IX.HAAR LAASTE KIND.
Die grond is bedek met sneeu, sodat die voetstappe van die mense onhoorbaar is—soos skimme gaan hulle daaroor, hierdie wintermôre, op pad na die kerk in Chamberie. Instappend in die kerk herken vriende mekaar en groet swyend met ’n hoofknikkie.
Stappie vir stappie, want sy is bang om te gly op die bevrore grond, laat mevrou Kibert die ander maar verbystap wat sterker is as sy. Tog is sy nog een van die eerstes, want sy hou nog haar ou gewoonte om altyd baie te vroeg op ’n plek te wees. Sy gaan heeltemal apart sit, en sonder haarselwe daar af in gebed. Sy voel groot behoefte aan die goddelike beskerming,en smeek dit af met haar hele hart. Vandag nog sal sy haar bittere eensaamheid moet ingaan. Die oomblik het gekom dat sy haar laaste kind moet afgee, die enigste wat sy nog in haar arms het en wat God tot dusver gespaar het. Om drieuur sal Paula en haar man vertrek van Chamberie om na hul broers te gaan in Asië.
Die huwelik is ’n paar maande gelede voltrokke. Die jong gehude paar het toe die eerste weke van hul huwelikslewe gaan deurbring in die onvergelyklike skone gedeelte van die land—die fris-groen vlakte van Chablais, aan die meer Leman, omgewe deur hobbelige hoë berge, tot aan hul toppe met bos begroeid—verderaf skerpgepunte koppe, bedek met ewige sneeu, helder-wit afstekend teen die klaarblou lug, saans nagloeiend in die lig van die ondergaande son. Daar, in die geseënde oord, waar die lug helder deurskynend is, skenk die fyne kleuroorgange van die natuur ’n lieflike bekoorlikheid aan die dae, wat tog alte gou verbygaan. Die siel moet daar wel tot homself inkeer. Die hemelgewelf spieël hom af in die water van die meer, wat nou bleekblou en dan weer donkerblou is. Die grond aan die oorkant lyk huiwerig om water en lug te skerp van mekaar te skei en werp ’n ylblou missluier op om die skeidingslyn te versag. Veral die najaar verleen ’n roerende skoonheid aan hierdie towerland, wat die byna wegsterwende tinte harmonies laat samesmelt, tot tempering van die somervreugde, wat te oorvloedig daarop uitgestort word; en die skaterlag van water en weilande, vlaktes en berge, word omgesit in die pynlikverlangende glimlag van die wellus wat hom swak voel en darem nog wil geniet, en nie ontsien om in ’n wrange en bedwelmende mengsel die lus tot lewe en liefde saam te vat met die voorgevoel van die naderende dood nie.
Paula en Jan ondervind die betowering van die najaar. Hulle asem die wrede bekoring daarvan in.Hulle sien hoe die blare van die bome duisende skone verbygaande kleure aanneem, hoe die wingerde tot aan die waterkant ’n opskik van goud aantrek, om in ryke skoonheid te sterwe. So is hul jeug reeds gewaarsku, hulle voel hoe onstandvastig die liefde is wat haar doel in haarself soek, en, deur liefkosing te beskou as dagtaak, haar duursaamheid nie weet te grondves op ’n samelewing van wedersydse vertroue en ’n begeerte tot stigting van ’n gesin nie.
