IX.AFSKEID.

IX.AFSKEID.

Dis ’n dag later, en alles gebeur soos voorsien was:

Isabella Orlandi en Jan Berlier lei Alida Delourens na die eikebos, waar Marcel haar afwag. By diedraai van ’n paadjie staan Alida meteens voor Marcel. Die twee verlaat haar daar en wandel verder onder die bruingekleurde najaarsblare.

Alida is verskrik en lê haar hand op haar bors. Haar eerste gedagte is om te vlug, maar sy voel haar bene knik en haar asem is weg.

—Wag, asseblief ’n bietjie, sê Marcel met ’n ernstige en haastige stemsuitdrukking—wat hy nouliks as sy eie herken. Vergeef my waagstuk; ek gaan weg na Algiers, en ek het die moed nie gehad om dit te doen voor ek jou eers gesien het nie.

—O! sê sy, bleek en bewend. Wat sal ma daarvan sê?

Die gedagte aan haar ma maak Marcel jaloers; hy frons sy winkbroue, dog gaan voort, op dieselfde sagte manier:

—Alida, ek wil jou vertel dat ek jou liefhet. Paula sê dat jy my ook liefhet. Is dit so? Ek wil dit uit jou eie mond hoor.

Hy sien hoe sy beef en met albei hande aan haar hals vat, net of sy wil verstik. Al die bloed is weg uit haar wange, en haar oë is gevestig op die dooie blare op die grond, maar sy sien niks nie.

Die eiketakke ritsel in die windjie met ’n droefgeestige geluid. Die rosegloed van die lug, deur die regop stamme van die ou bome, kondig al die end van die dag aan.

Soos ’n sag-tere klag kom die woorde oor haar lippe:

—Ek kan jou dit nie sê nie.

Dis die aanvallige en reine bekentenis van haar tingerige siel.

Bewoë tot in die binneste van sy hart, kyk hy nou met ander oë na die vreesagtige kind, soos sy daar op enkele treë afstands van hom staan, met ’n wit tjalie oor haar skouers, soos ’n geesverskyningonder die hoë gewelf van die laning. Die lang ooghare lê half oor haar hemelblou oë. Agter haar, tussen die takke deur, sien hy die son laer sink, soos ’n groot brand, waarteen die swart boomstamme skerp afsteek. En deur die blare priem vurige, wrede strale van goud en bloed.

—Alida, sê hy, as jy my liefhet soos ek vir jou, beloof my dan dat jy my vrou sal word.

Eindelik kyk sy op in die fiere gelaat van die jonkman. Sy sien dat hy deur haar gely het, en daar kom trane in haar oë.

—Ek kan nie . . . . Marcel . . . . My ouers . . . . Verder kan sy nie kom nie; haar trane verkondig wat sy wil sê.

Hy kom nader en neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie.

Met ferme, oortuiende stem sê hy verder:

—Moet jou nie ongerus maak nie, Alida, jy sal hulle toestemming verkry. Hou maar moed, en wag. Die tyd sal alles reg maak. Ek vra jou net om geduldig te wees. Wat my betref, ek sal groot dinge verrig om jou te kry. Ek gaan met ’n kommando na die binneland van Afrika. Met my oorwinninge sal ek jou ook wen.

Vrees vir sy lewe verraai haar liefde vir hom:

—Nee, nee, ek wil dit nie hê nie. Jy moet jou lewe nie so blootstel nie. O, as jy . . . . my liefhet, sal jy nie gaan nie.

—Ek sal gaan omdat ek jou liefhet, Alida.

—Jy ken my nog nie. Ek is banghartig. Ek is bang vir alles. Ek is maar ’n armsalige wesentjie. O, wat ’n hoofpyn het ek!

Die hand wat hy nie vashou nie bring sy aan haar voorhoof en haar bors.

—Hoe swaar voel my hart! fluister sy.

—Alida! sê hy hartstogtelik, moet vir niks bang wees nie! Ek het jou lief, ek sal jou beskerm!

Hy buig hom vooroor en raak met sy lippe die handjie aan wat hy vashou. Die kus laat haar bewe. Sy sê, met ’n suggie:

—Laat ons binne-toe gaan, dis verkeerd wat ons doen.

—O, nee! Ek het jou so lief. Is ek dan nie jou verloofde nie?

Sy sê weer:

—Dis verkeerd.

