VI.ISABELLA.

VI.ISABELLA.

Vooraan in ’n hokkie of „loge” van die eerste rang, in die konsertgebou, sit mevrou Marthenay (Alida) en mevrou Landeau (Isabella). Aan al die oë en brilletjies wat op hulle gerig is, bied hulle so hul skoonheid te kyk aan—eersgenoemde met bedeesheid, laasgenoemde ekspres en beslis. En die teëstelling in hulle skoonheid val goed in die oog. Isabella dra ’n aandrok van dun, geel sy, met ’n punt laag toelopend van voor, sodat haar volmaak-skone, dunne hals goed te sien is; en, om die blankheid van haar hals nog meer te laat uitkom, dra sy ’n swart ferweellint daar om, met ’n diamant daarin van die helderste water. Die sagte Alida dra ’n rok van swart kant, sonder ’n enkele juweel; en die sombere kleur—wat syekspres gekies het om nie in die oog te val nie—pas goed by haar fyne blondheid.

Agter die dames sit graaf Marthenay, meneer Landeau en kaptein Jan Berlier. Die stuk wat vanaand gespeel word, is „Iphigenie in Tauris,” van Glück. Op die eerste mate van die orkes, soos snel opmekaarvolgende golwe, stilte en aandag in die saal verspreidende, verdwyn Marthenay stilletjies deur die agterdeurtjie van die „loge.” In ’n oomblik is hy in die dobbelsaal. Toe sy vrou omkyk, sien sy dat hy weg is. Alleenstaande in haar ongeluk, en terwyl sy die vriend van Marcel so by haar sien, dink sy met weemoed aan wat sou kan gewees het, maar wat nie is nie. Isabella wag nou met die geduld en gespanne aandag van ’n kat haar kans af om eindelik haar begeerde prooi te bemagtig, en sy gee haar bekoorlikheid tyd om sy werk te doen, want sy voel agter haar blote nek, waar haar swart hare opgeborsel is, die asem van die jonkman wat agter haar sit. Meneer Landeau voel hom geslinger tussen twee gedagtes, tussen die begeerte om in die nabyheid te toef van sy verfynd-wrede, skone vrou, en die lus om na die leessaal te loop en in die koerante na te gaan hoe die geldmark staan—die toneel van sy eindelose worstelinge.—Hy gaan.

Alleen gelaat, geniet Jan nou van die hemelse musiek—eenvoudig en rustig, soos die lyne van ’n Griekse tempel. Wat hy hoor, is die roerende smeekbede aan die kuise Diana gerig deur Iphigenie: vraende aan die godin om haar tog liewer genadiglik te laat sterwe as haar te verban na die woeste kuste van Tauris. Deur die voorwaartse beweging van haar jong liggaam, haar uitgestrekte arms, die reglynige en harmoniese plooie van haar wit gewaad, die adel in haar houding en haar suiwer-skone gelaat, verteenwoordig die sangeres—maar in lewende lywe—die outydse marmerbeelde, waarvan die onbeweeglikvaste vorme altyd nog aandoening wek in siele wat gevoelig is vir skoonheid, en waarvan die invloed nog altyd aangroei met die tyd. Half begrypende die hoë besieling van hierdie kuns, juig die mense geesdriftig toe.

Isabella kyk om en sien met verbasing dat Jan se oë skitter van opgetoënheid—hy kyk oor haar heen na die toneel. Sy fluister hom toe, sodat hy vooroor buig en die geur kry van haar huid.

Ná die eerste bedryf het Alida lus om die kaptein te vra om haar na die dobbelsaal te bring en haar man te gaan haal. Het sy hom nie iets te vra nie? Maar sy durf nie en neem maar die arm van meneer Landeau. Dat almal nou weg is, is net na Isabella haar sin, en sy wink vir Jan om naas haar te kom sit.

—Weet jy, sê sy, dat ek jou dood al beween het?

