VI.MENEER EN MEVROU DELOURENS.
Elke môre sê Alida Delourens aan haarself dat sy vandag met haar ouers sal praat oor die huwelik, waaraan sy maar net hoef te dink om oorstelp te wees van blydskap; en elke aand moet sy ondervind dat sy nog niks daaroor gepraat het nie, en dan stel sy dit maar uit tot die volgende dag. Maar haar tyd word nou baie kort, want Paula het haar gesê dat haar ma op ’n bepaalde dag sou kom om te praat.
Die aand voordat mevrou Kibert sou kom, het Alida nog nie so ver gekom om met haar ouers te praat nie. Bekommerd, val sy eers laat aan slaap, en sy staan vroeg op om kastig tyd te win. Die ure gaan een na die ander verby, en daar is vrees in haar liefdevolle hart.
Nou lê sy haar ma voor en dan weer haar pa, om hul afsonderlik te spreke te kry; maar, soos dit altyd met bangerige mense gaan, vind sy die geleentheid nooit gunstig genoeg nie.
Haar ma is nou alleen in haar kamer. Haastig stap sy daarheen, maar onhoorbaar saggies sluip sy weer ewe gou terug, want, kyk, haar ma sit nou net te skrywe: dis maar beter om netnou weer terug te kom.
Met ’n kleurtjie op haar wange, gaan sy weer haar pa soek. Hy loop in die tuin rond—maar kyk, nou staan hy weer net met die tuinman te praat.
So vind sy wel honderd kreupele verontskuldiginge om haar boodskap uit te stel. Maar nou is sy eindelik vasbeslote om na die ete te praat. Dan voel ’n mens die lekkerste, sê sy—om haar nou maar weer van blaam te suiwer.
Ongelukkig val al haar mooi planne in die water, want op slag van twaalfuur kom mevrou Orlandi as selfgenooide gas aangestap, met haar mopshondjie Pistache op haar arm—sy is nooit sonder hom nie—en begin te babbel op haar familiare Italiaanse manier:
—Ek kom tog nie ongeleë nie? Dis vir my alte naar om alleen te eet tuis. Isabella is met haar kamerbediende na die stad om haar uitrusting te koop. Ja, die trouery maak alles deurmekaar. My kop is al heeltemal op hol.
Mevrou Delourens is vol van haar, maar sy sê darem:
—Wat ’n goeie gedagte van u om te kom.
En meneer Delourens verklaar op ernstige toon:
—Voorbereidsele tot ’n huwelik is inderdaad strydig met huislike rus.
Almal gaan nou na die eetkamer. Mevrou Orlandi wys op haar hondjie en vra:
—U laat tog toe dat my liefste saam met ons aan tafel gaan?
—O seker. Ons sal nooit so wreed wees om hom van u te skei nie.
Mevrou Orlandi sit Pistache op ’n stoel naas haar. Sy begin dadelik oor hom te praat.
—My liefste het gister tog so ’n groot verdriet gehad. Ons was op besoek by die oom van Jan Berlier—my dogter haar „flirt.” Hy woon naby Chamberie, in ’n huisie wat byna begrawe is onder die rose. Die ou het goeie smaak maar min beleefdheid. Hy woon maar daar in sy tuintjie alleen, en vergeet die mense en ook sy goeie maniere. Pistache het hom vergryp aan ’n jong roosboompie; toe het die ou kêrel so kwaad geword, dat hy hom buite die hek gesmyt het. My eer het gevorder dat ek toe ook moes uitstap, en ek het dit subiet gedoen; my dogter het ek daar agtergelaat. Jan het haar in die aand huis-toe gebring, en het toe allerhande verontskuldiginge vir sy oom gemaak.
—En meneer Landeau is weg? sê mevrou Delourens, ’n bietjie geskok oor die manier waarop mevrou Orlandi haar moederlike pligte waarneem.
Met die grootste gelykmoedigheid gaan mevrou voort:
—Meneer Landeau is weg. Hy maak nou pragtige profyte. My dogter sal hom eers sien as die huweliksdag haas daar is. Hy lyk op die oog nie alte mooi nie, en Isabella het kunssmaak. Maar sy sal daar wel gewend aan raak. ’n Mens word aan alles gewend, behalwe aan lelikheid as ’n mens eers mooi was.
