II.BROER EN SUSTER.

II.BROER EN SUSTER.

Die vriendskap tussen broer en suster het iets sag-gemakliks en eenvoudigs, wat dit heeltemal laat verskil van enige ander gevoel. Vanself is so ’n vriendskap gevrywaar van die heftige liefdesopwindinge en van die hartstogtelike opwellinge wat te bedwelmend is om lank te duur. Maar dis tog onderskeie van gewone vriendskap (soos tussen man en man of vrou en vrou) deur iets bedeks, deur ’n beskeidenheid en teerheid wat uitgaan van die vrou. Wat aan so ’n vriendskap nog meer iets aparts bysit, is die wonderlike gemak waarmee die twee gelykdinkend en gelykvoelend kan wees, deurdat hulle ’n gemeenskaplike oorsprong en kindsheid gehad het; dit stel hulle in staat om reeds deur ’n halwe woord te verstaan, op dieselfde oomblik aan iets terug te dink, en altyd weer, by elke asemhaling die ou tuisplek se lug gewaar te word, ook uit die verlede.

Die liefde selfs mis hierdie eienskap, en mag daar wel spyt van hê. . . .

Soos hulle daar sit in die tuin van Maupas, in die tuinstoele, merk Marcel en Paula met vreugde op—sonder te veel onnodige gepraat—dat, solank as hulle so vér was van mekaar, hulle tog op dieselfde manier deur die lewe geryp en gevorm was. Hulle voel wel anders as eers, maar hulle voel tog nog eners.

—Ek voel so lekker hier, sê die jonkman, dat ek vandag niks wil doen nie

Hy is maer. Hy het rus nodig.

Al is hy so gesond, hy het iets oorgehou van die oorlog in die kolonies. Nou en dan kry hy nog koors,maar die aanvalle word minder. Hy reken daarop om hier weer heeltemal te herstel.

Dis een van die kalm someragtermiddae dat ’n mens hom kan verbeel die trilling van die lug te hoor. Geen windjie stryk daar langs hul gesigte nie. Net die dun toppies van die lindebome word nou en dan geroer deur ’n lui windjie wat die blaartjies laat fladder, sodat beurtelings die donkergroen bokante en die liggroen onderkante gesien word.

Op die ronde klip-tuintafel lê koerante en briewe deurmekaar. Paula maak dié oop, want haar broer laat hulle maar lê:

—Die koerante praat nog maar altyd oor jou. Wil jy nie lees nie?

—Nee tog, asseblief nie! sê die kaptein.

—Hier is uitnodiginge, sê Paula weer; daar word ’n eetmaal gegee tot jou eer. ’n Kaartjie vir die konsert in die stad. Barones Vittos ontvang Dinsdags geselskap . . .

—Dit gaan my alles niks aan nie. Ek wil niemand sien, glad geen een nie!

—Ja, jy is nou in die mode. Jy moet daar maar jou deel van neem. Daar word inbreuk gemaak op jou vrye tyd. So wil die mense in jou roem deel.

—Kyk, sussie, nou praat ons daar nie meer oor nie, hoor.

—Maar almal maak so. Roem is teenswoordig in die mode. Een van die dae sal die famielie Delourens ons kom opsoek en nog ander mense ook, wat ons tot nou toe nie gesien het nie van dat ons die geld verloor het!

Haar gladde voorhoof, oorskadu deur haar swart hare, het van die beproewingstyd af ’n plooitjie van bitterheid oorgehou.

In dié tyd is die geld ook verloor wat sy sou kry as sy sou trou, en so is haar kanse op ’n huwelik ook verminder. Haar broers reken op haar toewyding aan hul moeder op haar ou dag, net of sy maar altyd haar eie lewe moet vergeet en tevergeefs die teer verlange na liefde in haar hart moet voel opkom.

Marcel kyk haar lank aan. Met liefderyke eerbied bewonder hy haar rank liggaamsbou, wat lenigheid aandui, en toekomstige krag, haar gelaatskleur, waarvan die suiwerheid nog beter uitkom deur haar swart klere, haar diepsinnig-sombere en tog sagte oë—oë van ’n vrou wat die lewe ken, wat daar stryd mee gevoer het en nie bang is daarvoor nie—Hy sien haar in haar geheel soos sy is: ’n bekoorlike maag, fier en deugsaam. Hoe sou dit kan wees dat iemand haar nie eendag sal lief kry nie!

