VII.DIE HUWELIKSAANVRAAG.

VII.DIE HUWELIKSAANVRAAG.

Langsaam en sukkelend kom mevrou Kibert aangestap in die laning van plataanbome. Vir dié plegtige geleentheid het sy haar nuutste swart rok aangetrek, en met besondere sorg het Paula haar hare en haar weduweesluier in orde gemaak.

—So lyk ma nou net mooi, het haar seun en dogter haar verseker toe sy voor die stoep van Maupas in die rytuig gestap het. Hoewel sy daarop teë was, het Marcel vandag vir haar ’n mooi Victoria-rytuig bestel, in plaas van hul ou rytuig.

Liefderyk knikkend met haar hoof na haar kinders, het sy vol vertroue weggegaan, soos een met ’n boodskap van vrede en geluk. Maar sy dag dat die pad baie kort was, en die vreemde perd baie vinnig. Sy wou afgeklim het voor die hek van Chenée, sodat hulle haar ongewoon deftige rytuig nie sou sien nie: dit laat haar verleë voel, net soos iemand wat opreg is en ’n leuen vertel.

—Sit my hier maar af, het sy aan die koetsier gesê, ek sal verder te voet gaan.

Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die laning van plataanbome.

Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die laning van plataanbome.

Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die laning van plataanbome.

So stap sy dan aan in die breë laning, leunend op haar swart sambreeltjie. Haar hart klop tog so. Ondanks haar groot lewensmoed het sy bangerig gebly: die wêreld skrik haar af. Sy beskou die wêreld as ydel en beuselagtig, maar is darem togbang daarvoor. Haar ingebore opregtheid en braafheid is oorsaak dat sy maar min verstand het van die oordrewe modemaniere, en die alte afgelekte woorde, wat so goed berekend is om ’n selfsugtige of kwaadwillige ondergrond van ’n mens se gedagtes te verberg, of wel die leegheid daarvan, soos ’n mens ’n graf met blomme toemaak. Dan, dink sy alte baie dat sy onhandig is in haar maniere, en dit laat haar ook ongemaklik voel, nie vir haarself nie, maar vir haar seun, want vir sy geluk wil sy haar op haar ou dag nog aantreklik maak.

Weet sy dan nie vooruit wat die toekoms van haar sending sal wees nie? Kan iemand dan nalaat om met blydskap die aanvraag in te willig van haar liewe Marcel, wat hom in sy hele lewensloop so waardig betoon? Al is sy ook sy moeder, haar liefde het haar nie blind gemaak nie as sy besef wat ’n aantreklikheid daar moet uitgaan van sy lang postuur en sy fiere houding—soos ’n jong boom—,van die gebiedende manier waarop hy sy hoof dra, van sy skone, welbesnede gelaatstrekke vol wilskrag, van sy oë veral—afstotend of aanhalend na gelang sy blik hard of sag is—groen-grys oë vol lewe en so opmerklik juis van uitdrukking. Wat sy van hom weet, die arme ou moedertjie, dink sy dat alle vroue op sy gesig moet lees: die deursettingsvermoë wat met waardigheid, byna met minagting, die teenhede van die lewe dra; die daadwerklike goedaardigheid; die lewendigheid en beslistheid in woord en gebaar—tekens van ’n woelende, vooruitstrewende en ryke gees, van ’n gestaalde leiersgeaardheid. Nee! hy behoor tog nie tot die geslag van popperig-mooi heertjies, laf en voos—’n geslag wat onder éénselfde wêreldse vernis, en éénselfde mode-eenvormigheid, alle dor, selfsugtige en bankrot siele insluit. Sy, wat sylewenskameraad sal word, om hom lief te hê, met hom te ly en te waag—sy sal nie weet wat ’n dowwe en alledaagse bestaan beteken nie; hy sal haar hart en haar gees verryk, hy sal al die bronne van haar vermoëns ontgin en haar bring tot die volledige opbloeiing wat die skoonheid uitmaak van die menslike bestaan.

Bowendien, weet mevrou Kibert dan nie van haar dogter dat haar besoek aangekondig is, en dat haar aanvraag ingewillig is nie?