Sy slaak ’n diepe sug om haar verlore jeug, en buig haar gesig oor haar bord—die gesig is violet-kleurig, onder ’n dik laag poeier; dis al lank dat sy haarself nie meer durf aankyk in die spieël nie.
Die bediende bied haar ’n bordjie vrugte aan; sy kyk dit verbaas aan, en sê aan mevrou Delourens:
—Wat, is daar dan geen dessert nie?
—Nee, sê mevrou Delourens, verwonderd oor so ’n vraag.
—Dis nou vervelend.
Mevrou Delourens verbaas haar oor die aandrang om dessert, en maak ekskuus:
—Ja, liewe mevrou, u het ons nie laat weet dat u sou kom nie. Ons het nie verwag die eer te hê u vandag te ontvang nie.
—O, ja, sê mevrou Orlandi, sonder die minste verleentheid, ek is redelik wat dit betref en ek begryp u heeltemal. Maar Pistache sal dit nie verstaan nie. Hy is gewend om elke dag sy drie soorte kos te kry en sy dessert. Hy sal nou dink dat ek hom vandag straf, en hy het dit nie verdien nie.
Ongeduldig laat mevrou Delourens gou ’n wit van ’n eier opklop met suiker, en dit word aan die verafgode diertjie gegee. Almal staan op van tafel, maar die lekkerbekkige hondjie bly in die eetkamer agter, dinkende dat daar nog wat te snoep sal wees—alhoewel sy meesteres hom smekend aanroep.
Die bediende sien hom, en nou die deur goed en wel toegemaak is agter dié wat aan tafel gesit het, gee hy Pistache ’n skop, dat hy tot aan die ander end van die kamer rol. Pistache tjank en brom. Maar verbaas is hy nie: die lewe lewer vir hom aldag sulke uiterstes op, en wysgerig neem hy die afwisseling op van liefkosinge en skoppe, van voorkamer en kombuis.
Net na die ete groet meneer Delourens die dames, met ’n aansien van besigheid en vernaamheid wat ’n bietjie komiek lyk op sy „rustige” gesig, en hy gaan na sy kantoor, waar een van sy grondhuurders vir hom wag. Dis ’n kwessie van agterstallige rekeninge. Die boer vra natuurlik om korting: werkvolk is maar duur, geld is skaars, en die oes was maar baie skraal.
—Wat, skraal! sê meneer Delourens met die skynbare hardvogtigheid wat hy aanneem teenoor sy onderhorige en teenoor dié wat vir hom goed moet lewer—’n poppehardvogtigheid wat hom te meer laat sien hoe swak en niksbeduidend hy is teenoor sy vrou.
—Wat, skraal! Waar is die oes van verlede jaar? Wat het jy daarmee aangevang? Het jy dit dan nie verkoop nie?
—Ag, meneer, u weet nie hoe laag die pryse van die wyn nou is nie. Ons het dit liewers maar self opgedrink.
Meneer Delourens se geldelike belange laat hom ’n oomblik die belang van sy „rustigheid” uit die oog verloor en hy wil net kwaad word, maar daar val sy oog op ’n boek op die tafel—dit lê tussen ’n storieboek en ’n boek oor wapenskilde—en die opskrif daarvan is:Hoe om vrede te bewaar met mense.Om die opskrif alleen het hy dit gekoop, en hy lees ook nie meer as die opskrif nie, wat so strelend is vir sy aangebore rustigheid. Hy koel weer af en stuur die boer weg onder ’n hoop mooi woorde, maar sonder enige afslag te maak.
Terwyl die boer uitstap en hom bekla omdat hy niks gewin het deur die onderhoud nie, kom Alida in die kantoor van haar pa. Sy bring ’n koppie koffie, na sy smaak klaargemaak, en sy reken op die invloed van die geurende drank, wat deur meneer Delourens in ontvangs geneem word met ’n suikersoet glimlaggie. Terwyl haar pa met klein slukkies die dampende koffie geniet, gaan sy sit en staan weer op en kan nie op een plek bly staan nie. Verleë en bangerig bring sy die eenvoudige woorde uit:
—Pa, iemand sal u netnou ’n besoek kom bring.
