I.TERUGKOMS VAN MARCEL KIBERT.[1]
Klaar om te vertrek, in haar een hand haar sambreel, alhoewel dit mooi weer is, terwyl die ander die swart kripsluier wegskuiwe wat van haar hoedjie afhang oor haar gesig, staan mevrou Kibert te wag in haar voorkamer op Maupas, moeite doende om geduldig te bly. En nadat sy al verskeie kere na die horlosie gekyk het, staan sy op en loop met langsaam, swak stappies deur die kamer; dan gaan sy meteens weer sit, nie op een van die lekker sagte leuningstoele nie, dog op ’n rottingstoel, waarvan sy gou kan opstaan sonder alte veel moeite. Mevrou Kibert is al taamlik oud, kort en dik, en haal langsaam asem. Haar gelaat vertoon sagtheid sowel as beslistheid. Haar oë is helder-blou, en sy kyk daar so teer en droefgeestig uit, dat dit lyk of daar trane in is—getuiende van ’n skroomvallige en liefhebbende geaardheid, wat maklik skrik aan te ja isdeur omgang met die wêreld; maar haar vierkantige ken en haar gesette, stewige postuur, gee weer ’n indruk van geeskrag en weerbaarheid. Haar wange het, ondanks haar jare, nog fris gebly, duidende op edel bloed en goeie gesondheid.
Na ’n bietjie aarseling, besluit sy om ’n deur oop te maak en te roep:
—Paula, kom jy nou? Dis tyd om te gaan.
’n Helder en suiwer stem gee antwoord:
—Ag, ma, ons het nog baie tyd.
—Dis al sewenuur op die horlosie, sê die ou vrou, maar sonder haarself op te win.
—Ma weet dat die horlosie drie-kwartier voor is.
—Ja, maar hy kan miskien meteens agtergebly het, hy is so vol nukke.
Die jongmeisie antwoord met ’n skaterlag, maar uitlag is dit darem glad nie. Spoedig laat sy daarop volg:
—Ek sit nou my hoed op, ma, en ek kom.
Getroos gaan mevrou Kibert weer sit. Sy laat haar oë gaan deur haar voorkamertjie (hulle woon buite die dorp), oor die wit gordyne, onlangs skoon gewas en gestryk, waar die lig dowwerig deur val, reeds versag deur die nuwe somergroen van die groot bome buite. Die meubels is oud en stemmig, en daar is nie onnodige opskik nie.
Dis die roostyd, en sy sit ’n vaas met rose aldag daar, as ’n offerande aan die portrette van die geliefdes aan die muur—oorsaak van al haar vreugde en smarte; die vergrote portret van haar man, dokter Maurits Kibert, gestorwe die jaar vantevore as slagoffer van sy plig gedurende die koorssiekte wat geheers het; en die portret van haar dogter Thérèse, ’n klein meisie van twaalf jaar, na God geroep in die daeraad van haar jeug en skoonheid. Daar is ’n groepie van haar kinders op één portret bymekaar: Etienne, haar oudste seun, ingenieur in Tonkin;Marcel, offisier; Magreet, pleegsuster; Frans, by sy broer in die verre Oos; dan Paula, die laaste wat nog vir haar oorgebly het. Ag, hoeveel maal het sy al moet afskeid neem—en vir altyd—in sestig jaar tyds! Maar dit lyk of hulle haar toelag vandag—’n feesdag in haar huis van rou.
