DEEL II.

DEEL II.

I.DERTIEN AAN TAFEL.

—Ons sou miskien aan tafel kan gaan.

Meneer Delourens waag om dit te sê, met ’n bangerige stem.

Onder die geselskap van sy vrou haar oog maak hy dadelik dat hy wegkom van die vuur, waar ’n paar groot eikeblokke vlam, en hy neem die vlug na ’n alleenstaande stoel ver daarvandaan. Laggend toon mevrou Delourens dan aan haar gaste ’n almanak wat in groot syfers die datum dra: 25 Februarie.

Mejuffrou Sonjon, verdroog en verouderd, kom nader—’n mens sou sê dat die verbygaande tyd haar besonder veel belang inboesem. Maar ál waar sy aan dink, is om ’n plekkie te verower naby die vuur. Sy kom net van Rome terug: in die winter skenk sy net haar aandag aan die gestigte van die suide—waar dit warm is. Om op laasgenoemde liefdadigheidstog te kan gaan, het sy skielik die vee moet laat verkoop van ’n boer wat agterstallig was met sy betaling. Sy maak haar groot voete warm en kyk na die almanak.

—Maar dis 25 Februarie 1898! sê sy, en dis vandag 25 Februarie 1901—dis net drie jaar te laat.

Al die vrouens, behalwe Alida, kom kyk of dit so is; die almanak gaan van hand tot hand. Mevrou Orlandi hou Pistache op haar hart gedruk—’n verouderde Pistache, vet, half kaal en lelik, met half geslote ooglede oor sy tranerige oë; verwonderd en trots dat sy dit agtergekom het, roep sy uit:

—A, ek verstaan! U het die datum van u dogter haar huwelik op die almanak bewaar. Dis vandag net drie jaar gelede. Hoe vindingryk en teer is tog ’n moeder haar liefde! Dis nou net soos ek is, mevrou, ek onthou ook altyd sulke dae.

—Ek wil gerus wed, ma, sê Isabella—wat nou mevrou Landeau geword het—dat U al vergeet het wanneer ek getroud is.

—Nee maar dié Isabella! sy het tog altyd iets snaaks om te sê.

En, met alles behalwe fyne behendigheid, buig sy haar hoof oor haar mopshondjie, met ’n vloed van soet woordjies.

Mevrou Delourens—siende dat almal aan gesels is—werp ’n haastige blik op die klok, wat al kwart-voor-agt aanwys, en die afspraak was dat hul om sewenuur sou aansit.

—My gravinnetjie, het jy jou broer Clement nie vanmiddag gesien nie? vra sy aan haar dogter, wat afgetrokke en stil is.

—Nee, ma, antwoord Alida, fluisterend.

Vier of vyf maande na Marcel se vertrek was Alida—wanhopend, oorwonne, onderdanig, volgens die wyse raad van haar moeder—getroud met graaf Marthenay, wat toe luitenant was in Chamberie. Vir die derde maal word nou die verjaardag van haar „geluk” gevier. Haar bevallige jongmeisie-slapheid en slankheid was oorgegaan in neergedruktheid en maerheid. Haar helder oë, haar neergetrokke mondhoeke, getuig van ’n ingewortelde en diepe droefgeestigheid. Die suiwerheid van haar gelaatstrekke was nie verlore gegaan nie, maar deurdat haar wangbene meer uitsteek, haar neus vermaer en haar wange kleurloos is, het die vroeëre uitdrukking van jeug en onskuld plaas gemaak vir ’n aansien van pynlike gelatenheid en swakheid. Op haar gelaat dra sydie tekens van ’n marteling wat elke oomblik van haar lewe aan haar kou, en wat so seker deur haar man nooit opgemerk word nie. Om daarvan oortuig te wees, is dit genoeg om ’n oog op hom te slaan, soos hy daar agter haar staan, met sy opgeblase en puisterige gesig, die gedagtelose gesig van ’n vroegtydig afgeleefde man.