—My dood? Maar dan was jy ’n bietjie haastig daarmee.

—Ja, die dood van kaptein Kibert is bekend gemaak geword; en jy was mos daar by hom. Hoe kon ek weet dat dieselfde lot jou nie getref het nie?

—Het die mooi oë my waarlik beween?

—’n Hele aand.

—Hulle brand en skitter so, dat hul jou trane wel moet laat opdroog.

—Hulle is bly om jou weer te sien, Jan. En brutaalweg kyk sy hom aan met brandende, smagtende oë. Oombliklik geluk dit haar om tussen hulle twee te herstel die vryerige verhouding wat vir hulle vroeër so aangenaam was. Sy sien dat hy sy handskoen uit het. Sy trek hare ook uit, en haar vingers vol goue ringe, strengel sy deur dié van haar ou maat.

—Jy hou van edelstene, sê hy, en by die lig beskou hy die dun uitlopende vingers en rose naels van haar blanke hand.

—Ja, antwoord sy, dan het ek ’n gedagte dat ek, in klein, al die skatte van die wêreld by my dra.

Om sy mond speel ’n twyfelagtige glimlag.

—Die wêreld is baie groot, mevrou, om dit in u handjie te kan hou.

—Kyk hoe mooi is die groen van hierdie smarag, Jan.

—Ek hou meer van die veld-groen.

—En die helder-blou van hierdie saffier.

—Dis nie so skoon as die hemelblou nie.

—En hierdie robyn.

—Bloed is mooier.

—En hierdie pêrels.

—Ek hou meer van trane.

—Nou ja, dan kan jy tevrede wees, want trane het ek vir jou gestort.

—En die trane, mevrou, was hul ook van die eerste water, net soos die diamant aan u hals?

—Is dit nie ’n mooi diamant nie? Die vonke wat dit uitskiet, is enig.

Hulle glimlag van pret oor hul verliefderige skermutseling—soos twee sabelskermers wat mekaar met die wapen groet. Net of sy geniet van ’n ruiker blomme, so asem die jong vrou gretig die jong lewe in. Haar boesem gaan op en neer onder haar keurslyf van sagte sy, wat haar volle vorme goed laat veronderstel, en op haar blanke huid kan Jan die fyn vertakking van blou aartjies sien tot waar hul verdwyn onder die sye stof. Die onberispelike snit en hang van haar kleed laat goed sien wat ’n volmaakskoon liggaam daarin sit, gekroon met die fiere koninklike gelaat en pikswart hare. Hy hoef maar te buk om die skoon blom te kan pluk—die seldsame, lewende orgideeblom. Die steel na hom toe gebuig, die blaartjies uitgesprei—trillende in die lou aandwindjie—bied die blom hom aan. Waarom sou hy dit nie pluk nie? Weet hy dan die skoonheid nie op prys testel nie, en die jeug, wat deur die plesier opgefleur word? Maar as hy dit nie waardeer nie, dan sou hy nie in teenwoordigheid van die vreugde die uitdrukking hê van diepe droefgeestigheid nie, wat alleen ontstaan as ’n mens met die dood bekend is.

—Ek het tog so lank vir jou gewag, sê sy, met ’n veranderde stem, waarin hy ’n toontjie van verlange ontdek.

—Het jy regtig vir my gewag?

—Ek wag nog vir jou.

Die orkes begin te speel vir die twede bedryf. Alida en meneer Lavernay kom terug in die „loge”—meneer Landeau het sy plek aan meneer Lavernay afgestaan omdat hy liewer in die leessaal bly by sy beursoordinkings dan te luister na die droefgeestige musiek wat hy tog nie verstaan nie, en wat so anders is as die operettedeuntjies.

