V.DIE GEHEIM VAN ALIDA.
’n Huwelik tussen ’n man van die burgerlike stand en ’n adellike vrou word daar ’nhalfbloed-huwelik genoem, en vir minderwaardig gereken. En hul word uitgelag as die een toelaat dat die ander, om sy of haar vernedering te dek, altyd maar weer die adellike afkoms ophaal, tot selfs op die visietekaartjies.
Meneer Delourens het ook kennis gemaak met die mag van die adellike vooroordeel. Hy het baie verering vir die opienie van sy vrou en, deur haar, ook vir alle koninge en prinse. Hy is uitermate koningsgesind. Alle tietels verafgood hy, selfs dié wat met goud gekoop kan word, en wat hy nie durf koop nie, omdat hy te agteraf voel. Die toegewende houding van haar man versoen mevrou Delourens nie heeltemal met die huwelik benede haar stand nie; maar dit streel darem tog haar baasagtige neiginge.
Soos sy haar man en haar huis regeer, so regeer sy ook haar kinders, vernaamlik Alida. Sy is een van die moeders wat die geluk van ’n dogter met hul eie geluk verwar, en wat regtig dink dat die geluk van die dogter versekerd is as sy (die moeder) maar haar eie geluk najaag. Haar felle moederhartstog is die uiting van ’n groot liefde wat in haar natuur lê, dog in haar huwelik geen bevrediging gevind het nie.
Sy maak vanmôre met sorg haar planne klaar vir Alida se toekoms; vir die vorm het sy haar dogter vertel dat meneer Marthenay haar ten huwelik gevra het. Maar sy het veral haar hande vol met ’n maaltyd wat sy gaan gee ter ere van Isabella Orlandi haar verlowing. Af en toe staan sy haastig op om orders te gee, en let nie baie op Alida nie, en versuim ook om te vra of sy toestem. Sy maak soos die veroweraars wat nie dink aan struikelblokke nie. Sy behandel so ’n ernstige saak selfs met sekere onagsaamheid, omdat sy daar al so lank aan gedink het en dit reeds beskou het as een van die famieliesakies wat heeltemal natuurlik is en, so te sê, onvermydelik.
Sy kom nou vir die derde maal uit die kombuis terug en som nog ’n keer al die voordele op van so ’n huwelik:
—Hy is van baie ou en egte adel. Goeie konneksies. ’n Middelmatige fortuin, dis waar, maar ons adellike here is nie somar winkeliers nie. Hy is so ’n mooi jonkman ook. En dan, liefste, bly jy altyd naby my; jy begryp, daarop het ek aangedring, as hy met jou trou, is dit ’n eerste voorwaarde waarin hy moet toestem. Hy het my beloof nooit verder as Chamberie te gaan woon nie. Word hy eendag êrens anders aangestel, dan bedank hy—dis net al. So sal ons nooit van mekaar af hoef te gaan nie. Ons kan tog nie van mekaar skei nie.
Eindelik kyk sy haar dogter aan, want haar spraakloosheid begin haar te verbaas. Alida is doodsbleek en kyk na die vloer. Sy slaan haar oë op en kyk in haar ma haar gesig. Sy kan nie meer nie, en bars in trane uit. Mevrou Delourens neem haar in haar arms.
—Wat makeer, liefste?
—Ag, ek weet nie. Waarom moet ek nou al trou? Ek is so tevrede hier. Hou my tog nog maar by ma.
Haar ma liefkoos haar, op haar wang en op haar hare, soos in die dae toe sy nog ’n kind was:
—Maar my kind, ek het jou mos uitgelê dat jy nie weggaan van my nie.
En, half onrustig darem, voeg sy daar glimlaggend by:
—Wat ’n mooi gravin Marthenay sal u uitmaak, mejuffrou! En hou u baie van die graaf?
—Ag, ek weet nie.
Dis haar gewone bangerige manier om iets te weier. Mevrou Delourens het dit verwag.
