VIII.MEVROU KIBERT.

VIII.MEVROU KIBERT.

Mevrou Kibert wag haar kinders af, op stoep. Haar arms is gekruis op die tralie. Haar hoof is gebuig. Haar lippe prewel ’n gebed. ’n Diepe vrede, soos dié wat saans op die lande neerdaal ná ’n skone dag, is nou ook op haar gelaat te sien, wat nog nat is van haar trane. ’n Paar rose loer tussen die half-verlepte klimop uit, en beweeg in die windjie, wat hul blaartjies verstrooi en hul geur in grypies wegsteel.

Sy sien Paula terugkom, ontsteld en snikkend, en probeer tevergeefs om haar staande te hou met die woorde:

—Paula, wat makeer? vertel my . . . . .

Sonder te antwoord is sy binne-toe en in haar kamer.

Mevrou Kibert gee ’n paar stappies agter haar aan. Maar sy dink na, en bly weer staan. Sy gooi ’n tjalie oor haar skouers, stap die treedjies af, en so hard as haar bewende ou stappies haar wil dra, gaan sy die boomlaning in. Sy gaan staan by die groot hek aan die pad, en sê by haarself:

—Hy kan nog nie verby wees nie. Paula het so vinnig huis-toe gestap.

Sy kyk die pad op. Rondom hoor sy net die skel eentonige klaaggeluid van die kriekies, en nou en dan die geskuifel van die sware kastaiingblare in die windjie. In ongeduld wag sy ’n paar oomblikke en sien dan die swart skadubeeld van Jan in die verte. Hy loop met geboeë hoof en liggaam. As hy naby haar kom, sien sy dadelik op sy gesig dat hy bedroef en wanhopend is. Versink in sy leed, merk hy nie dat sy daar staan by die pilaar van die hek nie. As hy verby wil stap, roep sy hom:

—Jan!

Verbaas om sy naam te hoor roep, kyk hy op en gewaar die ou vrou; sy glimlag hom droefgeestig toe. Hy groet en kom nader.

—Ag! sê hy, net asof hy kla by sy moeder. Ek is baie ongelukkig.

Sy steek haar hand uit.

—Jan, gee my jou arm. Laat ons binne-toe gaan. Dit word al donker en koud.

Moedeloos gehoorsaam hy:

—Mevrou, u weet dat dit my nie pas om ooit weer hier binne te gaan nie. Maar ek sal u tot by die deur bring.

Aaneen klink die kriekiesgesang op uit die velde. En deur die stamme van die bome sien hy in die lug die laaste goudglim van die verdwene son. Hardnekkig hou die dag die stryd vol teen die nagskaduwees.

Spraakloos stap hul aan, naas mekaar. By die treedjies wil hy afskeid neem, maar sy sê:

—Kom binne. Ek wil met jou praat. Paula is nie in die voorkamer nie.

Hy wil weier. Onverskillig gee hy dan maar toe en volg haar. Hy voel soos ’n veroordeelde wat maar min glo aan die trooswoorde van sy weldoener, maar dit darem tog aanhoor.

Binnegekom, draai sy om na hom, neem sy twee hande in hare, kyk met haar sagte oë in syne, en sê:

—Het sy geweier om jou vrou te word?

—Sy het wenend weggehardloop.

—Jan, my liewe Jan, jy het haar nie verstaan nie.

Die vriendelike bejeëning is balsem op sy smart, maar knak die bietjie krag wat hy nog oorhet. Hy is klaar om in trane los te bars.

—Ag, ditisso! sê hy. Sy het my nie lief nie, en ek hou tog so baie van haar.

Sy laat die hande van die jonkman los, en leun nadinkend op die tafel. Wat sy nou wil waag, is iets ernstigs. Mag sy beskik oor die hart van haar dogter? Is sy, as moeder, wel seker dat sy haar goed deurgekyk het?

Sy beskou die jonkman, wat sy graag haar seun sou wil noem, en sy dink aan sy trou en moed. Bowenal dink sy aan Paula haar brandende hart en aan haar toekoms. Sy voel nou seker van haar saak, kyk Jan glimlaggend aan, en sê eindelik:

—Jy het dit mis, Jan, Paula het jouwèllief.

Hy skud sy kop.

—Nee, nee, mevrou. Ek vra geen verklaring nie. Laat my nou gaan.

—Sou die moeders dan teenwoordig nie meer weet wat daar omgaan in die harte van hul dogters nie?