—Dis goed, my kind. Jou ma is in die voorkamer. En wie sal dit wees?
—Mevrou Kibert, is die antwoord, op gedempte stem, wat voldoende sou gewees het om die meisie se geheim te verraai aan haar pa as hy nie al lank afstand gedaan het van sy voorregte as huisvader, en afgeleer het om sy eie kinders te verstaan nie.
—Mevrou Kibert? Maar vandat sy weduwee is, het sy niemand meer besoek nie. Dis ’n eer wat ons op prys stel.
En hy trek sy ou postuurtjie orent om aan sy waardering grote vernaamheid by te sit, en hy voeg daar nog by:
—Sy weet maar min af van geselskapsmaniere, maar sy is darem ’n goeie vrou, en haar seuns het nogal vooruitgekom.
Alida vind die loftuiting onvoldoende en sê saggies:
—Haar man het my lewe gered, pa: weet u nog van die koorssiekte wat ek gehad het?
—Ja, ja, sê hy haastig.
Hy onthou ook dat die doktersrekening nooit betaal is nie, en hy het maar min lus om op die sakie in te gaan. Sou mevrou Kibert op betaling van die ou skuld wil aandring? Nee, so veel sal sy wel nie waag nie; en veral nou, dat haar seun en dogter so vriendskaplik op Chenée ontvang word, sal sy wel ontsien om sulke goeie maatskaplike verhoudinge te bederwe deur geldpraatjies.
—Het sy gesê sy sal kom? vra hy.
—Ja, pa.
En saggies sê sy daarby:
—Mevrou Kibert kom om my ontwil.
Meneer Delourens kuier op en neer in die kamer; dis goed vir sy spysvertering—as biblioteek worddie kamer maar min benut, maar wel bepaald as die plek vir dié klein gesondheidsbeweginkie; maar nou bly hy meteens staan, want dis hom nou eindelik duidelik geword dat daar iets buitengewoons in sy huis gaande is.
—Om jou ontwil? sê hy besorg.
Met die plotselinge oorhaasting van weifelende mense verbrand Alida haar skepe:
—Wil u my nie graag gelukkig sien nie, pa?
—Seker, seker! bepaald wil ons dit.
En reeds sien hy allerhande moeilikhede tegemoet wat sy rustige bestaan kan versteur, ja, selfs sy spysvertering van vandag. En tog, hy het die mooie Alida lief, haar sagtheid stem ooreen met sy eie karakter; en met plesier sou sy swakheid haar aanbid en bederwe het as hy nie in toom gehou word deur vrees vir sy vrou nie, wie se gebare en gesagvertoning hy na-aap as sy afwesig is. Verdeeld tussen so baie verskillende aandoeninge, so ingewikkeld, dat hy bang begin word en sy lamgoedige gelaat ’n harde trek aanneem, vra hy om ’n uitleg:
—Jy praat van mevrou Kibert, en dan van jou geluk—ek verstaan nie.
Alida aarsel nou nie meer nie:
—Sy kom om my hand te vra vir haar seun.
—Vir die kaptein?
—Ja.
Op swakker toon laat sy daarop volg—en in die bangerige versoek wat haar woorde uitdruk, lê die hele krag van haar liefde:
—Pa, ek smeek u, gee u toestemming aan haar, en haal ma ook oor.
Het sy die laaste woorde nie uitgespreek nie, dan sou haar pa hom laat ompraat het. Hy onthou gesproke woorde net na mekaar, soos hul kom, en die laaste woorde onthou hy altyd die beste.
—Ma omhaal! Altyd maar ma! sê hy hardvogtig, en begin weer op en neer te kuier.
Hy verseker hom eers dat die deur goed toe is en hou sy oor daarby om te luister; en gerusgesteld daaromtrent, vaar hy parmantig uit:
—Jou ma! Weet jy nie, my kind, dat my toestemming van baie meer belang is nie? Die wet sê dit—en die wet is regverdig. Daar moet maar een baas in die huis wees—en as dié baas is die huisvader aangewese!