Langsaam, vashoudend aan die tralies en elke keer met albei voete op ’n treedjie stappend, kom mevrou Kibert die stoep af na haar kinders toe. Soos ’n najaarsblom wat ’n verlate tuin versier, so verhelder ’n flou glimlaggie mevrou Kibert haar gesig vandat Marcel terug is. Hy loop haar tegemoet en bring haar op ’n plekkie waar sy in die koelte kan sit.

—Sit ma nou lekker so?

Die glimlag versprei hom oor haar hele gesig:

—My groot seun! Jy lyk tog so baie nahom.

Die jonkman se gelaat word ernstig toe hy sê:

—Dis nou al agtien maande dat hy ons verlaat het. O, die aand daar vér in Madagaskar! Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het rondgeloop om die kamp, ek het hom geroep, en het jul almal se name genoem, ek het die dood naby my gevoel . . .

Ná ’n oomblik van diepe stilte sê mevrou Kibert weer:

—Agtien maande! Is dit moontlik! . . . . Ek het die maande tog darem deurleef. En dit het ek aan hierdie een te danke. My liewe kinders, so lank as ek nog leef, sal ek God dank vir die man wat Hy my gegee het, en vir seuns en dogters soos myne!

Sy droog haar oë af en begin die droewige verhaal te doen wat haar seun al lank verwag het:

—Die ongeluk van jul oom Markus was die begin van al ons ellende. Ons was alte gelukkig, Marcel. Jou vader was die krag, die vertroue, die arbeidsaamheid in persoon. Ná sy swaarste dae het hy nog altyd vrolik tuisgekom. En julle het almal goed geslaag in jul lewenswerk.

—Almal was jaloers op julle, sê Paula.

En haar broer, fier soos sy, voeg daarby:

—Dis beter om beny as bejammer te word.

Die ou vrou gaan aan:

—Dit het baie goed gegaan met jou oom se bank. Iemand wat àl sy vertroue gehad het, het toe weggeloop met die papiere en die geld. Die storm wat daarop gevolg het, kon hy in die eerste oomblikke van verslaendheid nie weerstaan nie. Hy het homself van sy lewe beroof. God gewe dat hy nog tyd gehad het vir berou! Jou pa het dadelik daarnatoe gegaan, het alles oombliklik begryp. Alles het hy toe betaal—kapitaal en rente—maar ons moes self die grootste deel van ons fortuin afstaan. Maar Maupas het ons darem tog gehou—dis famieliegoed.

—Ja, sê Marcel, Maupas is vir ons almal die lewende beeld van ons kinderjare.

—Maar voor hy sy besittinge afgestaan het, sê mevrou Kibert verder, het hy julle almal gevra om toe te stem.

—Ja, dit onthou ek nog goed, sê Marcel, die veldtog sou net begin. Ek het in dié versoek van paniks meer gesien as oorbeleefdheid nie. Geldsake is my so vreemd en onverskillig.

—Ons het Paula ook gevra.

—Ons naam moes gered word en ons eer, sê Paula.

—Jou huweliksgeld moes ook afgegee word, my kind . . . . . Die droewige lot van jou pa se broer was vir hom ’n sware slag. Sy opgewektheid was weg vir altyd; maar sy ywer en werkkrag het hy verdubbel. By die uitbreek van die koorssiekte het hy homself nie genoeg gespaar nie. Laaste van almal, toe hy uitgeput was van vermoeienis, het die siekte hom aangepak. Van die begin af het hy gevoel dat hy verlore was, maar hy het daar niks van laat blyk nie. Naderhand het ek hom begryp; Hy het self die gang van sy siekte gevolg. Eendag sê hy aan my: Moenie ongerus wees nie: God sal jou help. En het ek geantwoord: Ja, Hy sal ons help. Hy het toe geen antwoord meer gegee nie. Sonder vrees het hy die dood afgewag. Nog heeltemal by sy verstand het hy in ons arms gesterwe.

—Net ek was nie hier nie, sê Marcel.

—Etienne was by hom—hy was terug van Tonkin—, Frans, Paula, en Louise Saudet, die verloofde van Etienne.

—En Margreta?