—Jy mag self die huweliksdag bepaal.
Dié uitdrukking laat onmiddellik die gevreesde gebeurtenis as werklikheid sien. Alida beef oor haar hele liggaam, en skree met luide stem:
—Nee, ma, ek wil nie, ek wil nie!
Mevrou Delourens is verstomd, sy voel geraak in haar liefde vir haar dogter sowel as in haar begeerte. Maar, as vrou van die wêreld, wat aan die teenwoordige dink, vind sy dat dit nou nie die tyd vir ’n uitleg is nie. Sy sê:
—Bedaar, liefste. Ek kan jou ontroering begryp. Alles sal reg kom. Dis nou naby etenstyd. Ons gaste sal haas aankom. Veeg gou jou oë af. Vertrou op jou ma.
Alida kalmeer haarself. ’n Bediende kom sê dat mevrou Orlandi en haar dogter in die voorkamer is.—Terwyl mevrou Delourens na die voorkamer stap, dink sy by haarself dat sy maar nie alte ongerus sal wees oor die wonderlike weiering van Alida nie: dis maar niks anders nie as ’n jongmeisiesnuk, wat die oorsaak daarvan is, en beskuldig haarself:
—Dis ekself, sê sy ingedagte, wat daardie kaptein Kibert hiernatoe gelok het. Dis my skuld. En nou het ek hom waarlik gevra om nog vandag hier te kom eet ook!
En in haar toorn teen die jonkman, in wie sy reeds ’n teenstander sien van haar planne, beskou sy haarself byna as sy weldoenster, wat hom op ondankbaarheid betrap; want sy beskou haar uitnodiginge as voortreflike middele om iemand in aansien te bring by die wêreld.
Na die maaltyd voel mevrou Delourens nogmaals ongerus as sy deur die raam van die voorkamer sien—want sy hou haar dogter altyd in die oog—hoe Alida, aan die arm van Paula Kibert, na die eikebos wandel. En solank as sy in die voorkamer met mevrou Orlandi en mejuffrou Sonjon gesels en lag, sê sy by haarself:
—Ek is seker dat sy onder die invloed staan van die bedriegster, wat vir Alida aan haar broer wil plak.
Sy kyk na die kaptein, wat sit en praat met meneer Delourens en meneer Landeau, en sy sien dat hy ook deur die raam na die twee meisies kyk, en sy dink:
—Ja, dit is maar so—dáár lê die gevaar.
Mevrou Delourens is maar min gewend om na te dink en verwerp alle bedenkinge wat haar gesag sou kon verswak. Sy vra nie eens of die toekoms van Alida nie miskien veilig sou wees as dit toevertrou word aan die man van eer nie, en of dit nie selfs haar plig sou wees om Alida aan hom te gee nie in geval die tere hart van haar dogter onwillekeurig aan hom geheg is. Sy begryp vanself dat ’n vergelyking tussen Marcel en luitenant Marthenay ongunstig moet uitval vir laasgenoemde, want dis bekend dat hy ’n eerlose lewe gelei het met ’n sekervrouspersoon, en sy militêre loopbaan is sonder roem of toekoms. Instinkmatig verban sy die gedagte aan so ’n moontlike keus tussen die twee mans, want dit kom op die laaste oomblik ’n plan versteur waaromtrent sy ’n onherroeplike besluit geneem het, en wat sowel haar onbewuste ydelheid streel as haar nog onbewuster moederlike selfsug. Sy het vir haar dogter ’n keus gedaan soos sy vir haarself sou gedaan het, en daarom kan sy ook nie twyfel aan haar wysheid en belangeloosheid nie.
Terwyl Jan Berlier verbygaan om by die mans aan te sluit, fluister Isabella Orlandi in sy oor:
—Wel, hoe lyk hy vir jou?
—Wie?
—My aanstaande, meneer Landeau.
—So, tussenbeie.
—Hy praat min, maar al wat hy dink sê hy.