Mevrou Delourens kyk by die venster uit. Sy laat die gordyn weer val en kyk dan weer haar gaste besluiteloos aan. Almal is so aan gesels met mekaar, dat sy dink nog maar ’n bietjie te kan wag. En nie sonder bitterheid nie dink sy by haarself:

—Mevrou Orlandi, wat anders altyd te laat kom, is nou tog betyds.

Om die vuur luister al die vrouens na mejuffrou Sonjon, wat met geloofsywer vertel van die katakombe van Rome. Mevrou Orlandi—openlik haar gebrek aan morele gevoel openbarende, en onhandig om vergelykinge te maak—sê dat sy meer hou van die bouvalle van Pompeii, omdat daar sulke vermaaklike muurskilderye te sien is. Mevrou Lavernay en mevrou Ambelard—ouerige en plegstatige verskyninge—het niks te sê nie. Mevrou Delourens hou hulle aan om hulle adel, en praat altyd van hulle afkoms. Hulle is goed om die geselskap vol te maak, en meet die lewe af na die aantal uitnodiginge wat hul kry.

Hul mans is tafelskuimers van die eerste water en het iets ouderwets-deftigs oor hulle, vol vooroordele waarmee hulle maklik deur die wêreld rol, totaal onbekend met die moderne gedagtewêreld, maar met ’n ingewortelde plesierlus. Baron Ambelard, hoogrooi van kleur, hou van lekker eet; en graaf Lavernay, jonk ondanks sy wit kop, skenk al sy neerbuiende aandag aan die mooi dames. Hy kom net van die hofsittinge, en vertel aan dieklompie mense om hom heen wat hy as jurielid ondervind het.

—Julle veroordeel ’n dief, maar ’n kindermoordenaarster laat jul vry, sê meneer Delourens; en, bang dat hy te veel gesê het, voeg die mannetjie daar haastig aan toe:

—Let wel, ek kritiseer u glad nie.

Meneer Lavernay lag sonder terughouding.

—My waarde heer, as ons kindermoordenaarsters sou veroordeel, dan sou ons geen diensmeisies meer kan kry nie.

—Hoe bespotlik ook, sê meneer Ambelard, om kinders te hê! ’n Mens se beurs moet eers geraadpleeg word. Wat sê u daar nou van, meneer Landeau?

Meneer Landeau beken dat hy daar geen gedagte oor het nie. Hy is miljoenêr en voer ’n verskriklike stryd in die besigheidswêreld om ’n reën van goud oor sy vrou te kan uitstort, om sodoende—soos ’n allesoortreffende tjek—haar trotse hart te win. Sy speel met hom soos ’n dieretemmer maak met ’n brullende leeu wat dreig en sy rug hoog maak. Onder voorwendsel van kinderpligte teenoor haar onverskillige ma, het sy geweier om met hom mee te gaan na Lyon; tweemaal in die week kom hy haar ’n besoek bring in die pragtige „villa” wat hy vir haar laat bou het. Sy lei hom in in die geselskappe, sy skouers is krom gebuig onder die las van sy besigheid, en sy gelaatskleur is soos lood. En daar, in die geselskappe—onderworpe en brommend—bewonder hy die bedwelmende skoonheid van Isabella, in haar element; en sonder vreugde hoor hy haar harde lag aan—die lag wat haar glansende wit tande laat sien.

Meneer Ambelard hou sy hand voor sy mond, want hy gaap van ongeduld, hy verlang na die eetmaal.

Marthenay het totnogtoe stilgebly, maar word ook nou oproerig:

—Dis Clement se skuld: hy het seker ’n ongeluk gehad met sy motorkar.

Die wysers van die horlosie staan al op agtuur.

—Hy het nog nooit ’n ongeluk gehad nie, sê meneer Delourens—wat net na rustigheid verlang.

Marthenay is nou sonder medelye:

—Hy self nog nooit nie—daar is hy te slim voor. Maar daar is genoeg wat onder sy kar verongeluk: hoenders, honde—en die ander dag ’n ou vrou ook.

—Ons het daarvoor betaal, en selfs baie duur, sê mevrou Delourens verontwaardig.

—Nou loop sy kreupel vir u geld.

Ruiterlik, en sonder bybedoeling, lê meneer Marthenay uit hoe die arm mense baiemaal die motorkarre oor hulle laat ry om geldelike vergoeding te kry.