Sy dink eers weer na, en vul dan aan:

—Paula het jou lief. Jy het nie verstaan dat sy haarself opoffer vir my nie.

—Vir u? Hoe so?

En oplettend kyk hy mevrou Kibert aan. Sy jeug kan sy neerlaag nie verdra nie, en hy voel reeds ’n nuwe roering van hoop. Intussen verbaas dit haar nie dat hy haar gedagtes nie kan lees nie, en dit klink byna soos ’n ekskuus uit haar mond as sy sê:

—Het jy haar nie vertel dat jou plan is om na Asië te gaan nie?

—Ja.

—Sy wou my nie alleen laat agterbly nie, Jan. En daarom het sy gehuil en weggeloop. Maar syhetjou lief: is haar trane nie bewys daarvan nie?

Hy sien nou in hoe hy net aan homself gedink het; sonder ’n woord staan hy daar voor die ou vrou, wat hy heeltemal verbygesien het, vir wie hy besig was ’n eensame en treurige bestaan vóór te berei, vir haar, wat ’n uurtjie gelede selfs geen klag laat hoor het nietoe hy haar gevra het om haar laaste kind aan hom te gee.

Terwyl hy nog altyd stilbly, gaan mevrou Kibert voort, kalm en bedaard:

—Sy wou my nie eensaam laat agterbly nie.

En met ’n droefheidverbergende glimlaggie, voeg sy daarby toe:

—Verbaas dit jou, Jan?

Hy bly nog maar stil en probeer om hom sterk te maak teen die diepe ontroering wat hom aangryp. Maar die ou vrou gaan aan, met sagte maar besliste stem:

—Dis verkeerd van haar, Jan. Sy het my liefgehad voordat sy jou liefgehad het. Vandag hou sy meer van jou as van my, maar sy weet dit nog nie. Sy is my vreug gewees, my hele krag selfs. Later sal jy ondervind wat die toewyding van hierdie kind beteken. Sy is so aan my geheg dat sy haarself daarvoor wil opoffer. Maar dit wil ek nie hê nie. God wil dit ook nie hê nie.

Die jonkman ween. Sy neem sy hand:

—Sy kyk agtertoe, maar in die lewe moet ’n mens vorentoe kyk. Vaders en moeders kan vir hul kinders lewe, maar nie omgekeerd nie. Dis die wet van die natuur. Dis die wil van God. Moenie bedroef wees nie, Jan, sy sal jou vrou word. Ek gaan haar haal vir jou. Maar beloof my eers weer dat jy haar sal liefhê, dat jy altyd vir haar mooi sal oppas, dat jy haar gelukkig sal maak. My Paula verdien dit tog so.

Jan probeer nie meer om sy trane in te hou nie. Dis trane van diepe veréring vir so’n wonder van selfverloëning. In sy eerbiedvolle en liefderyke bewondering, maak hy byna geen onderskeid tussen moeder en dogter nie, mekaar so waardig in wederkerige opoffering van hul geluk.

En hyself, verblind deur sy liefde, het daar nie aan gedink nie dat die liefde—wreed, soos eertyds die gode—’n offerande eis, die versoenende offerande van ’n edele hart wat verskeur word.

Skielik buig hy voorover en druk sy lippe op haar hand, met ’n beweging asof sy ’n heilige is.

—Ek sou voor u wil kniel, fluister hy. Wees geseën onder al die vroue.

—O Jan, wat sê jy daar?

Hy gaan aan:

—Maar ek neem u offerande nie aan nie. Ons sal hier in die moederland by u bly. Paula sal u nie hoef te verlaat nie.

Maar mevrou Kibert is al weggestap. Aan die end van die voorkamer maak sy ’n deur oop. Op die drempel draai sy om en sê aan hom:

—Wag daar tot ek weer kom.

Sy loop deur haar eie kamer en bereik die kamer van haar dogter, sonder geluid te maak. Gedra op die geure van die tuin, sluip die sterwende, geheimsinnige aandgloed deur die venster in en word in die spieël teruggekaats, tesame met die boomblare wat nou, soos ’n swart skaduwee, teen die lig afsteek. In die halflig sien sy Paula sit op die voetenent van haar bed, gekromd oor haar eie skoot, bewenende haar verlore geluk. Vrywillig en sonder swakheid het sy dit verloor . . . . En mag sy dit nou nie beskou as ’n skone, verre, beloofde land, waar sy nooit sal binnegaan nie? En sy geniet van haar leed, van haar ou, vurige liefde, waarvan niemand ooit iets sal weet nie—haar liefde, waarvan sy gedink het dat sy dit al lank verstik het, en wat nou in haar verdriet herleef. Sy geniet só, dat sy amper lus kry om maar nou te sterwe.