Hulle kyk mekaar in die oë. Die kleure verbleek aan die aandlug; ’n blou waas skuiwe tussen die boomstamme deur en oor die grasperke. Dis die geheimsinnige uur wanneer dit lyk of alles huiwer vir die naderende dood. Die dag draal nog, maar dis ’n swakkerige daglig, mat en sag wegkwynend. En die voetpad wat hom onder die bome verloor, word afwisselend rooskleurig en violet.

Die ondergaande son spieël hom af in die oë van die meisie—die hele droefgeestigheid van die sterwende Natuur.

Nog nooit het hy so ’n besef gekry van haar tingerigheid nie. Nog nooit het sy so sterk die kuise behoefte gevoel om haar te steun op sy jeugdige krag nie. Nogtans, as hy haar nadertrek en vooroorbuig om haar ’n kus te gee, stoot sy hom saggies weg met haar hande en sê, vir die derde maal:

—Nee, jy mag nie, dis verkeerd!

Die vreesagtige deugsaamheid, wat tog nie haar liefde kan verberg nie, vervul hom met eerbied en ontroering.

—Alida, sê hy nog ’n keer, sweer my dat jy my vrou sal word.

Maar haar antwoord is weer dieselfde:

—Ek kan nie. My ouers wil nie.

Dit verbaas hom dat hy nog maar nie verder gevorder het as dit, van die begin af van hierdieonderhoud, waar hy so vurig na verlang het en waarvan hul toekoms sou afhang. Beslis neem hy weer die woord, sterk in sy liefde en seker dat hy haar sal oorhaal:

—Alida, Alida, ek gaan weg, miskien vir ’n paar jaar. Maar wat beteken twee of drie jaar as ’n mens iemand liefhet? Liefde duur vir altyd. Ek wil jou woord hê om met my mee te neem; dit sal ’n beskermende hand oor my hou en dit sal my moed gee. Alida, ek het jou meer lief as my eie lewe, of liewer, ek het my lewe nie lief sonder jou nie. Moeilikhede is niks as ’n mens liefhet nie. Sweer my dat jy jou hart vir my sal bewaar solank as ek weg is, en hierdie handjie, wat jy my gegee het, en wat so yskoud in myne lê.

Maar sy is onder ’n verbod, en sy bly roerloos en spraakloos staan. Sy het nooit in haar lewe iets uit haar eie gedoen nie. Sy weet nie of sy ’n eie wil het nie. Selfs haar liefde het haar oorrompel en pynig haar op ’n manier wat haar oordrewe en ongeoorloof lyk.

So sien hy haar staan, bleek en swak; al wat hy wil is om haar te beskerm teen die slae van die noodlot. Maar terwyl sy nog maar swyg, sê hy weer:

—Alida, ek het jou lief. Dit word laat, jy moet binne-toe gaan. Die lug word al koud. Sal jy my laat vertrek sonder ’n woord, sonder enige hoop?

Dis die aangrypende uur van die dag wanneer dit lyk of alles ’n oomblik in gedagte bly staan, alvorens in die nagskaduwee te verdwyn, te sterwe. Die laaste lig van die westerhemel val nog op die reine engelgelaat, op die goue hare; en haar wit tjalie steek af teen die donkerte onder die bome. Sy bly so staan: spraakloos en roerloos. Terselfdertyd dink sy aan die onmoontlike stryd teen haar ma endie onmoontlike huwelik met meneer Marthenay. Sy weet nie wat ons van ons lewenslot kan maak as ons die moed het om dit te lei met ’n hand wat nie beef nie. Die liefde maak die deure van die lewe wyd ope vir haar. Verskrik durf sy nie binnegaan nie. Wat het sy tog misdrewe teen die Heer dat Hy haar keus van haar alleen laat afhang? Waarom is haar pad tog nie gelyk en gemaklik nie? En so verlam die vrees haar, dat sy geen keus kon doen nie.

Waarom praat hy nie van sy smart nie? Dit sou haar so aandoen, dat sy die verlangde belofte sou gee. As hy dan sou probeer om haar, soos vantevore, nader te trek na hom, sou sy hom nie weer afstoot nie, sy sou eindelik haar hoof neerlê op ’n dapper bors.

Maar hy wil hê dat sy, in antwoord op sy aansoek, haar uit haar eie moet gee. Hy wag nog maar daarvoor, en namate dit langer duur, soveel te meer bejammer hy die arme wankelmoedige kind. Nee, dis nòg skamerigheid, nòg natuurlike teruggetrokkenheid wat oorsaak is dat sy nie praat nie. Die omstandighede is te ernstig dan dat sy sou aarsel om te praat as sy voel dat sy moet. Die moeilikhede wat hulle skei, is maar net die struikelblokke van ydelheid en selfsug, wat gemaklik te oorwin is. Sy het hom lief, en tog bly sy stil.

