HENDRIK BLITS.
Wat Hendrik Blits se regte naam was, kon niemand van die delwers my vertel nie. Hierdie bynaam het hy verwerf, eerstens omdat hy hom gereeld elke naweek dronk gedrink het aan kafferblits, en twedens omdat sy taal dan by sulke geleenthede so sterk gekleur was.
My kennismaking met Hendrik was nogal baie buitengewoon. Op ’n koue môre in Julie het ek my op Diamantkuil bevind, waar ek in gesprek was met die hoof van die Goewerment-skool, toe hy die opmerking maak: „Allewêreld, hoe mishandel so ’n Groot Lawaai weer vanoggend die stomme donkies!”
Groot Lawaai was die naam van ’n groot, vierkantige lummel van ’n vent. Hy was ’n baster en ’n boelie so groot as wat daar te vinde is. Om sy grootte en krag het die delwers hom met respek behandel en verder maar so veel moontlik uit sy pad gebly. Ek kyk in dierigting waar die hoof wys, en daar sien ek ’n waterwa met veertien donkies bespan, krakend en waggelend die spruit se wal uitkom. Dit was duidelik dat die donkies so skaars-skaars die wa kon uitbring. En g’n wonder nie! Gras was daar op die hele delwery nie genoeg vir ’n paar honderd sprinkane nie, laat staan ’n paar honderd diere. En op hierdie veld moet die arme donkies nou snags hulle pense volvreet, na ’n dag van swaar trek en mishandeling.
’n Diamantkoper wat ook vroeër gedelf het, het eendag die onderstaande opmerking in my teenwoordigheid gemaak: „Twee dinge dank ek die liewe Vader dat ek nie is nie: ’n delwer se donkie en ’n delwer se vrou!” Sedert dié tyd het ek eersgenoemde bewering ongelukkig al oor en oor gestaaf gesien.
Wel, die veertien donkies van Groot Lawaai was g’n uitsondering nie; die arme diere was letterlik net vel en been. Om hulle aan die gang te hou, loop hy op en af langs die span, en terwyl hy die gruwelikste vloekwoorde uitstoot, gésel hy die donkies meedogenloos met ’n groot handsambok. ’n Mens kon diedoef,doef, van die houe seker ’n myl ver hoor.
„Maar is hier dan niemand op Diamantkuil om ’n stop aan sulke wreedheid te sit nie?” vra ek, en ek voel hoe die bloed na my kop toe bruis.
„Nee,” sê die hoof, „almal is bang vir Groot Lawaai, want hy is ’n vreeslike woestaard.”
Al nader en nader kom die wa, en al harder en harder klink diedoef,doefvan die sambok.
Ek het my al klaar voorgeneem om met die vent te gaan praat en, as dit nie help nie, die poliesie van die mishandeling van die esels te gaan verwittig, toe daar skielik uit ’n onverwagte oord ’n ander vir die donkies in die bres spring.
„O magtig!” roep die hoof verbaasd uit, „wat gaan Hendrik Blits nou maak? Groot Lawaai sal hom vermorsel. Laat ons nader stap om, indien moontlik, die rusie te voorkom.”
Ek het nooit die persoon opgemerk wat g’n vyftig tree van ons af onder ’n doringboom gelê en slaap het nie, voordat die opmerking van die onderwyser nie my aandag by hom bepaal het nie. Ewe op sy gemak staan Hendrik Blits op, rek hom uit, gooi sy flenterbaadjie van hom af en stap reguit na Groot Lawaai toe.
„Kyk hier, jou gemene boelie, as jy nog ’n slag jou arm oplig om die donkies te slaan, dan dons ek vir jou op. Het jy my begryp, jou vervloekte baster?”
Die Groot Lawaai se gesig was die moeite werd om te sien. Dis amper ongelooflik dat ’n mens se gelaatstrekke so kan verander. Die duiwel, soos hy my in my kinderjare op sy lelikste afgeskilder is, sou vir hierdie bakkies geskrik het.
„Jou verd...de kind!” brul Groot Lawaai woedend, „sal jy vir my kom belet om my eie diere vrek te slaan as ek wil? Jakob! Jou d..der!” en met hierdie vloek slaan hy die hotagter donkie oor die kop netso hard as hy kan. Toe draai hy na Hendrik Blits en sê smalend: „En nou gaan ek van jou frikkadel maak, jou vieslike dronklap.”
