II.DIE BOODSKAP VAN DIE VELDWAGTER.
—Ek sal teen skemerdonker terug wees, het mevrou Kibert gesê aan haar dogter toe sy die middag weggery het met die rytuig. Sy het na Chamberie gegaan om famieliesake te reël in verband met die behoud van Maupas, wat nou moontlik sal wees omdat haar kinders in Asië—Etienne en Frans—en ook Marcel, deur sy werk in Afrika, so veel sukses gehad het.
Die son is al onder, en Paula gaan op stoep om te hoor of die rytuig nog nie aankom nie. Maar alles is stil. Dis skerp koud; sy gaan haar tjalie haal, en wag.
Die landskap is met sneeu bedek, en die aandlig kleur dit met ’n rose tint—soos ’n blos van maagdelike skroomvalligheid. Die wingerd-ranke en heinings dra ’n fyn kantwerk van ryp, skitterend in die laaste sonstrale. Die bosse is kaal en bêre geen geheime meer nie, en die fyn takkies bo staan swart geteken teen die suiwere winterlug.
Paula bewonder die towerspel van die winter. Sy beef van die kou. Net soos sy die deur instap, vlie daar ’n kraai in die verte en laat sy krassende stem hoor—sy vlerke soos ’n swart vlek teen die bleekblou lug.
—Ongeluksvoël! sê Paula, maar sonder gedagte aan ’n slegte voorteken: dis mos nou die tyd vir kraaie. Omdat daar geen kos meer op die velde te kry is nie, soek hul dit in die nabyheid van die huise.
Sy sit nog twee stukke hout op die kaggelvuur in die voorkamer en sit ’n ketel water daarop. Dan gaan sy ’n glas haal, die suikerpot, ’n lepel en ’n paar suurlemoene, en sit alles op ’n tafeltjie by die vuur, terwyl sy in stilte dink:
—Ma sal koud wees as sy tuiskom. Dis helder weer en koud, en ’n mens bevries amper in die ope rytuig. Die warm vuurtjie en ’n glasie pons sal haar goed doen—arme ma!
Sy neem ’n boek en probeer om te lees, maar dit wil nie vlot nie. Die horlosie slaat sesuur. Ongerus gryp sy weer die tjalie van die stoel en gaan weer op stoep staan.
Dis nou al nag. Die sterre staan bewerig aan die klare hemelruim—net of hul koud kry. Hoewel die maan nog nie op is nie, is die gesigseinder darem nie donker nie. Dit lyk of ’n onbestemde lig van onder opgaan, en of die wit besneeude aarde die hemelruimte verlig.
Onder in die laagte sien Paula die liggies van Chamberie skitter. Sy boor met haar oë tussen die eikestamme deur waar die rytuig langs moet kom, of sy die beweënde lanterns nog nie gewaar nie. Die minste geluidjie wat die windjie aandra, hoor sy. Nou word sy bedroë deur die tiktak van ’n windmeul. Dan skrik sy meteens op as sy ’n krysende geskreeu hoor, soos ’n noodroep. Maar die skrik gaan weer weg, want sy het die fluit herken van ’n naburige fabriek. Lank bly sy so staan, leunende op die tralie oplettend en onrustig.
Marie, die ou vrou wat hulle deur goeie en kwaaie dae gedien het kom haar soek en beknor haar:
—Maar is dit nou nie dwaas nie, juffrou, om in so ’n koue buite te bly nie! Kom nou binne; u sal mevrou tog nie gouer laat kom nie.
Paula gehoorsaam sonder antwoord te gee. Sy gaan in die voorkamer om die vuur op te stook. Haar gewone moed het haar verlaat. Haar hart klop hard in haar bors. Sy probeer om haarself gerus te stel—maar dit gaan nie.
—Die ou perd draf maar stadig, sê sy. Die notarisse hou ’n mens altyd langer besig as jy gedink het.
Sy hou nou op om te probeer die ongerustheid te oorwin, wat elke minuut groter word. Selfs in die gebed vind sy geen kalmering. Daar hoor sy die voordeur oopgaan.