Almal is eenstemmig in die verdediging van die modesport, behalwe juffrou Sonjon, wat teen vooruitgang is. Daar kom die jong Clement eindelik binne, uitgelate vrolik.

Sy ma beknor hom. Hy maak geen ekskuus nie en sê laggend:

—Ons het so lank versuim in die dorp. Die motorkar het uit orde geraak—’n mooi grap!

Meneer Ambelard is kwaad, hy sê by homself: ’n Mooi grap! Ons so laat wag vir die ete! Die jonkman praat gemaklik!

Die here gee elk ’n arm aan ’n dame, en almal gaan na die eetsaal. Clement gaan ander klere aantrek. Hy kom terug as die soepborde al weggeneem is. Maar met gebiedende stem vra hy sy soep, en maak glad nie gou om klaar te kom en die ander gaste nie te laat wag nie.

Die verskillende geregte volg mekaar op. Almal is weer opgewek en gesels deurmekaar. Clement het sy aptyt bevredig en brand nou van verlange om ook deel te neem aan die gesprekke en die aandag op hom te trek. Hy wag tot daar ’n oomblik stilte is, en basuin dan uit oor die tafel:

—Ek het groot nuus te vertel.

—Wat, wat? word van al kante gevra.

Maar hy het daar plesier in om hulle te laat wag, en strooi allerhande praatjies tussenin.

—Maar praat dan, sê verskillende ongeduldige stemme tegelyk.

Alle oë is op hom gerig. Maar hy wil nog ’n oomblik geniet van die opmerksaamheid wat sy nuus hom skenk. Terwyl daar nog ’n lekkerbek-gereg voorgedien word, sê mevrou Delourens nou uit naam van almal:

—Vertel nou!

Clement kan hul nou nie meer om die tuin lei nie. Hy het hul ten minste lank genoeg laat wag om sy lompheid te kan insien, maar op sy gewone growwe manier sê hy meteens:

—Nou wel! kommandant Kibert is dood.

Dit lyk byna ongepas om sulke nuus somaarso in die middel van ’n fees te gooi wat amper volmaak weelderig is—met die gloed, die ligte, die pragtige blomme en skitterende juwele, die ryke damesrokke en die opgewektheid van die geselskap. Dit moet wel ’n ongemanierde, sportbedorwe vent soos Clement wees om soiets te waag.

As die dood genoem word, dan beteken dit dat die plesier van die aand nie sal stand hou nie. En om plesier te hê op die oomblik moet ’n mens hom kan voorstel dat die plesier sal aanhou. Was dit nou nog maar iemand onbekend, wat somaar verbygegaan kon word! Maar dit is onmoontlik in die geval van kommandant Kibert: die bekendheidmet sy famielie, sy persoon, en sy skitterende loopbaan hou die geselskap onvermydelik besig. Almal voel half verslae.

Isabella Orlandi is die eerste wat praat, en dis om twyfel uit te druk:

—Watter praatjies! Verlede jaar kon ’n mens soiets nog geglo het. Hy was toe met sy kommando in Afrika; deur onbekende en gevaarvolle landstreke. Maar hy is fris en gesond, en daarby beroemd teruggekom. Hy is nog maar twee-en-dertig jaar, en nou al kommandant, en met hoë eretekens. Hy is ons groot man. Julle is almal jaloers op hom—daarom wil jul op hom sit.

Sy praat op ’n opgewonde manier, skuif heen en weer op haar stoel, en kyk van links na regs, asof sy wil hê dat almal moet sien hoe kwaad sy is. Toe Clement sy nuus vertel het, het haar oog vanself op Alida geval, en sy het gesien hoe die bloed weggegaan het uit Alida haar gelaat, asof haar lewe haar verlaat; en die dodelike bleekheid gaat ook oor op haar hande, wat senueeagtig begin te bewe, en so wit is as die tafellaken.

Clement maak ’n beweging met sy hand:

—Wat jul nou ook al sê, hy is dood. Ek bewonder hom, net soos julle, maar dood is hy.

