VIII.PLANNE.

VIII.PLANNE.

In die tuin van Maupas, waar die rose reeds verwelk, in die skaduwee van die kastaiingboom, waarvan die blare al geel word, kyk Marcel Kibert en Jan Berlier na ’n landkaart van Afrika wat op die klip-tuintafel oopgevou lê.

—Dis die pad wat ons moet neem, sê die kaptein, en hy wys met sy vinger op ’n lang streep rooi kruisies dwars oor die Saharawoestyn.

Met jeugdige geesdrif vra Jan:

—Is dit nou seker dat die kommando sal gaan?

—Ja, en ons sal twee jaar wegbly, ten minste as ’n mens vooruit sou kan sê hoelank so ’n lang en gevaarlike tog wel sou kan duur. Ek het in die stad die kommandant gesien. Met honderd of tweehonderd man gaan ons op pad. Maar ek vrees dat ons nie wegkom voor ander jaar nie. En met ernstige stem lê Marcel haarfyn uit hoe alles sal gereël word. En met breë gebare verduidelik hy sy woord oor die onbekende land, so wyd uitgestrek en eentonig, ondeurgrondelik en geheimsinnig soos die see.

Jan luister, en sy gesig neem ’n uitdrukking aan van aandag en manlike erns. Hierdie mooi, fyn jonkman, altyd vol lag en grappies, ’n liefling van die vroue van wie ’n mens by die eerste oogopslag sou sê dat hy net deug om te „flirt” en mooie meneertjie te speel in die voorkamer—hy toon, as hy eenmaal in sy natuurlike element en voor ’n ernstige onderneming geplaas word, dat hy ’n manlike geaardheid besit, ferm en vol durf. Marcel, wat hom beter ken, het dit altyd geweet; en as hy van Jan hoor praat as van ’n voorkamersoldaatjie, dan sê hy altyd: Julle ken hom nie.

Mevrou Kibert kom uit op die stoep van die huis.

—Stil! sê Marcel, en lê sy vinger op sy lippe.

—Weet sy nog nie dat ons gaan nie? vra Jan, fluisterend.

—Nee. Sy sal dit altyd nog te vroeg hoor.

Sy kyk die tuin in, maar sien die twee jonkmans nie. Sy dink dat sy heeltemal alleen is, haal haar bril af—sy het dit gebruik by een of ander handwerk—en veeg langsaam haar oë af met haar sakdoek. Sy is moeg en leun op die houttralie waartussen, soos ’n verwelkte versiering, die ontblaarde ranke van die blomme gevleg is. En in gedagtelaat sy haar droefgeestige blik gaan oor die welbekende ou landskap.

Die dalende aand verf pers en rose tinte op die teer-yle lug. Die frisheid van die lug kondig die nadering aan van die najaar. Die landskap rondom laat dink aan die teer-bekoorlike glimlag van ’n sterwende meisie wat nog terugdink aan die lewe. En dit lyk of die kaal lande en bome en wingerd, nadat hul alles gegee het wat hul gehad het, nog meer sou wil gee. Onnuttig nou, het die landskap nog net sy skoonheid behou. Die bosse is half beroof van hul misterie, en die sterwende aandstrale lê flouerig, dog amper te swaar op hul geel-groen blare. Langs die muur laat ’n paar rose hul alte sware blaartjies opehang, en die sagte aandwindjie laat hul neerstryk op die grond. En bo-op die bult, swart geteken teen die goud van die aandlug, trek twee osse stadig-stadig in die ploeg—voorbereidende die oes wat nog moet kom. Oor die kalme afsterwe van die natuur sweef so die voorspelling van ’n herlewing.

’n Vallende kastaiing, bo uit die bome, laat Marcel opskrik. En as hy sy liewe ou moeder aankyk, soos sy daar leunende staan, haar gedagtes vol van haar klompie kinders oor die hele wêreld versprei, dan is dit of hy meteens besef hoe groot haar liefde moet wees; en hy voel ook die bygelowige vrees, wat ons somtyds so kan bekruip en pynig as ons dink aan die swakheid van die wat ons liefhet.

—Arme ou moedertjie! Hoe baiemaal het u al gebewe vir my lewe. En dit sal weer moet gebeur. Die landkaart hier voor my, onverskillig en spraakloos, berg die geheim van u toekomstige smarte. Vir die melk van u bors, wat my gevoed het, vir die lewe wat u lewe my gegee het, vir my gelukkige kinderjare en jongelingskap—o, wees daarvoorgeseën. Ek het u lief. Maar, as ek wil weggaan, vergewe dit my!

