VII.DIE GEHEIM VAN PAULA.

VII.DIE GEHEIM VAN PAULA.

Jan het ’n ope rytuig in die dorp gaan haal en help sy oom daarin. Die oubaas is opgeskik in swart manel en keil, borshemp, hoë boordjie en pêrelgrys handskoene, en in sy hand sy goudknop-wandelstok.

—Ek voel bra ongemaklik in al die deftigheid, sê hy aan sy neef.

Hy het spyt dat hy sy tuinklere moes uittrek. En ’n mens sou sê hy gaan weg op ’n lang reis, want Jan moet allerhande raadgewinge aanhoor in verband met sy agterblywende roosboompies.

Jan stel hom gerus daaromtrent.

—Maar, oom, vergeet veral nie u boodskap nie.

—Verbeel jou! sê die ou mannetjie, opwippend. Ek sal jou boodskap goed oorbring, al sou my beste rose ook verlep solank as ek weg is.

Die oom gaan na Maupas om aan mevrou Kibert die hand van Paula te vra vir sy neef Jan. Die rytuig verdwyn om die draai. Jan is ongeduldig en opgewonde; in plaas van binne-toe te gaan, stap hy langsaam die pad langs, agter die rytuig aan. Op dié manier sal hy sy oom gouer ontmoet as hy terugkom;en miskien sal hy dan voor die aand tyd hê om self nog na Maupas te gaan en te praat met haar, wat dan sy verloofde sal wees. Hy kyk na die son, wat sonder die minste haas na die berge daal, en hy verwens die vervelende lang somerdae.

Ná die aand van die komedievoorstelling het die gevoel in die jonkman se hart nog inniger geword. Hy het Paula lief om haar moed en haar fierheid, en ook om die geheimsinnige onverklaarbare aantreklikheid wat op ons uitgeoefen word deur die gelaatstrekke, die kleur van die oë, die sware hoofhare, die gestalte, en al die bekoorlikhede van die vrou in wie ons vooruit die versekering en die blydskap van ons toekoms lees, of van ’n toekoms vol rampsalige dog genotvolle kwelling. Die verstandige jongnooi, met haar vlammende oogopslag, het sy hart vervul met tere liefde; bowenal het sy hom daartoe gebring om die ware doel van ons menslike bestaan na te streef—die doel wat nie daarin lê dat ons die begin en die end van alles in onsself soek nie, maar daarin, dat ons onbaatsugtige en werksame skakels uitmaak tussen voorgaande en nakomende geslagte. Waar sou hy ooit ’n edeler metgesel kan vind, dapperder, standvastiger, beradener? Sy het groot geword soos ’n jong plantjie wat krag put uit vrugbare grond. Haar famielie is ’n waarborg vir haar deugsaamheid. Net ’n bietjie son het haar ontbreek om tot volle wasdom te kan kom. Sou liefde haar nie met die warmte en lig kan bedeel nie? En wat ’n vreugde om te sien hoe sy opegaan soos ’n blom, om te voel dat ’n mens daar ’n bietjie oorsaak van is, om aan die alte swaar beproefde jonkheid weer smaak te gee in die dag wat verbygaan, om haar te laat wens dat dit nie so gou verdwyn nie!

Sy sal hom liefkry; miskien het sy hom reeds lief. Sou hy verkeerd gesien het, of het hy haar nou en dan betrap op ’n klein verrassing van haar geheime jongmeisies-gevoel, ondanks die waardigheiden terughoudenheid wat al haar beweginge bestuur? Het sy oog nie nou en dan ’n blossie gevang op haar wange nie, ’n alte snelle knip van haar oë, en veral die manier van aankyk, die blik, so rein, so trouhartig, so vas, so onwillekeurig vriendelik op hom gerig? En nou, as hy terugdink, lyk dit dan nie vir hom of hy ook gedeel het in die afkeer wat sy by alle geleenthede laat blyk het teen Isabella Orlandi nie? Isabella Orlandi—hy het haar nog nie weer gesien nie; hy sal haar ook nooit weer sien nie; hy voel nog ’n soort van bygelowige vrees vir haar, en hy verban die alte skone beeld uit sy gedagte; dit verneder hom en herinner hom wreed aan sy swakheid. Maar as geliefde van Paula Kibert voel hy sterk genoeg om die gewig van die hele wêreld te kan dra. Is dit nie ’n teken van ware liefde nie, as dit al ons kragte verhoog en ons soveel selfvertroue gee?