—O, vaderland! Hou jou mond! sê mevrou Orlandi—sy het meteens met skrik gesien dat hul dertien aan tafel is, en tel nog ’n keer, hopende dat sy fout gemaak het.

Plegtig klink die woord van mejuffrou Sonjon:

—Dat die Heer sy siel bewaar!

—Het hy in ons land gesterwe? vra meneer Delourens. Want die kommando is al sedert ’n paar maande terug.

Meneer Ambelard is onverskillig en eet ’n happie op wat hy vir die laaste op sy bord bewaar het. En meneer Laverney se oë rus op die mooi hals van Isabella.

Meneer Marthenay sit sy glas neer, wat hy elke keer leeg drink, en sê:

—Skaars drie weke gelede het ek kommandant Kibert nog gesien. Hy het toe by die stasie uit die trein gestap. Ek het na hom toe gegaan, maar dit het gelyk of hy my nie meer ken nie.

—Waarskynlik het hy daar niks omgegee om jou te ontmoet nie, sê Isabella. Sy kan dit nie laat nie: sy het ’n afkeer van Alida haar man; hy hou aan om hom aan te stel as haar vryer, sodra hy nie meer sy tyd verknoei met kaartspeel nie. Om die afjak nog duideliker te maak, sê sy daarby:

—Ongetwyfeld voel hy minagting vir offisiere wat hul betrekking bedank het.

Marthenay het naamlik die jaar vantevore uit die militêre diens getree.

—Ja, so is dit, sê Clement, wreed. En nou die aandag weer op hom gevestig is, gee hy ’n paar besonderhede:

—Swaer Marthenay is reg: Kommandant Kibert het verlede maand teruggekom. Hy was twee dae by sy moeder en suster op Maupas en het toe weer vertrek na die troepemag in die binnelande van Algiers.

—Ja, sê Marthenay, maar vandag het generaal Servières by die plek verbygetrek, en hy rapporteer dat die vyand die troepemag daar aangeval het.

Clement sit sy oogglasie op en kyk die gewese luitenant brutaal aan:

—Ou swaer, is dit jy? Stel jy waarlik eenkeer belang in militêre sake?

Ná nog ’n kyk na die doodsbleek gelaat van Alida, sê Isabella:

—Maar ek verstaan daar niks van nie. Hy was skaars terug van die tog oor die Saharawoestyn, wat ag-en-twintig maande of twee jare geduur het.Ná sulke togte kry hul gewoonlik baie lank verlof. Hy het dus glad geen rus geneem nie en het dadelik weer na die front gegaan? Want as hy dood is, dan het hy in ’n geveg geval.

Alida neem ’n bos blomme in haar hand en ruik daaraan, om haar bleek gesig vir die gaste te verberg.

Isabella laat eindelik die vry teuel aan die onrus wat haar nou kwel:

—En kaptein Berlier? Hy is ook terug van die Sahara. Hy het by dieselfde kommando behoor as kommandant Kibert. Is hy ook weer met hom meegegaan na die binnelande?

Het Clement Delourens aan die geluid van haar stem gehoor dat sy ongerus is? Alte dikwels al het hy moet krimp onder die spot van die jong vrou, wat niemand spaar nie; nou het hy daar ook plesier in om haar ’n bietjie te martel:

—Maar seker, Jan Berlier moet ook daar gewees het.

—Vertel nou eindelik, wat weet jy seker? sê Isabella, kwaadaardig.

Mevrou Delourens dring ook daarop aan. En Clement vertel:

—By die stadsraad van die dorp is berig gekom van die Minister dat kommandant Kibert deur die vyand doodgeskiet is by die verdediging van ’n stelling in die Sahara. Hulle het die veldwagter gestuur om die berig aan sy moeder te bring.

Daar staan ’n groot kandelaber voor mevrou Delourens, sodat sy haar dogter nie kan sien nie. Die blomme wat Alida in haar hand hou is swaar van die trane wat sy daarin ween. By die algemene opwinding merk niemand dat sy ween nie.

—Hoe het hy gesterwe? vra een van die dames.

—Aan die hoof van sy manskappe, nadat die oorwinning al behaal was—’n koeël in sy voorhoof.