—Sy kon nie kom nie, sê mevrou Kibert sonder bitterheid, maar nie sonder droefheid nie. Sy is te vér. Sy behoort aan God. Vandat sy sendelinge is, het ons haar nie meer gesien nie.

Hulle is stil, en dink al drie aan die verlede. Rondom hulle, wat so aan die dode dink, is alles lewe en lig. ’n Blaartjie, reeds deur die son verskroeid, vroeë voorloper van die verre najaar, val langsaam af van een van die bome, as gedra op die loue lug. Paula wys haar broer daarop, en sê:

—Alreeds verlep!

In sy droefgeestige stemming sien Marcel daar ’n teken in.

—Hy het gewag vir die somer, ander vergaan al in die voorjaar.

Hy dink aan sy vroeg-gestorwe suster, Thérèse; hy dink aan homself, wat al meer as eenkeer deur die dood genader is. Maar die somber gedagte aan ’n voorteken skud hy van hom af, en sê:

—Of dit nou kort duur of lank, ons moet ons lewenstaak dapper ter hand neem. So het pa gedoen. In plaas van my af te skrik, moedig sy nagedagtenis my aan.

Mevrou Kibert vertel hom hoe Etienne toe weer terug is na Tonkin, om sy werk daar weer aan te vat.

Marcel vra:

—En is Louise gewillig met hom meegegaan na die verre land?

—Louise is net so dapper as wat sy kalm is. Ag dae na hul huwelik is hulle weg. Nou het hulle ’n seuntjie, wat ek nie ken nie, maar wat ek liefhet.

Paula voeg daarby:

—Dit was ’n hele opskudding in Chamberie toe Louise getrou het. Al die vrouens het Louise haar ma bekla: hoe kon sy tog haar dogter so vér weg laat gaan? Hulle het haar beskuldig van onvergeeflike koudhartigheid. Maar mevrou Saudet het gesien dat Louise gelukkig was, en dit was vir haar genoeg. Al dié wat so baie gepraat het, dink net aan hulself en aan hul eie gemoedsrus. Meneer Delourens sê ook altyd:Voor alles moet ’n mens rustig wees.

Dit lyk somtyds of ’n losweg uitgesproke naam diegene aanbring wat die naam dra. Sulke heeltemal toevallige gebeurtenisse het selfs ’n spreekwoordlaat ontstaan. Voor die ope hek, in die laning van kastaiingbome, hou ’n rytuig stil, en Paula sien dat dit die rytuig is van die famielie Delourens.

—Hulle het al heeltemal nie meer na ons toe gekom nie, sê mevrou Kibert, en haar gesig word rooi. Sy is ’n heldin in die lewe, maar bangerig voor die mense.

—A, dis omdat ons ’n held hier het, sê Paula, om haar broer te pla. Hul staan aldrie op en gaan die besoekers tegemoet. Mevrou Delourens het die eerste afgeklim, en haar eerste woorde doel al op die kaptein, want die eerste wat sy aan mevrou Kibert sê is:

—O, mevrou, hoe trots moet u tog wees op so ’n seun!

Mevrou Delourens is van adellike geboorte en vergeet dit nooit nie; daardeur dink sy dat al sulke bemoeiinge, van haar kant, uit hoë genade geskied, en selfs ’n soort van welwillende beskerming is van alle verdienste en heldedade, wat eintlik alleen die voorreg van die adel behoort te wees, maar waarvan die adel darem die eer kan bemagtig deur daar maar baie lawaai oor te maak.

Heeltemal agter sy vrou verdwene, maak meneer Delourens ’n bevestigende buiging sonder opgemerk te word. Van kop tot teen, van hoed tot skoene, is hy in ’n grys pak gekleed. Instinkmatig het hy ontdek dat so ’n kleur by iemand pas wat op die agtergrond staan. Hy het ’n vreesagtige bewondering vir sy vrou, wat met hom getroud is ondanks sy burgerlike afkoms, omdat hy ryk was; maar deur haar houding teenoor hom laat sy hom altyddeur voel wat ’n opoffering dit van haar kant was. Hy dank sy ydelheid en sy politieke opienies aan hierdie huwelik, wat hom met diepe eerbied vervul vir die adellike stand, waarvan hy ’n persoonlike voorstelling sien in sy mooi vrou, groot en swaar van liggaam, met ferm, gebiedendegelaatstrekke en ’n gesagvoerende, selfs knorrige stem.