Ander bedenkinge het nog by die gevoel van sy hart gekom. By ’n huwelik skei ’n liefhebbende hart hom nie af van die stoflike en maatskaplike lewe nie; en juis daardeur, deur die moeilikhede wat in die weg kom, leer die liefde verstaan wat die menslike bestaan in die algemeen beteken, en dat dit beskerm moet word; die hartstog, daarenteen, probeer om dit te vergeet of te verniel. Die famielie Kibert is nie ryk nie, en wat hy self moet erwe, is ook maar min. Alhoewel hy die militêre diens liefhet en nie sonder hartseer daarvan sal afskeid neem nie, voel hy nie die beroepsaansporing—soos Marcel by voorbeeld—wat ’n mens as dit ware by die skouers gryp en dwing om ’n pad te gaan waarbuite hom net ongemak en ongeluk te wag is. En hy moet rekening hou met die stoflike behoeftes van sy aanstaande huishoue.

Sonder moeite het hy sy lewensplan uitgewerk: hy gaan as kolonis na Frans en Etienne Kibert in Asië. Hulle het al so dikwels aan hul moeder geskrywedat hulle hulp nodig het om hul werk behoorlik uit te brei. Hy is ’n kind en kleinkind van landbouers, en daar is ’n verlange in hom na die vrye, vreedsame buitelewe. Sy vroutjie sal nie bang wees om met hom oor die see te gaan nie: sy sal hom sterk maak vir ’n lewe van stryd en avontuur. Die bloed van ou dokter Kibert—onverskillig vir gevaar—die bloed van die ou moeder—met haar onoorwinlike geloof, wat alle beproewings vir haar draaglik maak—dié bloed vloei ook in die are van die meisie wat hy bemin.

Met die selfsug wat ’n minnaar kenmerk, vergeet Jan net één persoon, by al sy toekomsplanne; of liewer, sonder daaraan te dink, maak hy nou ’n plan om dié één te beroof van haar enigste soetigheid in ’n bitter bestaan. Die dapperheid van mevrou Kibert is vir hom ’n sterk waarborg van Paula se moed, sy is so’n moeder waardig; maar hy besef nie dat hy van die arme vrou haar grootste opoffering gaan verlang nie: haar laaste kind, dié wat sy so angstig-beminnend in haar arms druk, en wat God haar nog gespaar het.

Terwyl hy so op die pad van Maupas aanstap, sy geluk tegemoet, in die skemer en die heerlike lug van die someraand, maak ou Marie die deur oop vir sy oom. Sy laat hom in die voorkamer, en terwyl sy haar nooi gaan roep, dink sy:

—Wat is die ou se planne—met sy swart manel en keil?

Die ou bly stilstaan voor ’n blompot met rose wat in die middel van die tafel staan. Hy bekyk hulle so digteby dat dit lyk of hy hul wil opruik, en meteens lig hy sy hande op in die grootste verbasing. So kry mevrou Kibert hom daar staan. Hy groet haar nouliks, dog wys dadelik na die blomme en roep uit:

—Daardie een! Sien u dit?

—Ja, sê sy, verwonderd.

—Waar het u dit gekry?

—Ag, ek weet nie meer nie, meneer.

—Onmoontlik! Umoetweet. Antwoord!

En ’n bietjie minder brutaal sê die ou rosegek dan weer:

—Asseblief tog, mevrou. Dis baie belangryk.

Mevrou Kibert probeer nou om haar geheue te ondervra:

—My seun het die steggies uit Siena meegebring. Ons het dit hier geplant en dit dra mooi.

—A! het ek nie geweet dis ’n Sinese roos nie! En die naam weet u natuurlik nie. Niemand ken hier die name van blomme nie.

Mevrou Kibert beken glimlaggend dat sy die naam nie weet nie.