—Het ma gekom? vra sy, opspringend, aan ou Marie wat by die deur verbykom.
—Nee, juffrou, dis ’n man wat vra of hy die ou mevrou kan spreek.
En?
—Hy sê hy is die veldwagter en word gestuur deur die burgemeester.
—Die veldwagter? En wat wil hy hê?
Sy word nog meer ongerus en sê dat hy binnegelaat moet word. Maar sy bedwing haar en ontvang die boodskapper van die burgemeester skynbaar met die grootste kalmte.
Stug swyend en onverskillig, soos mense wat heeldag besig is met een soort harde werk, voel die man tog dat hy ’n belangrike sending te volbring het, nou hy so voor Paula staan. Op pad het hy daar nooit aan gedink nie.
Paula sê aan hom:
—My moeder is uit. Maar kan ek die boodskap aanneem?
Hy praat nie, hy voel ongemaklik, en sy swye vermeerder Paula se innerlike angs. Dan stamel hy:
—Juffrou, ek moet . . . . ek moet u vertel . . . .
Die lamplig val op sy gesig, sy sien die verleentheid en beteuterdheid daarop en gee haar oor aan haar donkerste voorgevoelens. Haastig pratend skud sy die man nou wakker uit sy verdowing:
—Maar praat, praat dan tog! Het daar ’n ongeluk gebeur? My moeder . . . . . op die pad . . . .
Sy kan nie verder nie.
—Nee, sê die man. Ek het mevrou nie ontmoet nie.
Dan bly hy weer stil.
—Maar waarvoor het jy dan gekom? As jy iets te sê het, sê dit dan, en maak gou!
Regop en fier, neem sy die toon van gesag aan, wat sy somtyds laat geld—net soos Marcel. Dié houding bring die boodskapper heeltemal van sy stukke af. Met stomheid geslae, haal hy die telegram uit sy sak en gee dit met sy groot, bewende hand aan die meisie, dan wil hy weggaan. Paula het die rooi papiertjie in haar hand. Voor sy dit nog oopvou dink sy al aan haar broer. In ’n sekonde is haar oog daarop. Ag! is al wat sy sê. Sy verfrommel die papier in haar hand en word doodsbleek. Maar sy span al haar kragte in en bly regop staan, en stort geen traan nie. Aan hierdie man, wat sy vir ongevoelig aansien, wil sy haar swakheid nie toon nie. Maar sy moet vashou aan die tafel. Dié beweging en haar bleekheid is al wat verraai wat sy voel.
’n Verskriklike stilte lê op albei.
Eindelik sê sy sonder enige beweging:
—Dis goed. Gaan nou maar weg. Dankie.
As hy omdraai om uit te gaan dink sy nog aan die wet van landelike gasvryheid en sê:
—Vra aan Marie om jou iets te drinke te gee.
Maar die man hardloop die kombuis deur en vlug asof ’n moordenaar agter hom aan is . . . . . .
—God! Is dit waar? sug Paula, nou sy alleen is. Sy wankel na die skoorsteenmantel, hou met twee hande daaraan vas om te bly staan, maar sak neer op ’n stoel. Sy beef oor haar hele lyf. Sy stryk haar hand oor haar oë, wat geen traan stort nie en verdwaald rondkyk, asof sy die verskriklike toneel wil uitsluit wat haar voorstaan. Daar voorhaar, op die kamertapyt, sien sy haar broer lê, met ’n gat in sy voorhoof, waaruit sy edel bloed, sy lewe, wegvloei. O die ernstige gelaat, droefgeestig maar fier,welbewus van sy lot, soos sy dit altyd gesien het na die weiering van Alida; en nou sien sy dit weer, maar die oë is nou onsiende, roerloos, starend—skoon is die gelaat, en kalm in die dood!
