ANNIE LOSPER.
Die taak van die onderwyser op die delwerye is seker nie een van ongemengde genot nie. Die hele atmosfeer van diediekens, soos die delwers sal sê, is nie juis bereken om skoolhou ’n plesier te maak nie. Die toestande waaronder die kinders opgroei, is so hemeltergend benard dat dit ’n wonder is dat daar nog van een iets teregkom. Die woning bestaan gewoonlik net uit een lokaaltjie, wat so klein is dat ’n groot man hom moeilik tussen die paar kaste en bankies waaruit die huisraad bestaan, kan beweeg. In hierdie kamertjie word gekook en geëet en geslaap en, moenie skrik nie, babetjies gebore. Dat baie kindertjies dus opgroei sonder enige gevoel van skaamte of kiesheid of reinheid, kan niemand bevreem nie.
Maar wat die werk van die onderwyser nog die meeste bemoeilik, is die ondervoeding waaraanso baie delwerskinders ly. As ’n mens die bleek gesiggies en die maer beentjies sien, dan bloei jou hart vir hulle, en in die winter gaan dit eers swaar. Ek het meisies gesien wat net ’n dun linnerokkie aan het sonder enige onderklere, en seuns wat byna nakend loop. En op die kaal vlaktes waar die delwerye meesal gevind word, kan dit raak koud word.
Die sanitêre reëling is uiters primitief, en epidemies van maagkoors of ander besmetlike siektes is glad geen uitsondering nie. Die wonder is dat daar nie meer mense jaarliks aan aansteeklike siektes op die delwerye omkom nie, en temeer as verder in gedagte gehou word dat daar geen enkele hospitaal op diediekenste vind is nie!
Toe, leer nou kinders wat so sonder tug opgroei en daarby nog gedurig honger ly. En tog verseker die goeie onderwyser(es) my dat die delwerskinders gou aan tug en gesag gewend word. ’n Paar meesters beweer selfs dat hulle liewer hierdie natuurkinders van meet af aan in hulle klas wil hê as hulle meer-bevoorregte boeties en sussies. Hoe dit ook al sy, ek het baie respek vir die onderwyser wat ’n suksesvan sy werk in die delwerskool maak en daar aanbly, en nie die eerste die beste geleentheid te baat neem om daarvandaan te vlug nie.
Dis opmerklik hoe gou die delwer die goeie meester van sy swakker kollega onderskei en dan vir laasgenoemde die lewe op die delwery onmoontlik maak.
„Waarom stuur julle hierdie nuwe onderwyser nie liewers terug normaalskool-toe nie?” vra ’n delwer eendag aan my.
„En wat is daar dan verkeerd met hom?”
„Kyk, Meneer, ’n meester wat heeldag sy keel hees skree voor ’n klas, kan nie alte veel beteken nie. As ek die hele liewe dag my kaffers moet rondskree, dan sou hulle later nie na my luister as ek ordentlik met hulle praat nie. En dis mos darem nie nodig om soos ’n mal mens te kere te gaan as jy iets aan ’n kind wil duidelik maak nie. Party seuns sê die meester is gek, terwyl ’n paar dogters dit weer so op hulle senuwees kry dat hulle weier om langer skool-toe te gaan. My kind, wat aanstaande jaar in sy klas moet kom, huil nou al as sy daaraan dink. Julle moet die vent wegvat, anders raak hy een van die dae goedopgedons. Ekweet van ’n hele paar delwers wat lus voel vir sy vel.”
Nou redeneer nou met so ’n man, temeer daar hy reg is. Wat skeel dit hom dat hy die wet sal oortree as hy vir Meesteropdons? Die natuurmens redeneer nie, hy tree handelend op, en dis wonderlik hoe fyn sy gevoel van reg en onreg ontwikkel is.
Soms egter kry Meester dit opdraand, omdat een of ander voorman op diediekens’n ander sienswyse oor aanvanklike leermetodes toegedaan is.
„Jy moet die kinders die A, B, C leer,” het ’n vader die onderwyseres een môre in die skool-lokaal voor al die kinders kom teregwys. „Wat vir ’n gemors is daardie klank-affêre? As ek vir my Kosie saans laat woorde spel, kan ek hom nie volg nie. My kind moet net soos sypapevoor hom geleer word!” En toe die onderwyseres haar hieraan nie steur nie, moes sy voor die skoolkommissie verskyn en wou hierdie opvoedkundige liggaam haar met alle geweld dwing om Gert Janse se metodiek te volg en in die toekoms toe te pas. Die kwessie is selfs na die Skoolraad verwys en, moenie lagnie, ’n deputasie moes uitgestuur word om die skoolkommissie tot ander insigte te beweeg.