En daar begin die ou uit te vaar, wel ’n halfuur lank, oor die skandelike verwaarlosing van die plantkunde by die onderwys.

Mevrou Kibert, dinkende aan iets anders, kan skaars ’n woordjie hier en daar inbring. Sy verseker hom dat sy van name niks weet nie, maar darem baie van blomme hou.

Maar die ou is nou heeltemal opgewonde, en nie meer in te hou nie. Hy vertel haar die geskiedenis en name van rose in vreemde lande. Mevrou Kibert voel wel wat die doel van sy onverwagte besoek is: hy wat net vir sy plante lewe en sy medemense veronagsaam, dit moet wel iets belangryks wees wat hom uitgedrywe het, dit kan niks anders wees nie as ’n aanvraag ten huwelik. Bewoë dink sy aan Paula, wat nie tuis is nie en so gelukkig sal wees as sy terugkom. Die ou vrou probeer om sy woorde op ’n ander koers te lei:

—Hoe gaan dit tog met Jan? Ons het hom al ’n paar dae nie gesien nie, hy kom te min hier.

Maar die ou blommegek is nie haastig met sy boodskap nie. Hy is eindelik so ver dat hy die roos uit die blompot het.

—O, met Jan gaan dit goed, sê hy onverskillig, en dan dadelik weer:

—Ja, hierdie soort is, so te sê, onbekend hier. Ek sal dit ’n naam gee. Mag ek hierdie een saamneem, mevrou?

—Seker, meneer, sê mevrou Kibert. Sy vrees al dat sy mis gesien het omtrent sy boodskap.

—Baie dankie, mevrou, ek wil met hom werk voor hy verlep is.

Hy is weg met die blom. In die deur bly hy staan, en op ’n geheimsinnige toon, wat haar laat ontroer, sê hy:

—Ek sal u ’n geheim vertel: deur oor en weer ent het ek ’n nuwe roos laat ontstaan. U sal dit sien. Dit het nog nie ’n naam nie. Ek sal dit na u dogter noem:Mevrou Paula Berlier. My neef sal dié naam tog alte mooi vind.

En sonder sy boodskap op ’n ander manier te laat blyk, is die wonderlike ou snuiter weg—sy roos in sy hand en sy oë daarop.

Mevrou Kibert kan ’n glimlag nie onderdruk nie:

—Die arme ou! Hy vergeet ons almal vir ’n blom.

Jan kom die pad op, sy oom tegemoet, en is al byna by die eikebos. Hy hoor die wiele van die rytuig op die gruis, en daar sien hy dit, deur die takke van die bome. Hy hardloop, al is dit opdraans:

—Wel, oom?

Jan voel gerus, want die ou hou die blom in die lug, soos ’n oorwinnaar.

—Kyk, kyk, hierdie roos het nog makeer aan my versameling!

—Wat raak dit my! sê Jan kortaf. Sê sy ja of nee?

Die ou laat somaar die roos val en slaan sy hande wanhopend aan sy hoof:

—O my vadertjie! Ek is stapelgek. Ek het heeltemaal vergeet om te vra!

Jan kyk hom medelydend aan:

—Ek gaan nou terug, nou-nou.

—Nee, ek gaan self; gaan maar terug na u blomme, oom, hulle sal u weer tot bedaring bring.

En so gaan Jan na Maupas.

Die ou kyk hom na tot hy verdwyn agter die draai van die pad. Dan droog hy sy gesig af en sê die koetsier moet maar aanry. Vir die eerste maal in sy lewe kom hy sonder plesier tuis in die Rosevilla.

Jan kry mevrou Kibert in die tuin van Maupas. Sy glimlag as sy hom sien; en hy voel gerus as hy die vriendelikheid gewaar van die edele vrou.

—Dag, Jan. Jou oom was hier, weet jy daarvan?

—Ja, mevrou, hy was die draer van my lewenshoop, en hy het versuim om dit aan u te sê.

—O, vergeef hom dit. Hy leef in drome, en sy drome is bloemryk.

Met bevallige huiwerigheid neem sy die hand van die jonkman.