Sy lag as sy dit sê, en hy sien haar helder wit tande, en vir die twede maal merk Jan dat dit ’n valse lag is. Hy vergelyk dit by die liedjies wat ’n mens somtyds snags in die veld hoor sing deur iemand wat in sy eensaamheid bang voel. Roerloos en spraakloos verslind meneer Landeau sy aanstaande met sy oë. Blykbaar voel hy vir haar so ’n soort hartstog as deur jonkheidsverval eerder versterk as verswak word in harte wat plotseling aangetas word deur ’n gehegtheid wat hul vroeër nie geken het nie. Hy is al op rype leeftyd, swaarlywig, en sonder iets wat hom onderskei van die gewone. Hy is onhandig, en laat hom gemaklik uit die veld slaan deur die ligte en gemaklike hoflikheid wat die krag en bevalligheid uitmaak van die omgang met mense. Naas die vyf-en-twintigjarige lewenslustige en welgemanierde Jan Berlier steek sy ouderdom en sy onbeholpenheid nog meer af. Vanvèr kyk hy so na Isabella, oogverblindend skoon in haar wit klere, soos ’n afgod wat hy nie durf nader nie. En Isabella self lyk of sy selfs heeltemal vergeet het dat haar miljoenêr-slaaf nog aanwesig is....
Tussen die eiketakke deur val die sonlig in die bos, tot op die grond, wat bestrooi lê met dooie blare van vroeër jare. Die twee jongmeisies loop langsaam in die voetpaadjie, leunende op mekaar, hulle gesigte nou deur die son beskyn en dan weer in die skaduwee. Die ou, dikstammige bome staan beskermend oor hulle en omsluit hulle met ’n diepe kalmte. Die blonde Alida het ’n rooskleurige rok aan. Paula haar swart hare en haar rouklere laat haar bleek gelaatskleur nog meer uitkom.
Die spel van die lig in die blare vrolik hulle op; sonder moeite hervind hulle die ou kameraadskap van hul skooldae, en nou en dan wissel hul ’n glimlag.
Maar hul merk nie dat hul albei ’n bietjie opgewonde is nie. Albei het ’n groot geheim. Alida voel net baie moedig na die gesprek met haar ma dié môre, en sy brand van verlange om, deur vertrouelike mededeling, die agting en aanmoediging te win van haar maat. Paula dink met aandoening aan haar broer en aan sy liefde, wat sy moet bekend maak.
—Paula, onthou jy nog ons skoolpraatjies van die ou dae?
—Ag, ek dink byna nooit meer daaraan nie.
—Eendag het ons van trou gepraat. Sarie Raymond, van die hoogste klas, het maar altyd dié onderwerp ingelei. En sy het toe gesê: „Ek sal nooit ’n ander neem nie as ’n ryk man van adel.” So het ons almal, om die beurt, gesê wie ons wil hê. Ek het gesê: Ek weet nie. Maar jy, Paula, ek sien nog jou mooi swart oë, wat altyd die meestelig uitgestraal het in die donker of in die moeilikheid, en jy het gesê, net of jy al ons ydele begeertes met geringagting beskou het: Om te trou is om lief te hê, en niks anders nie. Sarie het daaroor gelag, maar ons het lus gehad om haar ’n klap te gee.
—Jy ook? vra Paula, half spottend maar nogtans liefderyk.
—Natuurlik, ek ook. Verbaas jy jou daaroor? Het jy my vanmôre gehoor, dan sou jy nie verbaas wees nie.
’n Ligte blos op haar wange gee ’n uitdrukking van opgewektheid aan haar suiwer gelaat en verhoog die skoonheid daarvan, en haar stap lyk minder sleperig en lam as gewoonlik.
Paula kyk haar aan: sy hou van Alida se aanvallige gelaatstrekke, alhoewel sy die swakkerige sagtheid daarin afkeur, maar nou is sy heeltemal verwonderd oor die nuwe vuur wat daaruit straal, en meteens het sy ’n gevoel dat haar boodskap van haar broer in goeie aarde sou kan val. Sy vra aan Alida:
—Is dit vanmôre gewees dat jy gepraat het?