Seer korrek merk meneer Delourens op:

—Dis ’n groot verlies vir die land.

—Ja, sê sy vrou—meteens welsprekend geword—ons eer sy roemryke nagedagtenis. Ons sal ’n lykdiens laat hou, so pragtig, dat die hele dorp verbaas sal staan. Dit kom ons stand toe om aan ons vaderland te laat sien hoe ware verdienste erken en vergoed moet word in ’n tyd dat middelmatigheid so algemeen is in ons nasie, wat deur afguns tot die laagste trap gesink het.

Dieselfde dag het sy die laasuitgesproke sinsnede net so gelees in die koerant.

Alida is verbaas om sulke woorde te hoor uit die mond van haar moeder en dink in haar droefheid:

—Waarom het sy dan geweier om my aan hom te gee?

En Isabella is stil, want sy dink aan Jan Berlier, omtrent wie nog niks seker is nie.

Mevrou Orlandi vergeet Pistache ’n oomblik en vra:

—Weet sy moeder al?

Almal kyk Clement aan. Met ’n losse onverskilligheid, meer eie aan sy leeftyd as aan sy ongevoeligheid, sê hy:

—Sy moet nou alles weet. Op pad na huis het ek haar verbygekom; in haar ou rytuig was sy op weg na Maupas.

Iedereen voel iets eienaardigs by dié woorde.

Dit lyk of die koue buitelug meteens binnegekom het in die gerieflike warm eetsaal. Instinkmatig staan meneer Ambelard op om te kyk of die rame wel goed sluit. ’n Rilling loop deur die geselskap—hul sien in hul verbeelding almal dieselfde. En wat hulle sien, is ’n ou vrou wat al baie harde slaein haar lewe ontvang het, en nou oor die sneeu huis-toe gaan, kalm en vreedsaam, om in haar huis die doodstyding te ontmoet.

Die onvermydelike ramp, wat nou op die oomblik miskien in hul nabyheid plaasvind, is nog meer treffend as die verre en roemryke dood van kommandant Kibert in Afrika.

’n Snik van Alida breek die doodse stilte. Met ’n met skrik bevange stem fluister Isabella:

—Nou weet sy dit.

Die moeders in die geselskap steek hul trane nie weg nie. En mevrou Delourens—gou om handelend op te tree—maak planne van roubeklag en trooswoorde aan die arme vrou, wat sy gou wil besoek.

Clement siet al die lykstasiegesigte; en hy—wat hou van vrolikheid aan tafel—siet nou dat hy ’n fout gemaak het.

Sy vader—aan ou vorme geheg—hef onwillekeurig die swaarmoedige stemming ’n bietjie op deur ’n bysaak te bespreek waaroor hy nog nie uitgepraat is nie:

—In plaas van ’n veldwagter te stuur om die nuus oor te stuur, behoort die burgemeester self na Maupas te gaan.

Meneer Ambelard trek party van die opening in die gesprek om die protes te laat hoor wat hy al lank met moeite terughou:

—Al ons hartseer sal niks aan die saak verander nie, en ons mag gerus oor iets minder treurigs gesels. Voor ek na die komedie gaan, vra ek ook altyd eers of alles gelukkig afloop. In geselskap, soos in die komedie, moet die treurigheid uitgegooi word.

Graaf Lavernay dink ook so, en so word die dooie begrawe. Die sjampanje fonkel weer in die glase soos lewende goud. Die blomme geur oordie tafel, bedek met mandjies gesuikerde vrugte. Die juwele van die vrouens skitter in die lamplig. Nie sonder genoeë voel hulle hulle weer terug in hul ou element van deftigheid en welgedaanheid wat versteur was deur ontydige slegte nuus.

Maar Alida en Isabella voel apart in hul droefheid.

Die geselskap drink op die gesondheid van die jong egpaar Marthenay—want daarvoor is hierdie fees. En dan gaan almal na die voorkamer.