Langsaam word die outydse drama op die toneel afgespeel. Maar die musiek—opvoedster van kalme en reine siele—kan Jan nou nie meer bekoor nie. Vlak voor hom, tussen die swart ferweellint en die keurslyf, sien hy die blanke vlees van Isabella, en hy stel hom voor hoe sag dit moet wees. Sy kyk half opsy en hy sien haar sy-gesig: met sy oog volg hy die skone lyn van haar neus tot sy blik gevestig bly op haar rooi lippe—skone lippe, slaafs tot sy diens bereid. Want het sy nie gesê nie:Ek wag nog vir jou?Waarvoor wag hy nog? Het hy dan meteens onverskillig geword vir die tallose verleidinge van die lewe, in hierdie vrou samegevat in haar buitengewone skoonheid, soos die soort oosterse reukflessies wat in één druppeltjie die aftreksel bevat van duisend rose? Het die Afrikaanse son dan sy bloed koud gemaak in plaas van daar gloed in te giet? Hy is nog jonk en ongetroud, by wie sou hy meer kan geniet van sy jonkheid en vryheid?

Die skone hoof, wat so sy aandag boei, draai nou weer na voor, en nou is sy oog gevestig op haar hare—waarvan hy die gewig skat—op haar hals en skouers. Dit duisel in sy hoof: ’n oomblik sluit hy sy oë en sweer dat hy die vurige begeerte sal tevrede stel wat hom verteer.

Op die oomblik van oorgawe laat die musiek hom die akkoorde hoor van diepe en aanhoudende gemoedsontroering—statig en bedaard, selfs by die heftige smart wat hul moet vertolk. Sy oorspanne senuwee tril. Sy gevoeligheid, vertienvoudig deur die uitsig op genot, drink die hemelse musiek met graagte in, soos ’n verdroogde blom die dou.

Op die toneel betwis Orestes en Pylades mekaar die voorreg om, die een vir die ander, te sterwe—dewyl op die somber kuste van Tauris een van hulle as offer geëis word. Dis ’n diep-droewige worsteling waarin die weldadige vriendskap die innigste liefde nog oortref.

Jan probeer om teëstand te bied aan die ontydige invloed van die musiek en toneel, want dis heeltemal in stryd met sy opgewekte hartstog. Maar sy wil is verlam en kan nie lank weerstand bied nie. Hy het die lewe, in al sy uitinge van skoonheid, te lief om weerstand te kan bied aan so’n volmaakte kuns, wat hy begryp en bewonder, waarvan die reine besieling alle lae begeertes, alle haat en beuselagtigheid uit ons harte losruk, soos onkruid uit ’n tuin uitgetrek word, sodat die oneindig kosbaarder plant beter mag bloei: die heilige begeerte na liefde en toewyding.

Hy voel nou dat hy reeds verhewe is bo die aanbidding van die éne vrou. ’n Begeerte gryp hom aan om, as die ware, verskillende lewens gelyk te lewe. Van ’n lae wellusteling is hy in ’n held verander; hy wil terug, maar voel hom dan weer opgehef. Met onweerstaanbare mag dring sy verlede lewensloop hom aan sy herinnering op: Hy is weer saam met sy vriendMarcel, op die woestyntog, waar hy, in eensaamheid en gevaar, by gebrek en strewe, gevoel het wat die lewe beteken in al sy grootheid, want hy het toe besef wat die rigting en waarde daarvan is. En van die broer dwaal sy gedagtes af op die suster. Van die begin af het hy vanaand elke gedagte aan Paula verban. Het hy haar, ’n oomblik gelede, selfs nie heeltemal vergeet nie? Waarom verskyn sy nou meteens weer in sy gedagtes, en waarom sou dit wees dat die kuise musiek wat hy hoor, so bevorderlik is aan haar ontydige koms in sy herinnering? Hy probeer om haar beeld te verdrywe, maar hy het daar berou oor.

—O! dink hy, waarom is sy tog nie net so mooi soos hierdie een nie?