Hulle keer terug na Maupas as die oeste af is en die lande en vrugteboorde die mense verlos van landbousorge. Paula hou vas aan haar moeder, as om ’n dreiende toekoms te vergeet. En die toekoms weeg swaar op die weinige ure wat die twee nog verenig. Mevrou Kibert moes haar dogter wel vertel dat sy besluit het om tuis agter te bly. Jan is so goed om sy hele plan van vertrek te wil opgooi. Die karakter en bekwaamheid van die jongman, die geeskrag van die jongvrou, die geldelike omstandighede van hul famielie weerskante—alles wys daarop dat hulle na die kolonies moet gaan om hul kragte behoorlik te kan ontwikkel en ’n nuwe tuis te wen. Etienne hou ook altyd meer en meer aan dat hulle moet kom, dat sy onderneminge goeie gevolge het en ’n groot sukses waarborg. Hy smeek sy suster om hul moeder ook mee te bring, om daar, as voorwerp van hul gesamentlike sorge en liefde, ’n gelukkige oudag te slyt. Beleef maar beslis weier mevrou Kibert. Ek is tog alte oud, sê sy as Jan en Paula by haar aanhou. Ek wat nog nooit verder gegaan het nie as tussen Maupas en Chamberie, hoe sal ek so ’n lang seereis kan verdra? Ek sal net lastig wees vir julle. Ek bly hier, en beurt om beurt kom julle by my kuier. Julle sal my vertel van my kleinkinders wat ek nie ken nie, en wat ek liefhet, soos ek my eie kinders liefgehad het voor hul geboorte. En dan glimlag sy om hul aandag af te trek van haar oë wat vol trane is. Maar in stilte dinksy by haarself: Ek voel dat God my roep. Nou, nou eers is my taak volbrag. Ek is digter by die dode as by die lewende. As ek alleen is, sal ek meer my man opsoek en my klein Thérèse: hulle wag vir my in die kerkhof. Veral ook sal my hart aan Marcel dink, wat daar vèr in Afrika rus. Nee, ek sal nog net één reis maak, en dit sal wees om by dié te kom wat ek liefhet. Dié wat nog lewe, het my nie meer nodig nie. Van vèr sal ek vir hulle bid—eers van hier en dan daar bo. Ek kan niks anders meer doen nie . . . .
Paula doen al wat sy kan om haar ma elke dag liefde te bewys. Hulle het tog so lange jare saam hul brood met trane geëet. Die jongvrou maak haar byna ’n verwyt van haar eie geluk, nou dat sy op vertrek staan; en haar ma wil haar maar altyd die geluk nog meer laat voel.
—Ek merk waar jy aan dink, sê Jan, as hy trane sien in Paula haar oë.
—Ek het jou lief, Jan, antwoord sy, ek het jou lief bo alles in die wêreld. Maar sy . . . .
Hy kus haar, en antwoord:
—Ek is nie jaloers nie, Paula, en ek begryp jou smart so goed . . . .
Jan het self ’n plan gemaak omtrent die ou vrou haar woning as hulle weg sal wees: in die winters sal sy op kamers gaan woon in Chamberie: sy sal daar minder afgesonderd wees as op Maupas. Sy het teen-gestribbel, en gesê:
—Julle moenie uitgaaf aan my hê nie.
Namate die dae verbygaan, voel Paula haar moed sak, terwyl die moed van mevrou Kibert al groter word. As ’n soort van verheerliking dra sy nog op haar diep-gerimpelde voorhoof, in haar helder oë, op haar bleek wange, die afglansing van haar siel. Saans praat sy met die twee kinders oor hul toekoms, en stort in hul harte ook haar eie vertroue op God—die vertroue wat heeltemal aan die Voorsienigheid oorlaatal wat voorbereid is met beslistheid, moed en deug. Altyd sal hulle wel dink aan hierdie lering, deur eie edele voorbeeld so aanskoulik gemaak.
So teen mekaar aangedruk, soos reisigers deur ’n onweer bedreig, smaak hulle nog die geluk van hul laaste samesyn, tot die droewige afskeidsure aanbreek.
Jan en Paula slaap nog toe mevrou Kibert stilletjies uitgaan om by haar God die hoogste krag te gaan soek wat sy netnou nodig sal kry.
So sit sy dan in die kerk. Sy het meer behoefte aan moed as aan kalmte. Voor die uur van smarte slaan, soek sy krag en geduld by Hom Wat alle menslike ellende gedra het sonder kla.