’n Mens sou nooit sulke ratheid by Hendrik gesoek het nie, maar voor jymeskon sê, ruk hy die handsambok uit die baster se hand uit en gebied: „Trek uit jou baadjie; ek wil jou op gelyke voet ontmoet, sodat jy nie naderhand behoef te vertel dat ek jou onder ’n hendikep ’n pak slae gegee het nie. Toe, maak gou as jynie te lafhartig is nie!” En Hendrik gooi die sambok neer en plaas sy voet daarop.
Groot Lawaai het hom nie tweemaal laat nooi nie. Hy pluk sy baadjie uit en onder ’n stroom van die profaanste vloeke loop hy vir Hendrik storm. Van natuur is ek nie iemand wat behae skep in rusie en bakleiery nie, maar hierdie môre het ek diemieks-op—soos die delwers sal sê—eerlik geniet, en my hele siel was aan Hendrik se kant.
’n Man wat baie woedend is, kan nie goed boks nie. Groot Lawaai was seker tweemaal so sterk as Hendrik Blits, maar waar laasgenoemde kortgeskiet het in krag, het sy ratheid en kennis van boks hierdie tekortkoming meer as vergoed.
Hy duik onder Groot Lawaai se arm deur, en voordat die baster sy ewewig kan herwin, kry hy ’n opstopper op sy kinnebak wat hom soos ’n besopene laat waggel. Arrie! maar dit het die boelie darem nie verwag nie. Hierdie veragtelike skepsel wat hy tot stof sou vermorsel, het hom so wrintig-waar amper onderstebo geslaan. Hy sal nou sy taktiek verander en versigtiger te werk gaan. Soos ’n mierkat om ’n slang begin Groot Lawaai al om Hendrik Blits te dans, totdathy skielik buk en die handsambok gryp en voordat Hendrik kan keer, hom ’n hou oer sy gesig gee dat die bloed so tussen vel en vleis wys.
„Eina! maar dis gemeen!” skree die onderwyser, en hy tel ’n klip op wat goed ’n paar pond weeg. „Ek voel by my kool lus om die vloek se kop hiermee te verbrysel!” en hy hef die steen dreigend omhoog.
„Wag maar,” sê ek, „Hendrik is mans genoeg vir hom; dis nie die eerste keer wat hy boks nie. Ek wonder waar hy die kuns aangeleer het?”
Die geveg word hoe langer hoe doller. Groot Lawaai het tot die ontdekking gekom dat die enigste kans om te wen in die hanteer van die sambok lê, en bokspring nou al vinniger om Hendrik. Eindelik sien laasgenoemde die psigologiese moment. Soos ’n wildekat vlieg hy vorentoe onder die sambok deur, wat sy kop strykelings raak, gee sy teenstander ’n geweldige slag met die linkervuis op sy wind, en toe hy inmekaar sak, gee hy hom diecoup de grâceso netjies dat Dempsey hom die hou sou beny het.
Ongeërg tel hy die sambok op en wag tot Groot Lawaai bykom.
„Kyk hier, jou gemene baster, nou gaan jy eers die pak slae kry wat jy al lank verdien het. Ek wil hê jy moet ’n slaggie voel hoedat jou eie sambok slaan. Miskien sal jy dit dan in die vervolg ’n bietjie minder op die donkies gebruik.” En met hierdie woorde steek Hendrik los. Die eerste en die twede hou het Groot Lawaai nog verdra, maar toe spring hy weg en loop netso hard as hy kan al om die wa en die donkies, en kort op sy hakke is Hendrik, wat al die tyd onbarmhartig daar op los slaan.
Eindelik kan die boelie nie meer hardloop nie. „Asseblief, Meneer,” soebat hy, „sowaar, Meneer, ek sal die donkies nooit weer mishandel nie! Moenie meer vir my slaan nie! Ag, asseblief tog, my baas!”
„Dè, vat jou sambok,” sê Hendrik, en in elke woord was veragting te lees, „maar die Here help vir jou as jy weer die donkies mishandel.” En sonder ’n verder woord stap hy na die boom toe, trek sy baadjie aan, stryk sy hand oor die striem op sy gesig en strek hom so lank as hy is op sy rug onder die doringboom uit.
„Daardie kêrel se hand wil ek vat, al is hy ook’n dronklap,” voeg ek die hoof toe. „Daar steek meer in hom as in ons twee saam!”