En weer is sy oog op die skone hals en skouers, dis net of daar lig uitstraal wat hom aantrek. Maar met stille genoeë, dog sonder te dink aan die growwe ongepastheid van sy vergelyking, erken hy darem:

—Paula het mooier hare; as dit los is, moet dit seker tot by haar knieë kom.

Isabella draai haar hoof om en lag met hom.

Paula het mooier oë ook, dink hy weer. En in sy gedagte sien hy hoe die swart oogappels, met hul blitsligte, hom weer aankyk. Maar daar’s ’n verwyt in dié oë, en hy verstaan goed wat hul sê: Waarom dink jy aan my met so min respek? skyn Paula hom te vra. Het ek miskien probeer—net soos hierdie een by jou—om jou te verlei met vertoning en aanloklike maniertjies? Het dit my, in jou teenwoordigheid, al ooit ontbreek aan sedigheid en waardigheid? As jy my nie liefhet nie, laat my dan met vrede in my eensame bestaan; moenie my reine jonkheid onteer deur die beeld daarvan te maak tot ’n voorstelling van jou laere begeerlikheid nie. En as jy my liefhet, o! as jy my liefhet! waarom is jou liefde dan nie sterk genoeg om jou los te ruk van ’n bekoring waarvan jynie weet of dit jou lewe uit die goeie koers sal stuur nie. Kom tog na my toe terwyl jy nog vry en onskuldig is. Laat my op jou voorhoof en in jou oog niks ontdek wat laag en gemeen is nie. Ek weet nie of ek mooier is nie, maar ek het jou lief, so innig, dat hierdie vrou nooit ’n begrip daarvan kan hê nie.

Hy behoor reeds nie meer tot dié jongkêrels wat deur die lewe gaan met oogklappe aan nie. Dié soort jongkêrels kan nie die ontsaglik groot velde sien wat naas die smalle pad van hul harstogte lê nie, en wat aldag die vrugbare saad ontvang van menslike strewe. Nadat Jan nou eers net sy oog gehad het op die begeerte van die oomblik, sien hy meteens die kaart van sy hele bestaan voor hom uitgesprei, en hy lees daarop—uit sy afkoms en sy verlede—die openbaring van sy toekoms. So beskou, kry die liefde vir hom ’n ander betekenis. In plaas van die wellus, stel hy hom voor die bekoring van ’n gemeenskap van gedagtes, en van die innerlike krag wat voortspruit uit vrede van die gemoed en uit ’n kalm, huislike bestaan. In plaas van verbygaande, heftige opbruisinge, stel hy die genot van duursame geluk en die welsyn van die ras.

In die drie weke wat hy nou al terug is, het Jan al baiemaal na Maupas gegaan. En dit was nie net maar om twee bedroefde vroue te troos nie. Deur haar fierheid, deur haar ernstige en diepe gevoel, deur haar jeug, waarvan die skone ingetoënheid vir hom duidelik word, oefen Paula ’n onweerstaanbare aantrekking op hom uit. Ná elke besoek moes hy tot eie verbasing beken dat die teruggetrokke en verstandige noointjie ’n hart vol lewe besit, net so klaar om die lewe met geesdrif te geniet, as sy die smart gedra het sonder te beswyk. Op die treffende manier van liefhebbende harte, wat daar plesier in het om hul liefde terug na te gaan dat hul kan sien hoe die tyd dit aangebring het, so vergelyk hy die teenwoordige bekoringwat Paula op hom uitoefen met die vae herinneringe van vroeër dae toe hy nog rond gespeel het met ’n wilde, uitgelate Paulatjie. Vergetend dat hy haar self vergeet het, verbeel hy hom dat dit ’n ou neiging is wat die kinderjare oorleef het. Met die heldersiendheid van die instink, bowenal voel hy dat sy toekomstige krag en ’n normale verloop van sy lewe dáár te soek is, en nêrens anders nie. So bemin hy dan die jong nooi, soos ’n mens op dertigjarige leeftyd bemin: met vertroue en teerheid. Haar bekoorlike teenwoordigheid het sy hart vervul met nuwe vrede.