Haar twede seun, Marcel, is terug in die land. Hy het deelgeneem aan die oorlog in Madagaskar tot onderwerping van die inboorlinge. Op agtienjarige leeftyd was hy reeds kaptein. Hy het die erekruis gewin en kom nou terug, fris en gesond, na afwesigheid van drie jaar. ’n Telegram, vanmôre ontvang, wat sy al gelees en herlees het, lê nog oop op die tafel, en het haar te kenne gegee dat hy sal aankom op Chamberie vanaand met die trein van half-ag. En dis daarom dat mevrou Kibert haar vandag twee ure te vroeg klaar gemaak het om na die naburige dorp, Chamberie, te ry en haar seun by die stasie te ontmoet. Haar gedagtes loop haar al vooruit op die treinspoor waar hy langs moet kom. Maar sy voorsien by die ontmoeting ’n ontroering wat al haar moed sal verg. Daar ver in die vreemde land het Marcel gehoor van sy pa se dood. As die dood in die verte diegene tref wat ons liefhet, hoe bitter en wreed is dan sy slae! Met die eerste oogopslag sal Marcel haar rouklere sien en die vermeerderde tekens van haar ouderdom. Daar sal ’n skaduwee van die dode oprys tussen haar en haar seun. Sy beproef haar kragte, en sê by haarselwe:
—Sy kinders het nog nooit teruggekom met die trein van hier of daar nie, of hy was altyd self by die stasie om hulle te verwelkom. Ek sal nou daar wees in sy plek.
Paula kom nou die kamer in. Haar fraai blinkend-swart hare omlys haar ronde dofkleurige gesig. Haar swart klere laat haar dun lyk, maarsy lyk nie swak nie. Uit haar fiere houding en vaste uitkyk straal beslistheid en dapperheid. Hierdie kind van twintig jaar het al geweet wat lye is, op ’n leeftyd dat die lewe sy hoogste geur en fleur het. Om nie ’n swakkeling te wees nie, het sy haarself skrap gesit, en die gevolge van die stryd kom uit in haar houding.
Paula het ’n nuwe hoedjie in haar hand wat sy stilletjies klaar gemaak het die dag vantevore.
—Sit nou eers stil, ma. Ma moet mooi lyk as Marcel vandag kom. Kyk wat ’n mooi hoedjie het ek klaar gemaak; daardie een wat ma op het, is te afgedra.
Haar ma wil eers teënstribbel, maar laat haar dan begaan.
—Maar nou word dit darem regtig tyd, my kind.
—Ja, sê Paula, ek gaan Trelas roep.
Trelas is die kneg, wat sal leisels hou op die pad na Chamberie.
Paula kyk nog ’n keer op die horlosie en sê:
—Ons sal nog ’n uur by die stasie moet wag.
—My kind, ek sou tog nie te laat wil wees nie.
Met moeite klim sy van die stoep in die rytuig. Noudat sy sit, probeer sy te glimlag met Paula, en die onvoleindigde glimlag gee vir ’n oomblik aan haar gesig die frisse saligheid terug, wat die bekoring van haar jeug was. Paula spring vlugtig in die rytuig, en gaat naas haar sit.
—Laat loop maar, Trelas, en ’n bietjie gou, hoor; maar moenie alte baie slaan nie, en pasop by die afdraands.
—Tyd genoeg, sê Trelas drogies.
Hul ry onder die laning van swaargeblaarde kastaiingbome en plataanbome deur, verby die eikebosse. Die ou merrie begin haar bene te kry en so hard te draf dat mevrou Kibert bangerigword. Agter die bult is die son al ondergegaan, dog die blonde lig van die someraand verlig die velde nog lank.
—Ma, kyk tog na die berge, sê Paula.
In ’n groot sirkel lê die berge om Chamberie, hul rotsagtige toppe helder-rooskleurig getint, terwyl op hul voet, en langs hul kante, soos ’n fyn sluier die blouagtige waas hang, wat mooi weer voorspel. Maar mevrou Kibert is te besorg om na die sonnegloeie op die toppe van die berge te kyk; meteens kom dit uit waaroor sy sit en prakseer:
—Sê nou die trein was te vroeg! En hoewel sy dit mènens gesê het, is sy die eerste wat glimlag oor so ’n nuwe veronderstelling. Sy sien hoe die tere en ligte skaduwee stadig die berge uitklim, terwyl ’n oomblik die toringkruisie van die dorp helder daarteen afsteek. Sy wys dit aan haar dogter, as ’n beeld van stralende geloof. En nou daal dieselfde stille vrede neer op die hele natuur, en ook vir die eerste keer, sedert lank, op die gesigte van die twee vroue in rou.