En so het ek kennis gemaak met Hendrik Blits.
In ds. Evertse se studeerkamer op Smartendal hang daar ’n geillumineerde teks aan die muur: „Gered om te dien.” Veral in die laaste maande het daardie woorde die dominee nooit met rus gelaat nie. Nou moet die leser nie hiervan wil aflei dat ds. Evertse sy pligte as predikant verwaarloos het nie. Dit is nie die geval nie. Sy eie gemeentelede word getrou bearbei, maar dit neem al sy tyd en kragte in beslag. Sy hart bloei vir die delwers, en hoe langer hoe meer word dit vir hom duidelik dat sy plig hom Diamantkuil-toe roep. As ds. Evertse oortuig is dat sy paadjie in ’n seker rigting loop, dan laat hy hom van niks keer nie. Hy bring die kwessie voor sy Kerkraad, bepleit die noodsaaklikheid vir die geestelike bearbeiding van diedelwers hartstogtelik en wen sy saak. ’nLocum tenensword benoem, en die dominee kry verlof om vir vier maande sy tyd en kragte uitsluitend aan die delwers te wy. ’n Week later was ds. Evertse op Diamantkuil in ’n tentjie tussen die uitgewekenes, bereid om te dien.
Sy koms daar is met gemengde gewaarwordinge deur die delwersbevolking begroet. ’n Klein klompie was waaragtig bly, ’n groot klomp was heeltemal onverskillig, en ’n hele paar was openlik boos.
Die delwersgemeenskap is uit die aard van die saak kosmopolieties. ’n Mens tref daar aan: Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere, Engelse en Duitsers en wat dies meer sy, maar verreweg die meeste bestaan uit Afrikaners van alle rang en stand. Daar is diegenes wat altyd arm was en arm sal doodgaan, en daar is ander wat eers ryk bedeeld was met aardse goedere en deur hulle eie toedoen of deur teenspoed alles verloor het.
Die dominee het egter nie gras onder sy voete laat groei nie, en die delwers, wat baie fyn is om iemand gou na waarde te leer skat, het hom spoedig liefgekry. Hy was regtig soos een vanhulle; nie uit die hoogte het hy hulle genader nie, maar as iemand wat gered is om te dien. Niemand word oorgeslaan nie, tot in die vuilste pondokkie kruip hy in, nie om te preek en te bestraf nie, maar om ’n woordjie van bemoediging en ’n boodskap van hoop te bring.
In die aand word ’n kort diens gehou. ’n Lantern word aan ’n paal gebind en omhoog gehou as teken dat die dominee op daardie plek sou preek. Die eerste week het nog geen dosyn delwers opgedaag nie, dog die gehoor het altyd meer en meer aangegroei. Die woord het van mond tot mond gegaan dat ds. Evertse dit wel met die delwers meen.
Treffend was dit om saans die delwers te sien opkom. Diegenes wat ’n lantern besit, bring dit saam. Die diens word onder die blote hemel gehou. Bo die dominee se hoof hang die lantern aan die paal, en verder word lig verskaf deur die lanterns wat die delwers saamgebring het.
Die Woord word in alle eenvoud dog met diepe erns gebring, en indrukwekkend was dit om die gesigte van die toehoorders gade te slaan. Slegs enkeles spot openlik, die grootste grosluister aandagtig en eerbiedig. En as die dominee Ges. 7 vs. 2: „Sy troue Vaderoë sien alles van naby” opgee, dan sing die gehoor dit so hartlik soos ’n mens dit selde in enige kerk hoor, en as die laaste tone wegsterf oor die slapende vlaktes, dan voel die delwer dat daar darem nog Een is wat vir hom sorg. Ook dié onder hulle wat Hom in hulle ellende gevloek het, verlang terug na die dae toe hulle as kind aan die knie van ’n vrome moeder hulle gebedjie geprewel het, en begin hulself af te vra of hulle nie liewers moet terugkeer tot die ou weë nie.
Saterdags het die dominee dit altyd baie moeilik gehad. Op daardie dag kom die drank-lorrie die delwery ’n besoek bring, en dan moet meer as een huigesin die volgende Sondag sonder kos gaan, omdat die vader sy laaste paar sielings aan ’n bottel brandewyn bestee het. En as dit maar al was! Maar die gruwelike dronktonele wat daar dan soms afgespeel word, is te vreeslik om te boek te stel.