—Maar stel jou gerus. Ek verstaan die taal van die blomme.

Hulle gaan sit by die kliptafeltjie onder die bome. Jan soen haar hand. Hulle het mekaar al verstaan.

—Dus weet u dat ek haar liefhet? sê die jongman, bewoë.

En met vaster stem voeg hy daar by:

—Hoe sou ek haar nie kan liefhê nie, mevrou?

—Sy is dit werd, sê Paula haar moeder. En sy dink aan haar nuwe toekoms.

—Ek glo ek het haar altyd liefgehad. Net, ek het my eie hart nie geken nie. As ’n mens nog te jonk is, kan jy die betekenis van die lewe nog nie goed onderskei nie . . . . En ek het haar ook lief vir altyd.

—Ja, sê sy ernstig. Voor ’n mens hom bind deur ’n ewigdurende belofte, moet jy seker wees van jouself. En ek het vertroue in jou.

—In Paula vind ek die moed van Marcel terug, en sy fierheid. Sy is so mooi daarby. Ek sal die lotsbestemming seën as dit so is dat sy vir my bewaar is.

—Dis God wat jy moet seën, Jan. Van Hom alleen kom ons krag. Ja, Paula is ’n goeie kind. Al is ek haar moeder, ek kan dit met trots sê. Met vreugde gee ek haar aan jou. Jy was maar altyd so deurmekaar met my eie kinders, en vir Marcel was jy ’n broer.

—O, mevrou, dis my aangenaam om u so te hoor praat . . . . Maar syself?

—Moenie ongerus wees nie, Jan, Paula sal jou neem. Maar jy moet haar dit self vra . . . . Maar jy het seker al goed nagedink oor jul bestaan? Jy weet, ons is nie ryk nie. As Paula toestem om jou vrou te word, sal my seun Etienne en ek die opbrings van Maupas aan julle afstaan. Nadat die wingerd afgesny is, bedra dit nie veel nie; maar dis al wat ons het.

Sy gee alles, en maak nog verskoning daarvoor.

—Nee, mevrou, sê Jan.

—Laat my nou uitpraat: Kyk, ek wil my uit alles terugtrek. Ek het min nodig om te lewe. Etienne, wat dit kan doen, stuur my ’n gereëlde toelae; ek het hom al gevra om dit minder te maak, maar hy wil nie. Jy moet dink aan jou toekomstige famielie, Jan.

—O, mevrou, waar’s die geld wat gelyk staan met die skatte wat in Paula haar hart lê. Maar moenie glo ek sal u alte edelmoedige aanbod aanneem nie. Ek het al gedink aan ons toekoms. Etienne het iemand nodig om hom te help in die kolonies. In al sy briewe sê hy dit. Nou wel, ek bied hom my samewerking aan. Ek het hom verlede maand al daaroor geskrywe.

—O, so! dan wil jy jou vrou wegneem daarnatoe!

Op dié oomblik sien Jan Paula op die stoep—sy het net tuisgekom. En hy merk nie hoe die oë vanmevrou Kibert vol trane skiet nie. As hy haar weer aankyk, is sy reeds bereid vir die nuwe offer wat God van haar verg, en met ferme stem antwoord sy hom:

—Dat God jou planne seën! Daar is my dogter, Jan. Te lank het sy in eensaamheid en ellende gelewe. Sy het behoefte aan geluk. En hoe gelukkig sal sy tog wees met jou liefde! Haar jonkheid, wat sy al vergeet het, sal sy weer voel herlewe. Ek gee jou permissie, Jan, om haar te sê dat jy haar liefhet.

En, dewyl Paula al naby hulle is, sê sy fluisterend daarby:

—Ek gee jou my laaste en my liefste kind.

Haastig stappend en regop kom Paula oor die agterplaas na hulle toe, onder die skaduwee van die kastaiingbome. ’n Bietjie styf in haar swart rok, groet sy die jonkman, wat haar tegemoet kom. ’n Ligte rooi verlewendig haar gelaatskleur terwyl haar donker oë verhelder. Sy soen haar moeder:

—Ek kom van die boer. Môre sal ons eiers en botter kry.