So kom sy dan aan by die buitehuis van die famielie Delourens—gerus, en tog vol vrees. Sy eerbiedig Marcel se keus, hoewel dit nie ooreenkom met haar begeerte nie; en, vergetende wat sy self sou wens, wil sy haar onderwerp aan die wil van haar seun en al haar kragte inspan vir sy toekoms; sy dink daaraan dat sy binne enkele oomblikke ’n kind by sal kry in haar famielie en in haar liefde, en sy is klaar om alles vir haar te doen.

Voordat sy aan die deurbel trek, bly sy ’n rukkie staan om asem te skep en om die klop van haar hart te laat bedaar. Sy sien nie die venster waar Alida staan te huil nie—Alida, wat haar sien aankom en haar ontsteld en verslae aankyk.

In die voorkamer word sy deur meneer Delourens ontvang, en sy beskou dit as ’n goeie voorteken. Die niksbeduidende mannetjie sal haar tog onmoontlik van haar stuk kan bring en sal haar selfs in staat stel om heeltemal by haarself te kom. Na ’n paar beleefdheidswoordjies, wat hy uitstamel, sê sy, omdat sy die doel van haar koms nie langer kan verberg nie:

—U vermoed al, meneer, waarom ek na Chenée gekom het.

En sy glimlag vriendelik—fris en lief is die glimlag, selfs nog op haar ou dag, haar reine en byna nog arglose siel word daarin uitgedruk.

—Nee, mevrou, ek weet dit glad nie. Glo my, ons is baie vereerd met u besoek. Dit spyt my dat my vrou nie hier is nie.

Verleë, bang om ’n lastige verantwoordelikheid op hom te neem, kan die arme man nie op één plek bly staan nie. Hy trek hard aan die koord van die kamerbel. Die diensmeid kom binne.

—Het jy mevrou gesê daar is mense?

—Ek soek haar, meneer: mevrou is nie in haar kamer nie. Is mevrou nie miskien by die jongejuffrou in meneer se kantoor nie?

—Ja, ja! Hardloop en roep haar. En om tyd te win, herhaal hy nog ’n keer:

—Dis jammer, mevrou, dis baie jammer. Maar u sien, sy word geroep, die meid gaan haar waarsku. Sy kan nie lank wegbly nie: dit spyt my tog so dat u moet wag.

—Wat ek te sê het, meneer, gaan u net soveel aan as mevrou Delourens, sê mevrou Kibert; sy is vol van haar boodskap, kyk na die vloer en dink daar nie aan om te let op die manier waarop hy hom probeer te red nie.

Meneer Delourens spring verskrik van sy stoel op: Sal hy waarlik alleen moet staan om antwoord te gee op so ’n lastige vraag? Sal hul hom só blootstel aan die eerste aanval? Nee, maar dit kan tog nie: sy vrou moet absoluut by die onderhoud teenwoordig wees.

—Maar sy sal kom, ek is seker daarvan, sê hy gejaag-haastig. Wag asseblief net ’n bietjie, mevrou, my vrou sal tog alte jammer wees as sy u nie sien nie. En met haar sal u baie beter kan praat, natuurlik, natuurlik. Terwyl hy nog maar altyd woorde op woorde stamel, trek hy weer aan die belkoord; hy kan dit nie meer hou nie en maak die deur oop:

—Ekskuus, mevrou, ekskuus!

Net soos hy die gang wil ingaan, lig mevrou Kibert eindelik haar oë op van die vloer en gewaar hom in die beklaenswaardige, onrustige houding. ’n Man wat heeltemal weggesyfer is, is nog meer te bekla as ’n niksbeduidende man. Sy skaam haar vir sy part en dink:

—Ja waarlik, dis maar beter om te wag tot mevrou Delourens kom. Aan hierdie sukkel sal ek tog niks van belang kan sê nie.

’n Donker voorgevoel bekruip haar goeie vertroue. Sy vergelyk in stilte hierdie armsalige bog met haar eie oorlede man, wat onder geen omstandighede sy kalmte, deursig en beslistheid verloor het nie, en oombliklik alle harte tot hom getrek en gerusgestel het.

—Wat ’n verskil! dink sy meelydend, want sy kan niemand verag nie. Sy dink nie aan haarself nie, hoe sy van haar eie seuns en dogters manne en vroue gemaak het wat die lewe dapper tegemoet tree.