Alida is die laaste van almal van die rytuig afgestap. Sy dra ’n ligblou rok, bekoorlik soos die fyn kleur wat die see smôrens vertoon; die tint pas goed by haar gelaatskleur en verhoog nog die sagte skoonheid daarvan. Sy kom nader met ’n bangerige bevalligheid, wat aan haar skoonheid ’n aansien van swakkerigheid gee. Dadelik kyk Marcel na niemand meer as na die jongnooi. Sonder dat dit hom plesier doen, bedank hy vir die komplimentjies wat almal hom maak; sy nederigheid en militêre eergevoel maak dit vir hom ondraaglik.

Sonder enige twyfel is hierdie besoek op hom gemunt—hy is daarvan die beweegrede en doel. Die adellike mevrou Delourens betoon wel enige beleefdheid, en selfs lieftalligheid, aan mevrou Kibert en Paula, maar dis ’n hooghartige beleefdheid en ’n neerbuigende lieftalligheid, wat deur die moeder nie raak gesien word nie, dog wat nie ontsnap aan haar dogter nie, wat fyner sien en die ou wêreld beter ken. Maar onophoudelik draai mevrou Delourens haar na Marcel se kant toe, net of sy die jonge beroemdheid somaar wil steel en wegneem in haar rytuig.

—Nou wel, jonkman, sê sy aan die end brutaalweg, u is nou al ’n paar dae terug, maar ’n mens sien u nêrens nie. ’n Mens sou sê u kruip weg. Dis tog nie u gewoonte nie. Die vyande weet dit wel goed.

Meneer Delourens het baie bewondering vir mense wat werkkrag en moed besit, en wil die woorde van sy vrou krag bysit:

—O, maar dit was ’n swaar veldtog . . . . U het seker nie dikwels rus gehad nie?

Paula bars amper uit van die lag. Almal is also gewend aan meneer Delourens se praatjie oor rus, dat hy al die bynaam het van die Rustige Ridder—’n gelukkig gekose naam wat sy adellike neiginge en sy liefde vir vreedsaamheid mooi saamvat.

Mevrou Delourens neem nou weer die woord:

—Al ons vriende wil graag met u kennis maak. My huis is vir u oop, as u maar net wil kom.

En, net of sy meteens vir Paula sien, sê sy daarby:

—Natuurlik, met u suster.

Die suster moet ook maar by, omdat dit nie anders kan nie—dis duidelik.

En dis Paula wat antwoord gee:

—Dank u, mevrou; maar ons is nog in die rou.

—Halwe rou. Na agtien maande mag jongmense al uitgaan, veral agtermiddags.

En sy sê aan die jong offisier:

—Ons gaan Maandag na die stad om deel te neem aan die blommefees. Gaan nou met ons saam. In die aand eet ons almal saam. U sal daar vriende ontmoet: graaf Marthenay, luitenant Berlier, u vriend van lank al. U weet sy huwelik met die mooie Isabella Orlandi word nou bekend gemaak.

Sy vertel die leuen, so op die oomblik bedag, om die trotse Paula te tref, wat haar planne so dwarsboom. Vrouens het ’n voorgevoel (niemand weet hoe nie), wat ingegee word deur ’n begeerte om te behaag sowel as om seer te maak—’n voorgevoel van die geneëntheid wat daar bestaan tussen geeste en harte wat mekaar soek en uitkies. Is daar nie vrouens wat tog so goed weet hoe om ’n sukses te maak van ’n eetmaal, deur mense naas mekaar te plaas aan tafel van wie hul veronderstel dat hul goed met mekaar sal klaarkom nie?So gee hul selfs dikwels aanleiding tot toenadering.

Paula laat niks merk nie, dit sy dat sy betyds klaar was om haar te beheers, dit sy dat die nuus haar heeltemal onverskillig is.

—Ons kan dus op u reken, nie waar nie? hou mevrou Delourens aan, net of sy van Marcel self antwoord wil hê.

Alida kyk die jong offisier vriendelik aan met haar ligblou oë. Paula het ook haar oog op hom. Hy lyk somber. Hy het goed gevat dat mevrou Delourens hom wil aftrek van sy suster, en, gelei deur die famieliegees wat dr. Kibert aan al sy kinders ingeprent het, weier Marcel:

—Dank u, mevrou, my terugkoms lê nog te na aan ons droewige herinneringe; ek wil liewer op Maupas bly.