Dieselfde onderwyseres het later deur haar ywer en toewyding so die harte van die delwers gesteel, dat hulle stilletjies ’n paar lede van die Skoolkommissie na die Onderwys-departement afgevaardig het om beleefd te vra dat haar salaris met £100 per jaar sou verhoog word, mits sy op Syferlaagte aanbly en nie binne tien jaar sou trou nie. En toe die Departement aan hierdie vriendelike versoek geen gehoor gee nie, het die Kommissie my „kaalkop die waarheid vertel en verseker dat beide ek en die Departement net ’nblooming wash-outwas en deur generaal Kemp moes uitgeskop word!” „En doen ou Kempie dit nie, dan sal ons so wragtiewaar nie weer vir hom stem nie!”
Die skoolgebou op Syferlaagte was skaars geskik vir ’n koeistal; ja ek twyfel of ’n ryk boer sou bereid gewees het om sy volbloed vee daarin te huisves, en in so ’n lokaal moes ondervoedeen onderklede kinders aldag vyf uur deurbring. Oorspronklik was die gebou bedoel gewees vir ’n koeliewinkel, waar so min lig en lug as moontlik vereis word, want dit is nie in die belang van die verkoper dat sy kliënt alte goed die ware wat hy koop, moet kan besigtig nie. Die hele gebou het twee klein venstertjies en ’n deur gehad. Die sinkmure was van binne nie met hout uitgevoer nie; daar was geen plafon nie, en die vloer was van grond.
In die hartjie van die somer het die sink so warm geword dat ’n mens dit nie met jou kaal hand kon aanraak nie; voeg nou daarby nog die asempies van 62 leerlinge wat almal in die een lokaal ingeprop is, en dan sal jy ’n flou denkbeeld kry van hoe die lug so teen twaalfuur in die skoolgebou moet wees.
Buite kry ’n mens net die uitgegrawe kleims en die hope dooie grond en gruis. ’n Boom is ’n onbekende iets. Maar stof, as die wind waai, hang soos ’n bruin sluier oor die delwerye en verpes die atmosfeer in die skool nog meer. En, leser, hierdie beskrywing is nie uit die duim gesuie nie; dis getrou aan die waarheid.
Onder sulke omstandighede moet die onderwyseresonderrig gee en moet die kinders opgevoed word!
En die outoriteite is nie altoos te blameer nie, want ’n delwery is iets wat dikwels in ’n dag se tyd ontstaan en soms binne ’n jaar se tyd verlate is. Inteendeel, dis prysenswaardig dat daar tog ’n poging aangewend word om onderwys te verskaf aan die honderde kindertjies wat anders vir kwaadgeld sou rondloop.
„Toe, begin maar,” sê ek aan die onderwyseres by die aanvang van die skool, „en gaan voort net soos gewoonlik.”
Sy open met gebed en laat toe sing: „Heer, waar dan heen” en wat daar op volg, wat my nogal as heeltemal treffend voorgekom het. Ja, ek weet nie van nog ’n gesang wat so toepaslik is vir die delwerye nie.
Daarna het sy die sondvloed met die leerlinge behandel; en al het sy dit nou nie juis altyd streng ortodoks gedoen nie, tog het sy meesterlik daarin geslaag om dit interessant voor te dra en die kinders se aandag te boei.
Na afloop van die les sê sy: „Nou, kinders, kan julle vrae stel oor enigiets wat julle nie duidelik is nie.”
„Juffrou,” en agter in die klas gaan ’n vuil handjie omhoog, „het Noag vlieë en vlooie ook in die ark geneem?”—Hierdie insektetjies is vreeslik lastig op diediekens.
„Ek dink seker, Kosie,” antwoord die onderwyseres.
„Maar hoor dis jammer dat die ding nie vergaan het nie,” weer van Kosie.
„Maar, Kosie, dan sou die mense en die diere ook mos saam verongeluk het, en dan sou geeneen van ons mos vandag hier gewees het nie,” herneem Juffrou.
„Ja, dis ook weer waar,” sê Kosie. Dog op sy gesiggie is ’n onverskillige uitdrukking duidelik leesbaar, en dis nie moeilik om te ontsyfer wat in sy breintjie omgaan nie: As die mens moes gespaar gebly het om sy lewe op die delwerye te slyt, dan was die redding van Noag en sy kroos ’n groot fout.
„Juffrou,” en vlak voor haar word ’n handjie omhoog gehou van ’n meisietjie met groot blou kykers en ’n maer gesiggie wat van ondervoeding getuig, „Juffrou, glo Juffrou alles wat in die Bybel staan?”