Solank meneer Delourens haar oorstelp met allerhande praatjies oor sy gesondheid, slaan sy ’n liefdevolle blik op ’n portret van Alida, as kind:

—Sy is maar min verander, sê sy by haarself, so skoon, so sag soos ons haar sal liefhê! Sy is fyn en swakkies, maar sy sal sterker word. Ons sal haar versorg en liefderyk behandel. Van hierdie binne-huisblom sal ons ’n fris, vry veldblom maak. . . En dit kan wees dat sy, eerder as ek, oorsaak sal wees dat hy meer tuis sal wees by ons. Ek is al oud, en elke jaar word dit vir my swaarder om altyd weer afskeid te neem.

Aan haarself beken sy wel dat sy maar ’n swak vrou is.

Daar kom mevrou Delourens eindelik binne, soos ’n warrelwind. Vresende dat haar man al alles bederwe het deur ’n onversigtige uitlating, het syso gou as sy kon die trappe afgekom. Die besef van haar gestrenge oorheersing was nie genoeg om haar gerus te stel nie—sy weet skaars wat ’n despoot sy is.

Met talryke mooi woordjies maak sy ekskuus by mevrou Kibert dat sy so lank weggebly het. Net so gou as mevrou Kibert haar sien, verloor sy byna al haar selfvertroue. Wat kan sy vir goeds verwag van hierdie nog mooi en behaagsieke vrou, met haar alte hoë stem, wat so neerbuigend en ongevoelig klink, terwyl haar alte gemaakte beleefdheid nouliks haar trots en koudhartigheid verberg. Mevrou Kibert begryp onmiddellik hoe verskillend hul opvatting moet wees van die lewe en van ernstige sake. ’n Afgrond skei hulle van mekaar. Sy het ’n stil gevoel dat al wat vir haar gewigtig is, hier as van geen gewig sou wees nie, en dat toewyding, moed, geeskrag, werk—die ware menslike adel—netnou hul krag sal moet meet met die wêreldse oppervlakkigheid, wat sy tuis as niksbeduidend beskou het, maar waarvan sy die onrusbarende werklikheid meteens gewaar in hierdie voorkamer. Sy voel hoe arm en oud sy is, en sy roep die hulp van God in.

Onderwyl oorstelp mevrou Delourens haar nog maar altyd met beleefdheidjies en komplimentjies; en uit die bangerigheid, wat sy wel verwag het, wil sy party trek. Terwyl sy van die verdienstelikheid van seker famielies praat, neem mevrou Kibert die kans waar om met haar boodskap uit te kom:

—Hoe goed van u, mevrou, om so te praat. Ja, my seuns het goeie werk gedaan. En in belang van één van hulle, van Marcel, kom ek met u praat.

Sy dink daar nie aan dat sy op dié manier te verstaan gee dat sy nie sou gekom het as sy niemoeskom nie.

Met teerheid praat sy van Alida, uit haar hart kom die woorde:

—Marcel kon haar nie sien sonder van haar te hou nie. Hy onthou nog hoe sy hom as kind eendag gesê het: „Ek voel my so aangenaam by jou, ek wil by jou bly.” Hy dra my op om u haar hand te vra vir hom. Hy gee die versekering dat hy haar gelukkig sal maak. Sy geluk sal u vir altyd verseker.

Mevrou Delourens, anders so gou klaar met haar woorde, bly nou stil, sy wil die ou vrou op dié manier nog meer verleë maak. Dit geluk haar ook! Dog op sagmoedige toon gaan Marcel se moeder aan:

—U weet dat ons geen fortuin besit nie. My seun het daar nie aan gedink nie, omdat hy liefhet. My man het aan sy kinders meer eer as rykdom nagelaat. Dog, alhoewel hy nog jonk is, het Marcel reeds ’n skitterende verlede wat veelbelowend is vir sy toekoms.

En met waardigheid voeg sy daarby:

—Dis ook ’n fortuin.

—Ons is baie vereerd, sê meneer Delourens eindelik; daar is ’n stryd gaande by hom tussen die vrees om die goeie mevrou Kibert pyn aan te doen en die vrees om sy vrou te vererg.

Met één kyk na sy kant toe lê sy vrou hom stil-swye op. Waar bemoei hy hom mee!?