—Vanmôre, ja, sê Alida ernstig, het ek geweier om te trou.
Sy sê niks meer nie, om net ’n oomblik die uitwerking van haar woorde te sien en te geniet. Daar is altyd iets aantrekliks in vir ’n jongnooi om te praat van vryers wat sy afgesê het. Maar ’n gedagte van kieser aard laat haar daarby voeg:
—Al sou jy my geheimhouding belowe, sy naam sal ek nie noem nie.
Paula het al geraai, sy glimlag en voel ’n bietjie ongemaklik. Sy beef al vir hom wat haar ’n vredeboodskap meegegee het.
—Is dit onmanierlik van my om te vra waarom jy geweier het?
Alida swyg. ’n Goue straal val deur die blare net op haar blonde hare. Sy buig haar ’n bietjie vooroor en lag soos ’n voorjaarsblom toe sy antwoord:
—Om te trou is om lief te hê, en niks anders nie.
—Jy het dus nie lief nie?
—Nee.
—Niemand nie? waag Paula te vra.
Maar Alida bloos. Is dit omdat haar natuurlike teruggetrokkenheid haar sê dat sy te roekeloos gepraat het, of skrik sy omdat sy die waarheid verdraai het?
Paula stap op haar toe en slaan haar arm om haar ranke middel. En so, van naby, in die stille skaduwee van die bos, en hoewel sy byna al haar moed verlies en skrik vir die klank van haar eie stem, fluister sy haastig haar boodskap aan Alida in:
—Jy weet nie dat Marcel jou liefhet nie. Sy hele hart is joue. Sal jy toestem om sy vrou te word? Hy verwag sy geluk alleen van jou.
Altwee is ewe bewoë en slaan hul oë neer op die dooie blare. Gelyk hef hul weer hulle hoofde op, bloos albei, en soen mekaar, in trane.
Paula herstel haar die eerste. Met ’n nuwe geneëntheid beskou sy die skone wese wat op haar skouer leun en, sonder ’n woord te praat, haar suster geword het. Alida voel haar salig in die ontroering, maar sy word bang vir die diepte daarvan, hoewel sy verlang om dit altyd te voel. Sy vrees dat sy haar strafbaar maak deur daaraan toe te gee—en tog gee sy toe. Dis haar eerste onderhoud met die liefde, en dit ope meteens haar oog vir die geheime skuilhoeke van haar siel, wat tog nog so sluimerend en kinderlik is. Haar hart gaan ope soos die rose wat ’n mens in die aand nog geslotesien en wat die volgende môre op hul oopgespreide blaartjies die hemeldou ontvang.
—Wil jy? vra Paula sag.
En eindelik antwoord Alida, met ’n stem byna onhoorbaar swak:
—Ja.
Hand in hand stap hul aan—die een luisterend na die liedjie van geluk in haar boesem, die ander haarself vergetend en genietend ten volle van dié saligheid wat vir haarself nie weggelê is nie.
—Jy is nou my suster, sê Paula. Ek het jou baie lief. Marcel verdien tog so om gelukkig te wees! Hy is tog so goed vir ons. Ek kan jou nie genoeg van hom vertel nie. Na die dood van ons vader het ons wrede dae belewe. Maar uit die verte het my broer ons bygestaan met sy krag, met sy geld.
Met gemengde vreugde hoor Alida die loftuitinge aan, en voel verleë daarna. Sy dink nie baie aan geld nie en ken nie die betekenis daarvan nie. Maar sy stel haar ’n liefderoman nie voor sonder toepaslike omgewing nie. Onbekend met die lewe, het sy ’n valse voorstelling van die grootheid en adel daarvan. En hoe sou sy dit in werklikheid tegemoet tree?