Alida kon nie meer hou nie en sy vlug na die kamer van haar ma. In die donker gee sy haarself oor aan haar smart. Sy het nog die moed gehad om te glimlag toe ’n feesdronk op haar ingestel was en toe gepraat was van haar „benydenswaardige geluk.” Haar geluk! Tevergeefs soek sy dit, nou of in haar verlede; en hoe sou sy dit in die toekoms ooit vind? Met die helderheid van gedagte, wat altyd kom by die sware skokke van die noodlot, wat ons dreig te verpletter, deurleef sy weer, in haar wanhoop, haar laaste lewensjare. Snel en helder kom die beelde verby, die een na die ander—al haar droewige dae . . . .

Sy wou nie die vrou word van Marthenay nie, maar sy was magteloos teenoor haarself. In haar trourok het sy die kerk ingestap aan die arm van die man wat sy nie self gekies het nie. En daarna? Kan sy terugsien op één uurtjie van geluk, die innige, suiwere geluk wat haar kinderlike verbeelding haar voorgetower het? Die eerste tyd van haar huwelikslewe het in ’n soort van weldadige verdowing op haar neergekom, soos ’n mistigheid wat oor ’n verwoeste veld kom en die narigheid daarvan bedek. Sy het vergeet om haar hart te ondervra. Haar man het die opgeruimdheid gehad van iemand wat besig is: hy was nouen dan te perd uit, hy het sy militêre pligte trou vervul, hy het vriende ontvang, hy het partytjies gegee. Sy het haar laat aflei deur die nuwe huishoudelike sorge en deur die menigvuldige pligte van wêreldse vertoning. By gebrek aan die man van haar drome het sy ’n man wat groots is op sy fortuin, en sy gesig, ja, om die waarheid te sê, sonder fyn maniere, sonder veel verstand of geestigheid, maar met ’n gesonde maag en ’n verwaandheid waardeur hy in onophoudelike selfbewondering verkeer. Toe haar dogtertjie gebore geword het, het sy gedink eindelik haar geluk te vind en die werklikheid te vergeet.

Van dié tyd, wat nog draaglik vir haar was, gaan haar gedagtes nou oor op haar teenswoordige toestand, wat altyd duur. Deur onverwagte gebeurtenisse moes die troepemag van Chamberie verplaas word na die Verre Oos. Tevergeefs het Marthenay probeer om ’n plaasvervanger te kry: hy moes saamgaan, of sy betrekking opgee. Die vooruitsig van sy vertrek het mevrou Delourens so rasend ongelukkig gemaak, dat sy jong vrou—onversigtig genoeg—hom herinner het aan sy belofte voor hul huwelik. En as ereman het die luitenant hom opgeoffer: binne vier-en-twintig uur het hy sy bedanking ingestuur. Met welbehae het hy hom oorgegee aan sy begeerte na ’n lui-lekker lewe, wat nie moontlik was tydens sy militêre loopbaan nie. En van dié oomblik af het hy laer en laer geval. Hy het begin met al die drinkplekke te besoek. Hy het ’n getroue besoeker van die klub in die stad geword. Hy het begin dobbel en het gewen. Terwyl sy vroutjie langsaam herstellende was, na haar bevalling, het hy onterende en berugte omgang aangeknoop met ander vrouens. Alida het eendag die lae verraad agtergekom. Haar regskapenheid het ná haarhuwelik dieselfde gebly. Sy het eers geleer dat daar soiets as ontrou was deur die wrede ondervinding van ontrou self. Sy het daarteen opgekom. Maar in plaas van die skuldbekentenis en berou wat sy verwag het, en wat haar vergewensgesind sou gemaak het, moes sy die volgende vernederende woorde hoor:

—Jy wou gehad het dat ek moet bedank—wel, ekhetbedank. Gee net jouself die skuld as ek probeer om, op my manier, afleiding te soek ná die verlies van my betrekking. ’n Man moet iets te doen hê. Ek het my lewensdoel vir jou opgeoffer. Wat het jy my daarvoor gegee?

Die verwyte het haar laat verstom. Sy het haar toe apart gehou en opgesluit in stille smart; hoewel ongetroos, kom die houding ooreen met haar onderdanige natuur.

