X.VERTREK.

X.VERTREK.

Die maaltyd wat voorafgaan aan die vertrek van iemand uit ’n famielie, kom in treurigheid ooreen met die eerste waaraan die famielie weer deelneem nadat een van hul lede vir altyd uit hul kring verdwyn het. Al is almal nog daar, die vreugde is al verban. Elkeen probeer tevergeefs om vrolik te wees, en die aandoenlike, dog vrugtelose pogings maak die smart nog dieper.

So is dit ook stil en gedruk in die eetkamer van Maupas, hoewel die sonnetjie inskyn deur die rame. Marcel sal teen die aand vertrek met die rytuig; hy moet van die stasie weggaan met die trein van sesuur. As die gesprek val, dan neem niemand weer die draad daarvan op nie—skaars lewensvatbaar flikker dit nou en dan op uit ’n onbeduidende woordjie om dan weer uit te gaan. Marie, die ou huismeid, het dié kos klaargemaak wat die kaptein graag eet; maar sy skud haar hoof en is self ook bedroef as sy die skottels terugdra kombuis-toe nog amper heeltemal vol.

Na die maaltyd loop Marcel met sy suster buiten-toe, hy sê aan haar:

—Kom, ek wil ons ou wandelpaadjies nog eenkeer sien.

Teen die hang op gaan hul deur die wingerd tot by die kastaiingbome, waar hulle dikwels as kinders in die koelte gespeel het. In die sluimerende water van die meertjie in die verte spieël die berge hulle af—teen die aand is die tinte altyd die mooiste.

—Laat ons nou na die waterval gaan, sê Marcel.

Voor hy weggaan, wil hy nog ’n keer vars indrukke kry van al die afgeleë en besielende plekkies wat bygedra het tot die vorming van sy vurige gemoed.

Marcel bly staan as hy die waterval deur die bome sien—’n lang dun sluier, vallende van ’n hoogte van honderd voet, ’n opslag van silwere stof verspreiende in die sonlig. Hy glimlag van plesier.

—Ons moenie verder na bo gaan nie, sê hy. Ons moet nog na die bos en na die kloof gaan.

Die gronde het vroeër almal by Maupas behoor, maar deur die ongeluk met hul fortuin, het hul dit moet afgee. Maar al is die plekke verkoop, die bekoring daarvan bly nog dieselfde. Die skoonhede van die aarde is nie te koop of te verkoop nie: hulle behoor aan dié wat ’n ope oog het om te begryp en te geniet.

Die kloof van Foresan is diep; die kante is dig begroei met struike. Op sommige plekke kan ’n mens langs die skuinste afgaan tot aan die kristal-heldere stroompie in die diepte. Daar, onder ’n lang blaredak, is die tuis van die vreedsame, diepe, allesvergetende stilte.

Marcel loop voor. Hy kyk om en sien hoe sy suster haar rok vasgeraak het in die klimop-plante langs die voetpad. Voordat hy haar gaan help, sê hy:

—Hoe mooi lyk jy, hier tussen die bome!

—Kom help my liewer in plaas van onsin te praat.

Maar hy maak nie gou nie. Die lewendige natuurlike bevalligheid van die jongmeisie stem so volkome ooreen met die maagdelike en frisse omgewing. Hy kan nie help om met bewondering tekyk na die lenigheid van haar beweginge nie terwyl sy besig is om haar aan die plante te ontworstel—die wandeling het ’n gloed van gesondheid in haar wange gedryf. Voor hy nog by haar is, spring sy al vooruit, los van die bossies wat haar vasgehou het:

—Jy is te laat!

—Bravo, Paula! Jy sal nie bang wees vir die bosse van die verre lande nie. Miskien kom jy nog eendag daar. Jy is van dieselfde ras as jou broers.

—Ek! sê sy, en die vlam in haar oë verdof, ek sal op Maupas bly tot ek sterf.