—Ja, waarlik, ons is baie vereerd, sê sy ook, met ’n berekende langsaamheid van uitdrukking. Die eer is vir ons ’n verrassing. Ons was daar nie op verdag nie.

Mevrou Kibert is verbaas, en vra haarself af:

—Het Alida waarlik versuim om met hulle te praat? .... of word ek vergek gehou?

—Die lof van u famielie hoef nie meer verkondig te word nie, sê mevrou Delourens verder,bedaard. Want ons weet, mevrou, dat u man hom geruïneer het om sy broer te red—ongelukkig kon hy nie verhinder die selfmoord en—die likwidasie nie.

Op dié manier uitgespreek, beteken die woordlikwidasiedieselfde asbankrot. Mevrou Kibert voel die venynigheid van hierdie steek. Sy bring ’n boodskap van vrede en liefde, en vyandigheid tree haar tegemoet: dié onreg jaag haar bloed na haar gesig, en dit skemer voor haar oë. Sonder verder bewys weet sy van nou af dat haar saak verlore is; tog bring sy nog in:

—Maar daarwasgeen likwidasie nie. Kapitaal en rente—alles is uitbetaal. Daaromtrent bestaan nie die minste twyfel nie. Die eer van ons famielie is heeltemal onbevlek.

Sy dink aan die moed van haar man en aan die verlore huweliksgeld van haar arme Paula. Waar voor is al sulke opofferinge dan? Het alleen die rykdom dan die voorreg om eerbied en ontsag af te dwing?

Haar lydensbeker is nog nie heeltemal leeg gedrink nie. Met die gemak wat eie is aan die wêreldse lewe, gaan mevrou Delourens verder, koud, en met ’n glimlag op haar lippe:

—Die kaptein het ’n skitterende loopbaan gehad. Nog so jonk en nou al eretekens ontvang! Ek moet u sê dat niemand sulke verdienste meer prys nie as ek. Hoe swaar moet dit tog vir u gewees het toe hy so lank weg was in Madagaskar! Ons het tog so baie aan u gedink! Ons het u beklaag maar ook beny . . . . En is hy nou heeltemal herstel van die soort koorssiekte waarvan ’n mens so langsaam genees?

Die maat is nou vol: mevrou Kibert kan nie meer antwoord nie. As sy probeer om te praat, sal sy seker in snikke losbars. Dié allerheiligste van haarsiel word aangeraak—haar kinders. Offer maar jou fortuin op om die famielienaam te red, gee jou seuns aan hul vaderland, stel hul maar bloot aan die dood—daar kom die troueloosheid en leuenagtigheid en mistrou die belangeloosheid en heldhaftigheid en verklein dit voor die askoekklompie watdie wêreldgenoem word!

Maar mevrou Delourens bou op wreedaardige manier voort op haar behaalde voordeel, met speldeprikke kwel sy haar ongelukkige ontwapende slagoffer:

—Ek kan u niks met sekerheid sê nie, mevrou, voor nog teë. Ek sal u aanvraag getroulik aan my dogter oorbring, en u sal gou haar antwoord weet. Dis mos die mode nou in ons dae om jongmeisies te vra hoe hul dit graag sou wil hê. Maar ek kan wel vooruitsien dat die vooruitsig van te moet skei van my, die liewe kind skrik sal aanjaag; sy is so gewend om altyd by my te wees; ons was nog nooit van mekaar af nie. Ek bewonder u krag. Een van u dogters is sendelinge, nie waar nie? Twee van u seuns is in Asië. Die kaptein gaan na Algiers. Hoe dapper is u tog, en wat ’n voorbeeld gee u aan die moeders wat hul kinders alte liefhet!

—Dink u dan dat ek hul minder liefhet as die ander moeders? dit sou mevrou Kibert haar wil vra. Ja, so goed as ek kon, het ek al die losskeuringe gedra, en ek het daar selfs stil onder gebly, om nie die moed te ontneem aan dié wat vér van my moes weggaan om ’n groot roeping te vervul nie, in plaas dat ek hulle wou in die pad staan en beperk deur hulle by my te hou. Ek het my altyd gedwing om hulle aan te moedig tot gebruik van al hul kragte, na die wil van die Heer. En, wat u nie weet nie, mevrou, die skeiding verminder volstrek nie die liefde tussen moeder en kind nie,maar veredel en louter dit. Dit neem hul natuurlike selfsug weg en bedeel hulle met die onsterflike skoonheid van selfverloëning en opoffering, waarin vreugde en toewyding één word.