Verlies by die dobbelspel het verbitterend gewerk op Marthenay. Hy het toe begin drink. Onder haar oë het hy probeer om haar vriendin Isabella te verlei; en, moedeloos, het sy die afjak wat hy gekry het, met onverskilligheid aangesien. So moes sy stap vir stap die agteruitgang sien, waarvan sy miskien nog die oorsaak was. Sy kon daar nie onverskillig by bly nie, en het tog nie in staat gevoel om ’n redding te probeer wat sy reeds voor onmoontlik aangesien het nie.

Noudat Alida haar hele miserabele bestaan so weer opgehaal het, versadig van verdriet, verbaas dit haar dat sy daar so deur ly. Dis haar gewoonte om met haar gedagtes alleen te wees. Sy het al gewend geword aan die troosteloosheid daarvan. En kyk, nou het hul bitterheid vir haar nog ’n nuwe smart. Ander droefgeestige gedagtes kom in haar herinnering op, as om haar daarop te wys hoeveel skuld sy self gehad het aan haar lot. Sy dink terug aan die dag toe Paula Kibert, daar indie eikebos, haar hart laat klop het met ’n ongekende verlange. Sy sien weer die rooi sonsondergang deur die bome, en sy voel weer die hemelse ontroering in haar boesem. Sy sien hoe Marcel sy lang gestalte na haar oorbuig en van liefde praat. En nou . . . . . nou sien sy hom daar lê, in ’n verre land, in die warm son, met ’n gat in sy voorhoof, bleek en aaklig, met ’n verwytende blik op haar. O die oë vol pyn! hoe goed weet sy nog hoe hul lyk! So het hy haar aangekyk toe sy met haar misdadige swye hul geluk verwoes het. En in die donker kamer probeer sy verniet om haar gesig toe te maak en sy oë nie meer te sien nie.

Verward en bewend, rig sy smeekbede en woorde van liefde aan die dooie:

—Marcel, vergewe my. Moenie vir my so aankyk nie! Ek het nie geweet nie. Ek was nog maar ’n kind. Dis my verontskuldiging. Ja, ek was lafhartig; ek was bang om stryd te voer vir jou, om my swakheid te verdedig. Ek was bang om te wag, om lief te hê, om moeilikheid te ly, om te lewe. Maar God het my gestraf! O, hoe wreed is die straf! Moenie meer vir my so kyk nie; maak toe jou oë en vergewe my! . . . .

Sy skrik vir die klank van haar eie stem en druk haar hand op haar bors. Sy voel benoud soos op die dag toe haar kindjie gebore geword het. Uit haar verskeurde hart verrys eindelik die beeld, die kennis van die ware lewe, in al sy krag en grootheid. En met haar hele bevryde siel het sy Marcel lief, soos hy haar liefgehad het—in sy sieleadel, in sy trots. Dis deur haar dat hy—soekende om sy smart te vergeet—deur die woestyn gegaan het en daar sy roemryke dood gevind het. En miskien het hy nog aan haar gedink toe hy geval het. Ja, haar grootste begeerte is nou om te weet dat sy laaste gedagte oor haar was, al sou hy ook metminagting aan haar gedink het. Sy vergelyk haar teenswoordige bestaan met dié wat sy versmaad het; en dit spyt haar dat sy nie liewer die weduwee is van ’n held nie as om ’n minderwaardige lewe te deel met ’n man wat geen liefde kan opwek of voel nie . . . .

Die deur van die kamer gaan oop, en mevrou Delourens—ongerus dat haar dogter so lank wegbly, roep in die donker:

—Alida, is jy daar?

—Ja, wat wil u hê?

Verbaas oor so ’n onverwagte afjak, gaan mevrou Delourens weg en kom met lig terug. Sy vind haar dogter beweegloos en bleek, en sien aan haar afgedroogde wange dat sy trane gestort het. Sy gaan by haar sit en haar omarm. Maar Alida stoot haar weg. En die hart wat net moederlik alleen is, kry ’n steek.

—My liewe kind, jy het verdriet! Wat is dit dan? Ek is tog jou moeder. Wat makeer jy vanaand?