Hy kyk gou in die spieël om te sien hoe hy lyk as hy oppermagtig is. Dit lyk of hy heeltemal die ernstige onderwerp van hul gesprek uit sy hoof verloor het, en die bewende meisie is bang om dit weer aan te roer. Moet sy nou nog bowendien die naam Marcel Kibert uitspreek? Maar meneer Delourens kom weer tot die werklikheid terug en bespaar haar ten minste so ’n hernude daad van moed; hy herhaal woord vir woord wat sy vrou eendag gesê het:
—Die jonkman is ’n held. Dié heldhaftigheid maak hom ons syne.
En sy vrou wou daarmee sê dat Marcel Kibert gerus ontvang kon word in so ’n vername kring as dié van Chenée.
Meneer Delourens bedink betyds dat hy nie sy woord moet verpand nie—daarom haas hy hom om teenbedenkinge te opper:
—Maar ek glo dat jy ’n rustige bestaan begeer, my kind. Dan moet jy nie ’n man hê wat die wêreld wil gaan oorwin nie. Jy is kalm en vreedsaam van aard. Sal die kaptein in Chamberie kom woon?
—Pa, sê Alida, dinkend aan die manhaftige woorde van Paula, ’n vrou behoort by haar man te staan en hom nie te hinder in sy roeping nie.
—Sy roeping? Nou wel, dié kan hy ook hier by ons volg. Die soldate-garnisoen van Chamberie is ’n uitgesogte. Hy word hiernatoe verplaas—dis eenvoudig genoeg. Of wel, hy neem sy ontslag. Maar hy besit niks.
Alida sê niks. Haar pa merk dat sy stille trane stort. Dit roer hom, en hy hervind sy ware aard, wat deur sy ploertigheid en afhanklikheid so lank vervals was. Hy stryk saggies met sy hand oor haar wang:
—Moenie huil nie, my kind, ek wil jou gelukkig sien.
Maar ag, die halfslagtige wilsuiting vlug meteens soos ’n voël voor die jagter, want die deur gaan oop en mevrou Delourens—eindelik ontslae van mevrou Orlandi en ongerus oor Alida, omdat sy nie teruggekom het nie—kom die studeerkamer binne. Nou kan meneer Delourens die baasagtige houdinkie—waarmee hy hom getooi het voor sy dogter—maar nie weer vind nie, en die ontroering wat hy gevoel het vir haar, het heeltemal vervlieg. As vanself neem hy die deemoedige houding aan van ’n ondergeskikte voor die bestuurder van ’n besigheid. Beroof van alle huisvaderlike moed, en besluiteloos, behalwe tot vermyding van ’n famielierusie, maak hy dat hy die kamer uitkom, met die soetsappige woorde:
—Ek laat ons dogter aan jou oor, vrou: sy wil trou, en sal daar met jou oor praat.
En aan Alida sê hy:
—Daar is jou ma nou. Bespreek maar alles met haar. Wat sy doen, is wel gedaan.
En weg is hy, voor alles daarop bedag om met die hele wêreld vrede te bewaar.
Mevrou Delourens het haar man geen antwoord gegee nie; vir die eerste maal is sy afgunstig op hom: het hy nie vertrouelike mededelinge van Alidaontvang nie? Sy het haar dogter lief met ’n uitsluitende en allesbegerende liefde, en deur die oorheersing van dié oordrewe moederliefde het sy langsamerhand, sonder dit self te weet, die gevoelige en van nature reeds trae gees van haar dogter heeltemal tot soete onderdanigheid gebring. Soos ’n besitter van eiendom, verheug sy haar in die skoonheid van haar dogter, van haar hele jong lewe; sy koester haar nog soos ’n swak pasgebore kindjie. Hoe sal ’n hart, vol frisheid en teerheid, so ’n onafgebroke toewyding nie waardeer nie, nie aangedaan word daardeur nie? Alida dwing haar om, deur gehoorsaamheid, die alles oormeesterende moeder te behaag, sy voel die moederoog altyd op haar gerig; dog die liefderyke bewaking verlam haar kragte.