Mevrou Kibert sit ’n bietjie apart in ’n donker hoekie, verlore in haar eie oordenkinge. In gedagte gaan sy die laaste jare van haar lewe weer oor, en vind soveel om die Heer voor te dank. Het Hy haar nie die seën geskenk waar sy so lank met besorgdheid om gesmeek het nie—die geluk van haar dogter? Paula, haar eie Paulatjie—sy het haar wel nie die liefste van al haar kinders nie, maar sy is die sagste, en was haar steun in die beproewinge van haar oudag; hoe dikwels het sy nie die Here Se seën op haar afgesmeek nie, want op Paula veral het die verdriet van die famielie neergekom! En om haar dogter nou die afgebede seën te skenk, verskeur die Heer die hart van die moeder. Maar dewyl die Heer dit nou vir so’n prys wil doen, hoe sou sy so laf kan wees om te murmureer teen Sy wil en weldaad, hoe kan sy dit regkry om die eensaamheid te verwens wat sy vanaand sal ingaan soos in ’n vroegtydige dood? En sy sê in haar gebed:
—Nee, nee, ek sal myself nie beklaag nie; ons is tog maar te gou om soiets te doen tot verontskuldiging van ons swakheid. My God, U ondersteun my in my behoefte. Vanaand wil ek sterk wees. Hulle sal my nie sien ween nie. Ek sou tog nie met hulle kan saamgaan nie. U het my gewaarsku dat my kragteuitgeput is; en dan, my werk is gedaan. My kinders sal dit voortsit beter as ek kan. Ek dank U dat U my, in U goedheid, nog die geluk van my dogter laat sien het. Ek dra haar op aan U beskerming gedurende die lang seereis, en ook haar man, wat ook my kind geword het . . . . Ek dra ook aan U hoede op, my God, ’n ander lewentjie wat nog in duisternis en onsekerheid verkeer, die lewentjie van ’n klein wesentjie wat nog moet kom, wat my oë nooit sal sien nie, wat my hande nie sal verwelkom in die wêreld nie. Gee daaraan ook gesondheid, verstand, wilskrag, en onderwerping aan U heilige wil. Gee hom ’n lang lewe, opdat hy U lank en goed kan dien. Laat hom volhardend en sterk wees in wat goed is; laat hom nie bang wees om te lag nòg om te ween nie; laat hom werklustig wees; en laat hom word vir sy moeder wat sy vir my gewees het . . . .
As mevrou Kibert haar hoof ophef van haar hande, waarop sy vooroor geleun het, sien sy dat die priester klaar is om die diens te sluit. Sy verwyt haar dat sy nie na die preek of gesang geluister het nie. Maar sy vind dat sy in haar gebed die kalmte en vrede gevind het wat sy kom soek het.
Die mense staan op van hul sitplekke en verlaat langsaam die kerk. Mevrou Kibert stap ook uit op die sneeu, in die triestige winterdag, wat haar sal sien terugkom van die stasie . . . . alleen.
As sy terugkom op Maupas, en deur die gang stap, wat vol kiste en koffers is, vind sy haar ou meid Marie besig met die ete klaar te maak.
Meneer het uitgegaan, sê sy, om ’n rytuig te bespreek.
—Sonder te eet? vra mevrou Kibert—sorgsaam soos altyd.
—Hy wou nie.
—En mevrou?
—Watter mevrou? Ag ja, juffrou Paula. Ek kan tog nie gewend word om haar mevrou te noem nie . . . . is dit nie snaaks nie? . . . . die juffrou is in haar kamer . . . . As ’n mens oud word, dan vergeet jy ook alles, en ek is niks meer werd nie.
—Dit kan ook nie anders nie, Marie: ons is altwee oud.
Maar albei vergeet wat hulle te doen het en dink aan die vertrek wat op hande is; die ou bediende haal haar bril af en stryk haar hand oor haar oë.
Met haar bewende hande wil mevrou Kibert nog vir die laaste keer haar dogter haar sjokolade klaarmaak soos sy daarvan hou. Dan gaan sy luister aan die kamerdeur, en hoor Paula sug. Sy klop, stap saggies binne, en vind Paula in trane.