Naby Chamberie kom ’n rytuig, met twee pragtige harddrawers bespan, hul agterop, en ry hul verby.
—Dis die rytuig van die famielie Delourens, sê Paula. Hulle het ons nie gegroet nie.
—Hul het ons seker nie herken nie.
—O ja, ma, maar vandat ons ons geld verloor het deur ons oom te help, groet hul ons amper nie meer nie.
Sy praat van ’n famielie-ramp wat voorgeval het kort voor die dood van haar vader. Mevrou Kibert neem die hand van haar dogter.
—Dis maar niks nie, my kind; dink tog daaraan dat ons netnou vir Marcel sal sien.
Maar na ’n oomblik stilte vra Paula;
—Was dit nie pa wat vir Alida Delourens gedokter en gesond gemaak het nie toe die koorssiekte so geheers het, waaraan pa ook self gesterwe het?
—Ja, fluister die ou vrou, en al haar plesier is weg as sy daaraan dink. En sonder klag voeg sy sag daarby:
—Ja, en hul het nog altyd vergeet om die rekening te betaal. So maak die ryk mense baie maal. Hul weet nie dat ’n mens geld moet verdien om te lewe nie.
—Dis omdat hul aan niks anders as aan tydkorting dink nie.
Mevrou Kibert sien ’n bitter trek op die nog jong gesig.
—Luister, my kind, ons moet hul nie beny nie. Onder die verstrooiing vergeet hul om te lewe. Sou hul selfs weet dat die lewe iets kosbaars is? Hul weet nie wat ’n mens se hart kan vervul en dit harder laat klop nie. Ek sal gou sestig jaar oud wees.—Ek kan my gestorwene en my opofferinge tel. Ek het my dogter Thérèse verloor, en my man, wat my krag was. Jou ouer suster, Magreet, is sendelinge, en ek het haar in vyf jare nie gesien nie. Etienne en Frans is in Asië, in Tonkin, en ek ken nie eens my kleinkind wat daar in die verre land gebore is nie. Marcel kom terug vandag, nadat sy afwesigheid my drie jare van onrus besorg het. Maar ek het darem tog ’n skone deel ontvang. Ek prys die Heer, Wat my beproef het nadat Hy my met weldade oorstelp het. Elke dag van my lewe het ek gevoel hoe goed Hy is. Selfs in my ellende het Hy my ’n steun gegee—en dis jy.
Met haar klein handjie, sonder handskoen, druk Paula die verrimpelde en gekerfde hand van haar moeder.
—Ja, dit is so, ma, ek sal nie meer kla nie.
Hul is eindelik by Chamberie, na die rit van drie myle. Trelas laat die vroue afklim by die stasie en gaan opsy met die rytuig.
Paula kyk op die horlosie en sien met verbasing dat dit tien minute oor sewe aanwys. Haar ma sien dat sy verwonderd lyk:
—Het ek jou nie gesê ons sou te laat kom nie?
Die jongmeisie glimlag:
—Te laat, omdat ons nie meer as twintig minute sal moet wag nie?
Hul gaan na die wagkamer. Net soos mevrou Kibert die deur oopmaak, wil sy weer terugtree. Maar Paula druk haar saggies binne-toe. Die kamer is vol deftig aangeklede mense. Dis die hoë mense van Chamberie wat wag op ’n trein wat hul na die komedie sal neem. Paula en haar ma herken die famielie Delourens.
Mevrou Kibert voel ongemaklik en wil uitgaan; sy fluister in Paula haar oor:
—Laat ons in die wagkamer van die derde klas gaan: dis beter daar.
—Waarom? sê Paula.
Op dié oomblik verlaat ’n aansienlike jongman ’n klompie vroue wat daar staan, en stap na hulle toe. Hul herken in hom luitenant Jan Berlier,[2]’n vriend van Marcel. Hy groet hul op die vriendelike manier wat ’n mens dadelik eie laat voel.
—U wag op die kaptein, is dit nie so nie, mevrou, want u hou tog nie van reis nie.
—O, nee!
—Hoe bly sal hy wees om u netnou te ontmoet!