Dis maar alles vlugtige oordenkinge. Haar tevredenheid is daar nie minder om nie. Marcel het haar lief, en Paula praat so mooi met haar. Sy voel behoefte om haar moed te ondersteun, en wil haar vriendin vra omtrent die toekoms:
—En wat gaan ons nou verder doen?
—Ma sal hier na Chenée kom om jou hand te vra vir Marcel.[3]Jy moet jou ouers daarop voorberei. Jou ma het jou baie lief, en wil jou natuurlik graag gelukkig sien; en jou pa luister maklik na jou ma.
Hulle is nou in die donkerste plek van die eikebos. Alida lyk ’n bietjie besorg; sy is nou uit die glansende liefdedroom en nader die werklikheid, waarvoor sy, as vanself, ’n bietjie bangerig voel. Sy vra aan Paula:
—Sal ek moet meegaan met ... met Marcel?
As kind het sy hom so by sy voornaam genoem, en nou sy sy verloofde is, durf sy dit nie meer doen nie—net of die naam nou haar lippe brand.
—Natuurlik sal jy moet meegaan as jy sy vrou is, sê Paula verbaas.
—Ja, dis waar ook. Maar gaan hy vér weg?
—Na Algiers, in Afrika.
—O, maar dis baie vér. Ma sal daar nooit in toestem nie.
Daar kom trane in haar skone oë. Sy voel dat haar geluk haar reeds ontval.
—Miskien sal hy, om jou genoeë te doen, vereers nie na Algiers gaan nie. Maar moenie sy loopbaan bederwe nie, Alida: dit lyk vir my gevaarlik—en syne is so veelbelowend.
—Ag, jy weet, my liewe Paula, dat ek nie alte dapper is nie. Ek sal nooit ’n Kibert word nie. Maar is hy dan nie al dapper genoeg gewees nie?
Paula kan haar lag nie bedwing nie:
’n Mens is dit nooit genoeg nie. Ons wat nie met die wêreld meelewe nie, Alida, ons wat net vir ons tuis sorg—ons kan ten minste die hande sterk van ons broers, ons mans, ons seuns, deur ’n kragvolle en verstandige liefde. Laat ons toon dat ons die voorkeur gee aan manne van moed, aan manne wat nuttig werksaam is.
—Aan sulke dinge het ek nog nooit gedink nie, sê Alida.
—En jy het vir Marcel lief.
—Al is hy nie meer nuttig werksaam vir sy land nie, ek sal hom nog net so liefhê.
—Nee! sê Paula, en met gedempte stem, net of sy vir haarself alleen praat, laat sy daarop volg:
—Wat my betref, ek sou dit nooit waag om my man se lewenswerk te belemmer nie.
Alida luister nouliks na haar, sy dink by haarself, en sê:
—Aangesien hy my liefhet, kan hy dan nie met my naby sy ma en naby my ouers kom woon nie? Ons sal so gelukkig wees by mekaar! Ons het daarvoor geld genoeg.
—Dit sal hy nooit doen nie, antwoord Paula. Sy is verontwaardig en vergeet in haar trots dat sy ’n vreedsame boodskap het; sy laat daarop volg:
—Dus is jy onwillig om met hom mee te gaan?
Alida begryp die verontwaardiging en antwoord met vuur:
—O, Seker;—Ek sal hom oral volg, want ek het hom lief. Maar ek sou wel, maar....
Sy bly ’n oomblik stil, weifelend, en, met grote sagtheid in haar droefgeestige stem, fluister sy:
—Ma sal nie wil nie.
—Jou ma het jou lief, en wil jou, voor alles, gelukkig sien.
—Ongetwyfeld, maar sy wil hê dat ek naby haar gelukkig moet wees, sodat sy daar ook deel aan het. Is dit nie natuurlik nie?
Paula dink aan haar eie ma, wat al so baiemaal afskeid moes neem, en tog nooit haar kinders van hul lewensweg teruggehou het nie. Sy bly stil, en haar donker oë het hul glans verloor.