Deur die bome klim hulle weer teen die skuinste uit. Die windjie speel deur die bome, wat al half beroof is van hul somertooi. Die blare wat hul nog dra, is van ’n rooiagtige goudkleur, net soos die dik tapyt daarvan wat alreeds op die grond lê. Dit word aand en die hele bos is gedompel in ’n violetkleurige newel wat daar iets geheimsinnigs en plegtigs aan meedeel. In die vensters van ’n plaashuis vlam die rooi gloed van die ondergaande son.

By ’n omgekapte boom bly Marcel en Paula staan, en gaan daarop sit.

Onder hulle sien hul die voetpad wat hul uitgeklim het; die dooie blare wat daarop lê, neem ’n rose en pers kleur aan. ’n Skotskar met hooi, deur twee osse getrek, kom verby hulle. Teen die gloed van die westerlug vertoon die asem, uit die osse se neusgate, hom elke keer soos ’n ligtende wolkie. Dis of die aarde vreedsaam en met lang asemhaling die groot winterslaap ingaan, treurig en beroof van al sy groen weilande en blaretooi.

Marcel neem die hand van sy suster. Net soos sy sy handdruk voel, bars sy in trane uit. Alvorens die uur van afskeidneem het hul al te veel gevoelensin hul harte opgehoop. Hy dink aan die swakheid van Alida, en Paula dink aan hom. ’n Oomblik bly hy stil, uit eerbied vir Paula haar trane, hy laat die vrye loop daaraan, dan sê hy:

—Luister, jy moet ma mooi oppas: ek sal miskien baie lank wegbly.

Sy het ’n onrustige voorgevoel van ’n nuwe ongeluk wat dreig. Meteens oorwen sy haarself.

—Jy kom mos aanstaande jaar terug van Algiers, nie waar nie?

Hy sien haar liefderyk aan:

—Ek weet nie, sus; ek behoor by die kommando wat dwarsdeur die Saharawoestyn gaan.

—O, sê sy, dit het ek wel gedink. Jy verg te veel van ons moed, Marcel. Ma is al baie oud en gedaan. Die swaar druk vir haar net so erg as vir ons. Jy moet haar spaar.

Hy kyk na die vreedsame veld en kry ’n gedagte dat dit wel soet moet wees om hier te bly by sy ma en sy suster. Maar dis ’n verbygaande begeerte, en hy hervat:

—Maar jy, ons goeie sus, is mos hier. Ek moet baie vèr gaan . . . . . en ek moet vergeet. Moet nog nie vir ma vertel nie. Ek vertel vir jou alles. Ma sal maar alte gou ook hoor.

Sy vra eenvoudig:

—Sal die kommando lank wegbly?

—Met sekerheid kan niks gesê word nie—waarskynlik agtien maande.

Sy probeer haar smart te verberg, maar sy beswyk:

—Jy weet nie hoe lief ma en ek jou het nie. Ag! as dit tog maar moontlik was om daardie een wat nie gedurf het nie, aan jou te bind; sy sou jou ten minste hier gehou het, wat ons nie kan doen nie.

Hy omarm haar en kus haar. Seker van haarvriendskap en manhaftigheid, wag hy tot die bui van wanhoop verby is. Maar Alida haar naam noem hy nie. Nooit sou die naam weer oor sy lippe kom nie. Hy verwaardig hom slegs om geringagtend van sy liefde te sê:

—Moenie daarvan praat nie, sus; die huwelik sou my minder gemaak het. Ongelukkige vroue wat die lewenswerk van hul mans belemmer! Die liefde is in ons dae nie meer sterk genoeg om skeiding en smarte te kan verdra, of ’n offer te bring nie. Dis jammer, want my pad lê deur die groot wêreld.

—Jy vergeet, sê sy, dat daar vroue is soos dié van ons broer Etienne.

Hy gee haar ’n kus en sê:

—Ja, en ek vergeet een soos jy is ook. Jy sal die hart sterk maak van hom wat jou sal liefhê.

Sy trek haar fier op:

—Nie vir my nie!