—Vroeër, sê die ou vrou aan die jongman, wat sy al as kind geken het, was dit sy vader wat hom altyd ontmoet het, weet u!
—Ja, ek weet.
En om nou nie verder op ’n publieke plek oor die sterfgeval uit te wy nie, laat Jan Berlier daarop volg:
—Ek sal Marcel ook nog die hand kan druk, eerdat ons trem weggaan.
—Kom soek hom op by ons huis. Gaan u op reis?
—Vir vanaand. Ons gaan na die stad. Daar word vanaand ’n nuwe komedie-stuk opgevoer. Maar u stel daar nie belang in nie.
Altyd openhartig, antwoord mevrou Kibert:
—Ek is nog nooit in ’n komedie gewees nie. En om u die waarheid te sê, ek het daar ook nie spyt van nie.
Alhoewel sy saggies praat, het twee jongmeisies in ligte klere haar gehoor, en een van hulle, met bruin hare en brutale blik, bars uit van die lag. Dit kan wees dat ’n luitenant wat met hulle staan en praat, die lag verwek het.
Paula bekyk die meisie wat lag, veragtelik, van bo tot onder met haar swart oë, wat ’n snelle blits uitskiet.
—Moenie hier so bly staan nie, sê Jan.
Die ou vrou gaan sit in ’n donker hoekie, op ’n stoel wat naas ’n leë leuningstoel staan, net soos iemand wat hom nederig en bangerig voel.
—Maar neem dan tog die leuningstoel, ma, sê Paula ’n bietjie ongeduldig. Sy beantwoord drogies ’n groet van die ander jongmeisie van die twee—wat nie met haar saam gelag het nie, maar gebloos.
Die jonkman praat nog ’n paar woorde met hulle en gaan dan terug na sy eie geselskap. Paula kyk hom na en hoor hoe hy aan mevrou Delourens sê:
—Ja, dis mevrou Kibert. Sy verwag haar seun uit Madagaskar.
—Watter een? Sy het so baie.
—Maar die offisier, Marcel!
—Watter rang het hy?
—Kaptein—dié wat die eremedalje gewin het—beroemd, sê Jan haastig, ’n bietjie ongeduldig oor die uitvra, want die meisie met die bruin hare roep hom.
Maar mevrou Delourens wil nou meer hoor:
—Beroemd? Wat het hy gedoen?
—Weet u dan niks van die slag van Audriba, waar sy kommando-afdeling die oorwinning behaal het nie?
—Is jy seker daarvan?
—So seker as iets. Die hele land praat van Marcel Kibert.
Mevrou Delourens is dadelik vol belangstelling, en tree op mevrou Kibert toe. Tot selfs in haar verval word die ou weduwee nou belangwekkend, omdat haar seun so ’n naam gemaak het.
—Kom die kaptein vanaand tuis, mevrou? Ag, ons het hom almal met ons harte gevolg, daar in die verre land en in die vreeslike oorlog, waar hy sy land eer aangedaan het. In die koerante het ons gelees wat hy alles volbring het in die slag van Audriba.
Agter sy vrou staan mnr. Delourens, ’n baie onderdanige en hoflike klein mannetjie, en met ’n hoofbeweging bevestig hy al wat sy vrou sê.
Mevrou Kibert voel haar in dié omgewing baie ongemaklik. Hoe steek haar armoedige rouklere af (alhoewel deur haar dogter opgeknap) by hul deftige aandkleding; sy voel dat sy geen enkele gedagte gemeen het met hierdie mense van die wêreld nie. Almal kom rondom haar staan en wens haar geluk. Na mevrou Delourens kom mevrou Orlandihaar gelukwens. Laasgenoemde is ’n ou Italiaanse gravin wat stil lewe in Chamberie en gedokter was vir haar senuwees deur oorlede dokter Kibert. Meneer De Marthenay, ’n luitenantjie, kyk die ou vrou op ’n byna brutale manier deur sy oogglasie aan. Bangerig beantwoord sy hulle met enkele woorde; die bloed styg in haar wange op, haar dogter Paula merk dit, en kom haar te hulp. Paula is meer op haar gemak en, selfs ’n bietjie styf, ondanks die lieftalligheid wat die twee jong meisies haar betoon—die bruine Isabella Orlandi, wat in haar woorde net so aanstellerig is as in haar houding, en veral die ander meisie, die blonde Alida Delourens, wat van nature vriendelik is. Sy oorlaai Paula met beleefdheidjies en voorkomendheid, haar stem is sangerig en breierig, sy versag die hardklinkende woorde en praat met ’n aangename soetvloeiendheid.