Alida neem haar hand; sy laat dit weer los en begin te ween:
—Paula, ek is tog so bang. Maar ek het jou tog so lief.
Die woord van liefde aan Paula is eintlik vir Marcel bestemd. Soos ’n ouer suster paai Paula die verdriet van ’n vreesagtige jongere.
—Daar kom iemand aan, pas op! sê sy meteens, want sy hoor iets in die droë blare roer.
—Sal hulle kan sien dat ek gehuil het?
—Nee, nie goed nie, moenie jou oë vrywe nie.
En met sagter stem sê sy nog daarby:
—Hou goeie moed en vertroue, beloof jy my dit?
—Ja, ja!
—Arme klein sus....
Alida glimlag tevrede op die liefderyke woorde.
Om ’n draai van die voetpaadjie verskyn Isabella Orlandi en Jan Berlier.
Sy praat opgewonde:
—Kyk, sê sy toe sy by die twee meisies kom, en sy wys haar linkerhand, waarop ’n robyn en ’n smarag naas mekaar skitter.
—Twee verlowingsringe!
—Twee? sê Alida, laggend.
—Ja, meneer Landeau is windmakerig en grootmoedig. As ek julle nou net nog my juwele kon laat sien! Dis ’n hele kissie vol. Ek moes iets uitsoek, maar alles was so mooi, dat ek nie wis wat om te kies nie, toe sê hy eenvoudig, met ’n swierige handbeweging: „Vat maar alles.” Om ma te plesier het ek alles maar gehou. Kyk, hier, wat ’n mooi handbrilletjie: die handvatsel daarvan is heeltemal bedek met edelstene.
—Maar jou oë is tog goed, sê Jan.
—O, dis niks, so ’n brilletjie lyk deftig en vernaam! sê Isabella, en sy maak ’n buiginkie vir hom.
Terwyl sy laggend die komedietjie uitvoer, kyk Paula na die dooie blare wat aan die voet van die groot bome lê.
Mevrou Delourens kom nou ook nader, met kaptein Kibert en meneer Landeau.
Sy is ongerus dat haar dogter so lank uitbly en het aan haar gaste voorgestel om met haar te gaan wandel in die eikebos. Sy is weer gerus, nou sy by Alida is, maar sy merk wel dat Alida se gesig rooi is en dat sy ’n bietjie bewoë is.
—Ja, dis tyd dat ons held nou moet trek, dink mevrou Delourens.
Agter haar rug hou Marcel ook sy oog op Alida gerig. Hy sien haar aan met die verlange van ’n liefde wat nog in twyfel is. Maar gou slaan hy sy oë weer neer, en hy voel op die oomblik die salige tevredenheid van ’n liefde wat nie meer twyfel nie.
Mevrou Orlandi en ou-jongjuffrou Sonjon kom nou ook by die klompie. Hulle bring Paula en Marcel weg tot by die hek; daar neem die twee afskeid.
Vlak voor die ope hek, aan die ander kant van die straat speel ’n klompie kinders in die son, voor ’n armoedige huisie; hulle hare is deurmekaar, hulle gesiggies gloei van gesondheid, en hul loop op blote voetjies. Hulle juig van plesier en maak pret en rusie met mekaar. Hulle ma stap uit op die drumpel van die deur. Sy is ’n boervrou met ’n sagaardige, dog reeds verouderde, gesig.
—Hulle is arm, sê mevrou Delourens, en altyd kom daar maar meer kindertjies. Daar is nou al sewe, en....
—Sewe kinders! hoe afskuwelik! sê juffrou Sonjon, en met afkeer draai sy om.
—Dis die Heer versoek, voeg mevrou Delourens daarby.
En mevrou Orlandi sê breierig:
—Op ’n skildery sou hul mooi lyk, maar in die werklikheid is hul net lastig en smerig.
Die boervrou het hul gehoor, en sy sê binnensmonds:
—Jul wil ook hê, maar kan nie kry nie!
En sy tel die jongste kindjie van die grond op en druk dit liefderyk teen haar bors.