Haar woorde dui ’n inwendige terugstoting aan, wat hy begryp.

Te jonk het die teenhede van die lewe haar oorval op ’n leeftyd as alles nog sonnig en vrolik wil wees; en sedert die dood van haar vader het sy te veel lae ondank en kwetsende neerbuiendheid ondervind—sy en haar moeder. Haar kragte is daardeur gehard, maar ’n verbitterde trots het sy ook daarvan oorgehou. Sy verwag niks meer van die toekoms nie; sy probeer om haarself te vergeet, soos almal haar vergeet. Met haar liefde as suster en dogter, stel sy haar tevrede. Fier in haar waardigheid en minagting van die wêreld, wil sy die verborge roeringe wat in haar vurige hart ontkiem, nie deurgrond nie. Hy weet dat sy net soos hy is, in haarself geslote en nie graag haarself beklaende nie. Hy probeer haar af te lei en sy groot liefde vir haar lê in sy woorde:

—Moenie ongerus wees nie, Paula: ééndag sal jy gelukkig word. Dis ek wat jou dit vertel. Jy verdien dit.

Maar sy lei die gesprek op iets anders en vra hom omtrent sy kommando.

—Ek het baie moeilikheid gehad, Paula, antwoord hy. Eindelik het ek dit so ver gekry dat Jan Berlier ook meegaan.

—So, so, meneer Berlier!

—Ja, en hy kom terug as kaptein, met ’n ereteken op sy bors. Bowenal sal hy gestaald terugkom. Die woestyn, soos die see, maak hart en hoof ruimer. ’n Mens dink daar nie aan „flirtery” nie. Maar hoekom noem jy hom nou meneer en nie Jan soos eers nie?

Sy antwoord nie. Hy kyk haar aan en staan op:

—Laat ons binne-toe gaan, dit word al donker; ons moet ma nie meer alleen laat nie.

Mevrou Kibert sit voor die deur en wag al vir hulle. Sy brei ’n paar kouse vir die dogtertjie van die boervrou. Elke keer kyk sy die laning op, deur haar bril; sy sien Marcel en Paula aankom, en glimlag. Terwyl hul die treedjies opstap, haal sy gou haar bril af om haar oë af te vee.

—Eindelik terug, sê sy.

Marcel kus haar.

—Ons het te lank versuim in die bos. Maar hier is ons nou. Dit word alte koud vir ma om nog buite te bly.

Hulle gaan binne-toe, Marcel maak die deur toe. Hy gaan naas sy ma sit op ’n laer stoeltjie, leun teen haar aan en neem haar hand. Hy kyk na die arme gekerfde werkhand, met vormlose vingers, sonder ringe, sprekende van ’n werksame lewe en van ouderdom. Mevrou Kibert weet waar Marcel aan dink, en sy sê:

—Ja, ek het my trouring moet afhaal: dit het my seergemaak. ’n Tydlank het ek die ring van jou vader gedra, maar die goud was al so dun geslyt, dat dit eendag gebreek het, soos glas.

En sy voeg daarby asof sy net vir haarself praat:

—Dis maar niks. Wat onsvoel, is tog maar alles—en dit kan selfs die dood nie breek nie.

Marcel soek met sy oë aan die muur ’n ou portret van sy ma wat hy goed ken. Sy staan daarop as jongmeisie, slank en skoon, met iets teruggetrokkens in haar houding, en met ’n blom in haar mooi, lang vingers.

Hy buig hom oor die verlepte ou hand, wat hy vashou, en druk daar ’n soen op. Hy dink daaraan hoe sy moeg en terneergeslae teruggeloop het van Chenée, na die ongunstige antwoord wat sy daar gekry het, en hy onthou ook die onvriendelike woorde wat hy haar gesê het:

—Ma, ek is somtyds haastig gewees met my woorde.

Sy trek haar hand saggies uit syne en streel sy wang. En op haar gelaat lê die helder dog droewige glimlag wat spreek van ’n siel deur lye gereinig.