—So, dan kom jou broer vandag? Jy is seker bly? Dis al jare gelede dat ek hom laas gesien het. Weet jy nog toe ons almal saam gespeel het in julle tuin by Maupas, of in ons syne by Chenée.
—Ja, sê Paula, en nou speel ons nie meer saam nie. Die tuin by Maupas lê woes, en dié by Chenée is weer alte mooi versorg.
—Maar waarom kom jy nie meer na ons toe nie? Jy moet regtig kom.
En Paula vra haarself af waarom haar vriendin van vroeër dae—deur lewensomstandighede van haar geskei—nou so vriendelik vir haar is. Sy kyk na haar eie swart rok, so eenvoudig en glad, en bewonder dan, sonder afguns, Alida haar ligblou lyfie, opgemaak met wit kant en ’n bietjie laag in die hals—’n wit, dun hals, wat lyk soos ’n tere blom. Paula beskou dan verder haar gelaat, waarvan die trekke fyn en suiwer is, en die ligrosegelaatskleur sonder ’n vlekkie. Sy kan nie help om te sê nie:
—Hoe mooi is jy tog, Alida!
Die fris wange word meteens purperrooi. Alida gaan opsy om iemand te laat verbykom, en Paula merk dat selfs haar slap-sleperige stap iets bydra om haar dooierig-tingerige bekoorlikheid te voltooi: naas haar voel Paula beter haar eie jong krag. . . .
—Nee, Paula, dis jy wat mooi is. . .
Daar kom die trein aan en breek al die gesprekke meteens af. Almal storm die wagkamer uit. Die famielie Delourens en hul geselskap soek eersteklas rytuie in die trein, wat nou stilhou. Die mense wat uit die trein stap, loop al haastig na die uitgangsdeur. Die voorste van almal is ’n lang jonkman, skraal en regop; hy hou sy hoof fier omhoog. In sy hand dra hy ’n sabel, in groen baai. Net soos hy mevrou Kibert opmerk, hardloop hy na haar toe, en is in haar arms.
—My kind! sê sy, en ondanks haar besluit om sterk te bly, bars sy in snikke los.
En hy, hy rig hom weer op ná die omhelsing, en teer kyk hy sy moeder aan, wat die merke dra van haar beproewing. Sy songebrande, byna hardvogtige gelaat, vertoon ’n ontroering. ’n Naam wat hulle nie nodig het om uit te spreek nie, beef op hulle lippe, en een selfde eerbiedige nagedagtenis roer hul harte. Die vreug van sy terugkoms gee iets treffend nuuts aan die smart wat hulle al lank gevoel het.
Met versagte blik kyk Paula haar groot broer en haar ma aan.
Voor die deurtjie van die trein draai Alida Delourens en Isabella Orlandi om, en sien die verwelkoming van die jong offisier; en Isabella kyk mevrou Kibert met spotlaggende oë aan, omdat sy so dik is en nog huil daarby.
Jan Berlier staan opsy en wag eerbiedig. Hy kom na Paula toe.
—Hoe gelukkig is hulle tog!
En met iets treurigs in sy stem voeg hy daar nog by:
—As ek van ver af terugkom, is daar niemand wat my verwag nie.
Marcel omhels ook sy suster.
Jan kom laggend nader:
—Ek wil nou ook my beurt hê.
—So, Jan, is dit jy?!
En as warme vriende druk die twee mekaar hartlik die hand. Jan is ’n oomblik ontroerd, dog glimlag nou weer:
—Tot weersiens. My trein gaat weg: ek moet hardloop.
—Waar gaat jy?