Nou kom die hartstogtelike Isabella weer tussenin. Ná haar huwelik vir geld, oorstelp sy haar „flirt” van vroeër dae met al haar onbevredigde sinlike begeertes, met al die storme van haar gemartelde hart. Sy het baie trouer gebly aan Jan as aan haar eie man, meneer Landeau. Sy het uitgekyk na sy terugkoms. En toe sy hom weer sien, was sy nog meer aangetrek deur die erns en diepte op die gesig van die jongman te lees, as deur sy sorgloosheid en vrolikheid van vroeër dae; sy het by haarselwe gesê dat sy nie meer sal wag nie, en om hom te behaag, hang sy haar skoonheid voor hom uit soos ’n vlag.

Wel, sonder te weet, is dit haar ook geluk om hier in die „loge” van die konsertgebou enige oomblikke oor hom te triomfeer. Die hele aand het sy al getwyfel of haar middeltjies om die mooi jong offisier te vang, iets uitgerig het—hy is maar terughoudend, en ook maar versigtig met sy woorde.

Daar val die gordyn, die bedryf is uit; nou sal sy die kans waarneem om die afgebroke gesprek weer aan te knoop.

Brandend van ongeduld, kyk sy dadelik om na hom, en, ekspres so vooroorbuiend dat hy mooi langs haar welgevormde hals kan kyk, vra sy:

—Waaraan het jy so gesit en dink? Ek het gemerk dat jy nie na die musiek geluister het nie.

—Ek het aan twee mooi vrouens gedink.

—Dis één te veel.

Met haar twee oë, skerp soos pyle, probeer sy om die harde voorhoof te deurboor en daarin te lees.

Ongeduldig en dorstig na haar geluk, waarvan sy haar wil verseker, staan sy op en sê:

—’n Mens stik hier van die warmte. Kom, kaptein, bring my na die wandelsaal.

En as sy aan die arm van Jan uitstap, kyk sy die vryerige Lavernay aan met ’n blik wat sê: gefop oudjie! want hy sit haar en oppas. En as hul uitstap in die gang, leun sy, met die hele gewig van haar wulpse liggaam, op die arm van Jan.

Hy bly nog maar stil, en sy vra, met bevallige bedeesdheid:

—Jan, is ek dan nie meer mooi nie?

—Kyk om u heen, mevrou, wat sê die oë van die mense?

Ja, die oë van die hele deftige skaar in die wandelsaal is op hulle twee gerig. Vrouens wat verbykom, kyk na haar rok en bereken die snit en waarde daarvan; en haar bekoorlike blote arms en hals trek die aandag van almal. Sy tik met haar waaier op Jan se vingers en antwoord.

—Jy, wat jy sê alleen, is al wat ek vra.

—En die ou oppasser van jou, daar in die „loge”? vra Jan, laggend.

—Hy doen my boodskappe.

Gesteund deur sy gedagte aan Paula, maak hy of hy die toenadering nie merk nie, en nie sonder ’n seker ontroering nie, voel hy die ronde arm van die verleidster op syne. Die hoogrooi kleur op die gesig van die jong vrou bedek maar half ’n uitdrukking van teleurstelling.

—Onthou jy nog, Jan, die eikebos by Chenée?

—Ja, sê hy, en hy dink daaraan hoe die lot van Marcel daar beslis is.

—Ek sou so graag weer met jou daarnatoe wil gaan. Jan, sê my nou reguit: as ek nog ’n jong meisie was, sou jy dan meer van my hou?

—Jy is nou mooier, maar anders. Ek sien altyd jou man agter jou.

—Jou grappies is laf, Jan, sê sy, nou sy sien dat meneer Landeau nie daar is nie. Sy sê weer:

—Is jy dan bang vir hom?

—Glad nie!