„Hoekom vra jy dit, Miemie?” sê die onderwyseres sonder om haarself te kompromiteer.
„Omdat my pa sê dis somar alles kaf, maar Mammie sê weer dis alles die heilige waarheid. En al glo ek vir my mammie, want sy is so goed, tog wil ek graag weet wat Juffrou dink.”
„Ek stem saam met jou mammie,” bevestig Juffrou.
Hier val ek in: „Waar is jou ouer sustertjie, Miemie?”
„Sy is siek, Meneer, baie siek. Sy laat groete weet en sal tog so bly wees as Meneer net vir haar ’n oomblikkie wil kom besoek voordat Meneer wegry. Sy het so vorentoe gekyk na die inspeksie, maar nou...” en hier swem klein Miemie se oë in die trane.
„Nou goed. Sê vir Annie ek kom haar vanmiddag besoek en sy moet gou gesond word.”
Dis snaaks dat ek vir Annie Losper so goed onthou het. Ek kon sedert my vorige besoek nooit haar gesiggie uit my geheue verban nie. Uit ’n allerarmoedigste huisgesin, het tog haar oë en die soet uitdrukking van die gesiggie somar dadelik ’n mens getref. In haar klas was sy maklik nommer een in elke opsig, en dieonderwyseres, iemand van lang ervaring, het my verseker dat sy nog nooit van te vore so ’n kind in haar klas gehad het nie. Haar opmerking verlede jaar was dan ook snaaks genoeg: „Ek glo nie sy is vir hierdie wêreld nie!”
Eindelik was die inspeksie afgeloop en kon die skool vir die dag sluit. Die werk was baie bevredigend, en die juffrou en die kinders het ’n pluimpie gekry.
Nou wag daar nog ’n paar lede van die Skoolkommissie; maar ook hulle moeilikhede is ten laaste opgelos, en nou was ek net haastig om weg te kom.
Onder al die werksaamhede van die dag het ek Annie glad vergeet.
Die delwer het heelwat goeie hoedanighede, en as ’n mens geleer het om sy minder beskaafde karaktertrekke nie raak te sien nie, dan begin jy hom werklik liefkry.
Dit was al na drie toe ek kon vertrek, en ek het nog nie eers die tyd kon vind om te eet nie.Ek het my derhalwe gehaas om by die huis te kom. Voordat ek egter die delwery uit was, bars daar ’n vreeslike onweer los wat my verplig om in die eerste die beste huisie skuiling te soek. My gasheer was ’n man van sowat dertig somers en ongetroud. Aan alles in die hutjie kon ’n mens merk dat hy beter dae geken het. Sy opmerking by my binnekoms was dan ook vreemd genoeg: „Jy het seker gedink toe jy by my deur instap:
„Man wants but little here below,Nor wants that little long!”
„Man wants but little here below,Nor wants that little long!”
„Man wants but little here below,Nor wants that little long!”
„Man wants but little here below,
Nor wants that little long!”
„Jy het reg geraai,” antwoord ek, „maar wat soekjyhier op die delwery?”
„My naam is Fanie Renier en ek is ’n teruggekeerde soldaat wat vir reg en geregtigheid onskadelik gemaak is,” sê hy op ’n bitter toon, „en wat toe na die delwerye gestuur is met £20 om hier te kom vrek!... Maar het jy al geëet?”
„Nee, ou broer, maar moenie moeite maak nie; kos is seker by jou nie alte volop nie.”
Sonder om hom aan my te steur steek hy ’n Primus-stofie op, bak gou ’n paar eiers, braai ’n stukkie vleis en sit vir my dit voor met ’n stukkiedroë brood en koffie.... Ek het later uitgevind dat hy my sy laaste leeftog voorgesit het en dat hy die volgende dag sonder kos moes bly. Vandaar dan ook die gesegde in Transvaal: „By ’n trekker en ’n delwer is ’n mens altyd welkom.”
Die weer het eindelik opgeklaar, en na ’n hartlike dankie aan my nuwe kennis wou ek op die moter klim.
„Kyk hier,” sê hy, terwyl hy my aan die arm vat, „kan julle dan niks doen vir die mense wat hier langs my woon nie? Die toestand van hierdie famielie is allerellendigs. Die vader suip soos ’n vis, die moeder is in die bed met ’n babetjie, die oudste dogtertjie lê siek, en die ander kinders word totaal verwaarloos. Ek glo nie daar is ’n stukkie kos in daardie huisie te kry nie. So ver ek kon het ek gehelp, maar op die oomblik is ek self poot-uit. Kan jy nie nog ’n oomblikkie spaar om saam met my te gaan kyk nie?”