Ondanks haar lus om baas te speel—wat deur die teenstribbeling nog aangewakker word—begryp sy dat sy haar kind nou nie moet opdruk nie. Sy liefkoos en vlei haar—maar alles verniet, want as sy weer vra:

—Wat makeer jy dan vanaand? dan antwoord Alida, met ’n ferme stem, wat haar ma heeltemal nie van haar gewend is nie:

—Niks nie!

Die moeder wik en weeg twee vrae wat op haar tong brand. Eindelik—nadat sy begryp het dat die dood van kommandant Kibert wel iets met die trane te doen het, en terwyl sy nie durf om die geheim aan te roer wat sy soos iets niksbeduidends behandel het nie—vra sy:

—Is dit oor jou man?

—Ja, fluister Alida, weer teruggeval in haar swakheid.

Altwee stel hulle tevrede met die leuen, wat hul die pyn spaar om die onvermydelike verwyt van die verlede te hoor. Hulle dink oor Marcel Kibert en hulle praat oor Marthenay.

Alida kla oor haar treurige bestaan:

—Dit was verkeerd van ons om hom te vra om sy betrekking te bedank.

—Hoe seer maak jy my, my kind! Sou jy my dan wil verlaat het?

—Is dit beter dat my man my verlaat?

—Ek sou gesterf het, sê mevrou Delourens opgewonde. Jy sal tog nooit begryp hoe lief ek jou het, en hoe graag ek jou gelukkig wil maak nie!

En sy meen heeltemal wat sy sê.

Mislei deur die droewige klag van haar dogter, vind sy weer haar sekere stelling terug, wat versteur was deur die gedagte aan die gesneuwelde held. Afgaande op die ondervinding van haar eie huwelikslewe, kan sy die teleurstelling van Alida haar bestaan glad nie voel nie. Is dit dan nie die lot van die meeste vrouens nie? En het haar dogter dan nie nog as troos, wat aan so baie ander ontbreek, ’n toevlug aan die warme moederhart nie?

En in haar gedagte sien Alida ’n ander moeder, wat op hierdie selfde oomblik die bittere lydensbeker leeg drink—’n arme ou vrou, by wie sy graag sou wil wees, en waar sy sou gewees het as sy haar bestemming gevolg het. Soos swakkelinge wat in opstand kom, gaan sy die maat te buite, tot sy onregverdig word ten opsigte van haar eie moeder.

Hulle kyk mekaar aan. Eindelik begryp mevrou Delourens haar dogter, en voel ’n diepe smart. Daar is meteens ’n diepe kloof ontstaan tussen haar en haar dogter. Altwee voel die wrede openbaring. Hul verskillende geaardheid—die een heerssugtig en heeltemal oorgegee aan wêreldse vooroordele: die ander tengerig, gedwee en oorheers deur haar teerheid—die verskil val hul meteens kragtig op.

As hul ’n oomblik daarna bedaard en gearmd in die voorkamer kom, dan het niemand ’n gedagte aan die treurspel wat ’n skeiding tussen hulle gemaak het nie.

Isabella is daar, sy lei die gesprek op luide toon, parmantig, geestig, en laat haar wit tande sien. Van tyd tot tyd kyk sy almal met haat en minagting aan—haar man, haar nalopers, Marthenay, Lavernay, en veral Clement Delourens—omdat hul haar nie kan sê of Jan Berlier nog leef nie.

Sy sien dat Alida gehuil het, en beny haar die opregtheid van haar smart.

As die oomblik van vertrek daar is, en Alida met haar na die kleedkamer gaan om haar te help met haar jas, maak sy van die geleentheid gebruik om haar arms om Alida haar hals te slaan en haar eindelik oor te gee aan die ontroering wat sy al die heel aand onderdruk het. En sy laat die volgende woorde hoor—wat Alida dadelik begryp:

—My arme Alida! Hoe lafhartig is ons twee tog gewees! Ag! hoekom kan ons vanaand nie openlik ons dooie beween nie. Ons lewe het aan hulle toebehoor, en ons het geweier om hulle dit te gee. Laat ons ons ellendige bestaan beween; alles kon vir ons helder gewees het!

—Ja, sê Alida. Selfs die dooie te beween, is nou nog te verkies bo ons teenwoordige bestemming . . . .


Back to IndexNext