Sy skrik uit haar droefheid op, want sy voel ’n kus van haar moeder op haar hare.

—Paula, waarom huil jy? Jy moet dapper wees in die liefde, soos jy dit gewees het by beproewinge.

Die dogter spring op, en, wetende dat die skemer die tekens van haar ontroering half verberg, verdedig sy dadelik haar gedrag:

—Ma, ma weet nie wat daar gebeur het nie. Ek het hom nie lief nie . . . . Sy voorstel het so onverwags gekom, dit was so snaaks vir my, dat dit my ’n bietjie dof geslaan het. Ma, dis die eerste keer, verstaan ma . . . . Maar lief het ek hom nie, ek verseker ma dit . . . . . ek kan nie anders nie.

Haar ma kyk haar met innige liefde aan asof sy die volle maat wil begryp van die jonge, standvastige toewyding, wat nie wil beken nie, en tot in die wanhoop daarin wil volhard.

—Kom saam met my, Paula, sê sy eindelik. Jan het jou nie alles vertel nie. Jy het te gou weggehardloop. Hy het nie tyd gehad om jou te sê dat ek saam gaan met julle twee nie.

Soos blomme waarop, na ’n reënbui, die water-druppeltjies skitter soos edelgesteentes, so straal daar meteens ’n glans van blydskap uit die betraande gelaat. Sy slaat haar arms om die hals van haar moeder. As mevrou Kibert nog sou getwyfel het aan Paula haar geheim, dan is hierdie skielike verandering in Paula wel genoeg om alle sekerheid te gee.

—Ma, is dit waar? Hoe gelukkig sal ons daar tog wees! . . . . . Ek het ma tog so lief.

Mevrou Kibert glimlag, sy begryp wel dat die laaste woorde vir iemand anders bestemd is.

—Ek het wel geweet, sê sy saggies, terwyl sy Paula haar wang streel, soos vanmelewe toe sy nog klein was. Met ontroering aanskou sy die ontluikende geluk, waartoe die Voorsienigheid haar ’n kans gegee het om iets by te dra. En stilletjiesdank sy die Heer dat Hy haar wens vervul het.

Skamerig, en sonder haar ma aan te kyk, vra Paula:

—Is hy al weg?

—Hy is nog daar.

Sy bloos, maar die skemering verberg dit vir die oog van haar ma.

—Kom, ons gaan terug na hom toe, sê mevrou Kibert. Sy neem Paula haar hand en lei haar binne in die voorkamer:

—Jan, hier is jou vrou.

Self lê sy hulle hande in mekaar. Hulle kyk mekaar nie aan nie. ’n Heerlike ontroering swel in hul boesem en vul dit met die genade en skuheid van die lewe—die geheime kenteken van goddelike krag.

Jan is die eerste wat sy oë opslaat en die geliefde voorwerp van sy saligheid aankyk. Paula haar trane van flus het haar skoonheid verminder, maar het haar uitdrukking van trots ook getemper en haar bedeel met ’n onderdaniger, aandoenliker menslikheid, wat ook spreek uit haar houding van oorgawe. Om haar vrouweswakheid kry hy haar nog meer lief.

—Kan ek nou glo aan my geluk? sê hy eindelik.

Met ’n sug van verligting antwoord sy:

—O, ja!

—Paula, ek het jou lief.

In ’n byna onhoorbare suggie sê sy die woorde na:

—Jan, ek het jou lief.

Nou kyk sy hom ook aan, en hulle glimlag met mekaar. Maar dadelik soek sy die oog van haar moeder, en, seker nou van haar geluk, sê sy:

—Ma gaan met ons saam na Asië. Daar oorkant sal ons almal bymekaar wees, behalwe suster Magriet, die sendelinge.

Jan verstaan nou watter kragargument mevrou Kibert gebruik het om die hart van haar dogter te leer ken. En hoewel hy twyfel aan die saamgaan van die ou vrou, en vanself begryp dat dit maar ’n leuentjie is uit ’n goeie hart, maak hy maar of hy net so bly is as hulle.

—My kinders, my liewe kinders! sê mevrou Kibert. God skenk ons groot blydskap. Dat Sy seën op julle daal, op julle huis en famielie! Jan, omhels jou verloofde!