Al lopende draai die jonkman half om en sê:
—Ons gaan na die komedie in die stad. En hy wys met sy hand na die mense wat by die trein staan.
Marcel Kibert laat haastig sy oog oor die deftig uitgedoste mense gaan. Maar Paula draai nog ’n keer om en sien hoe Alida haar groet uit die treinraampie. Sy groet terug, haastig, en nie besonder vriendelik nie, net of sy ’n soort wantroue of bygelowige vrees voel vir daardie verleidelike verskyning. Haar jong vurige siel het, deur vroegtydige leed, ’n soort van trotse gevoeligheid oorgehou. Waarom was Alida so tegemoetkomend? dink Paula. Haar oë volg die jong kaptein, wat aanstap met sy ma, haar arm in syne. En, dinkend aan Alida, laat Paula op haar vraag volg, so by haarself:
—Alte ryk, en te min moed.
Marcel sien die rytuig wat vir hulle wag, en roep:
—Daar is ons ou rytuig!
—Die enigste wat ons oorgehou het, sê mevrou Kibert, net of sy om verskoning vra daarvoor.
By sy vrolike uitroep het die jonkman so ’n antwoord nie voorsien nie. Die ou rytuig het hom laat dink aan sy kinderjare, en kyk, nou is dit die teken van die agteruitgang van die famielie. Sy gesig betrek: hy begryp meteens hoe moeilikhede van stoflike aard nog die rou en ellende in Maupas vererger het. Sonder self persoonlike behoeftes te gevoel, want hy is gewend om met min klaar te kom, voel hy vir sy moeder en sy suster om die agteruitsetting, wat hy nou begryp. En mevrou Kibert sê by haarself:
—Ons moes ’n rytuig by die stasie geneem het om hom eer aan te doen.
Marcel asem met genot die lug weer in van sy geboorteplek. ’n Swerm herinneringe kom hom weer te binne, terwyl hulle deur die dorp ry. Die veld is weer ontwaak in ’n gelukkige hartstogtelike jeug. Half teen die hoogte op, sag genestel in die groen bome, lê die kerkie, soos ’n skaap in ’n vet weiland. Die fris, vreedsame groen op die hang versag die ruwe en strenge indruk van die dreiende rotskranse bo. As hulle naby Maupas kom, sien Marcel dat die landelike huis nog soos vroeër half begrawe lê in rose en ander blomme; dat nog soos altyd die aandskemering aan die bome in die laan ’n aansien gee van stille afgeslotenheid. Hy spring die eerste af van die rytuig. Die sand maak onder sy voete die welbekende geluidjie. By die stoep help hy sy ma die treedjies op. En as hulle eers binne is, druk hy die wenende ou moeder aan sy hart.
En eindelik gee Paula, wat sterker is, haar ook oor aan haar ontroering. Die hoof van die huis makeer, en op die drumpel van die deur het sy seunhulle weer sy kragtige persoonlikheid te binne gebring, sy vriendelike glimlag, sy vertroue.
En noudat hulle mekaar weer gevind het, smaak die drie, in ’n mengeling van vreugde en smart, die hele inhoud van die menslike lewe. . . .
In een en dieselfde eersteklas rytuig het plaas geneem die famielie Delourens, mevrou Orlandi met haar dogter, en luitenant Marthenay. Isabella sit in ’n hoekie en kon met moeite ’n plekkie oophou vir haar „flirt,” Jan Berlier. Hy stap op die laaste oomblik in, as die trein al in beweging is, en Isabella ontvang hom bra onvriendelik:
—Bly maar liewers daar buite om al die mans hand te gee wat verbykom.
Jan glimlag:
—Ek gee die dames ook hand.
Isabella bly op haar perdjie:
—Wat ’n vertoning het jy gemaak met al daardie Kiberts—dit was belaglik.
Alida Delourens, wat ’n beskaafde inbors het, kry ’n rooi kleur, maar sy durf nie teen Isabella opkom nie. Die jonkman laat hom nie so gou uit die veld slaan nie. Hy het ’n manier om by sy flirtery ’n spotagtige toon aan te neem, wat die meisie kwaad maak, maar darem ook aantreklik is vir haar—so ’n mooi en vreeslik verwende kind.
