VOORWOORD.

VOORWOORD.

Vir ’n skrywer, maar veral vir ’n Afrikaanse skrywer, in die tye wat ons belewe, is dit besonder aanmoedigend en verblydend as hy ondervind dat ’n nuwe druk van sy werk nodig is. Ek dank my landgenote vir die aanmoediging en ondersteuning, en hoop dat „Martjie” by toeneming sal bydra tot die doel wat ons beoog: opbou van taal, kuns, nasionaliteit.

In hierdie twede uitgaaf het ek die spelreëls toegepas wat goedgekeur en vasgestel is by die jongste sitting van die „Zuid Afrikaanse Akadémie voor Taal, Letteren en Kunst”.

Op ’n paar kleine wysiginge na, is die eintlike teks onveranderd gebly.

Ter wille van maat en ritme, en alleen om die rede, het sommige woorde afwykende vorme gekry, b.v. „ower” in plaas van „oor”, „bowe” in plaas van „bo”, ens. Om dieselfde rede is die dubbele ontkenning hier en daar verwaarloos. Die woordjie „sig” het ek hier en daar nog behou.

Ten slotte nog ’n enkel woordjie—van eie hand hierdie keer—oor die aard en vorm van my werkie:

My bedoeling was ’n eenvoudige skildering te gee van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman in Afrikaanse omgewing, ’n algemeen-menselike tema op eie toneel opgevoer. Alle begeerte na avontuurlikheid of ingewikkeldheid in die verhaal was dus uitgesluit. Die inkleding, wat gebeurtenisse, natuurbeskrywing, ens. betref, moes net voldoende wees om, teen passende agtergrond, die hoofmotief duidelik te laat uitkom. Die vraag is alleen in hoever ek geslaag is om hierin harmonie en gesonde verhouding te bewaar.

’n Goeie roman huldig dieselfde beginsele, en werk dit alleen breër uit.

Ek het ’n losse en onafhankelike vorm gekies, omdat daar baie dinge gesê moet word, wat eenvoudige mededelinge is, en net ondigterlike rymelary is as dit op strenge maat en rym gesê word, terwyl poësie inelkevorm goed uitgedruk kan word waar dit in ’n werk voorkom.

Hoewel die vorm los is, is dit darem nie ongebonde nie. Die goeie leser sal dit dadelik sien, en die sangerigheid en maatgang, wat ek bedoel het, tot hul reg laat kom.

Die skrywer.

Pretoria, 20 Oktober 1915.

Na verskyning van die Derde druk, in Januarie 1919, laat ek bowestaande voorwoord ook vir hierdie vierde druk geld. Die laaste spellingreëling deur die Suidafrikaanse Akadémie goedgekeur in Januarie 1920, word hier toegepas.

Stellenbosch, Junie 1920.


Back to IndexNext