Mevrou Kibert vat altwee same in haar moederlike blik. Sy staan op van haar stoel:

—Ek gaan die ete klaarmaak. Ekskuseer my, Jan. Dis ’n mooi aand. Julle kan nog maar ’n bietjie rondwandel tot die son ondergaan. Loop tot na die bos van die waterval, en kom dan gou weer terug, kinders.

Ontroerd, en vol vertroue, kan sy nie nalaat om hulle haar kinders te noem nie. Naas mekaar en lig van stap sien sy hulle gaan, die boomlaning in.

—Hoe lank is sy! sê mevrou Kibert by haarself.

Hy is net ’n halfkop langer. En tog lyk hy groot. Hulle is ’n mooi paar.

Hul verdwyn onder die bome. Langsaam, want haar hart voel swaar, stap die ou vrou na die huis. Sy maak haar klaar vir haar grootste opoffering, en sê by haarself:

—Paula, my liefste, nou vir my verlore . . . . ek wens dat jy gelukkig mag wees; as ’n goeie kind het jy dit wèl verdien. Wees gelukkig—dis alles wat ek vra van God . . . .

Jan en Paula stap aan in die voetpaadjie van die populierbos, hy agter en sy voor.

—Laat ons loop tot by die dennebos, sê sy, deur die takke kan ons dan die aandrood op die berge sien.

Hy bly staan:

—Sal ons nie liewer hier bly nie?

En hy wys haar ’n ou boomstam wat as sitplek kan dien. Sy het laas daarop gesit met Marcel, op hul laaste wandeling, vóór sy vertrek. Sy dink aan dié dag terug en is half huiwerig om te gaan sit. Sy merk niks uit die woorde van Jan nie. Weinig gewend om oor haarself te dink, getroos in haar armoede en in die vooruitsig om agtergelaat te word, het sy geen gedagte meer aan liefde of aan ’n huwelik nie. Sy dink dat sy vir altyd die gevoelens van vroeër dae stil gemaak het, wat haar so baie verniet laat ly het, en sorgvuldig bewaak sy haar verstote hart. Sy laat haar oorhaal om te gaan sit. ’n Oomblik sit hulle so, spraakloos naas mekaar.

Die son is al weggesak agter die berg. Hulle het ’n gevoel of daar iets heiligs en geheimsinnigs in hul nabyheid is: die aandstilte, aanswewend oor die landskap. Aan hul voete golf die ryp graan van die lande saggies op en neer in die windjie—soos ligte golfies langsaam wegsterwende op ’n seestrand. ’n Entjie verder, swaargeblaard en vol majesteit, val die groot bosse reeds in slaap. En vèr, op die horison, trots dat hulle die daglig nog in die oog het, gloei die laaste kranse in al die prag van hul rose en violette tinte.

Die kalmte van die natuur is vir Jan ’n gelukkige voorteken, en versnel die slae van sy hart. Hy kyk na haar wat naas hom sit, en verheug hom in wat hy haar te sê het, want nogmaals herken hy in haar diebevalligheid van haar jonkheid, en die fierheid van haar hele famielie.

Pynlik duidelik herinner sy haar nog die tere woorde van Marcel, hier op dieselfde boomstam uitgespreek, die aand van sy vertrek na Afrika:Paula, moenie ongerus wees nie; ééndag sal jy nog gelukkig wees. Vandat Jan terug is, het sy haar in haar lot geskik, sonder bitterheid en sonder swakheid. Ja, sy voel wel ’n soort gelate geluk, waarmee sy haar tevrede stel na soveel skokke. Isditdie geluk wat Marcel bedoel het? En die vreedsaamheid van die aanduur word weer in haar wakker, die onbestemde verlange na ’n ander soort saligheid. Maar sy weet nie dat die uur nou gekom het nie.

Jan besluit nou om te praat:

—Paula, ek het aan jou ma vertel wat my planne vir die toekoms is.

Sy kyk hom aan met haar swart oë.

—Is jou verloftyd al verby? Gaan jy gou weer weg?

—Ek gaan nie terug na my kommando nie.

Verbaas wag sy op nader uitleg.