Die beeld van ’n blonde meisie kom voor sy gees. Na die weiering het hy Alida Delourens nog nie weer gesien nie. Verskeie male het hy al die tralies oorgeklim wat die eikebome van Chenée skei van die pad. Daar, in die skaduwee, het hy vir haar gewag. Wetende dat sy hom liefhet, wil hy, tot elke prys met haar praat en haar ewige trou belowe. Die roem wat hy in verre lande sou behaal, en geduldoefening, sou haar eindelik wel aan hom gee. Maar of dit nou toeval was of iets anders, sy het nooit daar na die bos gekom nie.

Sal hy so moet weggaan? Binne weinige dae sal sy verlof om wees—hy het geweier om verlenging daarvan aan te vra—en dan moet hy teruggaan na Algiers, met Jan Berlier en sy kommando. Hy maak allerhande onmoontlike planne, hy herkou op sy onmag soos ’n jong, ongeduldige perd op sy stang.

—Ek wil nou loop, maar eers wil ek jou ma gaan groet.

—Wag nog ’n bietjie, sê Marcel. En meteens tot ’n besluit komende, sê hy, fluisterend:

—Kyk hier, ek wil met mejuffrou Delourens praat. Wil jy my help?

Daar bestaan ’n innige vriendskap tussen die twee jonkmans, iets broederliks en rustigs, gebore uit wedersydse vertroue en ooreenkoms van aard en strewe. Maar hul hartsgeheime deel hul nie mee aan mekaar nie. Dit verwonder Jan dus dat sy vriend syne nou so openbaar, al het hy dit al lank agtergekom. As beskeie toeskouer het hy die spul so aangekyk. Hy ken Marcel se wilskrag en trots; die groot hartstog boesem hom belang in, al vrees hy vir die wanhoop wat daarop kanvolg—dis so iets anders as sy eie oppervlakkige vryerytjies vir tydkorting. Hy weet waaraan hy dit moet toeskrywe dat sy vriend meteens so ’n lus gekry het om met die kommando na Afrika te gaan, dat hy so ’n opgewonde verlange het na roering en werk.

Jan maak of hy van niks weet nie, en sê:

—Waarom gaan jy nie self na Chenée nie? Dis die eenvoudigste.

Marcel kyk hom deur en deur en antwoord:

—Jy weet waarom ek nie kan nie.

En na ’n oomblik stilte laat hy volg:

—Maar ek wil haar darem sien.

—Om met haar weg te loop? sê Jan, met ’n glimlaggie.

Hy wil nog probeer om daar ’n grappie van te maak, maar ’n stuurse antwoord is al wat hy kry.

—Kyk in haar oë, en jy sal nie meer so praat nie . . . . Ek moet haar absoluut sien voor ek weggaan, miskien om jarelank weg te bly. Haar geluk sowel as myne is daarmee gemoeid. Was daar van myne alleen sprake, dan sou ek met my smart kan weggaan, sonder om om te kyk. Maar sy moet gerusgestel word omtrent haar toekoms, sy moet verstaan dat die toekoms behoor aan dié wat volhou. Sy sal my vrou word, as sy wil. Ek wil haar net vra om moed te hou en te wag.

—Dis die hoogste eis, sê Jan. Hy het nie ’n alte hoë dunk van Alida haar moed nie.

—Dis die gemaklikste.

—Ja, vir jou, wat heeldag besig gehou sal word met gevare en hinderpale om te oorkom. Maar sy . . . .?

—As sy my nou liefhet? sê Marcel eenvoudigweg en daar is iets in sy stem wat alle gedagte aan eiewaan verban.

—Ja, sê Jan, en hy dink by homself: Sy weet nie wat liefde is nie. Isabella Orlandi trou met meneer Landeau omdat sy graag wil skitter. Alida Delourens sal met meneer Marthenay trou uit swakheid, en omdat haar ma begeer om nog eendag ’n adellike kleinseun te sien. Die jongmeisies van ons dae weet nie meer wat ’n groot liefde beteken nie, en niemand leer hul dit nie.

Maar hardop durf Jan dit nie te sê nie. Op die breë, ope voorhoof en in die ernstige oë van sy vriend sien hy die tekens van ’n siel deur liefde geroer.

—Wil jy haar absoluut sien?

—Absoluut!

—Jy is al so tuis by die famielie Delourens. Jy kan maklik met die dogter praat. Ek sou my suster gevra het om dit te doen as sy nog daarheen kon gaan na die . . . . weiering.