Hy druk sy lippe op haar nog traanvogtige wang. So is reeds by hul eerste omhelsing die spore van smart teenwoordig, as om aan te dui dat hul lewens één is, in smart sowel as in vreugde.

Aan die ander end van die kamer kyk mevrou Kibert na die portret van Marcel. Maar dis al so donker dat sy meer in haar verbeelding dan op die portret sy gelaatstrekke gewaar. Jan en Paula kom nou by haar:

—Marcel sal tevrede wees, sê hy. Ek glo nou dat hy al my hart geken het voordat ek dit self geken het.

En Paula onthou haar broer se woorde:Moenie ongerus wees nie: eendag sal jy nog gelukkig wees.

Hy, wat toe reeds op sy voorhoof die teken van die dood gedra het, en die dood tegemoet gegaan het met ’n ferme stap—het hy toe in die toekoms gesien met oë wat reeds geopen was vir ’n ander wêreld; en moet ’n mens van die lewe afgeskei wees om die verwantskap van siele te deursien en die geheim van hul bestemming? . . . . Haar susterlike gehegtheid aan haar broer maak dit vir haar aangenaam om hom in verband te bring met haar liefde vir Jan.

—Nou gaan ek huis-toe, sê Jan aan Paula.

Sy voel dadelik bedroef. Terwyl sy reeds al haar gedagtes gee aan haar toekomstige man, veroorsaak die eerste skeiding al pyn.

Mevrou Kibert kom tussenbei:

—Dis al laat. Bly maar by ons, Jan, en eet saam. Jy sal met min tevrede moet wees. Na die ete kan jy teruggaan na jou rosevilla.

Hy aarsel:

—Ek kan nie, mevrou. My oom sal ongerus wees. Ek het hom flus ’n bietjie kortaf behandel op die pad, en ek wil hom nie nog meer las aandoen nie.

—Bring hom môre saam om by ons te eet, sê mevrou Kibert. Sê aan hom ons sal ons mooiste rose op tafel sit.

As Jan Maupas verlaat, is dit al nag in die eikebos. Vrolik en sonder haas stap hy die skuinste af, asof dit die reguit en maklike pad is van sy toekomstige bestaan. Dis dieselfde skuinste wat Marcel een nag opgehardloop het—sy bors gloeiende van liefde en die voorproef van gevaar op sy droë lippe . . . .

Paula val laat eers in slaap. Sy ontvang die liefde met ’n ferme hart, met roerende erns, wat vir haar glad nie ’n verslapping in deug is nie, maar ’n versterking. Sy het dit opdraans gehad in haar jeug, stryd voerende met stoflike moeilikhede en siele-smarte, soos bokke wat ’n steilte uitklim en vlokkies wol aan die bossie agterlaat. Nou voel sy of sy in die vlakte wandel—met sagte gras onder haar blote voete. Voor haar uit is daar net lig op die horison. En wat sou haar afskrik as sy weer eendag moet klim? Steun sy dan nou nie op ’n sterk arm nie, en voel sy haar eie moed dan nie hernuud nie?

Maar sy is al lank aan slaap geval as haar ou moeder nog waak en bid:

—My God, fluister die arme ou vrou, vir die eerste keer in my lewe het ek ’n leuen vertel. Vergewe my.Ek moes die twee kinders tog aan mekaar gee. U het hulle vir mekaar geskape. Gaan hul geluk nie voor myne nie? Ek is te oud om met hulle saam te gaan. Ek kan my dode nie verlaat nie. Die aarde trek my ook al aan; weldra roep U my ook. Hier wil ek die ure van U koms afwag. Maar gee my tog krag, o my God, om die laaste afskeid met kalmte te dra. Ek het my so gewend gemaak aan Paula haar liefderyke sorge; en deur my my enigste aardse vreugde te ontneem, herinner U my daaraan dat ons nie vir ons onherroeplik moet heg aan die sake van die wêreld nie. As sy weggaan, neem sy my hart saam, wat U so vol geluk gemaak het voordat U dit breek. Vooraf bied ek U reeds my smarte aan, opdat U U oorvloedigste seën uitstort op my seuns, Jan ook daarby, en op my dogters, dié wat lewe en dié wat gestorwe is. . . .

Sy bid nog lank so. In haar geloof vind sy eindelik berusting; en as sy uiteindelik aan slaap val, dan is dit in vrede.


Back to IndexNext