Haar oë blits:

—Ek gaan bedank.

—Jy, Jan! O, dis verkeerd van jou. Jy is nog nie dertig jaar oud nie, jy het al ’n ereteken, en jy gaan jou loopbaan weggooi! Wat sou Marcel daarvan gesê het?

—Marcel sou dit goed gevind het, Paula, want ek sal my land nog dien, op ’n manier wat nie minder nuttig is nie. In plaas van soldaat, word ek kolonis. Ek het aan jou broer Etienne geskrywe; hy kan àl sy werk nie alleen klaar kry nie, daar in Asië. Ek gaan hom help.

—Ag! sê sy, sal hulle nie bly wees nie! Hulle weet hoe lief jy vir Marcel gehad het. Jy sal vir hulle van hom vertel soos jy ons vertel het. Jy sal kennismaak met my nefie en niggie, wat ek nog nie eens ken nie.

’n Skaduwee versprei hom oor die vlakte, en begin op te klim teen die hang van die berge. Op die meertjie in die verte sweef ’n purperkleurige waas, geleidelik oorgaande in die rose en goudkleur van die aandhemel. En die vrede van die aand daal neer op die onbeweeglike dinge van die aarde, soos ’n hemelse seën.

Jan staan op en bly so voor haar staan.

—Jou broers sal nog blyer wees as hulle weet wat my ander plan is. En met neergeslae oë sê hy, op sagter toon:

—Dis ’n plan wat vir my van baie groot betekenis is. Jou ma weet al daarvan.

Hy kyk haar aan en merk, tot sy verbasing, dat sy hom nog nie verstaan nie. Dat sy haarself so vergeet, is vir hom mooi; en eindelik, met diepe erns en gevoel, spreek hy die beslissende woorde uit:

—Paula, ek het jou lief. Wil jy nie my vrou word en met my saamgaan oor die see nie?

Spraakloos, staan sy nou ook op, en word doodsbleek. Daar is ’n druk op haar bors, dit gaan op en neer, en toon aan wat ’n storm in haar hart losgebreek het. Maar sy bly stil.

Hy gaan aan:

—Ek het jou lief, Paula. Het jy dit nie geweet nie? Toe ek van Algiers teruggekom het, het ek jou teruggevind, so dapper . . . . . en so mooi. Nee, moenie jou hoof skud nie. In die woestyne, ek weet dit nog, het Marcel my baiemaal vertel hoe jy die steun was van jou moeder. En daar, in die wildernis, as ek een of ander beeld of steun nodig gehad het om my kragte aan te wakker, om my moed in te fluister, dan is dit aanjouwat ek gedink het. Ek sien dit wel, ek het jou altyddeur al liefgehad, van ons kindsdae af, toe ons saam gespeel en gelag het.My geluk lê in jou hande, Paula, wil jy my dit nie gee nie?

Sy antwoord nie. Sy is so bleek asof al haar bloed uit haar are teruggedring is. Hy neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie. Hy wag vol vertroue, kalm, sy hart swellend van hoop.

Sonder iets te sien, is haar oog op die vreedsame landskap gevestig. Die kranse weerkaats nie meer die gloor van die ondergegane son nie. Die hele natuur gaan skuil in die skaduwee wat die slaap voorafgaan.

Is dit dan nie dié geluksaligheid wat Marcel haar voorspel het nie, hier op dieselfde plek, op net so’n kalm aand?

Terwyl sy nog maar stil bly, voel Jan ’n ontsaglike beklemming om sy hart. Sy stem klink anders as hy die derde maal herhaal:

—Paula, ek het jou lief. Waarom praat jy nie? Ek smeek jou, antwoord my.

Saggies trek sy haar hand uit syne, terwyl sy sê:

—Nee, nee, ek wil nie!

Snikke verstik haar stem, en hardlopend vlug sy huis-toe.

En nou voel hy die nag binnedring tot in sy hart. Hy verag die lewe, wat hy liefgehad het, en hy beny Marcel waar hy rus, in die sand van Afrika—Marcel, wat reeds die uiteindelike vrede smaak.


Back to IndexNext