Nou die deur toe is agter haar man, trek mevrou Delourens party van haar pynlike triomf; sy is reeds op haar hoede teen ’n gevaar wat sy vooruit voel, slaan albei haar arms om haar dogter, en gaan naas haar op dieselfde stoel sit. Sy soen haar en sê in haar oor:
—Dis my gravin Marthenay hierdie!
Maar Alida praat niks, en haar trane vloei maar altyddeur.
—Jy wil sy vrou word, nie waar nie? En dit het jy aan jou pa vertel, in vertroue. Niks kan my meer aangenaam wees nie. Ons sal nooit hoef te skei nie—Marthenay het my dit belowe.
Sy wil alle twyfel uitvee omtrent die waarmaking van haar plan, en sê weer:
—Hy sal hier rangverhoging kry, en so nie, wel dan neem hy eenvoudig sy ontslag! Jy het genoeg, dat julle niks hoef te doen nie; buitendien, die geselskapslewe gee werk genoeg.
Die aanhoudende trane en spraakloosheid van Alida laat haar eindelik verstaan dat haar vrees gegrond is:
Het ek my dan bedrieg, my kind? Weier jy om sy vrou te word? Kan hy jou nie behaag nie?
Ja, so is dit; Alida bevestig dit met ’n hoofbeweging, en nou weet mevrou Delourens met sekerheid dat die hart van haar dogter aan Marcel Kibert weggegee is. Sy besit selfbedwang genoeg om haar spyt te verberg; en dadelik is sy bedag op planne om ’n gebeurtenis te verydel wat sy, sonder aarseling of nadink, as ’n ramp beskou; so word sy beheers deur haar gevestigde opienie en toomlose vooroordeel en veral deur haar moederhartstog: selfsugtig en nie in staat om ’n offer te bring nie. In Alida haar oor fluister sy:
—Jy wil seker nog nie trou nie. Wou jy nog ’n bietjie by my bly? Ek wil jou tog te graag gelukkig weet—daarom sal ek toestem om jou nie langer by my te sien nie—al sal die afskeiding swaar wees, as ek maar net weet dat jy gelukkig is en ek my elke dag met eie oë daarvan kan oortuig. Maar jy antwoord nie; is dit dan iets anders?... Het jy jou miskien aan iets oorgegee sonder my toestemming, en wil jy my daarin teëgaan?
Die verwyt maak Alida nog meer bedroef. Op vleiende toon sê haar moeder verder:
—Is ek nie jou beste vriendin en vertroueling nie? Het jy geheime vir my? My liefste, dit het ek nie verdien nie. As jy meneer Marthenay nie liefhet nie, maar iemand anders, dan moet jy my dit vertel: dan kan ons saam planne maak.
Nuwe hoop word wakker in die meisie haar boesem; eindelik sê sy met ’n suggie:
—Ja ma.
—En wie dan? vra haar ma, terwyl sy haar soen: Wie het die hart van my liefste gesteel? Ek sal my oor by jou mond hou: noem my sy naam.
Sy weet goed wat die naam is, maar wil dit nogtans hoor uit die bewende lippe.
Alida kan aan sagtheid nie teenstand bied nie. Sy droog haar oë af en skokkend nog oor haar hele liggaam na die tranebui, sê sy:
—Mevrou Kibert kom netnou.... Sy sal oor my praat ... en oor haar seun....
—Die kaptein?
—Ja.
—My liefste, wat ’n smart doen jy my aan!
Sy laat Alida alleen, gaan op ’n ander stoel sit en berg haar gesig in haar hande, as wanhopend.
Alida kom om haar te troos:
—Waarom die smart, ma?
Mevrou Delourens lig haar hoof op en antwoord met die grootste droefheid in haar stem:
—Omdat ek sien dat jy my wil verlaat. Meneer Kibert sal jou vér weg neem van ons af, miskien wel na Algiers. Wie weet of hy jou nie sal vra om mee te gaan met ’n kommando nie. Dié wat so hongerig is na roem en gevaar, kan nie lank liefhê nie. Jy wat so sagaardig en vreesagtig is, hoe kan jy hom liefkry?
Sy staan voor haar ma, met neergeslae oë, en sy sê saggies:
—O, ma, ek weet tog nie, miskien omdat ek swak is ... en hy sterk.