Hy voel dat hulle weë alte veel verskil. Fier en verontwaardig rig hy hom tot sy volle lengte op teenoor haar. Om haar te kan groet, oorwin hy egter sy trots en hy sê, met toegeeflike ontferming:

—Nee, Alida, beloof maar liewer niks nie. Jou woord wat jy aan Paula gegee het vir my, gee ek jou terug. Jy is te swak om lief te hê.

En terwyl hy die klein, koue hand loslaat, wat hom nie versit nie, sê hy nog daarby, duidelik en ferm:

—Dag, juffrou, ons sal mekaar nooit weer sien nie.

Sy sien hoe hy haastig verdwyn in die laning, waar die skaduwees van die invallende nag al rondsluip. Hy kyk nie om nie. Nou is hy nie meer te sien nie, en sy soek hom nog met haar oë. Die boomblare bewe in die aandwindjie. Een van die blare gaan los, en raak Alida haar hare in sy val. By dié aankondiging van die winter voel sy die dood om haar heen en in haar. Soos twee huppelende, vrolike skimme verskyn Isabella en Jan weer. Hulle kry haar beweegloos staan op dieselfde plek waar Marcel haar verlaat het. Hulle wil met haar praat, dog sonder ’n woord loop sy huis-toe om haar verdriet te verberg. Sy dink daar nie aan om Jan Berlier in vertroue te neem nie—hy sou haar nog uit haar ongeluk kan red. Sy is in haar kamer, bêre haar gelaat in haar hande, en ween. Maar selfs in haar verdriet dink sy nie aan stryd nie; sy gee haarself oor aan die wrede noodlot, wat in haar oë onvermydelik is.

Alida het weggevlug, en Jan en Isabella kyk mekaar verwonderd aan:

—Ek begryp daar niks van nie, sê hy.

—Ek verstaan, sê sy. Dis nog ’n bange! Ons is almal eners in ons dae: Ons wil geniet, maar niks waag nie. Ek weet net van een wat vir liefde tot aan die end van die wêreld sal gaan in ’n rok van ’n paar dubbeltjies.

—Wie?

—Paula Kibert.

Voordat sy die naam nog uitgespreek het, sien hy meteens in gedagte die fiere sy-gesig, die reine gedaante van Paula in haar rouklere. Isabella merk wel wat daar in sy gedagtes omgaan. Jaloers kom sy nader en sê, op haar mees vleiende toon:

—En die loon vir my medepligtigheid? Het jy dit al vergeet?

Sy bied haar lippe aan. Hy onthou nou weer wat hy beloof het; en terwyl ’n mistigheid die tinte van die aand bedek, gee hy haar, daar onder die bome, haar betaling . . . .

Marcel kyk eers om as hy naby Maupas is. Hy sien Chenée onder in die donkerte, terwyl op die berge bo nog die glans van die aandlig lê. ’n Lang vlokkige wolk, soos ’n verskeurde doek, sweef op halwe hoogte die bergwande verby; die strale van die son, wat al onder is, giet daar ’n fyn rose tint oor, so teer, dat dit lyk soos ’n blou geaderde berggodin, half verberg in gaas en neteldoek.

Hy skep behae in sy selfpyniging, en hy kyk, tot die opkruipende skaduwee oor die toppe gaan, die heerlikheid uitwis en die skat van kleure laat verbleek. Dit lyk vir hom of hy makliker asemhaal in die versomberde natuur. Met ligter stap gaan hy die bos deur; die bome is al half ontblaar, en deur die takke sien hy bloedkleurige wolkveë. Die uile—soos onheilspelende geeste van die aand en die najaar—roep mekaar met noodkrete, soos die doodsangstige hulpgeroep van slagoffers, wat die hart van ’n late verbyganger laat stilstaan.

By die hek van Maupas ontmoet hy sy suster; sy was ongerus en het kom kyk of hy al aankom. Sodra Paula hom sien, weet sy wat die uitslag is van sy tog.

—Ag! sê sy eenvoudig.

Een woord van hom verklaar die saak.

—Sy is bang vir die lewe: sy en ek is nie van één soort nie.

Sy neem sy arm en wil hom soen, dan sê sy meteens, bewend:

—Luister!

—Dis maar die uile—die bome is vol van hulle.

—Laat ons gou weggaan. Hulle maak my bang.Die boermense sê hul kondig die dood aan.

Hy maak ’n beweging van onverskilligheid met sy arm . . . .


Back to IndexNext