—Ma, ag ma, moet ek regtig weggaan! Ek het geen moed meer nie.
Mevrou Kibert sit die koppie neer, en lê haar gerimpelde hand op die voorhoof van haar dogter:
—My liefste, ek wou jou vanmôre nog bedien, en ek het van hierdie broodjies laat kom, wat jy so graag eet.
Sy buig vooroor, en terwyl sy Paula kus, sê sy saggies:
—Hou moed, Paula, God wil dit so! Die liefde van jou man gee my die versekering dat jy gelukkig sal wees. En moenie oor my ongerus wees nie.
Maar die trane hou maar aan. Jan kom binne, en sien die twee in mekaar se arms. Hy dink dat dit Paula is wat moeite doet om haar ma te troos.
—Ons kom weer, ma, sê hy. Ek beloof u, ons kom weer. Ander jaar kom Etienne en sy vrou kuier, en dan kom ons die jaar daarna.
Maar as die ou vrou opkyk, merk hy met verbasing dat sy nie ween nie, en dat dit sy is wat moet troos.
—Waar sal ek in dié twee jaar wees? dink sy. En kalm en ernstig antwoord sy:
—Jan, jy moet jou vrou tog baie liefhê. As julle vèrweg is, dan sal dié gedagte my krag gee. God is goed en Hy waak oor ons. Die skeiding sal die band tussen ons hegter maak. Ons gedagtes en ons harte bly één. As daar sekerheid van liefde is, dan beteken afstand tog maar min.
Met dié plegtigheid, wat sy waarskynlik nie opsetlik aan haar woorde gee nie, gaan die ou moeder aan:
—Bemin mekaar trou. Moenie jul liefde maak tot ’n vervelende en verswakkende tederheid nie. Put daaruit, en uit jul wedersydse vertroue, die wilskrag en die volharding vir jul lewe. Kyk vooruit. As julle agteruitkyk na ons dode, na my, moenie dat dit julle ontmoedig nie, maar laat dit strek tot beter begrip van jul jonkheid en van al wat God daarvan verwag.
Jan en sy vrou het haar hande geneem en haar spraakloos aangehoor.
—Ja, sê sy nog daarby, asof sy in die toekoms sien, kyk vooruit, na jul planne, na jul toekomstige kroos. Gee aan jul seuns en dogters dapper harte, en laat hulle ook voor hulle uitkyk, met oë wat uit jul eie verlede krag sal put om te sien.
Hulle ween albei, terwyl die ou moeder doodkalm bly. En sy besluit:
—Ek seën julle. Vir jou, Paula, om jou vrome waaksaamheid oor my, en om jou sorg vir jou broers. En vir jou, Jan, om jou vriendskap vir Marcel, en om al die geluk wat ek in daardie twee oë lees, al is hulle vol trane . . . .
Mevrou Kibert gaan met hulle saam tot by die stasie. Hulle ontmoet daar bowendien nog ’n paar vriende wat die jong vertrekkende paar kom groet. Jan se oom is siekerig, maar hy het die bediende gestuur met ’n ruiker blomme. Alida staan opsy—bleek en skraal, hoewel sy ’n dik pelskleed aan het: sy wag op ’n geskikte oomblik om Paula te groet. Paula sien haar staan, en gaan na haar toe; ’n oomblik aarsel dietwee, en dan is hulle in mekaar se arms. Paula sien hoe haar ou skoolmaat lyk, en vra saggies:
—Nog altyd so verdrietig?
—Altyd nog. Maar jy Paula?
Terwyl hul saam na die kant van mevrou Kibert stap, vra Paula snel aan haar:
—Alida, bewys my tog ’n vriendskap: gaan tog af en toe na ma toe, hou ’n oog op haar, en skryf my hoe dit met haar gesondheid gaan.
—Ek beloof jou dit.
Alida bly alleen staan, en bewoë stap Paula terug na haar ma en Jan. Soos altyd as die oomblik van afskeid kom, is die laaste woord van die ou vrou ’n gebed:
—Dat God julle beskerm!
