VOORWOORD.

VOORWOORD.

Die Delwerye! wat roep dit voor ons oog?

Armoede! Ellende! Ontaarding! Sedeloosheid!

Dis wat die meeste mense, met g’n bekendheid daarvan, dink.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe—en die mense stroom van al die dele van Suid-Afrika daarheen in die mening dat dié skatte hulle uit hulle armoede sal red en hulle ellende sal laat ophou, dog teleurstelling wag die meeste, en teleurstelling bring bitterheid van gevoel teen die samelewing, teen die Kerk en soms teen God.

Die Delwerye! daar lê skatte begrawe,—skatte van menselewens, van mensekrag, van mensemateriaal. Skatte vir die Staat, vir die Kerk, vir die Letterkunde. Die Staat moet rekening hou met die Delwerye, want tevergeefs sal ons die Russiese Bolsjewisme buite ons grenseprobeer hou, terwyl ons die gees van daardie kwaad kweek in ons eie midde. Die Kerk moet planne beraam om die Troos en Krag wat die Evangelie alleen kan gee, meer gereeld en gedurig te bring aan dié wat anders hulle troos sal soek in wêreldse middels: brandewyn en ydel vermake. Die skrywers kan gerus hulle aandag wy aan die opeengehoopte mensemateriaal wat skatte inhou wat ons opbloeiende letterkunde tot groter heerlikheid sal bring.

Die Skrywer van die „Delwerysketse” doen baanbrekerswerk—prospekteerwerk. Hier en daar, soos sy opvoedkundige werk hom toegelaat het en in aanraking met die delwersgemeenskap gebring het, het hy gate gemaak en orals het hy bewyse gekry van diamanthoudende grond. Hy het gesien watter skatte daar verborge lê en het gedronge gevoel om dit aan die wêreld van Staat en Kerk en Letterkunde bekend te stel. Vir dié ontdekking sal ons hom altyd dankbaar bly, en ons sal altyd sy „Ontdekkersregte” in ag neem en respekteer.

Delwerswerk is op die oog morsig—in die stowwerige aarde en in die morsige klei moet gegrawe word. Hope waardelose „rof” worddeur die „bebe” afgeskud voor ’n mens met die wassery kan begin. Die wassery is ’n eentonige besigheid, en dis tog ’n kuns—nie te vinnig nie, ook nie te stadig moet die masjien draai nie, en die „porrel” moet steeds dieselfde dikte hou. Jou klere en gesig word meesal vuil bespat en gee vir die meeste ’n afkeer van die werk. Al die kante van die delwerswerk word deur die Skrywer getoon: die „rof”—die vloeker en drinker; die „porrel”—die mengelmoes-gemeenskap wat deur die lewensmasjien deurmekaar gedraai word, ’n ondeursigtige moddermassa; die sif, waarmee die „gravitating” geskied en die egte diamant sy karakter bewys deur bo te lê as die sif omgekeer word. Die egte diamant word maar hier en daar gekry; ’n geoefende oog is nodig om, as die sif omgekeer word, uit die miljoene blink klippies die ware diamant te sien, maar as die edelgesteente in ons hand lê en ons bewonder sy skoonheid, dan vergeet ons die harde werk, die vuil klere en al die waardelose weggekrapte „was” in ons blydskap oor die skat wat ons uitgehaal het.

In die hoop dat dit die Skrywer mag geluk om deur sy sketse by ons Volk op te wek ’ngroter belangstelling in en groter liefde vir die skatte wat begrawe lê in die delwerye, beveel ons die lesing daarvan van harte aan by almal wat Suid-Afrika en sy Volk liefhet.

E. J. J. van der HORST.

Wolmaransstad, 26 Februarie 1925.


Back to IndexNext