Hy moet sy trots oorwin om die laaste woord te kan uitspreek. En met ’n sekere minagting hef hy sy hoof op as hy sê:

—So ’n weiering is onregvêrdig. Ouers het geen reg om hul gesag so te laat geld tot bevrediging van hul eie vooroordeel en selfsug, en om uit ydelheid die hart van hul dogter te breek nie. Niemand het soveel eerbied vir ouerlike gesag as ek nie, maar dan moet wysheid en rede dit lei. Paula het Alida in die kerk gesien, sy was bleek en kwynend. Ekmoethaar sien. Daar is geen troueloosheid in nie, geen plan om haar met minder eerbied te behandel as ek haar verskuldig is nie. Dit wou ek jou net sê voor jy my antwoord.

—Dis goed, sê Jan. Na ’n oomblik nadink sê hy verder:

—Ek wil jou eie woorde herhaal, Marcel: Kyk in haar oë, dink aan die eerlike blou oë, en vrajouself af of sy sal uitloop om jou êrens te ontmoet.

Marcel staan spraakloos, dan sê hy:

—Dis waar. Ek wil daar nie meer aan dink nie: ek sal weggaan sonder haar te sien.

Geen ander klag kom oor sy lippe nie. Maar sy vriend word aangedaan deur dié eenvoudige woorde. Alhoewel hy dink: dis ook maar beter dat hy weggaan sonder haar te sien, kry hy so jammer, dat hy tog ’n plan maak:

—Kyk, laat die saak aan my oor: ek sal jou sê as jy haar kan ontmoet. Sy sal jou sien sonder dat ek haar vooraf iets sê. Dit sal dan aan jou lê om te hou wat jy het. Dis nie ’n alte mooi manier nie, maar dié Marthenay vererg my en die Delourens-klomp is windsakke—daarom ontsien ek nie om hul ’n bietjie te fop nie.

—Jy wou my moeder nog groet, nie waar nie? Kom, ons gaan binne-toe, sê Marcel.

Mevrou Kibert en Paula sit nog aan hul handwerk, in die aandskemer. Die moeder se oog verhelder toe sy haar seun sien binnekom; maar Paula kyk nie op nie.

—Ek kom groet, sê Jan.

—Wag jy nie tot Marcel gaan nie? Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert. Want sy hou van die lewenslustige jonkman en vergeet dat hy somtyds so ligsinnig kan wees. Sy is hom ook dankbaar dat hy—beter as sy self durf of kan—aan Marcel afleiding besorg van die droefgeestigheid wat hom druk soos ’n sware rou en waarvoor sy ’n soort van vrees koester.

—In drie dae tyds gaan ek aan boord, mevrou. My verlof is gouer om as dié van Marcel.

Paula lig nou haar hoof op. Jan lees in haar donker oë iets van ’n verwyt, en haar bleekheid verraai dat sy pyn ly. Maar baiemaal is ’n mensin twyfel oor wat daar spreek uit ’n oog of selfs uit ’n blos op ’n jeugdige wang. Dis van die snelle en vlugtige uitdrukkings wat vir ons ’n geheim bêre, wat ons nie graag deurgrond as dit lyk of sulke uitdrukkings ons ongunstig is of selfs ook maar verleë maak nie. Hierdie meisie met haar ernstige gesig en bedaarde bewegings, met haar skuwe bevalligheid, getuiende van groot beslistheid, trek hom aan en stoot hom af tegelyk. Hy wil haar so graag op ’n lughartige, vriendskaplike manier hoor praat; maar nou werk haar terughoudendheid verlammend op hom. Haar toejuiging en agting sou hom kan verhef en sterk maak; maar hy begryp dat hy dié agting alleen kan verdien deur groot dinge te onderneem en ’n hoë inbors te besit; en hy voel ’n inwendige vrees vir wat hy noem „die hoë dinge.” Hy is veral bang om homself ernstig af te vra waarom sy so ’n dubbelsinnige indruk op hom maak. Hoe baie menselewens gaan daar nie verby, drywende op die twyfel, sonder die geheim te wil deurgrond van die verwante gevoelens wat aan hul hele lewe ’n ander koers sou gegee het, maar waarvoor die meeste mense al vooruit bang is!

Mevrou Kibert stap ’n entjie saam met Jan, buiten-toe. By die treedjies fluister sy snel in sy oor:

—Kyk tog ’n bietjie goed na Marcel as hy later ook by julle kommando kom. Ek vra jou om dit vir my te doen, Jan.