Maar as die trein wat hulle wegneem, verdwyn het, raak sy haar voorhoof aan en voel dat dit yskoud is, en sy dink:
—Dit was hoog tyd. My moed was op.
Sy is verplig om op die bank te gaan sit, in die derdeklas wagkamer. Die reisigers wat kom en gaan, is besig met hul reiskaartjies en hul koffers en sien nie eens die ou vrou in haar rouklere wat daar alleen sit en huil nie.
Sy het weer geword ’n arme, swakke, lydende sterfling. Maar sy het darem die krag besit om tot die laaste oomblik haar wanhoop verborge te hou vir haar kinders.
In die trein druk Jan sy wenende vroutjie aan sy bors. Sy leun haar hoof teen die hart waaraan sy haar heeltemal oorgegee het, en laat aan haar trane ’n vrye loop. Hy begryp dat hy maar stil moet bly. Hy streel net saggies haar wang met sy hand, en nou en dan buig hy vooroor om ’n eerbiedige kus te druk op die oë waarvan hy die trane nie kan stuit nie. Sy lig nou haar hoof op, en Jan verseker haar:
—Ons kom eendag terug, Paula.
Sy skud haar hoof, twyfelagtig, of wil nog nie vertroos word nie.
—Jy is my alles, Jan, fluister sy; en dan begin sy weer te ween.
Hy begin nou oor haar ma te praat:
—Paula, wat ’n voorbeeld gee sy ons van moed en selfopoffering. Dat ons dit tog nooit vergeet nie! En as ons dit haar miskien moet nadoen, dat ons dan steeds aan haar terugdink. O, dat dié wat uit jou gebore word, soos sy mag wees! Dat hy ’n ferm en dapper hart mag besit! Dat hy sy bestemming aanvaar sonder sy hande slap te laat hang, opdat hy, deur nie bang te wees vir die lewe nie, die dood ook nie vrees nie: dis net onvrugbare siele wat terneergeslae word deur die gedagte aan die dood. Dat God ons kind beskerm, en ook haar vir wie ons daar agterlaat met verskeurde hart.
—Ja, antwoord sy nou, dis ook my gebed. Dis God wat aan ma die tevredenheid en berusting gegee het wat sy op my wou oorbring.
Haar jong lewe het menige uur van smart en rou geken. Maar sy dink dat hierdie nog die swaarste is. Sy dink dis die dood wat sy voel. Maar dis die lewe—die lewe in sy verhewenste roering—wat sy voel in die diepste van haar siel. En dis dié hoogste lewe wat haar liefde louter, en dié heilige vlam van moederlike opoffering waarvan sy die krag meer en meer sal ondervind. Eendag sal sy verstaan dat die edelste, innigste, volste lewe bestaan in algehele oorgawe van eie hart, en in selfopoffering.
Die trein stoom verby die eikebos van Maupas; en Jan en Paula kyk nog ’n keer uit oor die welbekende ou landskap. Die takke van die bome dra sneeuvlokkies, soos klein wit blaartjies wat die ondergaande son tempteer; en die ryp op die wingerdstokke blink in die aandstrale soos skitterende kantwerk.
Dáar, en nêrens anders, het sy haar lewe deurgebring totnogtoe, dáar het sy kennis gemaak met die lewe, met die dood, met die liefde. En sy dink aan ’n jong, trotse dingetjie wat ’n hoë borsie opsit omdat sy haar ma oppas.
—Soen my, sê sy aan haar man.
Hy omarm haar, en voldoen aan haar wens. En dié kus verwek ’n heilige ontroering in hul wese, want hulle voel daarin nie alleen ’n tere vereniging van hul liggame en siele nie, maar ook haar lange, vrome toewyding aan haar moeder; hulle voel ook die geheimsinnige vooruitsig op die betekenis van hul vereniging vir hul ras en nasie; dit vermeerder hul lewenshoeveelheid en deel aan hul liefde iets onsterfliks mee . . . .