Aan hierdie hemeltergende euwel behoort onmiddellik deur wetgewing ’n end gemaak te word. Moet die vrou en kinders dan vir ewig ly omdat die man ’n bees van hom wil maak, en waarommoet die brood uit die mond van die onskuldiges gehou word om gewetenlose drankhandelaars te verryk?
Dit was die Maandagaand na so ’n naweek dat die dominee my versoek het om op die delwery oor te bly en sy diens by te woon. „Gister en eergister was dit weer baie kwaai,” sê hy, en hy skud sy hoof: „die arme Hendrik Blits was weer buite kennis van Saterdagmiddag af tot van oggend toe. Ag! as ek Hendrik tog net so ver kon kry om die drank te laat staan, hoe sou ek die goeie God dank. Hy word beskou as een van die rofste karakters op Diamantkuil, en tog het ek al baie dingetjies opgemerk wat my oortuig dat daar meer in hom steek as wat die meeste delwers dink.”
Wis ek dit nie? Daardie koue oggend se voorval met die baster was my nog helder voor die gees.
Die dominee het daardie aand die gelykenis van die Verlore Seun vir sy gehoor uit die Afrikaanse bewerking van die Nuwe Testament voorgelees. Ek het al dikwels in die kerk en in die Sondagskool opgelet hoedat hierdie verhaalgrootmense sowel as kinders aangryp, maar nog nooit het ek ’n aandagtiger gehoor as toe gesien nie. Die delwers: man, vrou en kind, het letterlik aan die prediker se mond gehang en elke woord ingedrink.
„Geliefdes,” roep die prediker aan die end van sy rede, en sy stem is pleitend, net soos ’n liefhebbende moeder met haar stout seuntjie sou praat, „geliefdes, net soos die Vader se oog al van ver sy afgedwaalde seun sien aankom het en hy met ’n hart brandende van liefde hom tegemoet gesnel en gekus het, netso wag julle hemelse Vader vir elkeen van julle. Maar dan moet dit nie enkel by goeie voornemens bly nie. Nee, julle moet opstaan en soos die verlore seun na Hom teruggaan. Waarom sal julle langer as huurlinge swynedraf eet, wanneer julle as seuns en erfgename by julle Vader kan aansit?” Toe word as slotsang gesing: „Komt gij allen, komt tot Hem, zondaars, komt, wat zou u hindren,” die seën word uitgespreek en die diens was afgeloop. Een vir een gaan die delwers huis-toe. Net een bly agter. Hy het so ’n bietjie opsy in die skaduwee gestaan, asof hy bang was dat iemand hom sou raaksien. Soos Nikodemushet hy in die nag gekom, omdat hy bevrees was om gesien te word. Nou tree hy vorentoe en kon ek die verbasing op die dominee se aangesig lees. „Wel, Hendrik man, ek is waarlik bly om jou ook vanaand hier te sien!”
„Maar ek was nog elke aand teenwoordig, Dominee, hoewel ek nie juis my bakkies in die lig wou wys nie,” sê die aangesprokene, wat niemand anders as Hendrik Blits was nie. „Dominee, mag ek met jou saamstap na jou tent toe? Of is jy ook bang vir hierdie paaiboelie?” gaan hy verder.
Ek wou my verwyder, maar op versoek van die dominee en Hendrik het ek saamgestap.
„Kyk, Dominee,” sê hy toe ons in die tentjie van die predikant sit, „daardie preek van jou het my vanaand laat besluit dat ek ook wil teruggaan na my aardse vader. Ek wil graag met die Hemelse ook vrede maak, maar kan tog nie voordat ek nie eers met my natuurlike vader versoen is nie. Ek is moeg vir varkkos. Sal jy vir my help?”
„Alte seker,” sê die dominee op so ’n opgewekte en bemoedigende toon, dat ek by myself dink die saak is alreeds halfgewen.
„Maar, Dominee, ek is ’n duiwel as ek drank ruik, en het u al vergeet hoedat ek u nou die dag nog beledig het?” gaan Hendrik voort.
„Vergeet?” herhaal die dominee sag, „nee, maarvergewewel. Ek wis dat dit die drank was wat gepraat het en nie Hendrik nie.”
In Hendrik se oog blink warempel ’n traan. Dit was lank laas dat iemand so vriendelik met hom gepraat het.