Saggies roep sy: Marcel! Marcel! en verberg haar gesig in haar hande. Maar daar kom geen trane om haar smart te verlig nie. Haar broer, vir wie sy soveel verering gehad het, op wie sy so trots was, is dood, dood! Tien-, twintigmaal herhaal sy die woord om al die vreeslikheid daarvan te deurgrond. Dood, die held van die skone oorwinninge! Op twee-en-dertigjarige leeftyd is die heldhaftige en selfopofferende jong lewe afgesny. O, hoe min was hy aan die lewe geheg! Al lank het hy daar met geringagting op neergesien; was die ontmoeting met ’n banghartige meisie nie genoeg om hom alle lewenslus te ontroof nie? En onwillekeurig roep Paula al die herinneringe terug wat vir haar voortekens was van sy naderende dood: Dit was daardie glimlag vol vertroue wat sy die aand op sy lippe gesien het toe hy haar sy hartsgeheim geopenbaar het. Dit was dié onverskillige handbeweging wat hy gemaak het toe hul die sombere waarskuwing van die uile gehoor het ná sy laaste onderhoud met Alida. Dit was ook—toe hul die dag van sy vertrek daar op die boomstam in die bos gesit het—die sagte, wonderlike afgetrokkenheid wat hy laat blyk het toe hy gepraat het van sy toekoms. Jare al, van dié aand dat hy Alida die laaste gesien het, dra hy die dood in hom om. Nooit het hy weer haar naam genoem nie. Nooit het hy weer gesinspeel op sy liefde vir haar nie. Maar hy het alle geloof in die lewe verloor . . . . . .En op die geliefde gelaat, wat sy in haar verbeelding met innige deelneming aanskou, ontdek Paula ’n diep-tevrede rustigheid, onversteurbaar, altyddurend. En meteens gee sy ’n luide skree, val knielend neer en ween.
—Ja, dink sy, jy rus in vrede. Ons liefde was vir jou nie genoeg nie. En ons het jou tog so liefgehad, Marcel. Jy het nooit geweet hoe lief ek jou gehad het nie. Ek was nie in staat om jou dit te sê nie, maar mijn hart was vol van jou. Waarom het die dood my nie weggeneem in plaas van jou nie? Ek istogonnuttig!
Daar’s ’n ander onrus nog, waaraan sy maar liewer nie nou wil dink nie, maar dit voleindig die verwarring van haar gees: Marcel het ’n maat by hom gehad, in die slag . . . .
Meteens spring sy op:
—As ma nou kom!
Sy het haar vergeet. En terwyl sy God dank dat sy aan haar ma die allerdroewigste nuus kan meedeel, ween sy nou, nie vir hom wat daar vir altyd in slaap geval het op die veld van eer en oorwinning nie, maar vir haar wat daar bedaard aangestap kom, terug uit die donker daarbuite, sonder argwaan, na die rand van die afgrond. Sal hierdie laaste slag nie genoeg wees om die ou, swaar-beproefde lewe heeltemal af te breek nie? Tevergeefs soek Paula na ’n ligplekkie. Om haar heers ’n kerkhofrou. Ag, al die sterfgevalle en skeidinge: haar suster Thérèse, dood op twaalfjarige leeftyd; haar vader in sy volle krag afgeknak; haar suster Margriet ’n sendelinge; Etienne en Frans in die kolonies. Sy is nog net hier, heeltemal alleen, om haar ma te help om die alte sware kruis te dra. Maar nou dit nie anders kan nie, sal sy dapper wees en die wankelende ouderdom met haar krag ondersteun.
Sy droog haar trane af en was haar gesig.
—Ek sal haar nog nie nou, nog nie dadelik, vertel nie, sê sy. Sy moet tyd hê om warm te word en te rus. Ek sal haar vanaand vertel dat Marcel siek is. Verlede nag het sy niks geslaap nie. Vannag moet sy ten minste nog slaap. Môre word haar hart verbrysel. By dag is dit gemakliker om pyn te ly as in die nare, graf-donkere nag. Vanaand bly ek nog stil. . . . .
Sy spaar haar moeder die bittere lydensbeker. Uit die verre land, waar sy siel nou in vrede rus, roep haar groot broer haar toe: Spaar haar vanaand! Sy het tog al so swaar gely!
Daar hoor sy voetstappe. Haastig verberg sy die noodlottige telegram.
Marie, die ou bediende, kom binne:
—Daar is mevrou. Ek hoor die rytuig aankom.