Om die waarheid te sê, het ek maar min lus daarvoor gevoel, maar meer om my gasheer tevrede te stel as om enige ander rede het ek ingewillig.
Die famielie het maar ’n paar tree van Fanie se huisie gewoon, en ons was dus gou by ons bestemming. Nou het ek al gewoon geword om enige pondokkie op ’n delwery as geskik vir menslike verblyf te beskou, maar so ’n krot as waar ons nou voor staan, het ek nog nooit gesien nie. Hoe enige persoon in so iets kan lewe, is vir my nou nog ’n raaisel! Die hutjie het bestaan uit ’n klompie oopgevlekte parafienblikke wat op een of ander manier aan mekaar getimmer was, met seilsakke hier en daar tussenin om as vensters te dien.
Ons kruip hande-viervoet in, en ons oë moes eers gewoon word aan die half-duister voor ons iets binne kon onderskei.
„Ruk daardie sak solank af asseblief,” sê ek aan Fanie, „sodat ’n mens kan sien en asem kan skep.”
Hy doen dit op my versoek, en toe ontvou hom daar ’n toneel aan ons oë, so hartverskeurend soos ek nog nooit van te vore gesien het nie of hoop om ooit weer getuie van te wees nie.
In die een hoek op ’n klomp sakke wat oor droë gras gesprei is, lê die moeder met haar babetjie, en onder by die voetenent op ’n paarsakke die siek dogtertjie, wat niemand anders as Annie Losper was nie. My nuwe kennis en ek kon ons met moeite omdraai in die kamertjie.
„Die dokter was vanmôre hier,” fluister Renier in my oor, „en hy sê daar is nie hoop vir Annie nie. Haar liggaampie is deur gedurige ondervoeding te uitgeput om die siekte af te skud.”
Dis my later meegedeel dat Renier ses maande na hierdie voorval nog altyd doktersrekening afbetaal het.
„Dag, Annie,” groet ek so opgewek as ek kon onder die treurige omstandighede, „en hoe gaan dit met jou, my kind?”
„Nie alte sleg nie, Meneer, maar ek was tog so spyt dat ek nie vandag op skool kon wees nie,” antwoord sy met ’n flou glimlaggie, en haar stemmetjie was so swak dat ek haar amper nie kon verstaan nie.
„Ag, moenie vir jou kwel nie, my kind; jy sal tog in ieder geval oorgeplaas word na ’n hoër standerd. Hou maar vir jou stil sodat jy gou kan gesond word. Aanstaande jaar hoop ek seker om jou weer eerste in jou klas te sien staan.”
’n Hemelse glimlaggie speel om die bleek ou mondjie. Sy skud haar koppie en noulikshoorbaar fluister sy: „Aanstaande jaar sal ek nie meer op skool wees nie.”
„Ag nee wat, Annie, jy is nog glad te jonk om uit die skool te gaan,” en ek maak asof ek haar nie reg begryp het nie, „en die onderwyseres sal dit mos nooit toelaat nie. Maar moenie meer praat nie; dit maak jou alte moeg. Probeer liewer om ’n bietjie te rus.”
Ek moes nou my oor vlak teen haar mondjie hou om te hoor wat sy sê. Gelukkig het Renier die moeder besig gehou en sy het dus nie gemerk wat hier by haar plaasvind nie.
„Meneer,” en sy kyk my stip in die oë, „sal Meneer nie asseblief vir my saggies Psalm 23 opsê nie? Ek het dit laas nog by die inspeksie vir Meneer opgesê.”
Dis die eerste keer wat ek die rol van sieke-trooster en predikant moes vervul, maar ek het dit gedoen so goed as ek kon. Ek het haar uitgeteerde handjies in myne geneem en toe daardie mooi Psalm so goed as ek kon opgesê. Toe ek klaar was, kon ek nog ’n floudankiehoor en daarna die woorde: „Al gaan ek ook in die dal van die skaduwee van die dood, dan sou ek nie kwaad vrees nie.” Toe breek diemooi blou ogies, die handjies word koud, en Annie Losper was in ’n beter wêreld oorgeplant.
Die handjies het ek eerbiedig op die borsie gekruis, ’n sagte soentjie op die voorkoppie gedruk, en toe letterlik die pondokkie uitgevlug. My gemoed was te vol; ek kon die droefheid en hartseer ook nie aansien nie.
Uit die tent kom die angsgeskrei van ’n gebroke moederhart: „O, my God! My kind! My kind!”
Buite het ek vir Renier gewag. Aan sy gesig kon ek sien dat ook hy ontroerd was. Daar is geen woord tussen ons gewissel nie, net ’n warm handdruk wedersyds, en toe het ek op die moter geklim en huis-toe gery.