—Ja, dis waar, sê hy nadat die Kiberts drie jaar lank geskeie gewees het in rou, en nou weer mekaar kry, het hulle so skoon vergeet om te probeer of hulle nie vir jou aangenaam kan wees nie. En selfs die mooi kaptein het jou nie eens aangekyk nie!
—Loop met jou mooi kaptein!
—Hy is kaalkop, sê luitenant Marthenay, wat ’n digte haarbos het, net soos ’n borsel.
—Ja, sê Jan, hy het kaalkop geword in diekolonies; het hy liewers tuisgebly en hier vredesoldaatjie gespeel, dan het hy vandag seker nog baie hare gehad.
Isabella hou nog maar aan. Al sê sy dit nie, sy voel ’n afkeer teen die vriende van Jan en val hulle aan—ja, sy weet nou nie meer waar sy moet ophou nie:
—Maar hoor, daardie offisier het ’n spektakel van ’n ou moeder. Sy was nog nooit in ’n komedie nie. Watter soort lewe moet sy dan wel gely het?
Jan Berlier het eerbied vir mevrou Kibert, en word nou bitter:
—Sy het gedaan, juffertjie, wat jy nooit sal regkry nie: sy het vir ander gelewe.
—Dis geen lewe nie.
—So, dink jy so? Ek glo dat sy meer gelewe het dan vir jou ooit moontlik sal wees, al sou jy honderd jaar oud word.
—Verbeel jou! Ek daag enigeen uit om meer lewe te verlewe as ek.
—Ja, jy is altyd in opwinding, maar dis nie dieselfde nie. Maar wat is jy in staat om te doen?
En om nou ’n end te maak aan die prekery, laat die jonkman daar met ’n lag op volg:
—Is jy selfs in staat om ’n huwelik te sluit uit liefde?
—Welseker nie! En sonder geld, nè? Nee, dankie, hoor! Om in trane ’n stukkie droë brood te eet en linneklere te dra!
En sy laat haar mooi blinkende tande sien, skerp en vraatsugtig.
—Kom, sê Jan, troos jou nou maar en gee my jou hand.
Sy gee hom haar fyn hand, waarvan sy die handskoen uitgetrek het. Hy maak of hy die hand met aandag beskou.
—Ek sien in die lyne van jou hand dat jy met ’n lelike veertigjarige ou rykaard sal trou. Maar ná die huwelik sal sy ware geaardheid uitkom, vrekkerige skraapsug. ’n Mens word altyd gestraf volgens jou oortreding.
Op ’n grapperig-nadruklike preektoon het hy dit gesê, tot vermaak van almal in die rytuig.
Die gesprek begin weer algemeen te word, en Isabella sê op lughartige toon aan iemand wat regoor haar sit:
—Dit sal die ryk ou vrek dan wel berou, want ek sal hom fop!
—Deur met my te „flirt,” nè? sê Jan, laggend.
—Miskien met jou, ja. En sy bars daarby weer in ’n skaterlag uit en laat haar mooi wit tande sien, wat so sterk is as dié van ’n jong hond; en brutaalweg kyk sy daarby die jonkman aan, omdat hy haar geval.
Alida is heeltemal ontdaan deur die onbeskaamde woorde en bloos vir haar metgesel. Dit duur nie lank of sy praat nie meer met die ander nie; sy sit half in slaap en droom van die huwelik uit liefde, waar Isabella nie van wil hoor nie, en waarvan sy die beeld aanskou in verband met ’n seker ontmoeting van dié dag.
Mevrou Delourens dink en praat van die partytjies wat sy wil gee, en sê aan iemand naas haar:
—Dit lyk of hy ’n held is. Ons sal hom dus vra om te kom.
En haar man knik mevrou Orlandi toe dat hy dit heeltemal goed vind.
—Maar veral moet ’n mens sorg dat jou rus versekerd bly. Daarin lê tog maar die hele geheim van die lewe. . . .