Met haar ken op haar hand geleun, kyk mevrou Delourens haar dogter nie aan as sy haar eie uitleg gee nie:
—Ek weet hoe hy daartoe gekom het om met jou te wil trou. Die Kiberts is drie-kwart bankrot vandat die dokter die skuld goedgemaak het van sy broer, die bankier. Daar word wel vertel dat daar geen bankrot was nie, dat alles afbetaal is. Maar ’n mens weet nooit. Die selfmoord, die ruinasie—dit lyk maar alles baie lelik.... En dan die oorlog inMadagaskar! Ja! ek weet die kaptein het hom fluks gedra. Ek het hom dit ook gesê. Daarvoor kon hy my wel dankbaar wees. Maar in plaas daarvan wil hy my my dogter ontneem. Al ons soldate kry koors in Madagaskar, elke een, en ek wil nie hê dat jy ’n siek man moet kry nie. Dis my plig om daarteen te waak. O, ek wil jou net gelukkig sien. Jongmeisies soos jy ken die lewe nog nie. Julle vurige harte ontbrand te gou vir moed, heldhaftigheid, naammaak, en dan dink julle dat die bewondering liefde is. Maar dis nie dieselfde nie, my kind. Te laat sal jy dit uitvind. Mag jy daar tog voor behoed word!
So verniel en vernietig sy, met kort beslissende woorde, die geluk van Alida, terwyl sy juis dink dat sy dit bevorder. Verder en verder is die meisie teruggewyk tot in die breë vensteropening, wat haar half verberg; sy begin weer te huil, in stilte, en wring wanhopend haar hande.
Mevrou Delourens staan van die stoel op en tree nou aanvallend op:
—Ek het so gedink dat jy sin sou kry aan meneer Marthenay. Het hy nie alles wat begeerlik is nie? ’n Mooi man, ’n mooi uiterlik, geld. Hy is offisier en lyk pragtig op ’n perd. Hy dans volmaak. Ek het hom onder almal uitgesoek. En dan sal jy ook naby ons bly. Dan sal ons ook deel in jou geluk. Wil jy ons dan die deel ontneem?
—Maar, ma! sê Alida.
—Kinders is tog ondankbaar. Jy, wat ek as swakkerige kindjie so opgepas het, en weer toe jy die koorssiekte gehad het—jy wil my nou gaan verlaat.
En as versagting van die selfsugtige klag laat sy dadelik volg:
—Ag, as ek maar seker was dat jy gelukkig sou wees! Maar as ek nie by is om te waak oor jou gesondheid nie, aldag bang om te hoor dat jy siek is daar vér, altyd vresende vir jou vrede en gemak, waarvan ek my nie met eie oë sal kan oortuig nie, selfs nie teenwoordig te wees as daar miskien kindertjies gebore word nie—dit sal dan voortaan my treurige bestaan moet wees....
Alida is bewoë deur die uitstorting van moederlike toewyding en liefde, sy steek haar arms na haar moeder uit:
—Ma, ma, ek sal u nooit verlaat nie!
Mevrou Delourens werp haar in die arms van haar dogter, wenend omhels hul mekaar.
—En ek sal nooit trou nie: ek wil by ma bly.
Die halwe oorwinning het so gou gekom, dat mevrou Delourens dit as voldoende beskou, en nie meer van haar planne praat nie nog die naam noem van Marthenay.
—Ek het my liewe klein Alida weer gevind, sê sy, en druk haar kind aan haar hart. Ek het jou tog so lief. Jy weet nie hoe baie lief ek jou het nie. Ek dink dat ek jou te veel liefhet. O, ek wil jou tog so graag gelukkig sien!
So vanself kom die woorde oor haar lippe op dieselfde oomblik dat sy die hart van haar dogter breek.
Op die skouer van haar ma geleun, sien Alida nou deur die raam ’n vrou in rouklere aankom; sy loop in die laning plataanbome na die huis toe. Langsaam, gebuie, kom mevrou Kibert, vol vertroue, haar vra vir Marcel. As Alida haar so sien aankom, maak sy haar bewend los uit die omarming van haar moeder.
—Sy is nie gewaarsku nie, dink Alida. Dis nou te laat. O, die arme vrou!