Daar straal blydskap uit Paula haar swart oë, terwyl die lang oogwimpers neerval oor die half geslote blou oë van Alida.

—Hy moet rus hê, sê mevrou Kibert.

Alida, nog altyd met haar oë op die grond gerig, bloos ’n bietjie, terwyl sy sê:

—Dis u vader, meneer, wat my gesond gemaak het. Vroeër het u ons dikwels opgesoek. Paula was my beste vriendin. Ons moenie van mekaar vervreem nie.

As sy eindelik haar hemelblou oë opslaan, ontmoet sy die blik van Marcel, en sy glimlag. Dan bloos sy weer: haar bloed volg die geheime roeringe van haar hart.

—Seker sal hulle u kom sien, juffrou, sê mevrou Kibert, ’n bietjie verwonderd oor Paula se teenstribbeling.

—Waaromjuffrougesê? U het my vroeër altyd Alida genoem.

—Dis lank gelede: u was toe nog klein.

—Ag, ek is nog maar ’n bietjie klein.

Mevrou Delourens kan dit nie reg verkrop dat sy so uit die veld geslaan is nie. Sy dink aan die naam wat sy met haar partytjies sal maak. As sy hierdie held van Madagaskar kan beetkry, dan kan sy haar teenstander, barones Vittos, ’n mooi vlieg afvang, want laasgenoemde spog nou met ’n ontdekkingsreisiger wat sy in die hande gekry het.

Ja, sy het Jan Berlier goed verstaan; die jong kaptein het ’n skitterende verlede. Aan sy vasberadenheid en moed is dit grotendeels te danke dat die oorlog in Madagaskar ’n sukses was. Aldag word nog van hom gepraat. Hy het die erekruis ontvang en nog meer erkenningstekens van sy verdienste. Hy is dus net uitgeknip om tot pronk van die ydelheid te dien. En ’n strydlustige vrou soos mevrou Delourens het aan so ’n held meer as aan ’n letterkundige of wetenskaplike beroemdheid. En daarby is die teenwoordigheid van die jong kaptein by haar huis nodig om graaf Marthenay ’n bietjie bang te maak, want hy is tog alte stadig om Alida ten huwelik te vra.

—Ek glo nog nie dat u weier nie, sê sy aan die jonkman, terwyl sy klaarmaak om te vertrek, ons verwag u in die stad by die blommefees. Sy verander werktuiglik haar manier van praat toe sy mevrou Kibert groet, en sê, op ’n soet-salwende toon wat heeltemal in stryd is met haar aard:

—Ag, al die moeders beny u, mevrou!

Alida is oordadig vriendelik by haar afskeid van Paula, wat haar nog maar ewe koel hou. Die rytuig is al lank die hek uit toe Marcel nog altyd na die ope hek staan en kyk. Hy is so in gedagtes verlore dat hy nie merk hoe sy suster hom staan en aankyk met liefderyke droefgeestigheid nie.

—Waaraan dink jy tog? vra sy.

Hy keer hom na haar kant toe met ’n half swaarmoedige glimlaggie, net of hy hom skuldig voel aan ’n swakheid.

—Ons gaan tog eendag by hulle kuier, nie waar nie?

Hy is ’n bietjie verwonderd oor die uitwerking van sy vraag, want Paula haar gesig betrek en haar oë is neergeslae:

—Jy het alreeds nie genoeg aan ons nie, sê sy saggies.

Oombliklik oorwin sy haar, en sê met vaster stem:

—Wat my betref, ek gaan nie. Hulle het my nie gevra nie.

—Maar seker, sê Marcel.

—Ja, ja, soos ’n handjievol op die koop toe! Mevrou Delourens het my dit goed laat voel.

—Paula, ou sus, jy weet ek gaan nie sonder jou nie.

—Nou kom, ons gaan glad nie. Laat ons hier bly. Ma en ek is so bly dat jy hier is by ons; ons wil jou vir ons hou. Die huis was so lank stil en onder ’n wolk. Maar jou aankoms het ’n sonnetjie daarin gebring.

—Ja, my kind, sê mevrou Kibert, bly tog maar by ons.