—Vind jy hom onaangenaam?

—Ja.

— Moet hy dan aangenaam wees as jy met my wil . . . . „flirt”?

Hy lag en sê:

—Natuurlik.

—Maar dis snaaks.

—Ja, sy is tog sy vrou.

Nou lag sy weer; met haar gesig half agter haar waaier, sê sy:

—Ja, so op ’n manier.

—Hou op.

Sy maak die stemmetjie na van kinders wat knor gekry het.

—Ek sal dit nooit weer doen nie, hoor.

Hy kyk haar aan soos sy daar voor hom staan, heeltemal aan hom oorgegee. Waarom sal hy nog weerstand bied aan die oproeping van die plesier, in so’n skone vorm gehul?

—Isabella! fluister hy.

Op haar beurt kyk syhomnou weer in sy oë aan, en, stralende van genoeë, lê sy haar sagte hand in die hand van die jonkman.

—Jan! my liewe Jan!

’n Oomblik verlustig altwee hulle in die saligheid van beloofde genot en in die bedwelmende betowering wat die jonkheid aanbied. Daar lui die bel: die voorstelling begin weer. Swaar weeg hul gelukop hulle, spraakloos en langsaam stap hul terug na die konsertsaal. Bo-op die marmere trap bly hulle staan om asem te skep. Haar triomf dwing haar die bekentnis af:

—Jy weet nie hoe jy my van ongerustheid laat bewe het nie, Jan. Ek het waarlik al geglo wat die mense sê.

Vaag-ongerus, en met halfbeklemde hart, vra hy:

—En wat sê die mense dan?

—Dat jy Paula Kibert liefhet.

Hy laat die arm val wat op syne leun, en vra, met veranderde stem:

—Wie vertel jou dit?

—O! sê sy, ontsteld en bleek, asof sy aan sy voete die puinhope sien van haar geluk. Net deur die towerkrag van één naam is sy verslae. En dié naam, in haar onnoselheid moes sy dit self uitspreek. Dis genoeg dat sy Jan net aankyk om te besef hoe groot haar nederlaag is; en woedend omdat sy so meteens uit haar hemel geval het, vererger sy nog haar dwaasheid:

—Ja, die hoogmoedige klein ding, met haar prinsesmaniertjies, het jou wel weet te vang; dit moes ek geweet het. Ek wed dat sy haar speletjie al lank met jou gespeel het. Soos alle ou-jong-nooiens is sy op die mannejag. Loop maar na haar toe: sy wag vir jou.

Nou die verleidster self hom aan sy ware liefde teruggee, sien hy haar met medelye aan:

—Isabella, dit het vroeër net van jou afgehang om my vrou te word. En vanaand nog het jy kon opmerk hoe swak ek en hoe sterk jy is. Dit betaam jou nie om so te praat nie.

Sy antwoord niks. Die op-en-neer-gaan van haar bors toon aan wat ’n storm daar in haar woel. Met haar allesoorwinnende skoonheid gee sy die stryd op, erken haar nederlaag en gee haar oor aan haar verdriet.Die neerlaag vind haar onvoorbereid. Te lank al het sy altyd mog reken op die geluk van haar oorwinninge. Haar flirterige, sinlike liefde weet net van geesdriftige verheffinge of wanhoop, en is onmatig in ’n liefdeskermutseling.

Hulle bly alleen staan op die balkon, bo die trap; die mense is al almal die konsertsaal in. Die leegheid van die wandelsaal lyk bowemate groot vir Isabella. Sy vat met haar hande aan haar keel asof sy wil stik, en hef eindelik haar oë op na Jan; dit maak sy hart seer om die smart te sien van dié skone wese. Nou dat sy innig verdriet het, voel sy niks laags of gemeens meer nie.

—Jan, snik sy, met ’n nouliks verstaanbare stemmetjie, jy het dit goed gesien: daar is geen vrou wat jou liefde so verdien as Paula nie. Jy sal gelukkig wees, en ek baie ongelukkig . . . .