Mevrou Delourens verbaas haar oor die nuwe ontroering van haar dogter en dink:
—Wat makeer haar nou nog? Sou sy ’n twede maal van gedagte wil verander?
Alida gaan weg van die venster: dis vir haar te pynlik om die ou vrou te sien, sy kan dit nie uithou nie.
—Hoe swaar sal sy tog moet ly! Ek wil nie! Ek wil nie! sê sy by haarself terwyl sy van die een stoel na die ander loop.
Haar gevoel van medelye is selfs groter as haar groot, verminkte liefde. Om die onvermydelike verdriet van die ou vrou so veel moontlik te vertraag—van die ou vrou wat alreeds krom loop onder die sware slag van die noodlot—sê sy niks van mevrou Kibert se aankoms aan haar ma nie—haar ma, wat die wrede weiering sal uitspreek. Sy hou haar ma daar in die kamer deur allerhande praatjies te maak. Haar pa sou ongetwyfeld die saak op die lange baan skuiwe, geen besliste antwoord gee nie. Soos dit met swakkelinge gaan, wat hulle tevredestel met die geringste uitkomste, probeer sy niks verder as om mevrou Kibert ’n alte skielike verdriet te bespaar, en sy erken vir haarself nie dat sy haar reeds buite staat voel om die smart self van die ou vrou af te keer nie—die smart waaroor sy die eerste gehuil het en waaroor sy altyd sal huil.
Na enige oomblikke van angstig wag, word aan mevrou Delourens berig gebring dat mevrou Kibert in die voorkamer is.
—Ek kom, sê sy. Sy soen haar dogter, wat sy ten offer gebring het, en stap die gang in. Skaars het sy die deur toegemaak of Alida, met haar hand op haar hart, loop haar agterna na die deur; maar haar hand bewe, en sy kom nie so vér dat sy die deur oop maak nie.
—Ma! roep sy, deur die geslote deur. Ek het hom lief! ek het hom lief! Sê ja, ek bid u!
Ten laaste maak sy die deur oop, maar die gang is leeg. Mevrou Delourens is al weg. Sy het wel heel duidelik die laaste, hartverskeurende beroep gehoor. Haar gewoonte om haar dogter as ’n kind te behandel wat sy moet regwys, het haar verhinder om daar enige gewig aan te heg. Bedaard, sonder iets wat haar stuit, oortuig dat sy handel soos ’n liefhebbende en vooruitsiende moeder, gaan sy mevrou Kibert ontmoet; en by die tyd dat sy die deur van die voorkamer oopmaak, het sy al in haar gedagte die uitgesogte en beleefde woorde van haar weiering agtermekaargesit.
Sodra Alida vind dat sy daar alleen is in die kamer, voel sy haar heeltemal terneergeslae. Sy bly onbeweeglik staan, hygend, skuddend van bewerasie, klaar om flou te val. Meteens druk sy haar hande teen haar hoof, loop haastig die trappe af, en vlug die huis uit in die tuin in. Sy hardloop om haar verdriet te gaan verberg onder die skaduwee van die eikebome, op dieselfde plek waar sy uit Paula haar mond gehoor het dat Marcel haar liefhet. Sy gaan sit op die dooie blare, sy wil selfs gaan lê op die sagte blare en daar só bly, sonder beweging, soos ’n roerlose en verlate ding.
Dis in die hoekie, vol misterie, waar haar jong hart sy eie jeug leer ken het, waar haar oog vir die eerste keer die skoonheid en lieflikheid van die natuur leer sien het, waar haar siel meteens die saligheid van die lewe begryp het. Reeds beskou sy die plekkie as die enigste heiligdom van haar teer bestaan, vandag afgesluit, en moedeloos dink sy aan die dood.
Sy het nooit geweet hoelank sy daar in die bos gebly het dié dag nie. Al haar trane het sy daar uitgeween. Sy het aan haarself gesê dat sy haarverloofde in gedagte trou sou bly, en aan niemand sou behoor nie, terwyl sy nie syne kon wees nie. Maar sy het nie begryp dat die belofte, aan haarself, ’n versaking inhou nie: so oordeel sy haarself dan ongeskik vir die lewendige liefde wat stryd voer en oorwin.