord of nie!” gaan die voorsitter voort.
„Ek kan nie,” beken dr. Fohl.
„Maar Jannie van my kan wel,” sê die voorsitter. „Volgens jou uitspraak is sy intellek dié van ’n kind van ses. Nou ja, dr. Fohl, volgens my oordeel en dié van my kommissie is jou verstand dié van ’n kind onder ses, en ek sou aan die hand gee dat jy eers ’n tydjie op die delwerye kom deurbring voordat jy dit waag om weer toetse vir ons kinders te kom stel.”
Na hierdie woorde draai hy sy rug op die dokter, gee my sy hand en vertrek met die lede van sy skoolkommissie.
Op pad huis-toe wou ek weet of ons die ander-dag met die intelligensie-toetse sou voortgaan, maar dr. Fohl het my ’n antwoord skuldig gebly.
Dieselfde aand is hy met die tienuur-trein weg R.-toe.