„En kyk hier Hendrik man,” herneem die dominee, „jy kom van vanaand af hier by my in die tent woon. Ek neem g’n weiering aan nie. Jy het na my toe gekom om hulp, en met Gods genade gaan ek jou help. Maar vertel my eers hoedat jy hier op die delwerye te lande gekom het.”
Dis ’n lang storie, Dominee, en vir my nie eintlik plesierig om te vertel nie, maar ek sal dit so kort en saaklik doen as ek kan. My ouers lewe nog, woon in die Westlike Provinsie en is ryk. Ek is die enigste seun, maar daaris nog twee dogters ook in die lewe. My eerste onderrig het ek in Pêrel ontvang, en vandaar is ek na die Kaapse Uniwersiteit toe, waar ek my graad in die wetenskappe behaal het. My vader wou hê ek moes kom boer en die plaas bestier, maar met my het dit gegaan soos met baie ander boerseuns. As ons klaar geleer het, dan kan ons dit eenvoudig op ’n plaas nie uithou nie. Jy is ’n dominee en hierdie vriend ’n onderwysman, maar kan julle dan niks daaraan doen om ons onderwysstelsel so te herskep dat dit meeruit die volkenvir die volkis nie? Kyk wat dit van my gemaak het. En al wil ek myself en my toestand nie hierdeur verskoon nie, tog beweer ek dat ’n kind vandag so opgevoed word dat hy aan die plaaslewe hoog die land het as hy klaar is. ’n Mens sou sweer dat elke seun ’n klerk of onderwyser of dokter of so iets gaan word en elke meisie ’n onderwyseres of tikster. Nee, ons stelsel mag vir die buiteland deug, maar vir Suid-Afrika is dit hopeloos verkeerd.
Ek wou vir dokter in die medisyne gaan studeer, en hoewel teen sy sin, het my vader eindelik ingewillig. ’n Maand daarna was alles in orde en het ek na Londen vertrek om mystudies voort te sit. Die eerste jaar het dit goed gegaan en die twede ook, maar toe het ek in slegte geselskap verval. Ek het naamlik die vriendskap verwerf van ’n Amerikaanse student wie se vader ’n miljoenêr was en wat derhalwe nooit gebrek aan geld gehad het nie. Tot dusver het ek altyd maklik uitgekom met die toelae wat my vader my maandeliks gestuur het; ek het selfs geld oorgehou, want my vader het my rojaal behandel. Maar nou het ’n maand se geld my skaars ’n week geduur. Ek het deur my vriend inHigh Societygekom, en die gevolg was dat ek skuld begin maak het. As ek hierby nog vermeld dat ek ’n eersteklas voetbalspeler en die beste bokser op die Uniwersiteit was, dan sal u wel kan verstaan dat ek dikwels uitgevra is, aan baie bankette en danse deelgeneem, en later ’n smaak vir sterk drank aangekweek het.
Maar so kon dit nie voortduur nie; my skuldeisers het my begin te dreig, en my vader moes opdok. Hy het betaal, maar my onmiddellik gebied om huis-toe te kom.
’n Maand later was ek in Tafelbaai. Aan boord skip het ek vir oulaas nog die groot meneergespeel, en toe ek by die Kaap kom, was my lyf lekker. Ek het nooit my ouers by die doks verwag nie, anders sou ek my miskien nog ’n bietjie bedwing het, maar berou kom altyd te laat. Op pad huis-toe het my moeder elke slag ’n traan uit haar oë gevee, en my vader was woedend.
„Toe, gaan slaap eers jou roes af,” sê hy by ons tuiskoms, „en dan sal ons môre mekaar onder vier oë spreek. Jy behoort jou te skaam om jou moeder en my soveel verdriet aan te doen.”
Die volgende môre het my vader my in sy kantoortjie geroep en vreeslik geroskam. Ek het dit alles verdien, Dominee, maar as my vader net ’n bietjie meer simpatiek was ...
„As ’n gewone dagloner sal jy nou moet werk, en as jy binne die eerste twee jaar goedmaak, sal ek jou weer as my seun behandel. Maar die eerste die beste keer wat jy ’n mistrap doen, jaag ek jou soos ’n kaffer van my plaas af weg!”
Maar my moeder en my susters het my alles vergewe, en om hulle nooit weer leed aan te doen nie, het ek my ernstig voorgeneem om ’n nuwe blaadjie om te slaan.