Maar dit alles sê sy nie, haar lippe bly stom. Later sou sy haar weer die minste besonderhede te binne bring van hierdie onderhoud, om al die vernederende daarvan te besef, en selfs in haar vroomheid te dink dat dit ’n straf vir haar was, omdat sy te hoogmoedig was op die deugde van haar talryke kinders.

Mevrou Delourens bly nie lank stil nie.

—Alida is van natuur wankelmoedig. Sy is nog so jonk, nog maar ’n kind. Sy het al meer aansoeke gehad, mevrou. Dis nou maar tussen ons gesê. Die voordeel van die ander is dat ons dogter nie van ons behoef weg te gaan nie. Dis iets wat swaar weeg by Alida. Adel, fortuin—alles kom daar nog by. As die kaptein tog maar wou toestem om nie weg te gaan van Chamberie, om te bedank, sodat hy naby ons kan bly, en naby u ook! Het hy dan nog nie genoeg roem behaal om tevrede te wees nie?

Mevrou Kibert staan op, en sê eenvoudig:

—Ek weet nie, mevrou; ek dank u.

Sy bedank haar vyand, wat haar so onnodig wreed gemartel het. Nog nooit het sy haar so swak en ontdaan gevoel nie.

Mevrou Delourens doen haar uitgeleide; tevrede met haar oorwinning, het sy nou jammer vir haar, en oorstelp haar met mooi woordjies oor haar gesondheid, oor haar kinders, wat help om ’n nuwe vaderland oor die see op te bou, oor Paula, so fier en skoon, wat nie genoeg by Alida kom kuier nie. Sy hou haar dogter—dus kan sy nou wel goedgeefs wees met mooi woorde. Dit lyk of sy op die allervriendelikste manier haar allerbeste vriendin na dievoordeur bring. Agter haar kom meneer Delourens op ’n trippelstappie aan en kan nie genoeg klein buiginkies maak nie . . . .

As mevrou Kibert weer alleen is in die laning van plataanbome, haal sy diep asem, soos iemand wat aan ’n groot gevaar ontsnap het. Die vrou was sleg en hard vir haar. Hoe goed het sy geweet wat haar sou seermaak, in haar gevoel en in haar trots. Wat ’n valse uitleg het sy gegee aan die gebeurtenisse in mevrou Kibert haar famielie, waar die ou vrou eer op stel! Haar lewe van daaglikse, ongesiene toewyding het haar nooit geleer dat moederliefde nog makliker ’n moederhart kan verklein as verruim nie; anders sou sy wel begryp het dat dit so ’n hartsgebrek was wat mevrou Delourens daartoe beweeg om, op alle maniere, haar bedreigde geluk te verdedig, haar eie geluk, wat sy werklik aansien vir die geluk van haar dogter.

Maar sy vind nie lank troos by haarself alleen nie. Moet sy nie nou teruggaan na Maupas en die droewige nuus aan haar seun vertel nie? Die gedagte dat sy hom die smart nie kan bespaar nie, dat sy die boodskapper daarvan moet wees, laat eindelik die trane vloei wat sy so lank met moeite teruggehou het.

Die strale van die langsaam dalende son boor deur die sware loof van die bome en beskyn nog die ongeluksdag van ’n jong liefhebbende hart. Vir die eerste maal pynig dit haar om die ou tuis binne te gaan: sy weet dat sy daar afgewag word met ongeduld en vertroue.