Hy is aangedaan deur die vertroulike woorde van die ou vrou:

—Ek beloof u dit mevrou, hy is soos ’n ouer broer vir my.

Hy kyk nog ’n keer om en bewonder die fier sy-gesig van Paula in haar rouklere; sy staan op die stoep, maar sy kyk nie na hom nie, haar oë is indie verte gevestig—en die rosetinte van die najaar verbleek op die berge . . . .

Dieselfde aand gaan Jan op Chenée eet, waar hy Isabella Orlandi ontmoet. Dis kort voor haar troudag, maar nog nooit is sy so baldadig gewees, en gee sy so min om fatsoenlike maniere nie, as nou. Ondertussen doen meneer Landeau sy voordeel met die seldsame opgang van die geldmark; hy maak baie geld deur toepassing van die moderne misleidingsmiddel, en hy vry so uit die verte, deur in sy briewe kortliks maar duidelik te laat blyk hoe goed hy aangaan—hy ken wel die krag van sulke mededelinge.

Dis aand geword; en Isabella gaan by Jan sit op ’n sofa, agter ’n party varings en palme.

Jan het ’n vrou nodig om sy plan vir Marcel ten uitvoer te bring. Die plan is eenvoudig om Alida tot ’n wandeling uit te lok—op ’n afgesproke uur—na die eikebos, waar sy dan meteens vir Marcel Kibert sou aantref. Maar hy kan Alida nie vra om alleen met hom uit te gaan nie, hy moet ’n betroubare bondgenoot hê. Jan kyk skuins na Isabella, en dink:

—Hierdie een miskien, maar kan ek op haar reken?

Hy het nie ander keus nie, dus moet hy maar probeer:

—Wat dink jy van hom, sê hy, terwyl hy ’n hoofbeweging maak na die kant van Marthenay, wat voor mevrou Delourens ’n vertoning staan te maak, terwyl die arme Alida, om hom nie te sien nie, in ’n boek sit en prentjies kyk, sonder ’n blad om te slaan.

Isabella lag:

—Wie, Marthenay? Hy is Alida se meneer Landeau. Elke een het haar eie.

—Wil jy my help om hom ’n streek te speel?

—Ja, seker! Dit sal ons weer laat dink aan die blommefees se slag.

—Nou ja, kom môreagtermiddag om vieruur hiernatoe—ek sal dan hier wees.

—As jy hier is, kom ek ook; dit spreek vanself.

—Alida is ’n bietjie bleek die laaste dae, jy sal aan haar sê: „Jy moet afleiding hê, ’n bietjie meer in die buitelug gaan, jy bly te veel in die huis.” Ons neem haar na die eikebos, en, op ’n teken van my, laat ons haar daar alleen. En as jy dan iets sien, sal jy dit vir jouself hou?

—Maar ek begryp van die hele affêre niks nie.

—So moet dit ook wees.

—Sê my ten minste wie ek sal sien.

—Nuuskierige Eva! kan jy ’n geheim bewaar?

—As jy my dit vertel, ja.

—Die geheim is nie myne nie. As ek dit vertel, is ek ’n verraaier.

Sy kyk die jonkman aan met haar wellustige, skone swart oë:

—My liewe Jan, ek is nie veel werd nie, en jy reken my vir nog minder as ek is. Om jou plesier te doen, sal ek gevare tart . . . . en selfs welvoeglike maniere.

—Veral „welvoeglike maniere” as jy nie omgee nie.

—Maar seker. O, as jy wil, volg ek jou tot die end van die wêreld.

—Sonder iets te besit? vra hy, met ’n twyfelagtige glimlaggie.

Sy antwoord met ’n mat laggie, wat haar wit tande laat sien.

—Met net so min as hier op my hand is.

’n Rilling loop oor Jan se lyf, by die gewaagde onbeskaamde woorde, en hy voel ’n soort van verdriet in teenwoordigheid van die skone, verleidelike liggaam. Voordat sy haar in haar huwelik werp,soos in ’n aaklige afgrond, het sy daar ’n soort van baldadige plesier in om op die rand daarvan te baljaar.

Hy is stil, maar sy merk wel wat ’n mag sy nog oor hom uitoefen. Sy waag dit om boweop nog sy hand te neem en in Italiaans te sê—om haar onbeskaamdheid half te bemantel:

—Ek hou van jou.