Dit het egter geblyk dat die duiwel nie so gemaklik van die syne afstand doen nie. ’n Gereelde kuiergas van my suster was ’n vent wat ek somar van die eerste dag af aan nie kon veel nie. By my vader was hy egter baie gewild, hoewel my moeder en my oudste suster hom nie juis uit liefde om die nek geval het nie. Wat my nog meer vererg het, was die feit dat hy my kompleet nes ’n bediende in die huis behandel het. Ons maat het hom verbeel dat hy verbasend musikaal was, en hy het selfs musieklesse gegee, maar my opienie was dat die Muse haar hoof uit skaamte laat hang het sodra hy sy mond oopmaak om te sing.
Wel, een aand toe almal al moeg was van sy geskree en daar ’n oomblikkie stilte gekom het, vra ek verlof om dieAve Mariavan Schubert op die gramafoon te speel. Dit was ’n plaat van Heifitz—op die oomblik, soos u wellig weet, een van die grootste vioolspelers in die wêreld. Ek het hom self in Londen gehoor, Dominee, en hy is in een woord wonderlik.
Toe die plaat afgeloop was, sê ons musikale vriend: „Ons het nou genoeg van sulkerubbishgehad, laat ons nou weer musiek maak!” metdie nadruk op musiek. Ek moes nou òf praat òf ontplof. „Jou verwaande esel,” bars ek los, „as jy ook maar ’n greintjie verstand had, dan...”
„Hendrik,” val my vader my in die rede, „gedra vir jou of verlaat die kamer.”
Dominee, ek het die kamer verlaat en so ampertjies die plaas ook. Maar my moeder, wat my na my kamer gevolg het, het so mooi gepraat dat ek om haar ontwil aangebly het. Van dié tyd af het ek die kuiergas vermy.
Vir ’n paar maande het dit goed gegaan en het ek die voorvalletjie al amper vergeet, toe daar een aand ’n konsert op X was, waar die vryer ook sou sing. Die hele famielie sou dorp-toe gaan vir die konsert, en ek moes die moter drywe.
Soos die toeval dit wou hê, moes ek juis daardie aand ’n ou kennis uit Londen ontmoet wat met die pouse by my aandring om saam met hom iets te gaan drink. Hoe ek ook al teëpraat, hy wou g’n weiering aanneem nie, en onder die verstandhouding dat ek net iets ligs sou gebruik, gaan ek uiteindelik saam.
Diebarwas vol konsertgangers, waaronder ook ons musikale vriend. Hy het my binnekoms nie opgemerk nie. Om hom staan ’nklompie van sy drinkbroers, en elke keer skree hulle dit uit van die lag.
„Ou Hendrik,” sê hy tot vermaak van sy maats, „doen sy uiterste om daardie dogter van hom aan my af te smeer, en sy ouvrou is eintlik lastig. Sy seun, soos julle weet, is somar ’n sujet en ’n niksnuts, en sy dogters van dié soort wat om enige jongkêrel se nek sal val.”
„Wat sê jy daar?” vra ek terwyl ek vorentoe stap.
„Dè, jou plaashotnot!” skree hy en hy gooi sy glasie whiskey in my gesig, terwyl sy maats dit uitgil van hilariteit.
Dis seker onnodig vir my om te vertel dat hy na die pouse nie verder kon deelneem aan die konsert nie, of dat hy die volgende dag nog nie sy oë kon oopmaak nie.
Soos ’n vuurtjie in die lang gras het die nuus versprei dat ek ons kuiergas ’n pak slae in die bar toegedien het, en ek het rede om te glo dat die meeste inwoners van X baie bly daaroor was. Maar my vader was ’n ander sienswyse toegedaan. Hy wou eenvoudig na g’n uitleg luister nie en wou g’n rede verstaan nie.
„Jy stink weer na die vervloekte drank,” snouhy my toe. „Maak dat jy vir ewig uit my gesig wegkom. ’n Dronklap van ’n seun wat soos ’n straatboef in kantiene baklei, wil ek nie erken nie. Trap!”
Ek het wel na drank geruik, maar dit was die vryerman se whiskey wat hy op my uitgesmyt het; self het ek niks gedrink nie. My moeder wou nog as middelaar tussenbei kom, maar ook sy word beveel om stil te bly. Toe verloor ek my kop en het my vader dinge toegevoeg wat onbetaamlik was vir ’n seun. Die volgende dag het ek van die plaas af vertrek en rondgeswerwe totdat ek hier aangeland het.