Sy sukkel nog meer as ander dae om vooruit te kom, ontmoedig en stadig. Die dag druk swaarder op haar as sestig jare. Sy verwyt haarself so lank as sy loop: sy was te sleg; waarom kon sy Marcel se saak nie bepleit het op ’n mooier en handigermanier nie; die mense is aan komplimentjies gewend, waarom het sy nie rekening gehou met hulle gewoontes nie, waarom nie hulle eieliefde ’n bietjie gestreel nie; skik haar seun hom ook nie in die laaste tyd na die ydelheid nie; kon haar eergevoel dan nie ’n oomblikkie omgemunt word in veinsery en loftuitinge nie; sou sy haar daardeur verlaag het? Hy is so ’n skone jonkman, so mooi gemanierd, byna beroemd—waarom het sy van dit alles nie gepraat nie? Maar nee, sy is maar ’n arme ou vrou, en sy kon nie aan vleiery dink by so ’n ernstige saak nie. En dan, as sy van haarself en van haar kinders praat, voel sy die terughoudendheid van teergevoelige siele. So sterk as sy is in haar eie huis, so gou verlies sy die krag as sy oor die drempel stap. So het sy ook teenoor die onregverdigheid niks meer as trane gehad nie. Die trane—hoeveel maal het sy haar nie al gaan wegsteek om hul in stilte te stort nie, na ’n afskeid, vir ’n tydjie, of vir altyd: sou sy hul nou gaan stort voor die oë van dié wat haar onreg aandoen? Dit moet maar wees dat die Heer haar beproef en kasty omdat sy alte trots is. Dié uitleg is bevredigend vir haar geloof; sy laat dit haar welgeval, en sy ly sonder teenspraak, en in haar verslaenheid skep sy daar ’n soort van droefgeestige behae in om te herkou op haar eie deemoed en swakheid. Sy dink by haarself:

—My man! nou hy nie meer hier is nie, beteken ek niks nie. Hy was my vreugde en my krag. Had hy nog gelewe vandag, dan had alles anders gebeur. O Heer, het U my dan verlaat? Ek het my man belowe om so goed as moontlik sy plek in te neem, en kyk, ek sien ek kan nie . . . .

Haar wanhoop word haar te magtig; sy kan nie meer nie. Aan die end van die laning vra sy haarself of sy wel sterk genoeg is om aan te stap. Haar asem is op: sy moet stilstaan.

—Ek wil nie hier by hulle siek word nie, sê sy. Dis al wat sy wil, en daarom span sy haar laaste kragte nog in.

Sy sukkel nog aan tot sy by die hek uit is, en nou sy eindelik van hul grond af is, gaan sy sit op ’n hoop klippe, uitgeput. Daar gee sy haar nou oor aan haar verdriet en laat haar trane weer vloei, en sy sien nie hoe ’n klompie nuuskierige kindertjies om haar heen kom staan. Sy lig haar hoof op en hulle vlug soos ’n swerm verskrikte voëltjies. Een van hulle klop op die geslote deur van ’n huisie wat daar staan, en roep:

—Ma, ma, kom kyk, hier is ’n siek mevrou!

Die deur gaan oop en die boervrou kom uit, met haar jongste kindjie op haar arm.

—Ag! arme vrou! Maar dis waarlik mevrou Kibert! Wat makeer? ’n Pyn? Ja, dit kan somtyds so onverwags kom. Nee, niemand moet kan sê dat ek u nie wil help nie. U man het hierdie enetjie deur die koorssiekte gehaal.

En sy wys op ’n laggende klein vetsakkie. Nou sien sy dat daar trane is op die verwelkte gesig van die ou dame, en sy begryp dat dit hier nie liggaamlike pyn is nie. Uit beleefdheid vra sy niks, maar sê nog daarby:

—U goeie man wou nie geld van ons aanneem nie. Hy het arm mense liefgehad, en veral die kindertjies. Hy het altyd maar gelag. En hoe kon hy tog werk! My kleintjies was nooit bang vir hom nie—hul sou uit één bord geëet het met hom. ‚Ja, ek het ook so ’n klompie,’ het hy gesê. Dis waar, ons het baie, mevrou. Maar dis goed, ’n mens het iedereen lief soos ’n enigste seun. ’n Mens sou tog nie één wil verloor nie.

Die vriendelike woorde troos mevrou Kibert weer ’n bietjie, en sy dink:

—My man het Alida Delourens ook gered van die koors. Maar hulle het hom nie daarvoor meer geëer nie: hulle het dit vergeet. Arm mense vergeet nie so gou nie.

—Maar nou staan ek te praat in plaas van u te help! sê die boervrou. Kom binne en drink ’n koppie koffie: dit sal u weer opfris. Kom sit ’n bietjie en rus.