Jan dink nie meer aan Marcel nie. Maar omdat sy so seker lyk van haar oorwinning, voel hy hom tot teenstand geprikkel, want in die grond van sy natuur is hy fyngevoelig, trouhartig en byna teruggetrokke. En so gee hy tog nie die antwoord wat sy verwag nie:

—So, dus sal jy meneer Landeau laat staan om vir my te neem?

Sy vind hom ’n bietjie onnosel, en sê dat hy maar net in skyn iets durf waag, dat sy danige durf net alles grootpraat is. Dog hy behaag haar om dié rede nog meer. Op die grond van haar wellustige hart voel sy selfs ook nog ’n weifeling, omdat die bederf nog maar begin—dis die oorblyfsel van haar kinderlike onskuld, en sy voel aangedaan deur die onverwagte eerbaarheid van Jan. Maar oor dié opwelling is sy gou weer heen, en haar antwoord is:

—Ek sal niks laat staan nie. Ons sal ons nie laat hinder deur die ou veertigjarige man van my nie.

En sy laat weer die dubbelsinnige laggie hoor.

Hy begryp haar en kan nie help om ’n kleur te kry nie. Dit erg haar. Deur die plante, van agter die sofa, kan hul Alida sien binnekom. Sy stap oor die vloer met starende gevestigde oë of sy in haar slaap loop. Sy het ’n rok aan van wit kamerdoek: dit staan goed by haar blonde haar. Eén oogopslag is vir Isabella genoeg om die rok in alle besonderhedeop te neem. Jan het haar kwaad gemaak, en sy sê:

—Dis duur goed wat sy dra, en kyk hoe volmaak is die snit daarvan. Sal jy my net sulkes kan gee, meneertjie, as ek met jou sou trou?

—Wat, uit my klein salaris? sê hy.

—Ja, ek hou nou eenkeer van goed wat mooi is.

—Al wat blink, is nie goud nie.

—Reg so, daar is ook nog diamante en ander edelgesteentes.

Half minagtend sê hy:

—Ja, elke een draai sy rug toe aan die lewe en probeer dit te vergeet. Jou ma het haar hond, Pistache, my oom het sy rose, en jy het jou klere. Die liefde moet maar sukkelend agteraan kom.

—Dit lyk my jy word nou soet, Jan.

Jan begin nou weer oor sy plan vir môre:

—Dus sal jy jou mond hou as jy môre iets gewaar?

—Ek sweer! Is jy nou tevrede? Kom vertel my nou wat dit is.

Hy weifel eers nog, maar sê dan:

—My vriend, Marcel Kibert, het iets te sê aan Alida. Hy sal vir haar wag in die eikebos.

—So, so! sê Isabella, vol belangstelling. Maar daarby is ons nie nodig nie.

—Luister: Alida weet daar niks van nie. As sy weet, sal sy nooit gaan nie.

—So ’n stommerik!

—Sy is ’n bangerige en teruggetrokke kind.

—Ja, te nougeset. Maar sy is ryk, sy kan vir haar ’n man uitsoek. Dis in hierdie tyd ’n seldsame voorreg. Hoe sou sy nie die voorkeur kan gee aan kaptein Kibert nie, in plaas van aan die lawwe, verwaande Marthenay? Ek hou self ook baie van die kaptein—amper so veel as van jou. Net, hy maak my bang. Ek verwag altyd ’n knor van hom.

—As jy dit nou verdien?

—Ek verdien dit. Knorjymy—maar nie te hard nie. Marthenay is onnosel; en as ’n mens onnosel is, dan is hy dit vir ’n lang tyd.

Mevrou Delourens dink dat die twee nou lank genoeg alleen gesit het. Sy kom nader en vra:

—Is Alida nie by julle nie?

—Sy het uit die kamer gegaan, mevrou; maar daar kom sy net terug.

Sy gaan weg van hulle; en Jan sê haastig, om nou ’n end aan hul gesprek te maak:

—Jy moet weet dat mevrou Delourens haar dogter nie van haar weg wil laat gaan nie.

—Ag, sê Isabella. Dan sal die arme Alida met meneer Marthenay moet trou. Sy het net so veel wilskrag as ’n hoender in ’n reënbui.

En op komieke toon voeg sy daarby:

—Laat ons die ongeoorloofde liefde steun. En wat sal jy my gee vir die hulp?

—Vra, en ek sal gee.

Sy kyk hom skelmrig aan, om hom te oorwin:

—’n Soen van jou lippe, meneer.

Jan is weer in haar mag, en voleindig haar sin:

—Op joue, juffrou!

Hulle lag albei half verleë, en ming dan met die ander mense in die kamer.


Back to IndexNext