—Stil! sê sy, bewoë. Ek verbied jou om jouself te berispe. Elke dag dank ek die Heer vir die kinders wat Hy my gegee het.

Hulle is nou spraakloos. Die stilte omsluit hulle. Snel gaan die minute verby, onverbiddelik. Hul is alreeds geskei voor die afskeid nog daar is. Maar alles opsy skuiwende, geniet hul, tot martelens toe, hul bedreigde samesyn. Daar is niks wat siele so aanmekaarbind as gemeenskaplike sorge en smarte nie. Wanneer sal hul ooit weer so bymekaar wees in die goudkleurige najaar, die geel blare deur die venster sigbaar in hulsterwende skoonheid? Van die drie wat hier bymekaar is, het twee ’n voorgevoel dat so ’n samesyn nooit weer sou kom nie. Mevrou Kibert probeer tevergeefs om, soos altyd, sterk te bly by die afskeid. Marcel se hart is swaar: hy dink aan die eensame woestyne van Afrika van waar menigeen nie weer terugkom nie.

Die bediende kom sê dat die rytuig ingespan is. Dis al nag as hul vertrek.

Hulle ry deur Chamberie. Onder ’n veranda in die straat sien Paula mevrou Delourens en haar dogter staan. Sy sien hoe Alida doodsbleek word; maar as sy haar broer aankyk, dan is sy verbaas om te sien dat hy heeltemal onverskillig is, hoewel sy voel dat hy hulle ook gesien het.

By die stasie moet hul nog wag en bly bymekaar in die wagkamer. Mevrou Kibert haar oë is net op haar seun, wat gaan vertrek. Sy sê meteens:

—Van al die kinders lyk jy die meeste na jou pa.

—Sy geloof in die lewe het ek nie, sê Marcel. Hom het ek nooit ontmoedig gesien nie. By teenspoed het hy laggend sy hoof opgehef en gesê „So lank ’n mens nog nie dood is nie, is daar niks verlore.”

—Vandat hy dood is, sê die ou vrou, is my krag weg.

—Hy leef nog in U, ma. Vir ons is hy nog hier.

—In julle ook. Vir my wag hy.

Marcel kus haar.

—Nee, ma, ons het ma nog nodig.

’n Spoorwegbeampte kom aan die deur en waarsku hulle. Hul gaan op die stoep en sien die twee lanterns van die naderende trein soos oë wat hul aanstaar. Hul moet afskeid neem van mekaar.Nog nooit het mevrou Kibert so bedroef gevoel nie. Sy omarm haar Marcel, en hy glimlag om haar moed te gee. Haar laaste woord is ’n seën-wens, ’n gebed:

—Dat God jou beskerm!

Krom gebuie na die aarde, wat haar aantrek, so bereik sy, aan Paula haar arm, die rytuig.

—Moenie ongerus wees nie, ma, sê Paula. Net ’n jaar bly hy weg. Die vorige keer het U beter uitgehou.

Maar sy het ’n geheime voorgevoel wat haar martel. Swyend ry hul terug na Maupas. Daar word die ou vrou nog ’n keer oorval deur ’n vreeslike aandoening van droefheid:

—O, ek is bang ek sal hom nooit weer sien nie.

Paula verbaas haar oor die wonderlike voorgevoel van gevaar, wat haar ma alleen het.

—Ek weet nie waarom ek so voel nie, sê die ou vrou. Ek voel net so bedroef, as die jaar toe jou pa gesterwe het.

Met grote selfbeheersing bedwing sy haar, om haar dogter ontwil. Sy neem die hand van haar laaste kind, met die sagte bevalligheid wat sy nog uit haar jong jare oorhou; en terwyl sy dink aan al die skeidinge, sommige vir lange tyd en sommige vir altyd, sê sy:

—My liewe kind, jy is nou die laaste blommetjie wat oorbly in my verlate tuin.


Back to IndexNext