Isabella lag hardop en sê aan haar aanstaande, terwyl sy hom onbeskaamd in die oë kyk:
—Nee, kyk hier, kinders wil ek nie hê nie!
Meneer Landeau trek sy mond tot ’n gemaakte glimlaggie. Die geselskap is verleë om so ’n onbewimpelde en onwelvoeglike uitlating, wat net vir mevrou Orlandi snaaks is, want sy sê:
—Nee, maar dié Isabella!
Alida gee Paula ’n kus tot afskeid. En as sy so vooroor buie, bewonder Marcel die slapperige skoonheid van haar liggaamsvorm, wat haar ’n besondere bevalligheid verleen. Naas sy liefde ontwaak die begeerte om haar te steun en te beskerm. Hy sou sy krag wil afstaan aan hierdie trektouerige kind: haar swakheid vervul hom met byna godsdienstige ontroering.
Paula is nou alleen met haar broer op die terugtog na huis. Sy liefkoos die kindertjies van die arm boervrou; hulle het hul speletjies laat staan, en staan op ’n klompie bymekaar voor die mense wat hul so bekyk, en hul het gevoel dat die oë nie met vriendskap op hulle gerig was nie.
—Arme kleingoed! sê Paula, en verontwaardiging blink nog in haar swart oë. Ons tyd kan julle nie meer verdra nie.
Die boervrou vind dit lief van Paula en sê glimlaggend:
—Wat ’n klompie, nie waar nie?—en hul groei soos kole.
—God is goed en die wêreld is groot, sê Marcel, en hy dink daaraan hoe ’n plesier sy pa altyd gehad het as hy mooi kindertjies mag sien.
—Ja, meneer Kibert. My moeder het twaalf gehad; ek het drie broers in Parys en vier in Amerika. Hulle is vèr, dis waar, maar hulle vind hul bestaan.
Die kindertjies begin met Paula te lag. Sy wys na die span vetsakkies en sê:
—Die klompie sal jou nog eendag help.
—Ja, maar nou eet hul ons net die ore van die kop. My man moet aldag sweet om die mondjies vol te hou, en ons ou geldjies kan ons in een hand toemaak.
—Het julle nie voorraad nie?
—Ja, omtrent genoeg om ’n konyntjie te kan hou!
—Hou maar goeie moed, sê Paula, goeiendag!
En in die rooi handjie van die jongste druk sy ’n silwergeldstuk wat sy gebêre het om vir haarself ’n paar handskoene te koop.
In die bos bly Paula staan en sê aan haar broer, glimlaggend:
—Jy vra my nie na nuus nie, het jy dan self met haar gepraat?
—Nee, maar ek verstaan. Sy het ja gesê, nie waar nie?
—Ja, sy het vanmôre geweier om met meneer Marthenay te trou; dis ’n geheim. Sy het jou lief. Sy is fyn. In julle lewe sal jy moet moed hê vir twee.
Hy gaan nie in op die laaste woorde van haar nie. En selfs broer en suster praat nie verder alleen met mekaar oor die saak nie. Albei het eerbied vir mekaar se innerlike gevoel van kiesheid. As hul die hek ingaan teen die aand, sê hy aan Paula:
—Jy moet dit aan ma bekendmaak, hoor: jy is my beskermengel.
—Ja, sê Paula, ek sal haar dadelik vertel.
Later in die aand, as Paula haar alles vertel het, bly mevrou Kibert ’n lang tyd spraakloos; eindelik sê sy saggies:
—Sal dit ’n geluk wees vir ons?
—Sy is so sag en lief, antwoord Paula.
En die ou vrou sê weer:
—Dat sy hom tog gelukkig mag maak! Ek sou begeer dat sy minder geld en meer moed gehad het. Maar nou hy haar liefhet, sal ons haar ook liefhê. Laat ons bid vir hulle.
Sy dink daar nie aan dat die aanvraag van haar seun miskien afgeslaan sou kan word nie.