„Die drank moes my die verlede laat vergeet, en nou is ek sy slaaf. Kan jy my regtig help, Dominee?” en Hendrik se stem was diep ernstig.
„Ja, Hendrik, met die hulp van Bo sal ek jou help,” sê die dominee op so ’n toon dat die dieps-gesonkenste moed sou geskep het. „Maar eers moet ons jou onder die drankduiwel se mag uitkry, en daarom gaan jy van nou af aan as my broer by my in die tent bly.”
In stilte gee ek die dominee en Hendrik ’n handdruk en vertrek.
„Dis waar,” peins ek op die pad huis-toe, „party mense moet deur dieper waters gaan as ander.”
Die eerste somerreëns het geval, en die vaal vlaktes het al so ’n ligte groen skynsel begin te wys. Die delwer se waterrekening, wat nog al ’n aansienlike sommetjie elke maand bedra, sal nou weer aanmerklik minder wees, want elke uitgewerkte kleim het vol gereent.
Nou is dit juis die tyd van die jaar wat ’n mens nie te versigtig kan wees met betrekking tot jou drinkwater nie, want byna elke dammetjie staande water is besmet. Maar die delwer dink selde daaraan om sy water te kook; hy het nie die tyd en die geleentheid daarvoor nie, en brandhout is ’n baie skaars artiekel op diediekens.
Die distriksdokter het sy hoof bedenklik geskud. Hy was ’n dag of wat gelede ingeroep na drie siekes in een tent, en sy diagnose in ieder geval was gewees:maagkoors.
„As daar nie ’n groot verbetering aangebring word wat sanitasie en drinkwater betref nie, dan gaan julle ’n epidemie van maagkoors hier opdie delwerye hê,” het hy by daardie geleentheid met nadruk aan die delwerskomitee gesê.
Maar hoe op aarde gaan jy behoorlike gesondheidsmaatreëls neem in so ’n gemeenskap? En waar gaan jy skoon drinkwater kry vir vier- of vyfduisend mense?
Die delwerskomitee het wel sy bes gedoen, maar die epidemie het tog uitgebreek. Nou was dit werklik ’n naarheid op Diamantkuil. Hele huisgesinne lê plat aan die gevreesde siekte, en daar is g’n hospitaal waarin hulle kan verpleeg word nie. Die twee dokters van Smartendal het gedoen wat hulle kon, maar wat vermag twee geneeshere in so ’n geval?
Soos ’n dienende engel het ds. Evertse van tent tot tent en pondokkie tot pondokkie gegaan. Hier het hy enkel ’n gebed gedoen, daar het hy verpleeg, elders het hy bestraf, en weer op ’n ander plek het hy dooies die laaste eer bewys en help begrawe. Hy was onvermoeid en met bo-menslike krag het hy volgehou.
En Hendrik Blits?—Waar die dominee nie meer kon werk nie, het hy gaan help en sy kennis van medisyne het hom goed te stade gekom. G’n hut of krot was vir hom te vuil om te besoeknie; oral het hy ingekruip om sy dienste aan te bied. Toe die dominee hom waarsku om homself ’n bietjie meer in ag te neem, was sy enigste opmerking: „Ek het baie verlore kanse om in te haal!”
Onder die krankes was onder meer ook Groot Lawaai. Die dominee kon niemand kry om hom te gaan verpleeg nie. Die mense was bang vir hom, en party delwers het openlik gesê dat hul hoop hy souvrek.
„Hendrik,” sê ds. Evertse een aand, „ek kom nou net van Groot Lawaai af. Hy is allerellendigs en het niemand om hom te verpleeg nie. Ek het gewonder ofjymiskien sou wil gaan?” En hy kyk hom vas in sy oë. Hendrik laat sy hand oor die litteken op sy gesig gly, en vir ’n oomblik blits sy oë. Op die dominee se aangesig is verleentheid duidelik leesbaar. Hendrik merk dit op en met ’n glimlag sê hy: „Ek sal gaan, Dominee, ek sal gaan. Hy sal vir my ook beter luister as vir enig iemand anders.”
Die epidemie word nou so kwaai dat dit eindelik die aandag van die outoriteite trek. Verpleegsters word afgestuur na die delwerye, ’n paar dokters kom saam, en drie of vier grootmarkeetente word as tydelike hospitale ingerig. Nou gaan dit beter, en kon die dominee en Hendrik sowel as die ander helpers ’n bietjie asem skep. En dit was hoog tyd, want die dominee was klaar, en Hendrik self het die laaste paar dae al geweet dat hy die siekte onder lede het.