Mevrou Kibert staan op en neem die aangebode hand van die vrou aan. En sy antwoord:

—Dankie, ek het niks nodig nie. Die swakheid is al verby. Hoe mooi is u kindertjies. God seën hulle! Dis nie dat ek niks van jou wil aanneem nie, maar hul wag vir my tuis.

—Soos u wil, mevrou Kibert. Een van die dae bring ek u ’n dosyn vars eiers. Nee, moenie bedank nie: dit sal my so ’n plesier wees. Kom, kleinspan, gee mevrou ’n hand. Was dit nie vir u man nie, dan was daar vandag een minder, en ek bly nog altyd in u skuld.

—Dis baie goed van jou, goeiendag.

Eindelik is sy dan weer op pad na Maupas. Sy loop langsaam. Nou en dan bly sy staan om die sweet van haar voorhoof af te veeg, byna beswykend onder die treurige nuus wat sy dra. Dis laat toe sy by die huis kom. Die son gaan onder en boor sy laaste strale deur die blare van die bome.

Marcel leun op die hek en kyk in die pad af. Hy sien sy arme ou moeder pynlik-sukkelend aankom, haar gesig vuurrooi, haar rug gekromd, verouderd heeltemal. Hy hardloop na haar toe, en toe hy by haar kom, bars sy in snikke los:

—My kind, my arme kind!

Hy moet haar steun, en hy vra eenvoudig:

—Waarom het u nie weer met die rytuig teruggekom nie? U is moeg en warm. Dis baie onversigtig.Leun maar goed op my arms, ons sal stadig loop.

So help hy haar tot sy op ’n stoel sit in die voorkamer; en Paula bring ’n tjalie om oor haar skouers te hang. Daar is nog geen woord gepraat nie, en tog is alles reeds gesê. Marcel se voorhoof staan donker en sy oë gevestig, maar hy sê niks. Met die eerste oogopslag het hy alles begryp; en hoewel die slag onverwags is, is hy te fier om hom te beklaag: hy vra nie om besonderhede nie.

Sy moeder veeg haar gesig af, van die trane en die sweet. Bewende sê sy:

—Moenie jammer wees nie, dis nie die moeite werd nie.

—Hoe so? sê Paula verbaas.

—Hulle wil nie van hul dogter skei nie, en daarom glo hul dat hul haar so danig liefhet.

Paula vra:

—En Alida self?

—Ek het haar nie eens gesien nie. Sy kruip weg—of wel, hulle steek haar weg. Haar ouers was nie voorberei op my besoek nie. Hul was verbaas. Marcel moet belowe dat hy in Chamberie sal bly, dat hy sy betrekking moet neerlê as dit nodig is. Ek het wel goed gesien dat ’n Marthenay meer na hulle sin sou wees.

—Ba! sê Marcel, en sy oë skiet vonke.

En mevrou Kibert vertel van die vernederende onderhoud wat sy moes deurstaan. Marcel wil dit nie erken nie, maar hy voel baie pyn, en dit maak hom ondankbaar; hy laat haar nie uitpraat nie:

—U kon nie behoorlik u woord doen nie—dis seker. U hou nie van hulle nie en u het dit nie weggesteek nie. U verag die wêreld en u weet dit nie.

Hy het ’n houding van geringagting aangeneem; trots maak sy wond nog erger. Sy antwoord hom met sagtheid en diepe droefheid:

—Jou vader het my dié verwyt nooit gemaak nie. Maar, dis waar, ek verdien dit. Dog ek is tog alte oud om te verander, en die mense het my nie ontsien nie.

Marcel is kwaad; hy skaam hom, maar hy verlaat die kamer sonder die woord wat hy gesê het, terug te neem of te versag.

Paula het al die tyd roerloos en spraakloos bly staan. Nou sluit sy haar bedroefde moeder in haar arms en soen haar met innige liefde.

—Moenie huil nie, ma. O, hoe verag ek daardie mense. En Marcel is onregvêrdig. Dit was verkeerd van hom om u soiets te sê. Ek is vir hom ook kwaad.

En oor haar donker oë frons sy haar winkbroue. Haar ma droog haar trane af en sê:

—Nee, Paula, ons moet niemand verag nie. En wees geduldig met jou broer. Sien jy nie dat hy smart het nie? Loop soek hom.


Back to IndexNext