Sy kan nie meer sê as dit nie, maar vooroorbuigend neem sy die hand van die jongman en druk ’n soen daarop. Hy voel ’n traan op sy hand val, en, as sy weer haar hoof ophef, sien hy die trane langs haar wange afrol. Sy herstel haar genoeg om te kan sê, met ’n armsalige glimlaggie:

—Isditnou pêrels, Jan?

—Jou trane is duisendmaal meer werd.

Hy neem haar in sy arms en soen haar op haar oë. Die onversigtige afskeidsomhelsing laat hulle amper weer beswyk. Hoeveel paartjies is daar nie al aanmekaargeketen geraak nie ten gevolge van so ’n paar sekondes van vertedering en jeugdige ontroering? In die liefde is oral gevaar; ons vlees is so swak en ons wil so wankelend . . . . ’n Deur wat oopgaan, is hul redding. Hulle gaan terug in hul „loge.”

—Omdat ek bang was, het ek my lewe misgeloop, sê sy.

Vir die res van die aand vergeet sy heeltemal wat ’n krag sy in haar skoonheid besit, sy is droewig inhaarself gekeerd, sy haat haar mooi rok en haar juwele, en sou liewer die heerlike armoede van ware liefde besit. Vir die res van die aand het haar oorwinnaar—onderdaniger en kragteloser as ’n oorwonnene—sy oog nog op die skoonheid, wat nooit syne sal word nie. Voordat die vlam van sy begeerte uitgaan, brand dit hom nog. Voordat hy met vaste stap op die reguit pad van sy bestemming gaan, kyk hy nog ’n slag om na die wellus—en nie sonder ’n suggie nie.

Toe sy uitstap by die deur om huis-toe te gaan, help hy haar nog met die wit symantel wat sy om die blanke naaktheid van haar hals en skouers slaan. En nou eers dat sy weg is, voel hy bly dat hy haar baasgeraak het, en dink hy ongedwonge en vry aan die reine, fiere jongnooi wat sy hele hart vervul—die hart wat so vol moed is en tog so swak.

Alida het maar min met Jan gepraat die hele aand. Hy het haar besig gesien met haar man. Daar word gefluister dat Marthenay belangryke verliese gely het by die dobbelspel en dat hy so opsigtelik aan die gang is met ’n seker dame van die deftige wêreld. Sonder teenstribbeling onderwerp Alida haar aan haar droewige bestaan, met ’n hart wat al vooruit die ergste verwag. Wat help haar nou haar groot fortuin? Sy verwag geen geluk meer nie. Haar natuur is te fyn en gevoelig om hom te kan troos met die genoeëns van die wêreld, terwyl daar verlatenheid is in haar huis en leegheid in haar hart. Haar dogtertjie alleen hou haar nog terug van wanhoop. Sy maak haar groot met oordrewe liefde, en weet nie dat sy haar ook ontwapen vir haar toekomstige lewe nie.

Maar vanaand het die teenwoordigheid van Jan haar weer met pynlike helderheid laat terugdink aan die gebeurtenis daar in die eikebos van Chenée toe sy te swak was om haar geluk te gryp ten koste van ’n gemaklike selfoorwinning of selfs maar ten koste van ’n belofte om te wag en geduld te hê. Sy wou Jan noggevra het om haar iets te vertel omtrent die dood van kommandant Kibert. Maar dié vraag het nie oor haar lippe gekom nie: is dit nie reeds ontrou van haar as sy so’n vraag sou doen nie? Nougeset, laai sy dié nuwe smart ook nog maar op haar innerlike weduweeskap.

So kom sy dus nooit te wete nie dat Marcel, op die oomblik van sy dood, die portret by hom gedra het van ’n blonde blouoog-meisie, wat hom gebring het tot die fiere minagting van die dood.


Back to IndexNext