„Ai! Dominee,” sug hy toe Groot Lawaai buite gevaar was, „nou moet ons twee darem ’n bietjie gaan rus. Wat myself betref, ek voel of ek vir altyd kan gaan slaap!”
Die predikant skrik toe hy Hendrik se doods-bleek gelaat sien en die koorsgloed in sy oë. Hy gryp sy hand, voel sy pols, en daar was ’n moeder se besorgdheid in sy stem toe hy sê: „Kom, Hendrik, nou moet jy gaan rus.”
Die volgende dag was Hendrik deurmekaar.
„Hy het te lank gewag voordat hy bed-toe gegaan het,” was die uitspraak van die dokter, „en sy gestel is so afgesloop dat ek die ergste vrees.”
In die hospitaal-tent het hulle vir Hendrik alles so gerieflik moontlik ingerig, en die verpleegsters het gedoen wat hulle kon vir hierdie pasjent. Aandoenlik was dit om te sien hoedatdelwers wat hom vroeër kwaadgesind was, nou met ontroerde gesigte elke môre en aand na sy toestand kom verneem, en die getrouste onder hulle was Groot Lawaai, die baster.
„As hy famieliebetrekkings het wat hom graag voor sy dood wil sien,” het die dokter aan die dominee gesê, „dan moet u hulle ontbied. Hy sal dit nie lank meer maak nie. Lewe sy ouers nog miskien?”
„Ja, Dokter.”
„Nou laat hulle seker kom. Hendrik vra al na sy vader vir die laaste week. Hy hou aan hy wil hom met sy vader versoen, en dis maar die beste om hom sy sin te gee,” sê die dokter.
’n Paar dae later staan sy ouers om sy bed. Hendrik is by sy positiewe, maar uiters swak. Hy ken hulle, en ’n tevrede glimlag speel om sy mond. Sy vader vat sy een uitgeteerde hand in syne, en sy moeder die ander een in hare. Op oom Hendrik se gesig staan vaderlike trots geskrywe, want die dominee het hom en sy vrou reeds kortliks van Hendrik se reformasie en sy selfopofferende liefde-arbeid vertel. Maar die moeder se oë is vol trane, en in haar hart dievolheid van liefde wat ’n moeder alleen beskore is.
„Ek het jou alles vergewe, my kind, en my hart brand van verlangste om jou as seun in my huis terug te verwelkom,” fluister die vader in sy oor. Hendrik knik nouliks sigbaar met sy hoof, en toe sy moeder hom saggies op sy voorhoof soen, rol daar ’n traan oor sy wange.
„Dis nou genoeg opwinding vir vandag,” en die dokter stap vorentoe. „Hy is nog nie dood nie, en so lank soos daar lewe is, is daar hoop op herstel.”
Ons sal nie die dae en nagte van hoop en teleurstelling, van angs en benoudheid beskrywe nie. Dit het lank geduur, en meer as eens het sy lewe aan ’n draadjie gehang, maar eindelik het die siekte ’n gunstige wending geneem en het Hendrik tog gesond geword.
„Uit die dood teruggekeer,” het die dokter verklaar, en hy was reg ook. Niemand behalwe die skrywer weet watter worsteling in die gebed die dominee in sy tent deurgemaak het nie.
Dis g’n oordrywing as ek sê dat daar uit vyfduisend harte op Diamantkuil ’n sug van dank na Bo geslaak is vir Hendrik se herstel nie. Entoe die dominee kort voor sy vertrek ’n dankdag bepaal, omdat die epidemie verby was, het elke man, vrou en kind wat daartoe in staat was, opgekom. Opmerklik was dit hoe baiekeer Hendrik se naam in die dankgebede voorgekom het.
Dominee Evertse is terug in sy pastorie op Smartendal, en Hendrik het saam met sy ouers huis-toe vertrek, dog nie om te gaan boer nie. Hy het teruggegaan Uniwersiteit-toe, het sy mediese studies voltooi en is vandag een van die knapste geneeshere in Suid-Afrika. Die armes en veral die delwersbevolking geniet sy besondere aandag, en die skrywer ag dit ’n besondere eer om onder sy vriende getel te word.