Marcel se voorhoof lyk somber. Hy hou daar nie van dat sy vryheid aan bande gelê word nie, en hy verdra dit sleg selfs van dié wat hy die liefste het. Bowenal is hy ontevrede met homself. Hy het teruggekom met die vaste besluit om hom in Maupas af te sonder, om die lug van sy ou tuis in te asem tot hy daar genoeg van sou hê, om te lewe in die herinnering van dié wat oorlede is, en om ook sy moeder en suster ’n bietjie op te vrolik—en kyk, die besoek van daardie noointjie was genoeg om al sy planne te bederwe, om sy trots en sy wil te breek.

Ondanks hul mooi-praat bly hy stil. Paula kan die somber stemming van haar broer nie lank verdra nie:

—Nou kyk, sê sy, jy gaan alleen daarnatoe; ek kan nie gaan nie; ek het nie klere nie.

Sy antwoord is maar alte gou klaar en toon aan hoe erg hy op die besoek gesteld is:

—Ek sal vir jou ’n rok bestel, ou sus: ek het nog geld.

—Jy het ons reeds gehelp, sê mevrou Kibert, en liefderyk kyk sy haar seun aan, net of sy nog nie heeltemal gewend is om hom so naby haar te sien nie.

Laat in die aand, terwyl mevrou Kibert met stadige stappies rondgaan om, soos al dae, te kyk of die huis goed toe is, sien Paula vir Marcel weer in gedagtes verlore staan, in die voorkamer; sy nader hom en lê haar hand saggies op sy skouer:

—Jy staan nou te dink aan mooi Alida? Sy sê dit op so ’n vriendelike manier, dat hy glimlag:

—Nee, sê hy, en verloën so sy swakheid. Maar dadelik erken hy dit deur te sê:

—Maar sy is darem regtig mooi. Hou jy van haar?

—Ons het saam skoolgegaan, soos jy weet. Sy is ’n bietjie ouer as ek; sy het my altyd liefgehad soos ’n ouer suster, want sy is sagaardig, onderdanig, bangerig: sy laat liewer iemand anders voorgaan as dat sy dit self doen.

—Vir ’n vrou is dit mooi, sê hy.

Paula lê haar hand op haar broer se voorhoof en sê:

—Alida is nie ’n vrou vir jou nie.

Sy antwoord is vinnig:

—Ek het daar nog nooit aan gedink om met haar te trou nie.

Maar Paula ken sy gedagtes:

—Sy het geen moed nie. En dan, sy behoort nie tot ons kring nie.

—Nie tot ons kring nie? Omdat die famielie Delourens meer geld het as ons? Gelukkig bepaal die rykdom hier nog nie ’n mens se maatskaplike standpunt nie!

Paula het spyt dat sy hom ’n bietjie kwaad gemaak het.

—Dit wou ek ook nie sê nie. Dié mense neem die lewe anders op as ons. Hulle maak daar ’n vertoning van en verwar bogterige dinge met sake van belang. Ek kan my nie duidelik maak nie, maar dit was nie my plan om jou kwaad te maak nie.

—Jy wil vir my preek oor die wêreld; voordat jy dit self ken, wil jy daaroor oordeel!

Geraak deur die kwetsende toon van sy stem, draai Paula haar om, en stort nou al die bitterheid uit wat in haar jong hart is.

—Dink jy waarlik dat ek nie onderskeid kan sien tussen ’n gryns en ’n glimlag, en leuentaal nie kan onderskei nie? Daardie mense verafsku ons en sou ons éénkant wil laat lê. Maar hulle haal jou aan om hul ydelheid te voed; en vir ma en my stoot hul opsy, omdat ons maar arme vroumense is. Alida is toegewys aan ’n seker graaf Marthenay en is nie vir jou bestemd nie.

As die laaste woorde nie gespreek was nie, sou Paula se uitstorting, so vol verontwaardiging, seker uitwerking gehad het. Wat Paula so ronduit gesê het, voel Marcel self al, hoewel minder duidelik. Sy trots en die liefde wat hy voel vir sy moeder en suster, sou hom teruggehou het. Maar Paula se laaste woorde het alles oorstem wat sy die eerste gesê het. Die gedagte alleen dat hierdie voorkamer-offisiertjie in sy pad gegooi word as ’n teenstander, seker van oorwinning,wakker meteens sy veglus aan, sy behoefte om baas te wees en te heers. Hy is al jaloers voordat hy bemin.


Back to IndexNext